Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
'n Lewe: ‘Liefdevolle ma wat skinny-dip en skryf’

Die skrywer Christine Barkhuizen le Roux van Barrydale het in die Life Bayview-hospitaal in Mosselbaai aan natuurlike oorsake gesterf. Sy is op haar 61ste verjaardag net ná middernag oorlede.

Christine Barkhuizen le Roux

Luidens die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum debuteer sy in 2000 met die digbundel Dimensie; ’n tweede bundel, Roset, verskyn in 2006.

“Met haar eerste roman, Padmaker (2010), steek sy ’n stewige kleim af in die Afrikaanse prosawêreld. Sy skryf ook twee bundels kortverhale.

“In haar jongste roman, My naam is Prins, ek slaap met die lig aan (2019), vra die skrywer skreiende, dapper vrae. Wat beteken dit om ’n goeie man te wees?”

Onlangs was daar ook ? boekbekendstelling van haar nuutste vertaling uit Nederlands, Kom hier dat ek jou soen (2020) van Griet Op de Beeck. Sy het ook Diane Broeckhoven se Die buitekant van Meneer Jules (2015) en Ingrid Vander Veken se Papawers (2010) uit Nederlands vertaal.

Haar dogter Joané sê: “Ons het op die plaas Kleindoornrivier buite Barrydale grootgeword. Ons ma was liefdevol, snaaks, empaties, soms maar moeilik, altyd dáár vir ons.

“Sy’t nie van koekies bak gehou nie, maar wel van skinny-dip saam met ons in die plaasdam. Haar grootste wens vir ons was dat ons gelukkig moes wees. Sy’t altyd vir ons gesê hoe lief sy vir ons is. Ons ma sou nie wou hê ons moes oor haar treur nie. Sy’t altyd gesê ons moet ’n partytjie en nie ’n begrafnis vir haar hou nie.”

Haar ander dogter Carli onthou: “My ma wou altyd saam met jou lag en grappies maak. Sy was altyd daar vir jou, alles saam met jou gevoel, hoogtepunte en laagtepunte. Sy was ’n inspirasie – iemand wat hard gewerk het om haar doele te bereik met alles in haar.

“Ons het dikwels in publieke plekke gesit en probeer om mense wat verbystap se lewenstories uit te lê vir mekaar. Ek weet my ma was verskriklik lief vir ons.”

Volgens die familie was sy gek oor skilder, lees, reis, fliek en sing. “Sy het altyd oor haar werk gepraat. Al haar geselskappe met mense het deel geraak van haar skryfwerk.

“Sy het haarself toegelaat om alle terugslae ordentlik te ‘voel’ en dit dan vir haar skryfwerk te gebruik. Sy kon aanklank vind by almal. Elke geselsie met iedereen was vir haar baie belangrik. Sy het ’n wonderlike geheue gehad vir gesprekke met ander.”

Cornelia Christine Barkhuizen is in Vryburg gebore. Omdat haar pa as dieselwerktuigkundige (aan masjinerie soos padskrapers) gewerk het, het hulle baie rondgetrek. Sy word groot in die opslaanhuise van padkampe. Hulle woon onder meer op Kakamas, Queenstown, Steynsburg, Kraaifontein en Barrydale.

Volgens LitNet studeer sy ná skool aan die Universiteit Stellenbosch, waar sy ’n BA-graad behaal met Bybelkunde en sielkunde as hoofvakke. Sy studeer verder aan die Universiteit van Wes-Kaapland en behaal ’n BA-honneursgraad met lof en ’n MA-graad met lof in Nederlandse poësie.

Op die webblad van Literatuur Vlaanderen skryf hulle: “De Nederlandstalige literatuur neemt afscheid van een waardevolle ambassadeur in Zuid-Afrika en wij van Literatuur Vlaanderen zullen Christine herinneren als een warme en betrokken persoonlijkheid.”

Haar man, Bertus, het tydens ? telefoongesprek verpletterd geklink. Hy sê die kosbaarste herinnering wat hy van haar het, is haar deursettingsvermoë. Hulle het destyds op die Hoërskool Barrydale ontmoet.

Sy word oorleef deur haar man, drie kinders, een kleinkind, twee sibbes en haar ma.

† Cornelia Christine Barkhuizen le Roux, gebore 19 November 1959, oorlede 19 November 2020.

Rus in vrede

* Koppie Marais (80), wat van 1956 tot 1959 in 47 wedstryde vir die Vrystaat as senter of losskakel uitgedraf het, is dood voordat hy die nuus kon verneem dat sy kleinkind, Marco Marais, na die oefenkamp van die Protea-krieketspan genooi is. Marais het in vyf wedstryde teen Transvaal op Ellispark agt van sy 25 drieë vir die Vrystaat gedruk. In ’n stadium het hy in 27 agtereenvolgende wedstryde as senter vir die Vrystaat gespeel. Dié oudstudent van die Universiteit van die Vrystaat het ook vir Noordoostelike Distrikte en die SA Barbarians gespeel. Sy seun, Rico Marais, het die Boland in eendaagse krieket verteenwoordig en Marco speel ook krieket vir die Warriors.
Marco het in 2017 vir Grens in ’n wedstryd teen die OP ’n wêreldrekord opgestel toe hy die vinnigste 300-tal (300 n.u.n.) in slegs 191 minute aangeteken het. Die rekord van ’n Australiër het 96 jaar gestaan.

* Sir Ian Rankin, die uitvinder en finansier, is in die ouderdom van 87 dood. Hy was die skrywer van die boek Doomsday Just Ahead, waarin hy in 2004 met selfvertroue die einde van die wêreld oor 30 jaar voorspel het. Die aarde sal glo oor sy eie aslyn val en in die niet in tuimel.

* David Dinkins, New York se enigste swart burgemeester (1990-’94), is in die ouderdom van 93 dood. Sy dienstyd was omstrede om verskeie redes. Kommentators het hom daarvan beskuldig dat hy rassehaat nie vinnig genoeg in die kiem kon smoor nie en dat die stad onder hom verval het.

* Tygerburger berig dat ’n gedenkdiens vir die gemeenskapswerker Jacques Pietersen (55) in Bellville gehou is waar tientalle mense ’n erewag vir hom gevorm het. Pietersen het hoofsaaklik met haweloses in dié gebied gewerk. 

Meer oor:  Sterfgevalle  |  Rus In Vrede  |  'N Lewe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.