Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
'n Lewe: Van fabriekswerker tot sanger op wêreldverhoog

Die stigterslid van die sanggroep Ladysmith Black Mambazo, Joseph Shabalala (78), is in die Life Eugene Marais-hospitaal in Pretoria oorlede. Shabalala se gesondheid het ná 'n rugoperasie in 2013 verswak.

Joseph Shabalala. Hy het begin sing terwyl hy in f
Joseph Shabalala. Hy het begin sing terwyl hy in fabrieke gewerk het. Foto: Getty Images

Sy groep sangers het in 1986 onder geweldige kontroversiële omstandighede met die Amerikaanse sanger Paul Simon begin werk. Die kulturele boikot was in volle gang.

Simon het van hulle te hore gekom in die vroeë 1980’s toe hulle gereeld in Duitsland by feeste opgetree het. Hy het Shabalala in Johannesburg ontmoet en hom gevra of hulle saam kan werk.

Shabalala het destyds vertel Simon was soos ’n kind wat na sy pa toe gekom het en vir hom gevra het: “Kan jy my iets leer?”

“Hy was so hoflik. Dit is die eerste keer dat ek ’n wit man omhels het.”

Luidens The Telegraph moes die groep na Londen en New York vlieg om aan die album Graceland te werk. “Homeless”, ’n verwerkte tradisionele Zoeloe-trouliedjie, is in 1985 in die Abbey Road Studios in Londen opgeneem.

“Toe ons ‘Homeless’ opneem,” vertel Shabalala, “het Paul by die mikrofoon by my aangesluit. Ek het amper flou geval. Ek het gedink, ‘hey, hoekom kruip jy in Amerika weg? Jy is my broer. Ek noem hom my broer’.”

Die volgende jaar het hulle dié lied, wat toe nog nie uitgereik is nie, met Simon op NBC se Saturday Night Live opgevoer. Terwyl hulle in New York was, het hulle aan  “Diamonds on the Soles of Her Shoes” gewerk.

Daarna het hulle in 1986 en 1987 met Simon as deel van die Graceland-toer oor die wêreld heen opgetree. Van dié album is 16 miljoen eksemplare verkoop.

Daarna het Ladysmith Black Mambazo ’n internasionale profiel ontwikkel en het hulle mettertyd vyf Grammys gewen. Hulle het vir dekades lank op elke uithoek van die aardbol opgetree en ook met sangers soos Dolly Parton, Stevie Wonder, Josh Groban, en vele ander opgetree.

Toe oudpres. Nelson Mandela die Nobelprys in 1993 ontvang het, het hulle daar opgetree, asook ’n jaar later toe hy as president ingehuldig is.

Joseph Shabalala is in Ladysmith in die Uthukela-distrik van KwaZulu-Natal gebore. Sy ouers was plaaswerkers.

Hy het reeds in sy tienerjare begin sing, terwyl hy in fabrieke gewerk het. Op ’n dag het hy in ’n reeks drome isicathamiya-harmonieë gehoor. Isicathamiya is ’n onbegeleide sang met ’n oorsprong in Zoeloe-kore.

Hy het sy eie groep, Ezimnyana, begin. In 1964 het dié groep se naam na Lady-smith Black Mambazo verander. Die naam is afgelei van die dorp van sy geboorte, die swart is die kleur van die sterkste osse op die plaas, en die laaste woord beteken byl – ’n simbool van hoe hulle korte mette met hul mededingers gaan maak.

The New York Times beskryf hul sangstyl as dié van dramatiese kontraste met sagte en luide klanke wat eggo, gepaardgaande met vinnige bewegings op die punte van hul tone en hoë skopbewegings.

In 2002 is sy vrou van 30 jaar buite hul huis in Durban koelbloedig deur ’n gemaskerde aanvaller doodgeskiet. Shabalala het sy hand erg beseer toe hy die moordenaar probeer oorrompel.

Daarna was daar bewerings dat dit dalk een van hul kinders kon wees, maar Shabalala was oortuig dit was niemand onder hul dak nie en dat hy volgende op die moordlys sou wees. Dit was toe nie ’n familielid nie, maar ene Mboneni Mdunge, wat lewenslank tronk toe gestuur is. Die motief was glo jaloesie oor hul sukses.

Shabalala word oorleef deur sy tweede vrou Thoko, sewe seuns, twee dogters en 36 kleinkinders. 

† Bhekizizwe Joseph Siphatimandla Mxoveni Mshengu Bigboy Shabalala, gebore 28 Augustus 1941, oorlede 11 Februarie 2020.

Rus in vrede

* Die digter, kunstenaar en eertydse sakeredakteur van Die Burger Hein Swart is in die ouderdom van 76 in Bellville oorlede. Hy het hom eers in die handelswese aan die Universiteit Stellenbosch bekwaam. Sy belangstelling in kreatiewe skryfwerk is hier geprikkel. Hy was later ook parlementêre verslaggewer by Die Burger. Terwyl hy by die koerant gewerk het, het hy deeltyds deur Unisa studeer vir ’n kwalifikasie in Afrikaans-Nederlands. Nie net was hy ’n goeie joernalis nie, maar ook ’n gerekende digter en debuteer in 1974 met Praathuis. Sy romans sluit in Klutskloon en Moeraspadda. 

* Die bekende bewaringskundige Willem Jacobus Punt is onlangs op 86-jarige leeftyd in Pretoria oorlede. Hy het ’n leidende rol gespeel in meer as 40 bewarings- en restourasieprojekte landswyd, onder meer die bewaring van die Wesfasade van Kerkplein in Pretoria, die restourasie van die Paul Krugerhuis op Boekenhoutfontein, die restourasie van huise in Tulbagh en die  Macroriehuis in Pietermaritzburg. Hy word oorleef deur sy vrou, Martie, drie kinders, agt kleinkinders en sewe agter-agter-kleinkinders.

* Die voormalige Britse akteur Raphaël Coleman, bekend om sy rol as Eric Brown in Nanny McPhee, is op 25 aan ’n hartaanval in Suid-Afrika oorlede. Hy het die rolprentbedryf vaarwel geroep, sy naam verander na  James “Iggy” Fox, en ’n aktivis vir klimaatsverandering geword. Coleman was lid van die bewaringsgroep Extinction Rebellion en dit is tydens hul besoek aan Suid-Afrika dat hy in ’n oefensessie inmekaargesak het ná ? hartaanval. Hulle was in Suid-Afrika om jag te maak op wildstropers.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.