Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
'n Lewe: Piet Skiet tot op laaste vuur en vlam – en regs

Die bekende regse en sameroeper van die Boere-Republikeine, Piet Rudolph, beter bekend as “Piet Skiet”, is Dinsdag in die Steve Biko-hospitaal in Pretoria oorlede.

Piet Rudolph
Piet Rudolph

Hy was ’n diabeet en nadat sy voet geamputeer is, het sy gesondheid verswak.

Rudolph is onder meer in die vroeë 1990’s by die moord op die ANC- en SAKP-leier Chris Hani betrek nadat dit aan die lig gekom het dat die vuurwapen wat Janusz Walus gebruik het deel was van ’n arsenaal wat Rudolph en ’n groep meelopers op 15 April 1990 by die lugmagbasis in Pretoria gesteel het. In ’n video van destyds sit Rudolph agter ’n tafel voor ’n Vierkleurvlag en omring deur vier mans met klapmusse, twee van hulle gewapen.

Hy waarsku sy vyande dat “die tyd vir praat verby is” en dat dit “beter (is) om eerbaar te sterf as om in oneer te lewe”.

Van die gesteelde plofstof van destyds is ook gebruik om ’n bom te plant by Melrose-huis in Pretoria (simbolies belangrik omdat die Vrede van Vereeniging, die Boererepublieke se oorgawe, in 1902 daar onderteken is). Hy is later in hegtenis geneem vir die wapendiefstal, maar ná ses maande saam met 47 ANC-lede vrygelaat.

Die webblad volkstaat.net beskryf hom bewonderend (in Engels) as “an impetuous man, brave and honest”. Hy was berug vir sy humeur. Rudolph was reeds bejaard toe hy eendag in die hof ’n groot en lang polisieman voor die bors gryp en vir hom sê: “Mannetjie, ek donner jou.”

Op ’n stadium was hy ’n stadsraadslid in Pretoria vir die Herstigte Nasionale Party en ’n lid van die Konserwatiewe Party.  Later was hy prominent in die Afrikaner Weerstandsbeweging en onderleier van die Boerestaatparty. Ná die moord op Eugène Terre’Blanche, skryf volkstaat.net, was Rudolph, “ ’n ware Boer in die biologiese en spirituele sin, die laaste lewende ikoon van die Boerenasie”.
Luidens ? verklaring van die Boere- Republikeine was “Oom Piet onder andere erepresident van die Orde Boerevolk, ’n geheime organisasie wat hy opgebou het sedert 1989.

“Hiermee het hy ’n netwerk landswyd geskep wat ondeurdringbaar was. Dié organisasie het oorlog teen die regering verklaar.

“Ten tye was Oom Piet vir 181 dae elke dag op ’n voorblad van een van die koerante of televisienuus met ’n R50 000-beloning op sy kop.

“Oom Piet het sy bynaam Piet Skiet gekry van mnr. Jaap Theron in die 1970’s omdat oom Piet gesê het dat indien die volk verkeerd sou stem, gaan dit die gevolg hê dat geskiet sal moet word op ’n later stadium.”

Hulle vermeld hy het honderde “Boerekinders” van kos en klerasie voorsien met sy fonds. Hy het daarna gestreef dat geen “Boerekind” honger of koud moes slaap nie.

Petrus Johannes Rudolph is op die dorp Vischkuil in die Springs-distrik gebore. Sy skoolloopbaan voltooi hy aan Hugenote ­­ Hoërseuns in Springs. Daarna is hy na die destydse Polisiekollege in Pretoria.

Hy het tot kort voor sy dood nog gal gebraak oor die nuwe Suid-Afrika. Oor verlede jaar se Wêreldbeker-rugbyoorwinning skryf hy: “As ’n mens na hierdie verdraaide, verloopte liberaalgebreinspoelde, verstandelik onnadenkende kommunistiese meelopers luister en hulle sinnelose gebrabbel asof die wêreld in ’n ander dimensie ingevaar het met die sogenaamde rugby-sege, dan verstaan ’n mens as ’n keffer iets kry om oral te tjank en die vloer nat te piepie!” (sic)

Hy word oorleef deur sy derde vrou, Sandra, ses kinders en ’n onbekende aantal kleinkinders. 

† Petrus Johannes “Piet Skiet” Rudolph, gebore 20 Junie 1937, oorlede 14 Januarie 2020.

Rus in vrede

* Die koerantman Rex Gibson is in die ouderdom van 88 in Hermanus dood. Hy was die laaste redakteur van die befaamde Rand Daily Mail.
Hy was ook redakteur van die Sunday Express en adjunkredakteur van die Johannesburgse dagblad The Star

* Die kunstenaar Hannatjie van der Wat (96), ma van die modeontwerper Marianne Fassler, is in Johannesburg oorlede. 

* Die aktrise Molly Seftel is in haar 90’s oorlede. Haar man, Monty Sklaar, was in die 1970’s die burgemeester van Johannesburg. In haar fleur was sy lid van die Johannesburg Repertory Players (Reps) en die Phoenix Theatre Group, waar sy opgetree het in stukke soos The  House of Bernarda Alba, Mourn­ing Becomes Electra en Camelot.
Sy is al beskryf as ’n lid van die “Jewish bohemia associated with Sophiatown”.

* Die akteur Sibusiso Radebe (37), bekend vir sy TV-rolle in Backstage en Home Affairs, is in Johannesburg aan kanker dood. 

* Die Suid-Afrikaans gebore balletdanser Harold King is in Londen oorlede. King is in sy eie land heeltemal onderskat en is op jeugdige ouderdom na Engeland, waar hy die London City Ballet gestig het. Verder was hy artistieke direkteur van die Ballet de Zaragoza in Spanje.
King het gereeld op die verhoog verskyn en naam gemaak as ’n voorste solodanser.
Prinses Diana was ’n aanhanger en het graag geld geskenk vir King se balletuitvoerings.

* Derek von Zeuner, 22 jaar lank die skoolhoof van die Hoërskool Vredenburg en broer van die oud-Absa-hoë Louis, is op sy 64ste verjaardag oorlede nadat hy ’n beroerte gehad het.

Meer oor:  Sterfgevalle  |  Rus In Vrede  |  'N Lewe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.