Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
'n Lewe: Talliard het talle gehelp om verslawing te oorkom

’n Voormalige dwelmafhanklike wat vir jare op straat gewoon het en toe later in ’n bekroonde maatskaplike entrepreneur verander het, Paul Talliard, is op 56 in Steenberg, Kaapstad, aan emfiseem oorlede.

Paul Talliard

Hy was in 2010 die medestigter van Hands of Honour, ’n organisasie sonder winsbejag in Ottery wat arm jeugdiges en dwelmafhanklikes op die Kaapse Vlakte help om hul menswaardigheid terug te kry deur lewens- en werkvaardighede aan te leer.

Dié organisasie het oor die jare doellose en verwaarloosde jong mans en volwassenes geleer om nutsmanne te word. Houtwerkklasse is aangebied.

Ou vervalle geboue soos die Steenberg Scouting Hall is opgeknap. Weggooigoed is opgetel en omskep in ameublemente. Groentetuine is gekweek.

Later het die aantal mense wat aangestel is van nege tot 50 vermeerder. Baie van diegene wat onder Talliard se toesig gehelp is, het dwelms en drank afgesweer, werk gekry, met gesinne begin en positiewe bydraes tot die samelewing gemaak.

Een van die groot projekte waaraan die mans gewerk het, is die klaskamers-op-wiele gemik op jong kinders in minderbevoorregte woonbuurte. Hulle is van herwonne materiaal gebou en kleurvol geverf.

Hierdie mini-biblioteke kon oopvou en daar was ’n wêreld van kinderboeke, opvoedkundige speelgoed en marionetteteater in elke een. ’n Storieverteller het elke mobiele klaskamer vergesel en die kleingoed vermaak met verbeeldingryke verhale.

Hy het alles verloor: Sy huis, familie en trots.

Met hul opheffingswerk het hulle internasionaal naam gemaak en hul organisasie is met vele pryse bekroon – soos onder meer van die SAB Foundation, British Council, Deutsche Bank en die Chivas Venture.

Paul John Talliard is uit ’n goeie familie in Dieprivier gebore. Hy het die Hoërskool South Peninsula in Dieprivier bygewoon.

Ná skool het hy besluit om brandweerman te word. Hy het in crack-smokkelhuise begin rondhang en dwelms begin gebruik.

Toe hulle hom afdank het hy ’n werk op ’n olieboor gekry. Hy het die wêreld platgereis, maar dwelms was alom beskikbaar.

Hy het alles verloor: Sy huis, familie en trots. Hy was vir 35 jaar verslaaf. Vir 15 jaar was hy van sopkombuise afhanklik.

Talliard het soms 10 km vanaf Retreat in die son en reën na Kalkbaai en Vishoek geloop, waar die sopkombuise glo van beter gehalte was. Op ’n dag het hy in Vishoek ’n halfgeëte pakkie slaptjips uit ’n vullisdrom gevat en daaraan begin eet.

’n Ander hawelose man het na hom geloop en vir hom R10 gegee. “Gaan koop vir jou regte kos,” het hy gesê. Hierdie onverwagte barmhartigheid het hom diep getref en hom stadig op die pad na herstel gesit.

By ’n sopkombuis in Steenberg het hy ’n vrou, Glenda Hendricks, ontmoet. Sy was besig om borde vol te skep. Hy het net 55 kg geweeg. Sy lyf was vodde.

Hendricks sou later sy lewensmaat word en hom help om Hands of Honour op die been te bring. Hy het begin uithelp by dié sopkombuis en was beïndruk met hoe hulle die hongerdun straatarmes behandel het.

Binne drie weke het Hendricks hom van die dwelms gespeen. Op ’n dag kyk sy na al die mans wat wag op kos, sommige drie geslagte.

Sy het na hom omgedraai en gevra: “Kan jy nie iets met hulle doen nie?”

Oor die telefoon sê sy: “Ons was elke dag saam, my vangnet is weg. Nou is daar net stilte.”

Hy word oorleef deur Hendricks, twee susters, ’n broer en ’n enorme aantal gebroke kinders en mans wie se lewe hy help aanmekaarsit het.

† Paul John Talliard, gebore 18 Januarie 1964, oorlede 9 Januarie 2021.

Rus in vrede
* Die joernalis en voormalige Suid-Afrikaanse ambassadeur na Uganda, Jon Qwelane, is laat laas maand in die ouderdom van 68 aan onbekende oorsake dood. Nadat hy ’n rubriek geskryf het met die opskrif, “Call Me Names, but Gay Is Not Okay”, is hy by die Menseregtekommissie aangekla. Qwelane het hom min daaraan gesteur. Hy het openlik gesê hy ondersteun Robert Mugabe, veral met sy onwrikbare antagonistiese houding teenoor gay mense. Qwelane het hulle met varke vergelyk en bygevoeg dat gay huwelike sal lei tot troues met diere. Desnieteenstaande het die Suid-Afrikaanse regering hom as ambassadeur na een van die mees homofobiese lande in Afrika, Uganda, gestuur. Die saak teen hom het amper 12 jaar geduur, omdat hy die Stalingrad-strategie gebruik het om hofsake uit te stel. Verlede jaar is hy egter onskuldig aan haatspraak bevind omdat hy volgens die howe sy reg op vryheid van spraak uitgeoefen het.
* Volgens die suster van Valerie Davids (62), Sylvia, het haar sib in die Nuwe Somerset-hospitaal aan Covid-19 gesterf nadat die hospitaal vir haar familie vertel het hulle het nie meer ventilators nie.
* Die kunskenner en digter Leon Strydom is in George in die ouderdom van 76 aan Covid-19 oorlede.
* Enver Essop (54), 'n gesoute persfotograaf van Kaapstad, het by sy huis in Goodwood gesterf nadat hy gesukkel het om asem te haal. Hy was die man van Philda Essop, ’n politieke verslaggewer en redaksionele inhoudsbestuurder van Netwerk24.
* Die Britse liedjieskrywer Geoff Stephens is op 86 aan onbekende oorsake oorlede. Hy het liedere soos onder meer “There’s a Kind of Hush” (Herman’s Hermits), “The Crying Game” (Boy George) en “Winchester Cathedral” (Frank Sinatra en ander kunstenaars) geskryf.

Meer oor:  Sterfgevalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.