Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
'n Lewe: Legendariese vlieënier nederig, met stille krag

Lt.genl. Denis Earp, legendariese oudhoof van die SA Lugmag, is verlede Sondag aan ’n hartaanval dood. Hy was 88.

Earp was bekend om sy vlymskerp brein, fyn maniere, breë algemene kennis en sy sterk, tog subtiele leierseienskappe. Hy het almal, van die laagste tot die hoogste rang, met respek behandel.

Lt.genl. Denis Earp by ’n Mustang – die tipe vliegtuig waarin hy in die Koreaanse oorlog geveg het. Foto: Liza van Deventer

Die geskiedkundige dr. Rodney Warwick sê: “Earp het vir my vertel dat aan die begin van sy loopbaan in die 1950’s, baie offisiere as gevolg van hul politieke bande bevordering gekry het. Die minister van verdediging was Frans Erasmus, ’n man wat selfs deur die Natte as ’n nar afgeskryf is. Erasmus was ’n groentjie en het amper geen militêre ondervinding gehad nie. Hy was vasberade om ’n ‘Nasionale karakter’ op die weermag af te dwing.

“Sy modus operandi was om van die Engelse Sappe en Afrikaner-Sappe ontslae te raak. Bekwame mense is opsy geskuif of afgedank en ten spyte van hierdie vyandige atmosfeer het die jong Earp opgang begin maak,” sê Warwick.

Earp is in Bloemfontein gebore, het aan Grey-kollege gematrikuleer en is in 1948 na die Militêre Kollege vir opleiding in krygswese. Hy het in 1950 by die lugmag aangesluit, waar hy onder meer Mirage III, Canberra-bomwerpers en later ook helikopters gevlieg het. Earp het in sy loopbaan legio eerbewyse ontvang en het talle poste in die lugmag beklee totdat hy tussen 1984 en 1988 die hoof daarvan was.

Hy is vir 2 jaar aangehou en gemartel.

Die joernalis Helmoed-Römer Heitman van Jane’s Defence Weekly sê: “In 1982 is sy seun, lt. Michael Earp, se Puma-helikopter oor Angola afgeskiet. Die manier waarop hy en sy vrou hul seun se dood verwerk het, was merkwaardig.

“Met stille krag. ’n Vriend van my is in ’n vliegongeluk dood en sy pa het tien jaar verouder en etlike sentimeters gekrimp in die verloop van ’n paar dae.”

Die Financial Mail skryf in Julie 1987 Earp het sy persoonlike rouproses sterk onder beheer gehou, net soos hy al sy emosies en gevoelens streng in toom gehou het.

Hulle skryf verder hy het gereeld met van sy makkers ná ’n lang dag ’n dop by die lugmag se oog gaan drink. As hulle laat gekuier het, het hy daarop aangedring dat die kroegman van álmal ’n ekstra fooitjie ontvang.

Hy was ook nie verhewe bo ander nie, ’n man sonder fiemies. Selfs toe hy brigadier word, het hy elke oggend die diensbus werk toe gevat.

Die jong vlieënier.

Earp was ook 'n vegvlieënier in die Koreaanse Oorlog wat in 1950 uitgebreek het. Die daaropvolgende jaar is sy vliegtuig neergeskiet en is hy vir amper twee jaar as krygsgevangene aangehou.

Hy is erg fisiek en sielkundig gemartel en alhoewel dit hom nie geknak het nie, het hy ’n intense haat vir die Kommunisme ontwikkel. Die gevangenes moes vir kilometers van een kamp na ’n ander marsjeer, sommige met disenterie.

Deurentyd het hy hul moreel probeer hoog hou. In een stadium is hy drie dae lank in ’n donker put sonder kos en water aangehou. Daarna is hy uitgeruk en gevra om die name van sy makkers te gee.

Omdat hy in die Vrystaat grootgeword het, was hy ten volle tweetalig en het hy hul vanne in Afrikaanse vloekwoorde verander.

“Iewers in Noord-Korea,” het hy laggend aan die Financial Mail vertel, “is daar ’n majoor Bliksem, ’n luitenant Vuilgoed en nog erger!”

Ná sy aftrede was hy aktief betrokke by organisasies vir veteraansoldate en het ’n leidende rol gespeel in die bestuur van die Lugmagmuseum.

Hy word oorleef deur sy vrou, Beth, ’n dogter en twee kleinkinders.

Denis John Earp, gebore 7 Junie 1930, oorlede 19 Mei 2019.

Meer oor:  Sterfgeval  |  'N Lewe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.