Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
'n Lewe: Joernalis Jan was die ‘Janste van alle Janne’

Die joernalis Jan Taljaard, vir jare die skrywer van die twee-weeklikse rubriek Lunsriem in Rapport Weekliks, is verlede Sondagoggend in Kaapstad na ’n stryd teen leukemie oorlede. Hy was 61.

Jan Taljaard (middel), by medejoernaliste Deon Lamprecht (links), en De Wet Potgieter op ’n weermagvoertuig in die geweldgeteisterde KwaZulu-Natal in die vroeë 1990’s.

Taljaard, bekend vir sy breëkoparend-waarnemingsvermoë, het dié rubriek sedert November 2013 behartig. Hy was ook vir ’n tyd die stem van die politieke hekelrubriek Pollux.

Taljaard was nie net ’n bekwame essayis nie, maar ’n gesoute, welbelese ondersoekende joernalis wat deur die loopgrawe van dié beroep groot respek onder kollegas ingeboesem het. Hy het in sy vrugtevolle loopbaan vir verskeie publikasies, onder meer die dagblaaie Beeld en Die Burger, gewerk.

Sy loopbaan het saamgeval met die goue jare van die Afrikaanse joernalistiek toe geen koste en moeite ontsien is om eerste te wees met die groot storie nie.

Taljaard was van meet af aan onkonvensioneel en aweregs.

Die voormalige Beeld-redakteur Salie de Swardt onthou dat sy pad die eerste keer met Taljaard gekruis het toe hy studiebeurse aan belowende studente uitgedeel het. Taljaard het ’n beurs gekry, maar op ’n volstruisplaas gaan werk en De Swardt sê hy het sy hande vol gehad om die base te oortuig om so ’n “onverantwoordelike mens” aan te stel. “Al verweer wat ek gehad het, was dat die man onkonvensioneel is, maar dalk daarom die soort talent vir joernalistiek het wat ons nie kan verloor nie.”

Hy het die AWB ‘doodgeskryf.’

De Swardt se voorgevoel was reg.

In ’n lang loopbaan het Taljaard – Jan Tal vir sy kollegas – van die grootste stories van die era gedek: van die Helderberg-vlugramp tot die moordorgie van Charmaine Phillips en Pieter Grundlingh.

Vir die nuustydskrif Insig het hy een jaar 11 van hul 12 voorbladstories geskryf.

Baie van sy kollegas van destyds onthou hom veral vir die genadelose manier waarop hy in die 1980’s en 90’s die AWB en die verregses “doodgeskryf” het. Hy het gou deur hul dronkmanspraatjies van gewelddadige opstand gesien en hul kru rassisme verafsku. “In daardie tye het hy sy dag begin met heavy metal op full blast om hom op te werk vir die konfrontasie,” vertel sy eerste vrou, Helene Cillers.

“Dit was rowwe dae,” onthou die joernalis De Wet Potgieter van die laat jare 80.

“Sy goed ingeligte bronne het gestrek van binne die generale staf van Eugène Terre’Blanche se AWB, die ou veiligheidspolisie en militêre intelligensie tot in die hart van die ANC se ondergrondse strukture.”

Hy was ’n man met talle belangstellings en vele talente. In sy wilde, jonger dae ’n aanhitser van kroeggevegte en voorvatter by partytjies sonder brieke waar kamerdeure afgeruk en opgekap is as die brandhout laataand begin min raak. Wanneer dié staaltjies later jare ter sprake gekom het, het ’n veel kalmer Taljaard vermaan: “Brandewyn is niemand se maat nie.”

Hy het ’n diepe wrewel in kapitalistiese uitbuiting en kleinlike burokrasieë gehad en min was in dié opsig groter sondaars in sy oë as sy eie werkgewers.

De Swardt vertel van die keer toe Taljaard na die ou Natal gestuur is om ’n storie vir Beeld te dek. Terug in die kantoor is hy gevra om rekenskap van sy en die fotograaf se kontantvoorskot te gee.

“Destyds het ons met sulke groot drukstukke gewerk en daar kom toe bladsye en bladsye van Jan by my aan. Min of meer op die trant van: ‘En toe koop ons ’n hot dog in Harrismith teen 70c. Vandaar vertrek ons toe na Newcastle waar ons elkeen ’n Coke vir 40c gekoop het, maar ons het die bottels later ingeruil en daarvoor 20c gekry. Op Estcourt kon ons ’n halwe hoender koop en het toe sommer R3 se petrol ingegooi. Die olie was nog reg, wat ’n besparing meegebring het’.”

Die sanger Anton Goosen onthou hom as ’n groot musiekman.

Lánk voordat Jack Parow die fenomeen geword het wat hy vandag is, het Taljaard die ding sien kom en ’n onderhoud met die opkomende ster vir Weekliks gedoen.

Die misdaadskrywer Karin Brynard, ’n oudkollega, onthou: “Hy’s die oorspronklike Jan, die Janste van alle Janne, altyd oorrompelend homself. Slim, snaaks en altyd aweregs, sonder voorgee en fieterjasies. Sy rubrieke was vir my heerlike hoekpaaltjies, ek het dit met graagte gaan soek. Wat my altyd sal bybly van sy skrywes is die mededoë waarmee hy die lewe waargeneem het, die genade vir die broosheid – ook in homself. Dit vat, wat my betref, ’n ware man en ’n deeglike mensch om dit te doen!”

Volgens sy vrou, Nelia Richter, kon hy op partytjies lekker op dreef raak met stories, “maar in wese was hy ongelooflik privaat”.

Dit is waarom hy sy siekte tot op die laaste stil gehou het vir almal behalwe sy familie en enkele naaste vriende vir wie hy die dood voor oë gesweer het as hulle enigiets sou laat blyk. Hy soek nie ’n toeloop van simpatiseerders op sy voorstoep nie, het hy verduidelik.

Sy lewenslange verknogtheid aan die nuus het nooit vervaag nie. In sy laaste dae, reeds onder sterk pynmedikasie, het hy soms geyl oor ’n helikopter wat buite die hospitaal neergestort het. Sy laaste versugting was om net weer nuus te luister, en te sorg dat al die “comms” reg is, gereed dat hy vinnig ’n storie kan deurbel.

Taljaard is in Pretoria gebore en het in die Transkei grootgeword waar sy pa ’n onderwyser was. Terwyl hy in die weermag was, het Transkei “onafhanklik” geword en hy het sy bevelvoerders oortuig dat hy moet terugkeer na sy grootwordplek om sy ouers dalk vir oulaas te sien en aansoek te doen om ’n paspoort, “want anders kan hy nooit weer terugkeer nie”. In die Golden Egg in Umtata het sy paaie gekruis met die legendariese Rapport-joernalis Rykie van Reenen. Dis sy wat hom as beurshouer by Beeld aanbeveel het.

Hy word oorleef deur sy ma, Marion; twee susters, Marikie en Tina; twee seuns uit sy huwelik met Helene Cilliers, Tomas (30) en Deneys (28); ’n stiefseun, Jean-Hendrik (31); asook sy vrou, Nelia, en hul dogter, Gretha (10).

Jan Taljaard, gebore 5 Mei 1958, oorlede 28 Julie 2019.

Meer oor:  Jan Taljaard  |  Sterfgeval  |  Lunsriem  |  Joernalis  |  'N Lewe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.