Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
'n Lewe: Kunstenaar met kop vir sake ‘eintlik plaasmeisie’

Die kunstenaar en sakevrou Carrol Boys – bekende om haar piouter-eetgerei wat vele stylvolle tafels oor die wêreld heen versier – is in Kaapstad aan kanker dood. Sy was 64.

Carrol Boyes: Intens saggeaard en nederig.

Boyes was ’n tekenende voorbeeld dat kunstenaars ook suksesvolle sakemense kan wees. Sy het amper 30 jaar gelede met bitter min begin en gewerk in ’n kelderkamer in haar huis in Llandudno, naby Sandbaai, toe die buurt nog vol pottebakkers, hippies en branderplankryers was.

Haar lewensmaat, wat in 2010 op 60 ook aan kanker dood is, was die bekende pottebakker en kunstenaar Barbara Jackson.

Boyes het eers as onderwyseres in Houtbaai gewerk, maar op ’n dag besluit basta, die lewe is te kort om nie na jou hart te luister nie. Sy was reg.

Sy wou haar instinkte volg en dié het vir haar vertel dat sy op 35 haar eie kunswerke moet begin skep.

Sy het beeldhouwerk aan die Universiteit van Pretoria gestudeer en het dus oor die nodige vaardigheid beskik.

‘Ek kan dit self nie glo nie!’

Sy was egter aanvanklik bekommerd of haar planne genoeg geld sou kon genereer om haar aan die lewe te hou, omdat sy en Jackson ook twee dogters uit laasgenoemde se vorige huwelik moes grootmaak.

Boyes het egter nooit verwag dat vanuit daardie klein ateljee langs ’n windverwaaide oseaan sy een van die land se top-sakevroue sou word nie.

Sy het tot twee-uur in die oggend gewerk aan die skep van juweliersware en beeldhouwerke wat sy dan Saterdagoggende op Groentemarkplein gaan smous het.

Op ’n dag het sy opgelet hoe vervelig eetgerei lyk en gedink aan die formele Victoriaanse messe en vurke uit haar jeug.

Daar is die saadjie geplant wat haar hele lewe sou verander. Haar idee was om beeldhouwerke te skep waaraan jy kon vat, omdat daar altyd by uitstallings gemaan is: Moet asseblief nie aan die beeldhouwerke raak nie!

Sy het ’n liefde vir anatomie gehad, en slaailepels, messe en vurke ontwerp met mense se lywe, kurwes en gesigte. Haar eerste stukke was van piouter.

Hierdie skrywer het destyds oor haar nuwe werk geskryf en het ’n hele namiddag met haar in haar ateljee deurgebring om te sien hoe sy werk.

Elke nuwe werk het met ’n skets ontstaan. Daarna het sy in stilte en met streng konsentrasie die voorwerp met haar hande begin vorm en giet. Haar gesig was een van magiese opwinding as sy ’n stuk klaar gemaak het, so asof sy dit self nie kon glo nie. Sy was ’n intens saggeaarde, nederige vrou.

Mettertyd het hierdie onderneming ontwikkel in ’n enorme projek wat meer as 150 mense in diens het en winkels in 30 lande.

Eendag, toe ek haar agter ’n groot lessenaar in haar nuwe hoofkantoor sien, het sy heeltemal verbluf gelyk.

“Ek kan dit self nie glo nie!” het sy gesê.

Omdat sy in gemeenskapswerk belanggestel het, het sy jong kunstenaars met potensiaal self opgelei sodat elkeen mettertyd ’n stukkie van hul eie gees in hul werk kon insit. Sy het baie vir liefdadigheid gedoen, veral vir die bemagtiging van vroue wat swaarkry.

Voor haar dood het sy vele ontwerpe geskep waaraan daar nog gewerk kan word en is die onderneming gelaat in die bekwame hande van haar broers, asook die mense wat sy self opgelei het.

Boyes het in Pretoria en op ’n plaas naby Tzaneen grootgeword. Sy het haar hele lewe lank volgehou: “Ek is eintlik ’n plaasmeisie.”

Sy word oorleef deur twee broers, John en Charles; twee dogters, Martine Jackson-Klotz en Kim Jackson-Meltzer; en drie kleinkinders.

Carrol Heather Boyes, gebore 21 November 1954, oorlede 14 Augustus 2019.

Meer oor:  Barbara Jackson  |  Carrol Boyes  |  'N Lewe  |  Sterfgeval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.