Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
'n Lewe: Omstrede reklameman het Thatcher én Guptas gedien

Die berugte Britse beeldpoetser, Tim Bell, medestigter van die reklameagentskap, Bell Pottinger, is verlede Sondag in sy huis in Londen dood. Hy was 77. Hy het gely aan vaskulêre parkinsonsiekte – ’n vorm van parkinsonsiekte wat deur klein beroertes veroorsaak word.

Tim Bell en Renu Mehta, die stigter van Fortune Forum, tydens ’n onthaal in Londen in Desember 2012. Foto: Dave Benett, Getty

Die beeldpoets-firma wat sy naam gedra het, het in 1985 tot stand gekom, eers as Lowe Bell (genoem na Bell en sy destydse vennoot Frank Lowe), maar nadat Bell en Piers Pottinger die firma in 1989 gekoop het, is die naam in 1998 na Bell Pottinger verander.

Bell Pottinger was nie net een van die wêreld se grootste en bekendste skakelmaatskappye nie, maar ook een van die mees kontroversiële weens hul gewilligheid om die beeld van vele muishondregerings – soos die outoritêre regering van Belarus – internasionaal te poets. Werknemers is ook talle male uitgevang dat hulle onvleiende inskrywings van kliënte op die aanlyn ensiklopedie Wikipedia verwyder.

Bell Pottinger het oor die jare vele Suid-Afrikaanse kliënte gehad, waaronder FW de Klerk en Johann Rupert se firmas Riche­mont en Remgro, maar dit was hul bande met die Gupta-familie wat uiteindelik die firma se ondergang beteken het.

Met een van hul senior personeellede, Victoria Geoghegan, aan die stuur het Bell Pottinger ’n giftige kampanje vir die Guptas se maatskappy Oakbay ontwikkel wat kwaadwillige konsepte soos wit monopoliekapitaal en ekonomiese apartheid geskep het wat, ironies genoeg, een van Bell Pottinger se eie kliënte, Johann Rupert, geteiken het en hom uitgebeeld het as die sogenaamde leier van ’n wit Mafia in Stellenbosch wat die ekonomie gekaap het en swart mense in armoede gevange hou.

‘Waarom die waarheid vertel as ’n leuen kan werk?’

Alhoewel Bell reeds afgetree was tydens dié gebeure, het dit later aan die lig gekom dat dit danksy sy advies was dat Bell Pottinger hul vuilwerk hier kom doen het. Hy het lank daaroor gelieg (“Waarom die waarheid vertel as ’n leuen kan werk?” was ’n gunsteling sêding) totdat hy op Britse TV met verdoemende e-posse gekonfronteer is. Bell se hubris tydens hierdie onderhoud was skouspelagtig: Sy selfoon het sonder dat hy blik of bloos twee keer gelui en ’n derde maal ’n pieptoon gegee. Dit was die einde van Ikarus se spogmaatskappy waaraan hy dekades gebou het.

In sy jonger dae het hy ’n welbekende voorliefde vir kokaïen gehad. In 1977 is hy aan ’n sedemisdryf skuldig bevind toe hy voor ’n oop badkamervenster in sy woning in Hampstead ten aanskoue van vroulike voetgangers gemasturbeer het. Hy is met £50 beboet.

Sy loopbaan sou gou nóg groter hoogtes bereik.

In 1979 speel hy ’n belangrike rol in Margaret Thatcher en die Tories se verkiesingsoorwinning. Hy help onder meer vir Thatcher om haar tegniek in onderhoude te verbeter, adviseer haar om in ’n laer stemtoon te praat en gee haar selfs raad oor haarstyle.

Dis ook hy wat die strategie ontwikkel het vir die Tories se veldtog gebou rondom die uiters suksesvolle verkiesingslagspreuk “Labour isn’t Working” – uitgedink deur die advertensieagentskap Saatchi.

Vir sy hulp en raad beloon Thatcher vir Bell deur hom in 1991 te nomineer vir ’n ridderskap. In 1998 word hy Lord Bell van Belgravia. Die twee bly vir die res van hul lewe vriende en dis Bell wat in April 2013 haar dood amptelik aankondig.

Piers Pottinger, sy voormalige vennoot, beskryf hom as ’n toegewyde gesinsman. Hy was, nieteenstaande, drie keer getroud.

Bell het gelieg oor waar hy gebore is en voorgegee hy kom van Balmain, Sydney. Hy is egter in Southgate in die noorde van Londen gebore – die seun van ’n Ierse pa en Australiese ma.

Sy pa was ’n alkoholis en het lakens verkoop om die gesin te onderhou, maar verlaat die gesin toe Bell vyf was en kom na Suid-Afrika waar hy blykbaar as ’n radio-omroeper gewerk het onder die naam “Uncle Paddy”.

Hy word oorleef deur sy vrou Lady Jackie Bell, en twee kinders Harry en Daisy.

Timothy John Leigh Bell gebore 18 Oktober 1941, oorlede 25 Augustus 2019.

Meer oor:  Tim Bell  |  Sterfgeval  |  Bell Pottinger
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.