Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
'n Lewe: ‘Mission Control’ se man wag net vir 50ste viering

Die vlugbestuurder Chris Kraft, wat die konsep mission control van die ruimteagentskap Nasa geskep het, is in die ouderdom van 95 jaar in Houston, Texas, aan natuurlike oorsake dood.

Chris Kraft: “Deel van Nasa se DNS.”

Hy was ’n beduidende rolspeler in die sukses van die eerste maanlanding. Twee dae ná die 50ste herdenking hiervan het hy gesterf.

“Dit was tipies van hom, ’n perfeksionis, om te wag vir daardie groot dag, en dan salig te groet,” het vriende en oudkollegas ná sy afsterwe geskerts.

Luidens die National Public Radio se webwerf kan “enige persoon wat al ’n vuurpyl sien opskiet het, in vervoering was oor maanlandings of waargeneem het hoe ’n ruimtestasie glimmend in die donker hemel sweef, vir Kraft bedank.

“Kraft was deel van Nasa se DNS. Hy was betrokke by van die Gemini-vlugte en het ook die Mercury-ruimtereise bestuur,” berig hulle.

The New York Times skryf wanneer hy met die media as woordvoerder namens Nasa moes praat, het hy as ’n fyngemanierde en sagmoedige tegnokraat oorgekom. Helaas, as hy in die vensterlose beheersentrum was, was hy ’n geharde en streng opdraggewer wat gehoorsaamheid en noukeurigheid van sy onderhoriges en ruimtevaarders vereis het.

‘Hy sal nie weer in die ruimte vlieg nie.’

Hy het een van sy ruimtemanne, Scott Carpenter, swaar gestraf toe dié in sy Mercury Atlas 7-tuig glo nie na opdragte wou luister nie. Daar was verskeie probleme en hoewel hulle veilig geland het, het Kraft gesê: “Daardie man sal nooit weer in die ruimte vlieg nie.”

Hy hét ook nie. Carpenter het Kraft so ontstel, hy het selfs jare later in sy outobiografie, Flight: My Life in Mission Control, ’n hoofstuk daaraan gewy, getiteld, “The Man Malfunctioned”. Carpenter het in die media teruggekap en gesê Kraft weet nie wat in die lug aangaan as daar vinnig besluite geneem moet word nie.

Toe die Gemini 4-ruimteman Ed White gedurende ’n ruimtelopie effe te lank en swewend in die lug na die mooi uitspansel gekoekeloer het, het Kraft luid vanaf die aarde beveel: “Klim terug!”

“Dit is die hartseerste dag van my lewe,” het White gesê, voordat hy weer in die tuig teruggeklim het.

Kraft het amper soos ’n argetipiese karakter in ’n rolprent soos 2001: A Space Odyssey oorgekom. Met sy oorfone, besig om aan ’n sigaar te kou, sittend in ’n draaistoel, omring deur ingenieurs, het hy sy oog op verskeie rekenaars en 17 projeksieskerms gehou terwyl hy die lansering van vele ruimtevoertuie oor die jare moes aftel. Soms moes hy ’n blitsvinnige besluit neem en die hele proses stop, totdat hy tevrede was met elke tegniese detail.

Hy was later so beroemd en deel van die kultus rondom ruimtevaarte, dat Time hom in 1965 hom op hul voorblad geplaas het. Kraft het vir die Amerikaners ’n simbool van nasionale trots geword omdat hy die Russe kon fnuik.

Hy is as enigste kind in Phoebus, Virginië, gebore. Sy ma het as ’n verpleegster gewerk en sy pa in finansies. Laasgenoemde het aan geestesongesteldheid gely en moes gereeld gehospitaliseer word.

Hulle het in ’n eenvoudige huis reg langs ’n afvalhoop gebly. As seuntjie het hy soms in gevegte betrokke geraak, maar kon meestal daarmee wegkom omdat hy ’n uitblinker was en ook ’n puik bofbalspeler.

Toe die Tweede Wêreldoorlog uitbreek, wou hy hom by die vloot aansluit. Omdat hy sy hand kleintyd verbrand het, is hy afgekeur. Dit is toe dat hy besluit het om lugvaartingenieurswese te studeer.

Hy word oorleef deur sy vrou van 50 jaar, Betty Anne, en twee kinders, Gordon en Kristi-Anne.

Christopher Columbus Kraft Jr., gebore 28 Februarie 1924, oorlede 22 Julie 2019.

Meer oor:  Sterfgeval  |  Nasa  |  Ruimtevaart  |  'N Lewe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.