Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
'n Lewe: Teoloog bevraagteken van vroeg alle waardes

Dr. Abel Pienaar, filosoof, skrywer en in sommige kringe omstrede teoloog, is onlangs in die Net­care Pretoria-Oos-hospitaal aan Covid-19 oorlede. Hy was 51.

Dr. Abel Pienaar

Pienaar was vir meer as tien jaar ’n leraar in die NG Kerk voordat hy só ontnugter geraak het met die kerk se teologie dat hy uit die bediening getree het.

Hy het egter nooit sy belangstelling in geestelike sake verloor nie en gedurende sy akademiese loopbaan twee grade in die teologie aan die Universiteit van Pretoria (UP) behaal, asook ’n doktorsgraad in godsdiensfilosofie.

Hy was ’n bekende skrywer, ook van koerantrubrieke, en het gereeld op radio- en TV-programme verskyn. Hy het sewe boeke geskryf. Die eerste was Saam op soek na God: Soeke na ’n eietydse spiritualiteit (2010) en sy laaste, Tao van wakker word, het vroeër vanjaar verskyn.

Die joernalis Jean Oosthuizen sê nadat Pienaar uit die NG Kerk bedank het, het hy in Boeddhisme begin belang stel en uiteindelik ’n Godsbeskouing baie anders as die tradisionele gereformeerde teoloë ontwikkel. Pienaar het later die spirituele Renaissance “gnostiese-gemeente” in Pretoria tot stand gebring met homself as spirituele begeleier.

Oosthuizen sê Pienaar is “uiters swak” deur die kerk behandel.

“As ek hom aangehaal het in berigte in die Kerkbode was daar altyd iemand wat gekla het.”

‘Hy het tot in my siel gekyk met sy sagte oë.’

Oosthuizen skryf op LitNet: “Een van die hoofredes waarom die NGK se koerant Kerkbode sy borgskap in 2013 onttrek het aan ’n gespreksreeks by die Woordfees in Stellenbosch, was dat Pienaar een van die deelnemers sou wees.”

’n Vriendin, Alida van der Westhuizen, eertydse redakteur van Rapport se webblad, sê: “Ek het hom oorreed om ’n weeklikse blog vir Rapport se webblad te skryf. Só het ’n wonderlike, verrykende vriendskap gegroei. Dié blogs het later in boekvorm, God se oë is blou, verskyn.”

Pienaar is in Bethal, Mpumalanga, gebore. Sy pa, Pine, was sy lewe lank in die saad- en landboubedryf. Pienaar se ma, Ester, was ’n kunstenaar.

Sy familie sê: “Sy liefde vir kuns het hy van haar geërf. Ma Ester moes gereeld vure doodslaan wanneer die redenasies by die huis warm geword het!”

Oor sy grootwordjare vertel hulle dat hy op die ouderdom van vyf die muggiestoei-kampioen geword het. “Hy het op skool reeds sy swart gordel in karate verower en het die Suid-Afrikaanse o.18-karatekampioenskap gewen.

“Abel was baie lief vir rugby en het vir die eerste span gespeel. Hy was ’n prefek op laerskool en is as die onderhoofseun van die Hoërskool Hoogenhout verkies. Hy is vir twee jaar weermag toe en het as ’n luitenant uitgetree. Vroeg reeds het hy alle waardes bevraagteken.”

Sy vrou, Zelda, vertel van hul ontmoeting: “Die eerste keer toe Abel by Renaissance gepreek het, het ek Renaissance vir die eerste keer besoek. Ons het twee jaar uitgegaan voordat ons getroud is. Toe ons die eerste keer oogkontak maak, het dit vir my gevoel of hy tot in my siel gekyk het met sy sagte oë. Ek kon dadelik sy liefde en rustigheid aanvoel.

“Hy was op sy gelukkigste as hy met sy sigaar en whisky op die stoep kon sit en kyk, terwyl ek in die tuin rondkrap,” vertel sy. “Wat ek die meeste van hom sal mis, is dat hy my dan nader roep, so op sy been klap en sê dat ek hier op sy skoot moet kom sit. Hy sou my styf vashou en sê: ‘Jy weet dat ek ontsettend lief vir jou is, nè?’ ”

Hy word oorleef deur sy ouers, vrou, drie kinders, twee kleinkinders en twee susters.

Abel Jacobus Pienaar, gebore 24 Augustus 1969, oorlede 1 Julie 2021.

Rus in vrede

* Die chirurg prof. Carel Mieny is verlede naweek in die ouderdom van 89 in Pretoria aan Covid-19 oorlede. Hy was professor aan die Universiteit van Pretoria en hoof van die Pretoria Akademiese Hospitaal vir 25 jaar (1977-1992). Sy seun Jean-Pierre sê die familie gaan sy wysheid, wye algemene kennis, passie en geduld om moeilike konsepte te verduidelik, sin vir humor en liefde vir sy familie mis.

* Die anti-apartheidsaktivis  Norman Levy (91) het in Kaapstad aan longkanker gesterf. Hy het in sy tienerjare ’n aktivis geword. In 1965 is hy vir drie jaar tronk toe gestuur, waarna hy en sy familie in ballingskap in Engeland gaan woon het.

* Die musikant en advokaat  Steve Kekana is op 1 Julie op 62-jarige leeftyd aan Covid-19 oorlede. Die veelsydige Kekana, wat sedert vyfjarige ouderdom blind was, was sanger, liedjieskrywer en lektor in arbeidsreg aan Unisa. Hy het in ’n loopbaan van 41 jaar meer as 40 albums opgeneem. Hy is veral bekend vir “Feel So Strong” (saam met PJ Powers en Hotline) en “Raising My Family”, wat in 1980 ’n groot treffer in Europa was.  

* Die internasionaal gerekende pianis en komponis Charles  Segal (92) is verlede Sondag in Hollywood dood. Hy het as tweejarige saam met sy familie uit Litaue na Kaapstad van die Joodse volksmoord gevlug. Segal hou die rekord as pianis met die meeste opnames – meer as 30 000. In 1952 het sy eerste liedjie (in Afrikaans nogal), “Miskien”, ’n liedjieskryfkompetisie van Rooi Rose gewen.
Sy jongste broer, Hirske, het onder die naam Laurence Harvey bekendheid as akteur verwerf.

Meer oor:  Steve Kekana  |  Abel Pienaar  |  'N Lewe  |  Sterfgevalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.