Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
'n Lewe: Lochore was ’n kolos wat nooit gespog het

Die rugbyheld en voormalige Black sir Brian Lochore – bekend as speler, kaptein en breier – is aan maagkanker in sy geboortedorp Masterton in Nieu-Seeland dood. Hy was 78.

Brian Lochore in sy speeldae.

Lochore het die All Blacks 68 keer (25 daarvan toetswedstryde) as slot en agsteman verteenwoordig. In 18 van dié wedstryde was hy kaptein.

As breier het die All Blacks onder hom in 1987 die Wêreldbeker-rugbytoernooi gewen.

Hy het tydens die 1970-toer die laaste keer as kaptein van die All Blacks teen die Springbokke in Suid-Afrika uitgedraf.

Die Springbokke van destyds was ’n gedugte span met legendes soos onder andere Frik du Preez, Mannetjies Roux, Jan Ellis, Piston van Wyk en Dawie de Villiers as kaptein. Die tuisspan het in die toetsreeks met 3-1 geseëvier.

Lochore het die feit dat sy span teen die Springbokke verloor het, ’n eerste onder hom as kaptein, as die grootste terugslag van sy loopbaan beskou en het onmiddellik daarna uitgetree.

Hy’t mense gehelp waar hy kon.

“Miskien is die rede dat ons verslaan is die afwesigheid van die breier, Fred Allen,” het hy gesê. “Ivan Vodanovich is ’n gawe man, maar nie in dieselfde klas nie.”

Lochore se gesondheid het die afgelope paar jaar verswak nadat daar eers ’n melanoom, prostaatkanker en toe toksoplasmose by hom gediagnoseer is. Hy het daarvan herstel, maar het teen die einde sy stryd teen maagkanker verloor.

Die bekende Nieu-Seelandse TV-sportjoernalis Hamish McKay sê: “Ek het hom in sy 40’s ontmoet toe hy nog ’n kolos van ’n man was. Hy was 1,91 m lank en het ’n merkwaardige fisieke teenwoordigheid gehad.

“Hy was nie iemand wat dit nodig geag het om groot te praat nie, hy was groot, psigies en fisiek. Lochore het nooit gespog oor sy suksesse nie, hy het ook nie aan hubris gely nie. By hom was dit ’n geval van facta non verba (dade, nie woorde nie).”

Dit is duidelik hy was ’n groot gees in Nieu-Seeland, ook omdat geen mediahuis oor enige skadukant, misstap of skandaal verslag gedoen het nie. Dit is moeilik om dit van enige mens te glo, maar die feite spreek vir hulself. As daar skade of skande was, het hy dit beslis goed weggesteek.

Hy het altyd mense gehelp waar hy kon. Sy altruïsme teenoor sy familie, gemeenskap en selfs vreemdelinge was alombekend. Lochore was ’n man wat lief was vir die aarde, diere en om te boer.

Hy was een van dié land se suksesvolste skaapboere.

Lochore is beskryf as iemand wat op elke vlak in rugby sy kant gebring het: as speler, kaptein, breier, in bestuursposte, maar veral as mentor.

As plaaskind was hy lief vir perdry en was dit sy droom om ’n joggie te word. Sy ouers, Alma en James, het vir hom ’n ponie gekoop en hy het daagliks op galop gegaan met die perd wat hy Winkle gedoop het. Tennis was ook ’n passie, maar toe hy op skool begin rugby speel, het daardie gogga hom gebyt en was daar geen keer aan sy entoesiasme nie.

Sy filosofie oor leierskap was dat jy mense in diepte moes verstaan.

“ ’n Mens moet weet wat hulle motiveer,” het hy gesê.

Lochore het vir ’n eenvoudige boere­begrafnis gevra. Duisende mense het Woensdag by sy diens in Memorial Park in Masterton opgedaag. Toe sy stoet vertrek, het die klank van die haka in die dorp weergalm.

Hy word oorleef deur sy vrou, lady Pam, met wie hy in 1963 getroud is, asook drie kinders en agt kleinkinders.

Brian James Lochore, gebore 3 September 1940, oorlede 3 Augustus 2019.

Meer oor:  Sterfgeval  |  'N Lewe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.