Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
'n Lewe: Matlare geliefd as voorste sakeman én vriend

Die Absa-groep se adjunk- uitvoerende hoof, Peter Matlare, is verlede Sondag aan Covid-19-verwante oorsake oorlede. Hy was 60.

Peter Matlare Foto: Waldo Swiegers

Behalwe in die tyd toe hy Tiger Brands se uitvoerende hoof was, het hy meestal ’n luisterryke loopbaan by elke ander instansie waarby hy betrokke was gehad. Hy het by die Stedelike Stigting begin, toe Citibank, Anglo American, Primedia, SAUK, Vodacom, Tiger Brands en Absa.

Toe hy hoof was van die SAUK tussen 2001 en 2005, het die uitsaaier ’n wins gemaak. Omdat hy nie soos vele in die top-echelons van die ANC ’n struggle-agtergrond gehad het nie, en boonop met ’n Britse aksent gepraat het (hy het in Brittanje studeer en gewoon), was hy nie gewild onder die kaders nie.

Met die aanstelling van die nuwe nuushoof, Snuki Zikalala, was Matlare uiters ontsteld omdat hy hom as ’n lakei van die ANC gesien het. Hy was reg. Dié twee se verhouding was toksies.

Nes die uitsaaier in ’n propagandamasjien vir die regerende party ontwikkel het, is Matlare mettertyd deur die raad uitgewerk, ten spyte van sy suksesse. Vele ervare en etiese joernaliste het onder Zikalala die pad gevat.

Die oud-TV-joernalis Ed Herbst vertel: “Die man het maklik 18 tot 19 uur 'n dag gewerk. Hy het een aand met sy motor in die parkeergarage teen ’n pilaar gebots, omdat hy aan die slaap geraak het.

‘Hy was positief oor Suid-Afrika.’

“Alhoewel hy die SAUK finansieel uiters bekwaam bestuur het, was daar van ons, soos die ontslape joernalis Chris Louw, wat gevoel het hy het te veel besnoeiings gemaak ten koste van die kwaliteit van programme. Hy was goed met geldmaak, maar nie as uitsaaier nie.”

Kollegas van Matlare vertel hy was nie iemand wat terugslae as ’n slegte ervaring beleef het nie, maar eerder as ’n geleentheid om te leer. By Tiger Brands is hy byvoorbeeld as hoof aangestel. Hy sou die maatskappy in Afrika laat uitbrei.

Hy het vas geglo dat Nigerië ’n potensiële reus van ’n mark sou word en het groot bedrae geld in ’n koringmeule daar belê. Dit het lelik geword toe dit op ’n grootskaalse verlies uitgewerk het.

Hy het bedank en die ervaring as ’n uitdagende ondervinding gesien. Ten spyte van hierdie terugslag het die destydse uitvoerende hoof van Absa, Maria Ramos, die groter prentjie raakgesien en hom aangestel, veral om die oorgang van Barclays-bank na Absa te bestuur en om in Afrika ’n voetspoor te maak.

Hierin het hy goed geslaag. Oor Matlare het Ramos per e-pos laat weet: “Hy was een van die beste korporatiewe leiers wat hierdie land nog opgelewer het. Dit was ’n voorreg om saam met hom te werk.

“Hy was optimisties oor Suid-Afrika en die hele kontinent se toekoms. Peter het wyd gelees en ek sal ons gesprekke oor die wêreld en ons land verskriklik mis. My hart gaan uit na sy familie, hul verlies is ondraaglik.”

Matlare is in Durban gebore, maar het ’n ruk lank by sy ma in Brittanje gebly. Hy het aan die universiteite van Plymouth en York studeer.

In ’n onderhoud met Gareth Cliff op CliffCentral in die eerste grendeltydperk klink hy entoesiasties. Hy vertel hy werk hard van die huis af. Gewoonlik sal hy al 04:30 by die gimnasium wees, maar nou skuif hy teen 07:00 agter sy lessenaar in en werk tot 19:00. Hy bly fiks deur op sy grasperk te hardloop.

Sy laaste woorde is: “Bly veilig. Ons sál hierdeur kom.”

Hy word oorleef deur sy vrou Nomvula en drie dogters.

Peter Bambatha Matlare, gebore 30 November 1960, oorlede 7 Maart 2021.

Rus in vrede

* Die bekroonde digter, dramaturg, musikant en eerste professor in digkuns aan Rhodes-Universiteit, Chris Mann, is aan onbekende oorsake in die ouderdom van 72 oorlede. Hy het talle digbundels gepubliseer, waaronder Walking on Gravity. Hy was Afrikaans, Engels, Xhosa en Zoeloe magtig. Mann was ook die stigter van die letterkundefees Wordfest. Onder die verhoognaam Fafa Hopkins het hy ook gedigte getoonset en gesing.

* Allan J. McDonald (83) was die ingenieur wat die Challenger-pendeltuig se aanjaagvuurpyle ontwerp het. Hy het die oggend van 28 Januarie 1986 by die Kennedy-ruimtesentrum in Florida gewaarsku dat die weer te koud was vir die O-ring-wassers aan die aanjaagvuurpyle.

As hulle sou verys, kon hulle krimp, wat veroorsaak dat brandstof lek wat tot ’n ontploffing kon lei. Niemand wou na hom luister nie en 73 sekondes nadat die Challenger opgestyg het, het gebeur presies wat hy voorspel het.

* Die strukturele ingenieur Leslie E. Robertson, wat die World Trade Center in New York ontwerp het, is op 11 Februarie in die ouderdom van 92 in sy huis in San Mateo, Kalifornië, oorlede. Hy het talle wolkekrabbers ontwerp, maar die een wat sou uitstaan, was die World Trade Center. Robertson was in sy vroeë 30’s toe hy aan dié twee geboue van 110 verdiepings begin beplan het.

Hy was in sy 70’s toe hulle vernietig is. Luidens The New York Times was hy trots daarop dat die geboue tydens die aanvalle lank genoeg kon staan dat duisende mense kon vlug, maar hy het tot aan die einde van sy lewe met ’n swaar hart geleef.

Meer oor:  Peter Matlare  |  'N Lewe  |  Sterfgevalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.