Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
'n Lewe: Schadeberg had blik van buitestander

Die internasionaal gerekende fotograaf Jürgen Schadeberg is in die ouderdom van 89 ná ’n beroerte in Valencia, Spanje, oorlede. Hy was bekend (en berug) vir sy maatskaplike gewete.

Hier staan die fotojoernalis Jürgen Schadeberg neffens sy foto van Nelson Mandela in sy sel op Robbeneiland. Foto: getty images

Schadeberg het onder meer treffende foto’s tussen 1950 en 1964 van veral swart Suid-Afrikaners se lewe geneem. Wat oppervlakkig beskou op die rand van ’n samelewing plaasvind, het hom gefassineer.

Sy werke het die lig laat val op die sterk kulturele en politieke bewussyn van swart burgers onder apartheid – geskakeerde lewens van mense waarvan wit Suid-Afrikaners op daardie stadium min geweet het.

In Sophiatown het hy polsende rokerige jazzklubs laatnag afgeneem met opkomende sterre soos die sanger Miriam Makeba en die trompetspeler Hugh Masekela, maar ook gewone mense wat soos figurante en souffleurs in die agtergrond rondhang.

Hy het kiekies van Sophiatown in sy bloeityd geneem en ook toe dit vernietig is. Schadeberg het foto’s van Nelson Mandela as jong prokureur in sy kantoor en politieke optogte soos die groot versetveldtog in 1952 geskiet.

The New York Times skryf toe hy op 19 in Suid-Afrika aankom, het hy twee samelewings wat parallel langs mekaar ontwikkel het gevind. Daar was ’n onsigbare muur, met geen kommunikasie tussen die twee nie.

As vryskutfotograaf wat ’n inkomste moes verdien het hy gesukkel om sy foto’s hier verkoop te kry omdat die wit fotoredakteurs geen belangstelling daarin getoon het nie. Hulle het ook hul neuse vir sy kamera opgetrek: ’n kompakte 35 mm-Leica.

Hy het egter ’n invloedryke lid van die tydskrif Drum geword waar hy vele jongmense gementor het. Dit was vir hom ’n vreemde en tog bekorende wêreld, want in die kantoor het almal soos ’n familie saamgewerk.

Hy het Sophiatown in sy bloeityd afgeneem.

Sodra jy egter buitentoe geloop het, was almal weer apart. In sy memoires, The Way I See It, skryf hy nieteenstaande dat daar vele onderonsies onder fotograwe was, geld is spandabelrig uitgegee en daar was ’n kultuur van alkoholmisbruik.

In 1964 is hy landuit om sy horisonne te verbreed en het hy gewerk in Skotland, Engeland, Spanje, Frankryk en Amerika. Sy foto’s van die arm werkersklas in Skotland gedurende die 1960’s is hartroerend, genuanseerd en atmosfeerryk.

Dit was die sogenaamde Swinging Sixties, maar dit is nie wat hy raakgesien of gefotografeer het nie.

Dit was van gewone ma’s wat met hul babas in stootwaentjies loop, jong mans wat op straathoeke vir kwaadgeld rondstaan, vervalle geboue, verwaarloosde kinders en kroegvlieë met gesigte waarop jare se melancholie geëts is.

In die 1970’s het hy in Duitsland foto’s geneem van Duitse Jode wat terugkeer en die neo-Nazi-beweging. Waar hy hom ook al bevind het, het hy sy werke met ’n derde oog geskiet.

Tussen 1985 en 2007 was hy terug in Suid-Afrika om foto’s van ’n postapartheid-samelewing te neem. In ’n onderhoud met flashbak.com sê hy dat een van sy gunsteling-foto’s sekerlik die een is van Nelson Mandela wat ná sy vrylating weer sy sel op Robbeneiland besoek.

Vir die SAUK vertel sy vrou, Claudia, wat al vir 36 jaar nou saam met hom werk, dat hy ’n absolute perfeksionis was. Sy werk was sy lewe. Hy was gedrewe en passievol tot aan die einde.

Jürgen Schadeberg is in Berlyn gebore. In sy tienerjare is hy gedwing om by die Hitlerjugend aan te sluit. Dit is hier waar hy ’n renons in tropdenke en die blik van die buitestander ontwikkel het.

Hy word oorleef deur sy vrou.

  * Jürgen Schadeberg, gebore 18 Maart 1931, oorlede 29 Augustus 2020.

Rus in vrede
* Peter King (80) was een van die top-altsaxofoniste in die Britse jazz-wêreld. Hy het oor grense heen naam gemaak met fynproewer-albums soos New Beginning en East 34th Street. Sy musiek is ook deur Quincy Jones in die rolprent The Italian Job gebruik.
As jong man wou hy ’n lugdinamikus word, maar weens 'n senuwee-ineenstorting kon hy nie sy eksamens aflê nie. Hy het begin luister na Charlie Parker se musiek en homself geleer om eers die klarinet en daarna die saxofoon te speel. Volgens The Telegraph was sy eerste optrede in ’n kroeg se “binnekamer” saam met 'n amateurorkes.
In ’n stadium was hy verslaaf aan kokaïen en heroïen. Hy het op straat beland, maar herstel.
Hy was ’n puik musikant, maar ook 'n uithalerontwerper van modelvliegtuie. Hy het daarvoor internasionale trofeë verower.
* Die stoeier Danie Brits (55), op sy dag bekend as die Gemaskerde Tornado, is in Roodepoort onverwags aan onbekende oorsake oorlede. Hy was nie net ’n knap stoeier nie, maar ook 'n judoka.
In ’n berig wat in 2011 in Beeld verskyn het, skryf die koerant oor 'n vroeëre geveg van Brits teen ’n Amerikaner genaamd The Warrior: “Op Upington het die Warrior ’n baba uit ’n stootkarretjie gepluk en die karretjie teen Danie Brits se kop flenters geslaan; en onlangs in Pretoria het die Warrior ’n ligfakkel in die kryt gegooi wat vlamme van twee meter hoog tot gevolg gehad het. Danie Brits se oog is in die proses beseer en hy is dieselfde aand geopereer.”
By ’n geveg in Durban het die toeskouers so oproerig geraak dat van hulle deur die polisie na buite vergesel moes word om te kalmeer. Brits kon die hordes wat na hom kom kyk het met sy vegkunsies en manewales histeries maak. Daar was selfs gerugte van skote wat by een geveg geklap het en brandstigting.

Meer oor:  Jürgen Schadeberg  |  'N Lewe  |  Sterfgevalle  |  Rus In Vrede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.