Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
'n Lewe: ’n Nalatenskap van dank en bewondering

Die kunstenaar, restaurateur, gastehuiseienaar en storieverteller Ronnie van der Walt is in die ouderdom van 69 dood. Hy het in die Nelsrivier, buite Calitzdorp, in sy Toyota Hilux-bakkie verdrink.

Ronnie van der Walt by sy kinders, Vienie en Guy.

’n Reënbui het onverwags uitgesak. Van der Walt se bakkie is omstreeks 21:00 van ’n brug gespoel en ongeveer 100 meter rivier af meegesleur.

“Dat só iets met hom moes gebeur gedurende ’n droogte is ’n skreiende ironie,” sê sy jeugvriend, die botanis dr. Ernst van Jaarsveld. “Hy was vol waagmoed en het vinnig besluite geneem. Toe hy die water sien stroom, het hy waarskynlik op die ingewing van die oomblik gedink hy gaan vinnig daardeur.

“Sy potte was kunswerke. Dit was aards en het die vetplante gekomplementeer.

“Ná my aftrede het ek heeltyds by Babylonstoren begin werk.

“Koos Bekker het my gevra om iemand te kry wat handgemaakte potte maak en om al ons vetplante daarin te vestig. Ronnie het nie op hom laat wag nie en aan die werk gespring met ’n verskeidenheid vorms, teksture, kleure en groottes. Ek kon tydens Covid-19 al ons versamelings in sy potte verplant en die huis is ’n monument van Ronnie se werk. Die vetplant-huis is oop vir die publiek.”

Toe Van der Walt vroeër jare in Melville gewoon het, was hy bekend om sy grootoog-keramiekvoëls, silwer-akrielvisse en kunsklasse, maar ook vir The Ant, een van die kleurvolste eetplekke in dié buurt.

Dit was ’n opwindende bymekaarkomplek vir eensames, jolige jolytmakers, hedoniste en kunstenaars. Hy was ’n knap kok met ’n voorliefde vir witpeper. As hy in ’n restaurant gaan eet het en daar was nie witpeper op die tafel nie, het hy bohaai gemaak.

‘Ek hoop dit het hom getroos.’

Die kunstenaar Cecilia Wilmot Ballam vertel: “In 2004 het ek alles verloor. Ek het op ’n matras in ’n kamer saam met my drie kinders geslaap.

“Hy het my as kelner aangestel. Toe hy uitvind ek is ’n kunstenaar, het hy vir my gevra om klein muurskilderye in die geheime hoekies van The Ant te verf.

“Hy het my drie kinders by ’n tafel laat sit, hulle spesiaal laat voel en dramaties gesê: ‘Dis die enigste kinders wat ek hier toelaat!’

“Hier het ek later my toekomstige sakevennoot ontmoet. Ek kon my lewe weer opbou, te danke aan Ronnie.”

Van der Walt se dogter, Vienie, sê: “Ons het nog daardie Vrydagaand almal saam gekuier. Hy het ons gaan aflaai by ons cottage. Die laaste wat ek van hom gesien het, was sy glimlaggende gesig deur die voorruit. Hy het sy hoofligte op die paadjie na ons voordeur aangesit sodat ons kon sien. Ek gaan sy daaglikse oproepe mis wanneer hy my vra wat ek doen en wat ek vir aandete voorberei.

“Ook sy steak en boontjies.

“Hy is in die bakkie dood waarop hy so trots was. Hy is dood tussen die riete waarvoor hy so lief was. Ek hoop hy het die geluide van die insekte, voëls en die water gehoor en dat dit hom getroos het.

“Hy is in die natuur dood as gevolg van die natuur. Dit op sigself is ’n seëning.”

Van der Walt het in Milnerton grootgeword. Toe sy pa in 'n motorongeluk dood is, het hy op 13 Johannesburg toe getrek.

Hy het homself deur kunsskool gesit deur los werkies te doen.

Hy word ook oorleef deur sy seun, Guy, vier kleinkinders en ’n magdom vriende, bewonderaars, oudkunsstudente, smulpape en voormalige kelners.

* Ronnie van der Walt, gebore 14 April 1951, sterf 9 Oktober 2020.

Rus in vrede

* Die Suid-Afrikaans gebore liriekskrywer en joernalis Herbert Kretzmer (95) is in Londen oorlede. Hy is in Kroonstad gebore en het later internasionaal roem verwerf vir sy verwerking van die musiekblyspel Les Misérables uit Frans na Engels. Die BBC berig hy het ook die lied “Goodness Gracious Me” in 1960  geskryf. Dit is deur Peter Sellers en Sophia Loren bekend gemaak. In 1974 het hy met Charles Aznavour aan die treffer “She” gewerk. Sy  voltydse werk was egter as teater­resensent en TV-kritikus vir die Daily Express en later vir die Daily Mail. Groot name in die teaterwêreld soos Tim Rice en Cameron Mackintosh het hul medelye uitgespreek. Kretzmer se ouers was arm en hulle het ’n klein meubelwinkel in Kroonstad besit. Luidens The New York Times het hy $20 miljoen in tantième vir Les Misérables verdien.

* Paul Andrew de Jongh, 'n suksesvolle pottebakker van McGregor, is in die ouderdom van 50 dood. Hy het sy eie lewe geneem.

* Beverley Jansen was die voormalige grondeisekommissaris in die Wes-Kaap. Sy was ook 'n onderwyseres, aktivis, digter en dramaturg. In 1995 en 1996 was sy die burgemeester van Vishoek. Sy was 73.

* Dr. Vuyo Mahlati, die president van die African Farmers’ Association of South Africa (Afasa) is onverwags oorlede. Luidens die Southern African Agri Initiative (Saai) was sy ’n landbouleier in eie reg. Sy het nie net die behoeftes beklemtoon en die strewe en drome van swart boere in Suid-Afrika verwoord nie, maar het ook die belange van vroulike boere op die voorgrond gebring tydens ’n era toe daar niemand anders was om dié rol te vervul nie. Sy het aan die London School of Economics en die Universiteit Stellenbosch studeer. Mahlati is op 55 oorlede. Die oorsaak van haar dood is onbekend.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.