Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
'n Lewe: Literêre grote ‘mal oor tinteling van opwinding’

Die skrywer, digter, kritikus en literator Stephen Gray is in die ouderdom van 78 in die Milpark-hospitaal in Johannesburg aan prostaatkanker en ’n beroerte oorlede. Onraad is vermoed toe niemand hom vir ’n ruk lank in sy woonstelblok gesien het nie.

Stephen Gray Foto: : Anthony Akerman

Hy het vir ’n onbepaalde aantal dae alleen op die vloer gelê voordat die opsigter en ’n dokter wat in die blok woon hom in ’n erg gedehidreerde toestand gevind het.

“Stephen was deurtrek met prostaatkanker, maar omdat hy so privaat was, het niemand geweet nie,” sê sy vriend Henk Tredoux.

Volgens Tredoux het Gray die afgelope paar maande so baie gewig verloor dat sy broeke van sy lyf afgeval het.

“Tog was sy kop nog skerp, ons het nog onlangs na ’n YouTube-insetsel op my selfoon gekyk en hy het intelligente kommentaar gelewer,” sê Tredoux.

Gray was ’n Luddiet en het geen TV, selfoon of rekenaar gehad nie. In sy woonstel was daar ’n landlyn, papier, koeverte, penne en boeke.

Toe hierdie grafskrifskrywer ’n paar maande terug vir hom bel vir inligting oor sy vriendin, die ontslape skrywer Mary Renault, is dit per gewone pos aangestuur. Renault is reeds in 1983 oorlede maar sy geheue was so skerp, hy kon elke fyn detail van haar onthou, ook die geveg tussen haar en Nadine Gordimer.

Gray was ’n Luddiet sonder ’n rekenaar of selfoon.

“Nadine was jaloers op Mary, omdat Mary se boeke beter verkoop het,” het hy vertel.

Hy was ook nie juis ’n aanhanger van Eugène Marais nie. In ? artikel het hy aangevoer dat Marais geensins ’n wetenskaplike pionier was nie.

Gray skryf Marais het sy idees vir Die siel van die mier by die Belg Maurice Maeterlinck gekry. Volgens Gray was Marais se bewering dat dié boek deur Maeterlinck geplagieer is onsin. Die teenoorgestelde is eerder waar.

“Wie gaan jy glo? ’n Nobelpryswenner of ’n morfienverslaafde?”

Stephen Richard Gray is in Milnerton in Kaapstad gebore. Ná ’n paar jaar het sy pa in Constantia ’n huis in ’n wingerd laat bou. Daarna is hulle na Johannesburg.

Sy pa, Ginger, was ’n ingenieur en sy ma, Isa, was bekend om haar welsynwerk vir diere. Gray se pa was ook die skrywer en illustreerder van die kinderboek Mick the Monk.

Dit was ’n stormagtige huwelik en Gray het vir vriende vertel hoe sy pa sy ma aangerand het.

Sy suster, die joernalis Marianne Gray, het uit Londen laat weet haar herinneringe aan haar broer is dat hy altyd weg was omdat hy op (die destydse) Grahamstad skoolgegaan het. “Gedurende vakansies was hy baie literêr en musikaal.”

Ná skool is Gray na die Universiteite van Kaapstad, Cambridge en Iowa. Daarna was hy vir jare professor in Engels aan (die voormalige) Randse Afrikaanse Universiteit.

Hy het gereeld puik en eerlike resensies vir die ou Weekly Mail (daarna die Mail & Guardian) geskryf en het naam gemaak as ’n gerekende akademikus wat sy lewe aan deeglike navorsing gewy het.

Onlangs toe hy doktorale proefskrifte moes nagaan, was hy woedend omdat so baie studente kortpad vat en lui is.

“Ons is in die moeilikheid,” het hy gesê.

Gray het verskeie romans, kortverhaalbundels, biografieë en digbundels gepubliseer. Dit sluit in Time of Our Darkness, My Serial Killer and Other Stories en Remembering Bosman.

Hy was ’n kranige reisiger en het pas voor sy dood ’n bundel reissketse voltooi. “Stephen was in Chili toe die coup d’état daar plaasvind,” sê Tredoux.

“Hy was mal daaroor, die tinteling van opwinding. Ook die onluste in Parys.

“Ai, en hy was so lief vir Italiaanse kos. Ons het elke maand klokslag gaan uiteet.”

Hy word oorleef deur sy suster en vele vriende.

Stephen Richard Gray, gebore 30 November 1941, oorlede 22 Oktober 2020.

Rus in vrede

* ’n Voormalige burgemeester van Kaapstad, David Bloomberg, het in die ouderdom van 88 heengegaan. Hy is in Seepunt gebore en het later ’n bekende prokureur, skrywer, teater-impresario en regisseur geword. Bloomberg het ook vir jare ’n rubriek oor die teater vir die  Cape Times geskryf. Hy was die burgemeester van Kaapstad van 1973 tot 1975.

* Die Zoeloe- en Engelse digter Angifi Proctor Dladla is in die ouderdom van 69 in Johannesburg oorlede. Hy het bundels soos The Girl Who Then Feared to Sleep en Lament for Kofifi Macu gepubliseer.  

* Die kunshandelaar Joe Wolpe het op 98 in Kaapstad gesterf. Wolpe was ’n handelaar met internasionale aansien en is al beskryf as “die man wat moderne kuns na Kaapstad gebring het”.  

* Die skilder Kaffie Pretorius (79) is in Stellenbosch aan kanker dood. Sy is in Lambertsbaai gebore en die Sandveld was ’n beduidende kreatiewe voedingsbron vir haar kuns.

* Die sluipmoord op die bekende omgewingsaktivis Fikile Ntshangase (65) het internasionaal opslae gemaak. Die Britse koerant The Guardian berig vier mans het haar huis in Ophon­dweni in KwaZulu-Natal binnegedring en haar geskiet. Sy was betrokke by 'n regsgeding oor ’n steenkoolmyn wat naby die oudste natuurreservaat in Afrika, die Hluhluwe-iMfolozi-park, wou uitbrei.
’n 13-jarige kind het die moord aanskou. 

* Jerry Jeff Walker, die skrywer van die liedjie “Mr. Bojangles”, wat deur verskeie kunstenaars soos Neil Diamond, Sammy Davis jr. en Nina Simone opgeneem is, is oorlede. Hy was 78. 

Meer oor:  Sterfgevalle  |  Rus In Vrede  |  'N Lewe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.