Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
'n Lewe: Turok was tot dood aan sy oortuigings getrou

Die rondborstige en gesoute ANC-LP prof. Ben Turok is Maandagoggend in Kaapstad oorlede. Hy was 92.

Prof. Ben Turok

In die lig van die haglike omstandighede wat die laaste jare in die land heers, was sy wens dat daar liewer ’n private begrafnisplegtigheid vir hom gehou word.

Hy was een van die laaste oorlewende lede van die oorspronklike leierskorps van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party wat die land verbied is. Turok was ook verantwoordelik vir die skryf van die klousule oor die ekonomie in die Vryheidsmanifes.

Hy was, saam met oudpres. Nelson Mandela, een van 30 beskuldigdes in die “eerste hoogverraadsaak” in 1956 waarin al die aangeklaagdes onskuldig bevind is. Later is hy as lid van Umkhonto we Sizwe tot drie jaar tronkstraf gevonnis nadat sy vingerafdrukke op ’n bom gevind is.

Die joernalis Benjamin Pogrund skryf Turok se plan was om die bom in die swart afdeling van die skeihof in Johannesburg ná-ure te laat afgaan. Dan sou niemand beseer kon word nie. Dit was ’n politieke standpunt teen segregasie.

“Is daar ’n weg uit hierdie gemors? Wat het geword van al die strewes na die skep van ’n samelewing wat vir almal voorsien, insluitende die armes en werkloses?”

Toe hy vrygelaat is, het hy en sy vrou Mary gevlug en vir 25 jaar in ballingskap in onder meer Kenia, Tanzanië, Zambië en Engeland gebly.

Toe oudpres. FW de Klerk amnestie verleen het aan uitgewekenes het hulle na Suid-Afrika teruggekeer. Hy was met verskeie portefeuljes in die parlement belas, maar het die benaming politikus verpes. Hy het dit met opportunisme en skynheiligheid assosieer.

“Ek is ’n organiese intellektueel wat in die parlement vasgevang sit,” het hy in sy boek, With My Head Above the Parapet, geskryf – een van 19 wat hy in sy lang lewe gepubliseer het.

Hy het gereeld oor die wêreld heen lesings gegee oor die ekonomiese ontwikkeling in Afrika en het drie grade gehad: in ingenieurswese, filosofie en politieke wetenskap. Binne die magstrukture van die ANC was hy uiters ongewild, omdat hy hom sterk uitgespreek het teen die Zuptas, korrupsie, asook teen die beplande muilbandwet.

Voorts het hy as medevoorsitter van die parlementêre etiekkomitee toegesien dat Dina Pule, voormalige minister van kommunikasie, in die pad gesteek is.

The Guardian skryf toe die apartheidsera-sluipmoordenaar, Eugene de Kock, ná 20 jaar vrygelaat is, het Turok gesê: “Mandela het langer in die tronk gesit, maar ons probeer ’n nuwe, welwillende samelewing skep. Ek is bly De Kock het parool gekry.”

In een van sy laaste skrywes, vra hy: “Is daar ’n weg uit hierdie gemors? Wat het geword van al die strewes na die skep van ’n samelewing wat vir almal voorsien, insluitende die armes en werkloses?”

Ben Turok is in Letland gebore, maar sy ouers moes vlug toe dit ’n fascistiese staat word. Hy was ongeveer sewe toe hulle in Kaapstad aankom en hulle in die Tuine vestig. Sy politieke ontwaking het eers gekom nadat hy met Karl Marx se werk aan die Universiteit van Kaapstad kennis gemaak het.

Turok was ’n man wie se lewe vol teenstrydighede was. Hy is deur baie mense in sy eie party verpes. Boonop, as gevolg van sy ondersteuning vir Palestina, is hy deur ’n groot deel van die Sioniste in die Joodse gemeenskap tot vyand verklaar. Kapitaliste hou dit teen hom dat hy ’n kommunis was. Die geskiedenis sal ’n oordeel vel.

Sy laaste sin in die voorwoord tot sy boek, With My Head Above the Parapet, lees: “And so, if my obituary records my contributions to the Freedom Charter and to the Constitution, I shall sleep content.”

Hy word oorleef deur sy vrou, Mary, en drie kinders, Ivan, Fred en Neil.

Ben Turok, gebore 26 Junie 1927, oorlede 9 Desember 2019.

Rus in vrede

* Miemie Smal, voorheen skoolhoof van die Hoër Meisieskool Paarl, is in die ouderdom van  94 oorlede. Sy was tussen 1970 en 1984 skoolhoof. Die huidige skoolhoof, Mariana van Zyl, sê sy was ’n leier met visie wat vele projekte geïnisieer het. “Ons eer haar nagedagtenis.”
Voor haar amp by die HMS Paarl het sy wiskunde en biologie aan die Hoërskool Jan van Riebeeck gegee. Vele oudleerlinge onthou haar perfeksionisme, verfyndheid en ruim algemene kennis. 

* Die sangeres Marie Fredriksson van die Sweedse popgroep Roxette is op 61-jarige leeftyd oorlede aan breinkanker nadat sy die afgelope 17 jaar in remissie was.
Fredriksson was ook ’n talentvolle liedjieskrywer, pianis en skilder. In 1987 het dié popgroep internasionale roem verwerf met die liedjie “It Must Have Been Love”, wat ook later die klankbaan vir die rolprent Pretty Woman geword het.
In haar outobiografie skryf sy oor haar stryd teen kanker. “Ek het baie jare as gevolg van dié siekte verloor. En dit is ook hartseer om ouer te word. Maar elke dag is ek dankbaar dat ek hier kan sit en nog sing.” 

* Drie Suid-Koreaanse sterre is binne drie maande dood. Die mees onlangse een is die akteur Cha In-ha (27). Hy het die dag voor sy sterfte op Instagram ’n foto geplaas en geskryf: “Everybody, watch out.”
In Oktober is die sangeres Sulli (25) ook dood en vroeër is die popster Goo Hara ook dood. Sy was 27. Daar word aanvaar al drie het hul eie lewe geneem. Die vermaaklikheidsbedryf in hierdie land is genadeloos en jong sterre word onophoudelik deur hul bestuurders geboelie.

Meer oor:  Ben Turok  |  Sterfgeval  |  'N Lewe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.