Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
'n Lewe: Sakeleier onthou vir sy rol in Vredesakkoord

Die sakeleier en voormalige uitvoerende direkteur van Sanlam, Attie du Plessis, het verlede Sondag in sy huis in Randburg aan leukemie gesterf. Hy was 75.

Attie du Plessis: “Hy het ’n merkwaardige vermoë gehad om kalm te dink oor moeilike situasies.”

Du Plessis, broer van die oudminister van finansies Barend du Plessis, het ’n vrugbare loopbaan vol hoogtepunte gehad. Hy het ook verskeie nie-uitvoerende direkteursposte beklee by maatskappye soos Absa, KWV, Punter Southall Group (VK), Gencor, Sentrachem, Unisys, Nissan en Siemens.

Buite die werkplek was hy ’n aktiewe gemeenskapslid. Hy het gedien as medevoorsitter van die Afbakeningskommissie, lid van die Vredesberaad, president van die Afrikaanse Handelsinstituut en Besigheid Suid-Afrika (later hernoem na Business Unity South Africa), asook voorsitter van die (destydse) Randse Afrikaanse Universiteit.

Sy seun, Jan-Hendrik, sê: “As ’n pligsgetroue en eerbare man het hy altyd die regte pad gekies. Hy was detailgeoriënteerd, wat hom bekend gemaak het as ’n betroubare kollega, ’n vooraanstaande sakeman en ’n regverdige mens.

“Hy het ’n merkwaardige vermoë gehad om kalm te dink oor moeilike situasies. Hy het nooit uit woede en kwaadheid gereageer nie, altyd met ’n koelkop.

“My pa het meer lewens aangeraak as wat ek ooit sou van weet of verstaan – in Suid Afrika, maar ook internasionaal. Hy was ’n regte jintelman wat mense op alle lewensterreine van die lewe met respek behandel het.”

‘Hy was ’n regte jintelman.’

Sy kinders onthou verder: “Ons het grootgeword in Randburg en ons kinderjare was vol vreugde met al die geleenthede wat ons gebied is.

“Ons pa het duidelik baie tyd in die kantoor en in sy studeerkamer deurgebring – daar was immers nie skootrekenaars en remote working in daardie dae nie. Ons het gereeld sport saam gekyk, en hy het baie tyd by die koorkonserte en langs die sportvelde bestee, waar hy soms ook bietjie van die werk afgehandel het.

“Later in sy lewe het hy ’n liefde vir visvang ontwikkel, met die forelwaters wat vir hom tyd gegee het om ’n bietjie kop skoon te maak. Hy het ’n spesiale plek gehad in sy hart vir die Bosveld, die see, Namibië en Londen.

“Wat ons van hom gaan mis? Sy glimlag, sy belangstelling in ons en ons vriende se lewens. En natuurlik die wyse woorde van advies. Hy sou enige tyd van die dag of nag inspring om te help.”

In ’n onderhoud vroeër vanjaar op Netwerk24 met die oudpolitikus Roelf Meyer verwys hy na die rol wat Du Plessis gespeel het in die ontlonting van een van die land se stormagtige tydperke.

“Ek wonder soms of ons nie die dikwels vergete Vredesakkoord van die 1990’s moet herbesoek nie. Desmond Tutu, Johan Heyns en Attie du Plessis was die voorlopers, met die steun van partye en die staat. Vredeskomitees is tot stand gebring oral waar daar politieke geweld was.”

Du Plessis is in Boksburg gebore. Sy pa, Jan-Hendrik, het op die spoorweë gewerk, en het ook later ’n slaghuis gehad. Sy ma, Martie, was ’n talentvolle ma en ouma, met ’n fyn hand vir detail.

Sy skoolloopbaan het hy aan die Laerskool Baanbreker en die Hoërskool Voortrekker voltooi. Daarna het hy verskeie grade en diplomas in die ekonomie aan Stellenbosch, Wits, Unisa en Harvard verwerf. Hy en sy vrou, Barbara, was in dieselfde klas van gr. 1 tot matriek. Hulle het ná universiteit met mekaar uitgegaan.

Hy word oorleef deur sy vrou, twee dogters, Barbara en Adrè, sy seun, en vyf kleinkinders.

* Adriaan Sarel du Plessis, gebore 9 Maart 1944, oorlede 1 September 2019.

Meer oor:  Attie Du Plessis  |  'N Lewe  |  Sterfgeval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.