Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
'n Lewe: Petra Müller – onthou as ‘bron en poel van kennis’

Die digter en uithaler-storieverteller Petra Müller-Grütter is onlangs aan natuurlike oorsake rustig in haar huis in die aftreeoord Larmenier Village aan die hange van Tafelberg oorlede. Sy was 85.

Petra Müller-Grütter

Müller was ook ’n romansier, uitgewer, oudjoernalis, kinderboekskrywer en het kortverhale geskryf. Haar digbundel Die aandag van jou oë: Gedigte vir die liefde (2002) het haar plek stewig in die Afrikaanse literatuur gevestig. Hiervoor ontvang sy die Hertzogprys.

Op LitNet skryf Erika Terblanche: “Voor die verskyning van Müller se eerste digbundel, Obool, in 1977, word twee romans, Verlore vallei (1962) en Die windskerm (1963) gepubliseer.

“Sy volg Obool op met Patria in 1979. In 1980 word Patria met die Eugène Marais-prys bekroon. Van Petra se ander digbundels is onder meer Liedere van land en see, My plek se naam is Waterval en Swerfgesange.”

In haar hoofstuk oor Müller in Perspektief en profiel, vertel prof. Louise Viljoen dat Müller op die dorp Botrivier in die Overberg gebore is, waar haar pa ’n polisieman was.

“Op die ouderdom van tien jaar verhuis sy saam met haar ouers, broers en suster na Swellendam, waar haar pa later ’n plaas koop en begin boer. Die gesin en die landskappe waarbinne sy grootword, laat ’n besondere merk op haar skryfwerk.

Sy was ’n ‘gentle soul’ met liefde vir woorde.

“Die vryheid wat sy as kind gehad het om haar omgewing te verken, haar ouers se natuurlike talent as storievertellers en die verdrinking van haar broer Nico op jeugdige leeftyd is gegewens wat deur haar hele oeuvre sirkuleer.”

Prof. Susan Meyer skryf in die Tydskrif vir letterkunde: “Iets van Petra Müller se ma, wat ’n brief eenvoudig en wonderlik kon skryf, en haar pa, wat ’n man van die grond was, lê in wat haar eiesoortige stem in die Afrikaanse letterkunde geword het.”

Müller het ’n BA-graad aan die Universiteit Stellenbosch (US) verwerf en vir drie jaar by Die Burger as joernalis gewerk. Hier het sy haar man, Wilhelm Grütter, ontmoet, wat later die kunsredakteur van dié koerant sou word.

Terwyl sy hul drie seuns grootmaak, skryf sy ontspanningsverhale, word later verhaalredakteur van Sarie en redaksielid by Tafelberg Uitgewers. Hulle het in ’n huis genaamd Vlagmanshoogte net onder Kloofnek gewoon.

Haar seun Philip sê: “My ma se bekendheid as digter, skrywer en denker was merendeels apart van ons lewe met haar. Sy het dit ook so erken en gesê sy verkies dit so.”

Hy vertel tog: “Sy het baie gelees en wyd gelees. Sy het belang gestel in mense, ook gewone mense.

“Verder was daar haar groot liefde vir die natuur. Met my pa het hulle ’n breë belangstelling gehad in kultuur, musiek, kuns, filosofie en boeregrappe.

“Tesame met hom was hulle ’n groot bron en poel van kennis. Petra was in ’n woord, ondersoekend.”

Hierdie grafskrifskrywer het haar in die middel-tagtigerjare deur die digter Casper Schmidt in haar kantoor by Tafelberg Uitgewers in die Kaapse middestad ontmoet. Wat bybly was haar gasvryheid terwyl daar vele manuskripte op haar lessenaar was en haar manier om ’n storie te vertel – so asof jy langs ’n braaivleisvuur sit.

Dis sanger en skrywer Koos Kombuis sê: “Ek onthou Petra as ’n saggeaarde, gentle soul met ’n liefde vir woorde en ’n insig in goeie en kreatiewe taalgebruik. Sy was ook iemand wat nie kwaadgespreek het oor ander nie en het haarself buite die politieke en ego-debatte van die volk gehou.”

Sy word oorleef deur haar drie seuns Philip, Anton en Herman, en ses kleinkinders. Haar man, die joernalis, uitgewer en skrywer, Wilhelm, het haar in 2001 ontval.

Petronella Helena Müller, gebore 27 Julie 1935, oorlede 25 Junie 2021.

Rus in vrede

* Die skrywer Pieter Wagener is onlangs oorlede. Hy sou op 5 Julie 81 geword het. Sy kortverhaalbundel Mantrakolie het in 2007 by Protea Boekhuis verskyn. Volgens die letterkundige Henning Pieterse het sy verhale dikwels in die Oos-Kaap afgespeel en telkens tot die onbewuste gespreek.

* Die bekende Weskusser Johan Carosini is onlangs in die ouderdom van 81 oorlede.
In 1973 koop hy die Paternoster-hotel en raak veral gewild vir dié hotel se berugte en bekende Panty Bar. Baie dae en aande is daar gesokkie in die arms van Bacchus en stories vertel oor groot visse en bote wat verlate op die see gevind is. 

* Manny Cabeleira, eienaar van waarskynlik een van die land se oudste kroeë, die Radium Beer Hall in Johannesburg (wat rondom 1929 geopen het), is op 66 aan ’n beroerte en hartaanval dood. Hy was ’n ekstrovert wat met gekruide taalgebruik klante eindeloos vermaak het. Cabeleira was ook ’n uitstekende kok en sy kroeg was veral bekend vir hul Portugese disse. 

* Oudgenl. Mike Bester, op sy dag in Hammanskraal gestasioneer, is in die ouderdom van 81 in Pretoria oorlede. Sy vrou, Linda Lourens, vertel hy het elke dag die koerant Beeld van voor tot agter gelees en daagliks oor nuuskwessies gesels. Hy is oorlede nadat hy geval het, wat tot hartversaking gelei het.

* Branderplankryers sterf ook eendag. Greg Noll, een van dié sport se supersterre, is in Kalifornië dood. Hy was 84.
Sy bynaam was Da Bull en hy was bekend daarvoor dat hy die enorme branders in die 1960’s in onder meer Hawaii aangedurf het.

Meer oor:  Johan Carosini  |  Petra Müller  |  Rus In Vrede  |  'N Lewe  |  Sterfgevalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.