Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
'n Lewe: Mofokeng se foto’s het ’n wêreld oopgemaak

Die fotograaf Santu Mofokeng (63), wat dokumentêre swart-en-wit-fotografie tot ’n kunsvorm omskep het, is in Johannesburg oorlede. Hy het aan progressiewe supranukleêre gestremdheid gely. Dit is ’n seldsame breinsiekte waarvan die simptome onder meer demensie en verlamming van die keel is.

Santu Mofokeng  Foto: Getty Images
Santu Mofokeng Foto: Getty Images

ARTnews skryf hy het op ’n elegante manier gewone straattonele gedokumenteer, veral in Soweto. Hy kon die sielkundige gevoelswêreld van mense in sy foto’s poëties vasvang. Hiervoor het hy die gesogte Prins Claus-prys gewen.

Sy portrette was nooit gestileer nie, hy het spontaan te werk gegaan en mense in verskillende interessante of ook alledaagse omgewings afgeneem. Hy het byvoorbeeld die treine en passasiers tussen Soweto en Johannesburg gefotografeer.

In ’n versameling roerende foto’s, getiteld The Drumming, Johannesburg–Soweto Line, from Train Church (1986), was sy fokus die treine waarin daar in elke rytuig ’n prediker was wat luidkeels gepreek het. Elke wa was ’n klein kerk op wiele, al wiegend in die oggend, dag of nag. Daar is gesing. Om die ritme van die liedere te versterk, is daar teen die mure van die waens met hande trom geslaan. Met die ekstra klank van die kloppende treinwiele op die spoorlyne en die sang wat weergalm, het hy die ekstase in die passasiers se gesigte perfek “verwoord”.

Hy het ’n onbekende wêreld aan mense in voorstede oopgemaak.

Die beelde het jou as’t ware ingetrek in die kerkdiens, jy kon hoor hoe hulle die Here aanbid. Die gesigte verwese, maar ook in geestesvervoering.

Hy het ’n onbekende wêreld aan mense in voorstede oopgemaak. Soms het die treine gebreek. Hy het ’n verdere reeks foto’s geneem van passasiers wat langs die spore soos skimfigure loop na hul bestemming.

Alexandra Dodd, ’n kunsskrywer, skryf toe sy broer Ishmael aan vigsverwante siektes begin verswak het, het hy foto’s van hom in ’n grot by Clarens in die Vrystaat geneem. Die titel was Eyes-Wide-Shut, Mo­touleng Cave, Clarens (2004).

Hulle was in die grot om kontak te maak met hul voorvaders voordat Ishmael sou sterf. Hy het na die kamera gekyk en op die foto lyk dit asof sy oë toe of oop kon wees, asof hy reeds tussen twee wêrelde begin beweeg het.

Hoewel Mofokeng aanvanklik nie juis buite sy eie land aandag geniet het nie, het dit alles verander toe hy begin uitstal het in Frankryk, Switserland, België en die VSA.

Die essayis, kritikus en fotograaf Teju Cole het in The New York Times grondig en met groot agting oor hom geskryf: “Sy foto’s was donker en grinterig, selfs vaag. Daar is detail hier en daar – ’n hand, ken, onherkenbare torso, die lig soos vlamme.”

Hy het gereeld dae lank in vreemde townships deurgebring sodat hy die at­mos­feer kon vasvang. In die 1970’s het hy reeds as jongeling aan die Morris Isaacson High School foto’s vir sakgeld begin neem.

Hy het tot op die ouderdom van 31 in mense se agterplase gewoon. Later het hy met ’n beurs aan die International Centre of Photography in New York gestudeer.

Mofokeng het waardevolle ondervinding by die fotoagentskap Afrapix opgedoen, waar hy onder sy mentor, David Goldblatt, gedy het. Vandag word die gehalte van sy foto’s met dié van sy leidsman vergelyk.

In sy persoonlike lewe moes hy teen verlammende depressie veg. Hy het aan bipolêre gemoedsteuring gely. Teen die einde van sy lewe was hy soos ’n skim in een van sy eie foto’s. Stom en verfrommel deur sy degenerasiesiekte tot ’n bondeltjie pap bene.

Hy word oorleef deur sy vrou, Boitumelo, en drie kinders, Thato, Reikanne en Ntshadi.

† Santu Mofokeng, 19 Oktober 1956, oorlede 26 Januarie 2020.

Rus in vrede

* Die uitsaailegende en sportkommentator Gerhard Roux is op 24 Januarie in die ouderdom van 96 oorlede. Die sakejoernalis  David Meades onthou hy was later ook groepsekretaris van Rembrandt en skakelhoof van die destydse Distillers.
“Roux is na die ou Suidwes-Afrika, waar hy ’n groot rol in dié land as sportverslaggewer vir die SAUK gespeel het. Hy was ’n baie innemende mens, mooi stem en hy het die girls se bene altoos laat bewe.”
Luidens Die Republikein was hy Die Matie se eerste redakteur. Hy was sekretaris-generaal van die Namibiese Olimpiese Komitee en in 1966 president van die Rugbyunie.

* Die chemikus dr. Reinhard Richard (Rein) Arndt het op 1 Januarie in Stellenbosch afgesterwe. Hy was 90. Die regsman Gustaf Pienaar laat weet hy was een van die RAU se vroegste akademici en later president van die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR). “Hy was ’n wonderlike, ruim denker – méns,” sê Pienaar.
Hy het in 1947 aan Grey-kol­lege in Bloemfontein gematrikuleer. Daarna is hy na die Universiteit van die Oranje-Vrystaat, waar hy hom in organiese skeikunde asook sakewetenskappe bekwaam het. By die Universiteit van Pretoria het hy ? MBA verwerf. Sy aanstelling by die WNNR in 1955 was die begin van ? luisterryke loopbaan waarin hy ruim navorsing oor die studie van nuwe alkaloïede gedoen het. In 1967 is hy gevra om hoof van die chemiese departement by die nuutgestigte RAU te word.
Hy word oorleef deur sy vrou, Alritha, vier dogters, vier skoonseuns, tien kleinkinders, asook ? groot vriendekring.

Meer oor:  Santu Mofokeng  |  Gerhard Roux  |  Rein Arndt  |  'N Lewe  |  Fotograaf  |  Sterfgevalle  |  Rus In Vrede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.