Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
'n Lewe: ’n Wêreld net so sommer eensamer sonder Elsa

Die skrywer Elsa Joubert is verlede Sondag in die ouderdom van 97 in die Mediclinic Kaapstad oorlede. Sy is positief vir Covid-19 getoets.

Elsa Joubert en Klaas Steytler met hul verlowing in 1950 in Londen.

Joubert is ’n week vroeër in haar rolstoel van die Berghof-aftreeoord in Tuine oor die pad gestoot om suurstof en mediese sorg te ontvang.

Dit is dieselfde hospitaal waarna sy eenkeer verwys het as dié plek oorkant die pad waarvandaan bitter min mense van Berghof sal terugkeer. Só was dit dan ook met een van ons land se grootste outeurs.

Haar vriendin Hannah-Reeve Sanders het gesê toe sy hoor Joubert is siek, het sy van agter haar toe woonsteldeur in die aftreeoord gou-gou vir haar gaan sê: “Elsa, word gesond jong, ek is stoksielalleen. Ons het nog baie om oor te praat.

“Nou is sy dood. Ons is eensaam hier,” sê dr. Sanders, op haar dag hoofsuperintendent van die Groote Schuur-hospitaal.

“Toe Elsa nog mobiel was, het ons na die simfonieorkes gaan luister. Sy was geïnteresseerd in my Joodse afkoms; baie gou het sy amper meer van die Jode geweet as ek. Sy kon 10 of 100 jaar oud wees omdat haar brein wyd en geskakeerd gefunksioneer het.”

Persoonlike aanvalle het seergemaak.

Oor Joubert se oeuvre is daar al baie geskryf. Sy het 22 boeke gepubliseer. Haar eerste een was Water en woestyn (1957). Toe was sy 35. 60 jaar later publiseer sy haar laaste boek, Spertyd (2017), op 95.

Sy was veelsydig: reisverhale, kortverhale en romans, veral die een oor die lewe van Poppie Nongena (die verhaal van Ntombizodumo Eunice Ntsatha) wat haar internasionaal bekend gemaak het. Dit het vir baie wit Suid-Afrikaners bewus gemaak dat swart mense nie onsigbaar is nie en volgens die historikus Hermann Giliomee het dit wit mense op 1990 voorberei.

’n Professor uit Pretoria het vir haar laat weet: “Die bevolking van ons land het vir my oornag verdubbel.”

In die kykNET-program Prontuit vertel Joubert hoe persoonlike aanvalle op haar (oor Die swerfjare van Poppie Nongena) haar seergemaak het. By een geleentheid het ’n man haar kom uittrap omdat sy glo plesier daaruit put om haar eie mense te looi.

“Daar is baie skepe in die hawe. Vat een en gaan weg.”

Die Sestigers was haar ook nie juis goedgesind nie. Ilse Salzwedel skryf in Rooi Rose: “Al het sy in die jare sestig verskeie boeke gepubliseer – onder meer die bekroonde roman Ons wag op die kaptein – is sy nooit as ’n Sestiger erken nie. Haar werk is ook nooit in hul blad opgeneem nie, en sy is nie genooi om aan hul besprekings deel te neem nie.”

Die joernalis Amanda Botha vertel toe sy ’n onderhoud met Joubert gevoer het oor Die staf van Monomotapa (1964), het sy geantwoord: “Al my ander reisboeke is een of ander tyd voorgeskryf. Maar daardie een het die uitgewer vir my spesifiek gesê die voorskryfmark het dit geweier omdat daar die prentjie was van die swart en wit kinders saam op die skoolbanke.”

Die nadraai was dat Nelson Mandela haar op ’n dag gebel en vertel het hoeveel daardie boek vir hom beteken het.

Sy was gekwets deur dié woorde van André P. Brink, wat ’n Wonderlike geweld beskryf het as ’n “vervelige, selfkoesterende en swakgeskrewe relaas”.

Maar op LitNet verskil die lektor Desmond Painter van Brink. Vir Painter lê dit die “emosionele geografie van ’n Afrikaanse leefwêreld in die 1930’s en 1940’s” bloot – die tydperk van “nasionalistiese uitbundigheid en konsolidering”.

Haar vriendin Annari van der Merwe sê: “Elsa is op 97 al deur soveel geskiedkundige gebeure. Dat sy tydens een van die angswekkendste oomblikke in die wêreld moes sterf, is nogal ’n event.

“Sy het onlangs nog vir my oor Afrikaans gevra: ‘Was my skryfwerk vergeefs?’ Dit was omdat sy bekommerd was oor swak taalgebruik.”

Joubert was ’n bekende skrywer, maar ook ’n gewone mens. Die kombuispersoneel van Berghof vertel sy het nooit oor die kos gekla nie en was altyd beleef. Sy was veral lief vir tamatiebredie. As die kos te vaal na haar smaak was, het sy wel vir ekstra speserye gevra; sy het gehou van geure.

Dawid Kleyn, wat al vir jare mense van Berghof rondry, vertel: “Sy wou altyd meer van mý weet en het my spesiaal laat voel. Maar, ai, ou maat, ek kan nie meer huil nie. My trane is op. Oor die jare is daar al amper 70 van my kliënte dood. Daar is nie ’n druppel oor om te stort nie, maar my hart bly seer.”

Van die inwoners het bevestig dat die streng afsondering hulle sielkundig knel en ’n negatiewe invloed op hul gesondheid het. In wat as Joubert se laaste openbare, geskrewe woorde bestempel kan word, het sy in die dagblaaie ’n pleidooi gerig oor die inperkings in aftreeoorde.

“Menslik gesproke is ons in die laaste weke en maande van ons lewe. Daardie kloppende verbintenis tussen ouer en kind, vir elke kind eenmalig, vir elke ouer iets individueel, is uitgeskakel. Kinders word by die deur weggewys. Ek kwyn daaronder.

“Ek versoek u, maak beheerde besoeke van familielede en volwasse kinders, al is dit een of twee keer, moontlik. Asseblief.”

In Spertyd skryf sy profeties: “Waar kom my trane vandaan? Hulle loop oor my wange. Die klein gesig en die stokou liggaampie sak af, die kis word toegegooi. (By die begrafnis van Lenie, hul geliefde huiswerker.)

“Ek voel weer die vrees wat my beetgepak het toe ek ’n kind van agt was: Is dit nodig dat al daardie swaar, klam, rooi grond so onverbiddelik op haar neergestort word? Hier op die bult sal daar nie hiënas wees om haar uit te grawe nie.

“Ek weet daardie swaar, klam grond, swart kleigrond van die vallei, gaan op my ook neergestort word. Ek het dit geweet vandat ek agt jaar oud was. Miskien is my trane nie vir Lenie nie.”

Sy word oorleef deur drie kinders, ses kleinkinders en vier agterkleinkinders. Haar man, die skrywer Klaas Steytler, het haar in 1998 ontval.

Elsabé Antoinette Murray Joubert, gebore 19 Oktober 1922, oorlede 14 Junie 2020.

Meer oor:  Elsa Joubert  |  Sterfgevalle  |  Skrywer  |  'N Lewe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.