Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
'n Lewe: Totsiens aan visioenêre leier met ’n sagte hart

Die innoverende TV-programhoof Aletta Alberts is ’n dag voor haar 57ste verjaardag in die Milpark-hospitaal in Johannesburg aan Covid-19 oorlede.

Aletta Alberts

Sy was die programhoof van die betaaltelevisiekanaal MultiChoice en bekend as ’n fyn strateeg wat ’n wye kennis en intuïsie gehad het van wat mense op die kassie wou sien.

Met haar 30 jaar ondervinding in die TV-bedryf is sy en MultiChoice vir haar harde werk met hoë kykersgetalle beloon.

Sy was veral ’n voorstander van plaaslike talent en programme. Alberts het ook ’n passie gehad om TV-programme in die res van Afrika te vervaardig wat uniek aan elke land is.

“Afrika is nie ’n homogene plek nie, elke land het sy eie behoeftes,” het sy gesê.

Karen Meiring, direkteur van M-Net se kykNET-kanale, sê: “Sy was warm, snaaks, gaaf en het ’n ongelooflike werksetiek gehad. Haar dag het beslis meer as 24 uur gehad. Sy was ’n visioenêre leier met haar vinger op die pols van ’n wye verskeidenheid velde: TV, kuns, opera, kleinhandel, e-handel. Haar nalatenskap is in die mense wat sy opgelei en gelei het om anders te dink en te beoordeel.

“Sy het baie in kollegas en vriende belê, en vir baie kunstenaars deure oopgemaak, hier en internasionaal.

Geliefdes, kollegas neem swaar afskeid.

“Haar gut was onberispelik, haar passie aansteeklik en haar kennis ’n barometer. Sy was uiters kleurvol en stylvol, en ’n ontdekker van nuwe en onbekende terreine.”

Carel Nolte, ’n goeie vriend, vertel: “Aletta sal beslis wou gehad het ons moet mooi aantrek, lekker eet en drink, baie lag en seker maak ons lewe voluit – en dat ons mense help om hul talente te ontwikkel.”

Nog ’n vriend, dr. Jean du Plessis, sê: “Sy het ’n nuwe dimensie gegee aan ’n mens se lewe wat jy nie eens geweet het bestaan nie. Ek sal haar mis, want sy was altyd my reismaat.

“Sy kon altyd die beste Michelin-ster-restaurante uitsnuffel en ons het soos konings geëet op vakansie.

“My hart bloei.”

Alberts het in Potchefstroom grootgeword.

Haar pa het 25 jaar gelede saam met haar ouma in ’n ongeluk gesterf. Hy was werksaam by die munisipaliteit.

Haar ma het ’n naaldwerkwinkel gehad en het haar lewe lank die mooiste klere gemaak.

Ná skool het sy drama aan die destydse Potchefstroomse Universiteit (PUK) geswot.

Haar broer, Pieter, en suster, Maretha, sê: “Aletta was heelwat ouer as ons. Sy was van kleins af modebewus en baie kreatief met klere. Sy was flambojant en het ’n baie goeie selfbeeld gehad. Sy was nooit bang vir nuwe avonture en interessante mense nie.

“Haar hart was sag en groot en sy het haar geliefdes met geskenke en liefde oorlaai. Sy was ’n reguit mens wat nie gehuiwer het om vir jou te sê as sy reken jy doen iets wat nie werk nie of nie reg is nie.”

Hulle vertel verder dat sy ’n gesofistikeerde mens was wat daarvan gehou het om te onthaal en dan haar mooiste eetware en tafeldoeke uitgehaal het.

“Sy het ’n ongelooflike oog vir mooi goed gehad en dit was vir haar belangrik dat haar onmiddellike omgewing sag op haar oog moes wees.

“Ons gaan haar sin vir humor, haar lag, haar skerp brein en haar ‘regruk’ mis.

“Sy was groter as hierdie lewe en het ons in haar grootsheid laat lééf.”

Sy word oorleef deur haar ma, Susan, broer, Pieter, suster, Maretha, skoonsuster, Karen, en hul kinders, Hendri, Micaela, Hendrik en Gerhard.

Aletta Maria Alberts, gebore 14 Julie 1964, oorlede 13 Julie 2021.

Rus in vrede

* Die oud-atleet Florence Wills Strydom, wat saam met Daphne Hasenjäger, Edna Maskell en Sally Black twee keer die wêreldrekord in die 4 x 110 treë-aflos verbeter het – in Kimberley in 1950 (47,3 s) en ’n jaar later in Pretoria (46,9 s) – is op 93-jarige leeftyd oorlede. Sy het aan demensie gely. Sy was in haar latere lewe ook ’n goeie sitrusboer.

* Die voormalige politikus en premier van KwaZulu-Natal  dr. Ben Ngubane is die afgelope Maandag in Richardsbaai aan Covid-19 oorlede. Hy was 79.

* Die internasionaal gerekende fisikus prof. Cedric Holzapfel is die afgelope Maandag aan Covid-19 oorlede. Hy was 85. 

* Die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidskunstenaar Edwin van Wijk is Woensdag in Amsterdam oorlede. Hy was 73. Van Wijk was in kabaret- en nagklubkringe bekend as die Baroness Coral von Reefenhausen. Hy was in die vroeë 2000’s aanbieder van ’n gewilde TV-program, Below the Belt, oor die naglewe in Johannesburg en Kaapstad. 

* Die gewilde sjef Lesego (LesDaChef) Semenya is Maandag aan Covid-19 oorlede. Hy was 39.
Hy was onlangs medeaanbieder van en beoordelaar in Mzansi Magic se Celebrity MasterChef.
Semenya, wat aan die Prue Leith Culinary Institute gestudeer het, se eerste kookboek, Dijo: My Food, My Journey, is in 2018 gepubliseer.

* Hermine Burger (70), die sakevrou wat in die 1980’s die eerste deurnagvulstasie in Bellville geopen het, is in die Mediclinic  Cape Gate in Kaapstad aan Covid-19 oorlede.

* André Rademan (62), president van die Oostelike Provinsie Rugbyunie, is Dinsdagaand in Gqeberha aan Covid-19 oorlede.

Meer oor:  Aletta Alberts  |  André Rademan  |  'N Lewe  |  Rus In Vrede  |  Sterfgevalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.