Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
'n Lewe: ’n Filosoof wat die tonge laat klap het

Die Britse wysgeer sir Roger Scruton is in die ouderdom van 75 in Brinkworth oorlede. Kanker is ses maande gelede by hom gediagnoseer.

Sir Roger Scruton. Hy was soms soos ’n stout skoolseun. Foto: Getty Images

Hy was 20 jaar lank professor in filosofie aan die Universiteit van Londen en die skrywer van ongeveer 50 boeke – van romans tot diepsinnige bepeinsings oor estetika, argitektuur, skoonheid, Wagner, jag en vryhandel.

Daaronder tel titels soos I Drink There­fore I Am: A Philosopher’s Guide to Wine en Fools, Frauds and Firebrands: Thinkers of the New Left waarin hy die naoorlogse Marxistiese beweging uitmekaar trek. Hy het ook twee operas geskryf en die orrel in sy plaaslike kerk gespeel.

In ’n stadium het hy hom as advokaat bekwaam. Voorts het hy die tonge laat klap met ’n joernaal in The Salisbury Review, wat in sekere kringe as ultrakonserwatief beskou is.

Die wêreld van die akademie het hom verwerp, maar vir baie ander was hy verfrissend omdat hy gesê het wat hy dink.

Hy is gereeld gevra om simposiums toe te spreek, waar hy mense wat nie met sy sienings saamgestem het nie so woedend gemaak het dat hy van kampusse weggejaag is en by tye amper gemoker is.

Hy is soms van kampusse weggejaag.

Toe hy voorheen in Boston klas gegee het, het hy elke naweek terug Engeland toe gevlieg sodat hy op sy perd kon deelneem aan ’n vosjag.

Dit het gelei tot ’n essay oor die sekondes tussen die oomblik wat hy van sy perd geval het totdat hy die grond getref het.

Hy was soms soos ’n stout skoolseun. Die Financial Times en The Wall Street Journal moes hulle van die artikels wat hy vir hulle oor die vreugde van rook geskryf het distansieer nadat dit aan die lig gekom het dat hy op die betaalstaat van ’n tabakmaatskappy was.

Hy het lelike argitektuur en eksperimentele kuns verpes, veral Fascistiese konstruksies soos brutalisme, of Marcel Duchamp se porselein-urinaal wat hy as beeldhouwerk uitgestal het.

Vir hom was konserwatisme die versinnebeelding van die goed waarvoor mense lief is en dat hulle dit wil bewaar en beskerm teen misbruik en verval. Sy beskouings is stelselmatig verdraai vir politieke gewin en sosiale huigelary. Hy is gereeld deur die pers genooi vir gesprekke, nie om oor filosofie of estetika te praat nie, maar sodat hulle hom kon uitvang en veroordeel – sogenaamde “gotcha journalism”.

Uit ’n onderhoud met hom in die New Statesman het dit geblyk dat hy ’n Jode­hater, rassis en homofobies is. Die onderhoud, met ’n jong rammetjie-uitnek joernalis George Eaton, het sy beeld baie skade gedoen – totdat The Spectator ’n volledige transkripsie van die gesprek bekom het. Hieruit het dit geblyk dat Eaton sy woorde heeltemal buite konteks aangehaal het en die publikasie is gedwing om verskoning te vra.

In sy private lewe het hy 'n mengelmoes van vriende gehad, van Siriërs, Tsjeggo-Slowake tot tantes wat konfyt vir basaars gemaak het.

Op skool is hy geskors nadat hy ’n toneelstuk op die planke gebring het met ’n halfkaal meisie dansend om ’n vuur.

Scruton se pa was ’n onderwyser en het die adelstand so verpes dat nadat sy seun ’n beurs gekry het om aan Cambridge te studeer, hy nooit weer met hom gepraat het nie. Scruton was ook nie mal oor Cambridge nie: “It was quasi-monastic. There weren’t many women around, there was this mist of nostalgic pederasty that hung over it all.”

Die laaste inskrywing in sy dagboek was: “Coming close to death you begin to know what life means, and what it means is gratitude.”

Hy word oorleef deur sy tweede vrou, Sophie Jeffreys, en twee kinders, Sam en Lucy.

Roger Vernon Scruton, gebore 27 Februarie 1944, oorlede 12 Januarie 2020.

Rus in vrede

* Christopher Tolkien, seun van J.R.R. Tolkien, is in die ouderdom van 95 in Frankryk oorlede. Tolkien se wêreldbekende pa, skrywer van die boeke The Hobbit en The Lord of the Rings, is in Bloemfontein gebore.
Ná sy pa se dood het hy sy vele ongepubliseerde skrywes hersien en persklaar gemaak. Daar was oor die 70 bokse vol lesings en fiksie. Sommige was met die hand geskryf. The Guardian skryf hy het by ’n tafel groot genoeg vir ’n banket in sy destydse huis in Oxfordshire gaan sit en deur die kopie gesnuffel, verkort en dit verwerk.
Daarna het hy alles op sy pa se ou tikmasjien getik. Uit hierdie harde werk is The Silmarillion in 1977 gebore, ’n versameling mitiese verhale waarvan miljoene eksemplare verkoop is.
Tolkien was baie geheg aan sy pa, wat The Hobbit vir hom gelees het terwyl hy daaraan gewerk het sodat die jong Christopher gate in die storielyn vir hom kon uitwys. 

* Irving Burgie, die sanger en liriekskrywer bekend vir die lied “Day-O (The Banana Boat Song)” – een van Harry Belafonte se grootste treffers – is in New York dood. Hy was 95.
Burgie het 34 lirieke vir Belafonte geskryf en getoonset en ’n belangrike bydrae tot sy suksesvolle loopbaan gemaak.
Van Burgie, een van die invloedrykste Karibiese komponiste, se werke is oor die 100 miljoen eksemplare verkoop. 

* Die Monty Python-stigterslid en -ster Terry Jones is op 77 aan ’n seldsame vorm van demensie dood. Vyf jaar gelede het hy sy woorde begin vergeet en sy gedrag het aggressief geraak – ’n karaktereienskap wat glad nie eie aan hom was nie.

Meer oor:  Roger Scruton  |  Terry Jones  |  Irving Burgie  |  Christopher Tolkien  |  'N Lewe  |  Wysgeer  |  Sterfgevalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.