Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
'n Lewe: Kreatiewe Engemi as ystervrou onthou

Die skrywer Engemi Ferreira is onlangs in die ouderdom van 76 in die Mediclinic in Hermanus oorlede nadat sy geval het.

Engemi Ferreira

Ferreira het in Vermont naby Hermanus in die Overberg gewoon. Weens diabetes het haar gesondheid vinnig agteruitgegaan ná haar ongeluk.

Ferreira het ruim lof ontvang vir haar debuutroman, Die jaar toe my ma begin sing het, asook haar kortverhaalbundel, Brood vir die engele.

Die roman is in twee afsonderlike dramas verwerk. Haar eerste gedigte skryf sy reeds op 16 en hulle word in die Tydskrif vir letterkunde gepubliseer. Sy het verder dramas geskryf, ’n leeskring begin, en as joernalis en redakteur gewerk.

Sy was iemand wie se ruim kreatiwiteit nie net tot stories vertel en letterkunde gestrek het nie. Op LitNet vertel sy vir Erika Terblanche dat sy ná skool drama onder leiding van Anna Neethling-Pohl, Truida Pohl en Francois Swart aan die Universiteit van Pretoria gestudeer het.

‘Ons gaan haar liefde vir die lewe mis.’

Sy bekwaam haar ook in beeldhou- en skilderkuns aan die Pretoria Technikon. Haar passie vir selfverryking was eindeloos. Sy woon verskeie skryfskole by.

Terblanche skryf verder dat Ferreira se kunssinnige veelsydigheid verder onderstreep word toe sy haar as liriese sopraan vestig met die klem op lieder. Benewens drama neem sy ook moderne tale, filosofie en sielkunde aan Tukkies.

Sy was een van die stigterslede van die Max Stibbe Waldorfskool in Pretoria, in samewerking met Mario en Margaret Schliess, waar sy ook ’n ruk lank onderwys gegee het. Ná die dood van haar eerste baba in 1966 begin ’n belangstelling in die antroposofie, wat ’n kennis is van die aard van die mens, of menslike wysheid.

Haar seun Wieland sê: “Ná haar afsterwe kon ons almal sien hoe baie mense se lewens sy aangeraak het. Die stories wat nou uitkom is meer as wat ons kan dink.

“Ek sal my ma onthou vir die ystervrou wat sy was, en dat sy ons almal liefgehad het, en altyd eerste geplaas het.”

Haar dogters Engelize en Maia vertel: “Kosmaak was vir haar ’n passie. Ons gaan haar groot liefde vir die lewe mis. Die meeste lewenslesse het ons deur die stories wat sy ons vertel het ontvang.”

Ferreira is net buite Bloemfontein op ’n kleinhoewe genaamd Ferreira gebore. Sy word groot in die destydse Suidwes-Afrika.

Haar ouers was Walter en Ella, wat ’n winkel in Mariental besit het. Toe sy tien was, het sy ’n jaar lank in Amsterdam gewoon.

Jare lank het sy saam met haar gesin in Mpumalanga op ’n plaas gewoon, waar haar man, Johan, met bome geboer het. Hulle het ook in Lydenburg gebly.

Sy en haar man het ontmoet toe ’n jong Engemi in Pretoria saam met ’n vriendin by ’n bushalte vir ’n bus gewag het. ’n Man in ’n Volla het stilgehou en ’n geleentheid aangebied. Sy het vir hom geknipoog. Dit was liefde met die eerste oogopslag. Hulle is in 1964 getroud.

In ’n brief aan die uitgewer en biograaf Petrovna Metelerkamp, ’n jarelange vriendin, het sy eenkeer geskryf: “Elke keer wat ek ’n mens sien seëvier oor die bose, weet ek dat daar in elkeen van ons ’n stukkie van die Godheid opgesluit is wat so groot is dat selfs die kleinste deeltjie daarvan kan groei by dood en leef verby – tot dit die uitspansel vul en weerspieël word in elke stukkie van die lewe rondom ons. Gott, Du bist gross!”

Sy word oorleef deur haar man, Johan Jordaan, ses kinders en ses kleinkinders.

Engela Wilhelmi (Engemi) Ferreira-Jordaan, gebore 19 Maart 1943, oorlede 10 Oktober 2019.

Rus in vrede

* Anna Quayle, 86-jarige Britse aktrise, is onlangs dood. Demensie is in 2012 by haar gediagnoseer. Sy was bekend om haar rolle in die musiekblyspel Stop the World – I Want to Get Off en die rolprente A Hard Day’s Night, Casino Royale en Chitty Chitty Bang Bang. Sy het ook in TV-programme soos The Avengers en Brideshead Revisited opgetree. The New York Times skryf sy het vroeg in haar loopbaan van ? leer afgeval toe sy as model gewerk het en haar neus op drie plekke gebreek. Haar pa het haar oorreed om dit so te los omdat dit haar ? unieke voorkoms gegee het. 

* Scotty Bowers (96), op sy dag ’n sjarmante jong man wat in Hollywood as katelknaap en koppelaar vir bekende rolprentsterre gewerk het, is dood. Sy dienste was ’n ope geheim onder manlike akteurs wat in die kas en getroud was (bekend as ’n lavender marriage), asook bekende lesbiese aktrises wat hom as ? dekmantel en metgesel gebruik het. Matt Tyrnauer het in 2017 ’n dokumentêr oor sy lewe gemaak, Scotty and the Secret History of Hollywood.

*Die eerste man wat ’n ruimtetuig verlaat het vir ’n ruimtewandeling, die Rus Aleksei Leonof, is in die ouderdom van 85 dood. In 1965 het hy gedurende die Woschod-2-sending die buitenste ruim ingestap vir ’n volle 12 minute en 9 sekondes. Vir die Russe was hy ’n held van die Sowjetunie en daar is selfs ’n klein krater op die maan na hom genoem – onsimpatiekes sal sê sy naam is krater gemaak.

Leonof het later ’n gerekende kunstenaar geword en boeke met sy werke is gepubliseer. Hy het kleurpotlode saam met hom ruimte toe geneem vir sketse van die aarde en ruimtemanne.

Meer oor:  Engemi Ferreira  |  Sterfgevalle  |  'N Lewe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.