Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
'n Lewe: Lieb nie net mentor, maar ook ’n sagte en ‘nice’ pel

Die veteraanakteur Lieb Bester (72) is Woensdagoggend dood nadat hy sowat ses weke gelede Covid-19 opgedoen het.

Lieb Bester

Sy niere is aangetas en hy het akute nierversaking gekry.

Hy was die afgelope vyf dekades in talle rolle te sien en was die laste tyd veral bekend vir sy rol as Fritz Retief in die kykNET-sepie Villa Rosa. Bester het in 2012 en 2013 vir dié rol ’n ATKV-Mediaveertjie ontvang as beste akteur in ’n sepie. Hy is steeds in die kykNET-drama Spoorloos: Steynhof te sien. Vroeër het hy ook die rol vertolk van senior superintendent George Lindeque in die TV-reeks Arsenaal.

Die Bester-familie is in Julie 2002 deur ’n verskriklike tragedie getref toe Gerhard Pieterse, ’n eiendomsagent en die nuwe eggenoot van Lieb se eksvrou, Hanlie, vir haar, hul jongste dogter, Suné (7), en Pieterse se eie dogter, Elzanne (17), by die gesin se huis in Rooihuiskraal in Centurion doodgeskiet het.

Pieterse het homself daarna ook om die lewe gebring.

Bester het aan die Hoër Seunskool Stoffberg in Brakpan gematrikuleer en daarna sy militêre diensplig in Walvisbaai in Namibië gedoen.

Sy jonger broer, André, ’n predikant van die Evangelies Gereformeerde kerk Rietfontein in Pretoria, sê as kind was Lieb, wat 13 jaar ouer as hy was, sy held. “Ek was in gr. 1 toe hy diensplig gedoen het in Walvisbaai.”

‘Boetie, dis wat die Here nou toelaat.’

Toe hul pa dood is, was Lieb in sy vroeë twintigs en André 11. “Hy het die rol van ’n mentor ingeneem en my elke vakansie kom haal om by hom te gaan kuier.

“Hy was destyds die bestuurder van die Top Star-inryteater in Johannesburg en later ook van die Atlas-inryteater in Kempton Park. Dan het ek aand ná aand die fliek oor en oor gesit en kyk. As ek rugby gespeel het, was Lieb langs die veld om my aan te moedig. Hy het dus ’n groot rol in my lewe gespeel. Toe ek ’n volwassene word, het ons sielsgenote geword.”

André sê sy broer was ’n diep gelowige mens wat in ongeveer 2002 ’n innige ontmoeting met die Here gehad het, waarna sy verhouding met die Here verdiep het. “Hy het uitgesien om na die Here toe te gaan.”

Volgens André was dit opvallend om die afgelope twee weke te sien hoeveel dankbaarheid Lieb gehad het; “selfs Maandag, toe hulle die erns van die nierversaking besef”.

“Dinsdagaand tienuur het hy my gebel en gesê dit lyk of hy sieker is as wat hy gedink het. Hy sou ’n prosedure ondergaan en een of twee keer per week dialise kry.

“Toe sê hy: ‘Boetie, dis wat die Here nou toelaat. Hy het my tot hier gedra en Hy sal my verder dra.’ ”

Die akteur Jakkie Groenewald, wat Bester sedert die laat sewentigerjare geken het, beskryf hom as ’n “sagte, moerse nice pel”.

“Hy het altyd tyd gehad vir almal, en het almal dieselfde behandel, ook die ekstras op stelle.”

Groenewald, wat as gasakteur in Villa Rosa speel, sê terwyl akteurs dikwels op stel hul woorde sit en leer sou ’n mens nooit vir Lieb met ’n teks in die hand sien nie. “Hy was altyd voorbereid, altyd professioneel.”

Groenewald sê Bester was nederig. “As hy by die restaurant in Pretoria gekom het waar hy ’n tyd gelede trekklavier gespeel het, het hy nooit ’n ophef gemaak nie. Hy het net in die hoek gesit en speel.”

Bester word ook oorleef deur drie kinders – Gottlieb, Erika en Paul – en vier kleinkinders. Nog ’n broer, Nico, is drie jaar gelede oorlede.

Gottlieb Rudolph Christiaan Bester, gebore 15 April 1949, oorlede 21 Julie 2021.

Rus in vrede

* Die klankmenger Ben Oelsen van Presto Post Productions,  ’n oudiovisuele post-produksieateljee in Johannesburg, is die afgelope Maandag oorlede. Die oorsaak van sy dood is nie bekend gemaak nie. Sy afsterwe word deur kollegas betreur as ’n groot verlies vir die fliekbedryf. Die akteur Gérard Rudolf sê: “Hy was ’n jintelman en was ruimhartig teenoor my. In 2015 het Presto die post-produksie gedoen vir my Silwerskerm-fliek Sweisbril. Geld was min. Ons het basies een dag gehad vir klankontwerp. Dus niks tyd nie. Maar Ben het so baie van die fliek gehou dat hy besluit het om drie dae van sy eie tyd te gebruik om ’n briljante klankontwerp vir ons te doen – teen geen ekstra koste nie.” 

* Siyabonga Africa (35), die senior digitale-programbestuurder van Code for Africa, die grootste datajoernalistiek-mediahuis op die kontinent, het in Johannesburg gesterf. Hy het aan die hoof gestaan van verskeie ondersoekende projekte in Afrika, waarvan sommige die gebruik van hommeltuie en satelliete ingesluit het. Africa het brongitis gehad, maar is negatief vir die nuwe koronavirus getoets. Hy sou Maandag ’n dokter spreek vir ’n vollediger ondersoek, maar is daardie oggend vroeg tuis dood. 

* Die veelsydige Namibiese sportman Adri Basson is op 11 Julie op 81-jarige leeftyd aan Covid-19 oorlede. ’n Oudjoernalis van Volksblad, Herman le Roux, sê: “Hierdie voormalige agtsteman van die Maties was ’n veelsydige sportman soos min. Hy het die ou Suidwes-Afrika in drie sportsoorte (ook tennis en gholf) verteenwoordig en ook op administratiewe vlak hoogtes bereik.”

Meer oor:  Lieb Bester  |  'N Lewe  |  Sterfgevalle  |  Rus In Vrede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.