Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
'n Lewe: Prolifieke Govender laat veel stiller wêreld agter

Die dramaturg, regisseur en aktivis Ronnie Govender is in die ouderdom van 86 in Kaapstad dood. Hy het die afgelope jaar by sy seun Pat gewoon omdat hy demensie ontwikkel het.

Ronnie Govender Foto: Paul Weinberg

Op sy begrafnisdiens het sy seun gesê: “Ons huis gaan nou baie stiller wees.

“Ons gaan jou sin vir humor mis, jou wyshede en jou vurige debatte oor sport, veral krieket en sokker.”

Govender se eerste toneelstuk was Beyond Calvary, wat die verhouding tussen twee mense van verskillende godsdienstige agtergronde, Katoliek en Hindoe, verken het. Sy stuk The Lahnee’s Pleasure was een die produksies wat die langste tyd op verhoë oor die land heen te sien was.

Govender se bekroonde bundel kortverhale, At the Edge and Other Cato Manor Stories, was 'n outobiografiese ode aan sy kinderjare. Dié boek was later ’n voorgeskrewe boek vir skole.

Hy was prolifiek en het nog vele dramas en kreatiewe skryfwerk gepubliseer.

‘Ronnie het my alles geleer.’

In die boek The Writings of Ronnie Govender skryf Rajendra Chetty hy is een van die land se gemarginaliseerde skrywers wat nie die erkenning kry wat hy eintlik moet geniet nie.

Die kunste-administrateur Ismail Mahomed, verbonde aan die Universiteit van KwaZulu-Natal, het in ’n ope brief aan die minister van sport, kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, dié berispe oor sy stilswye ná Govender se dood. Hy het hom ook getakel oor die onbeholpe manier waarop hy met die kunste en kunstenaars omgaan. “Op sosiale media het dit gegons oor Govender se dood, maar van jou was daar ’n dawerende stilte. Dit is eenvoudig omdat in jou blatante onnoselheid jy geen idee het hoe waardevol kunstenaars se bydrae tot die land is nie. Jou nalatenskap, liewe minister, is die een wat vergeet gaan word.”

Govender was ook ’n geliefde mentor.

Die omroeper en aktrise Jayshree Parasuramen sê: “Hy het my alles geleer. Ek en hy het heerlik geruk en rol na die luide musiek van Eddie Grant in my motor.

“Ons het ook na klassieke Indiese musiek geluister.”

Sathiseelan Gurilingam (Ronnie) Govender is in Cato Manor gebore.

Hy het tien sibbes gehad.

Sy grootouers het van Suid-Indië na Suid-Afrika gekom en met groente gesmous sodat hulle ’n stukkie grond kon koop. Sy pa was die afleweraar vir ’n bakkery en sy ma het kinders grootgemaak.

Op skool reeds het hy ’n liefde vir letterkunde ontwikkel, onder meer vir die werk van Charles Dickens. Ná skool is hy na die Universiteit van Kaapstad, waar hy homself gefinansier het deur sportberigte vir The New Age te skryf. Dié koerant is verbied en hy moes terugkeer na Durban, waar hy hom as onderwyser bekwaam het. Min mense weet hy het 'n glasoog gehad; die resultaat van ’n bom wat hy gemaak het toe hy 13 was.

Sy dogter, Pregs Govender, ’n aktivis en voormalige lid van die parlement, vertel sy sal hul geesdriftige gesprekke mis. “En ons het saam gedans en gesing.

“My avontuurlustige pa was lief om met ons familie van Durban na Kaapstad te reis. Daar was pret met liedjies, woordspeletjies en die heerlike padkos wat my ma gemaak het. Dít ondanks die feit en die verontwaardiging dat ons as Indiërs deur die destydse Oranje Vrystaat moes jaag omdat ons nie toegelaat is om daar te oornag nie.”

Hy word oorleef deur sy vrou, Kamalam, drie kinders, tien kleinkinders en drie agterkleinkinders. Een kind het hom in 2013 ontval.

Sathiseelan Gurilingam (Ronnie) Govender, gebore 16 Mei 1934, oorlede 29 April 2021.

Rus in vrede

* Rina Mooi, bemind deur vele oudstudente en dosente aan die Universiteit Stellenbosch, is op  3 April oorlede. Sy was vir jare betrokke by die HAUM-boekwinkel op die hoek van Plein- en Ryneveldstraat. Die kosskrywer Peter Veldsman, op wie sy ’n groot indruk gemaak het, sê: “Ek weet nie hoe oud sy was nie, maar ek dink dat sy en koningin Elizabeth ewe oud is. Sy was ’n wandelende ensiklopedis van elke studieveld. As jy (in die dae voor Google) op soek was na ’n bron van inligting, kon jy maar net vir Rina, of soos die studente haar genoem het, “Mooi Rina”, vra. Altyd innemend, altyd met ’n stoute storietjie om mee te vermaak, altyd gelief deur skrywers en digters. Ná sy wonderbaarlike herstel was Dirk Opperman se eerste versoek om na Rina geneem te word. Sy het my bekend gestel aan André Brink en Ingrid Jonker. Rina was ’n katte-mens en ’n mense-mens. ’n Pedagoog, ’n sielkundige, ’n alles-in-een biblioteek. Ek is dankbaar dat ek haar nog kon besoek voordat die virus toegeslaan het.”

* Olympia Dukakis, die aktrise wat ’n Oscar gewen het vir die rolprent Moonstruck, is in die ouderdom van 89 in haar huis in Manhattan oorlede. Sy was bekend vir haar rasperige stem en fyn toneelspel. Dukakis was oorspronklik ’n gerekende verhoogkunstenaar en het op 56 die rol van Rose in Moonstruck teenoor Cher en Nicolas Cage gespeel. Sy het ook in Steel Magnolias verskyn. Haar mees onlangse rol was dié van Anna Madrigal, ’n transgender matriarg en losieshuiseienaar in San Francisco, in die TV-reeks Tales of the City.

Meer oor:  Sterfgevalle  |  Rus In Vrede  |  'N Lewe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.