Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
'n Lewe: Wyse ‘maanhaarleeu’ se redelikheid sal gemis word

Die akademikus, ekonoom, landboukenner en boer prof. Mohammad Karaan is in Kaapstad aan Covid-19 oorlede.

Prof. Mohammad KaraanFoto: edrea du toit

Hy het ’n luisterryke loopbaan gehad. Sy dood word as ’n groot verlies vir die landbousektor beskou. Ten tye van sy dood was hy ’n professor in landbou-ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch (US) en president van die Maties-rugbyklub.

Luidens Maties Sport het hy al sy kwalifikasies aan die US verwerf. Hy het sy loopbaan as ekonoom by die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika begin, voordat hy na Stellenbosch teruggekeer het as navorsingshoof van die destydse Landelike Stigting.

Hy het by die US begin doseer in landbou-ekonomie. Karaan was vir twee termyne die dekaan van die US se fakulteit agriwetenskappe en het ook waargeneem as viserektor.

Verder het Karaan eers as kommissaris van en toe as lid vir landbousake op die Nasionale Beplanningskommissie (NBK) gedien. In hierdie hoedanigheid het hy ’n sentrale rol gespeel in die skryf van ’n hoofstuk in die Nasionale Ontwikkelingsplan – “Visie 2030” – oor hoe om ’n geïntegreerde en inklusiewe landelike ekonomie tot stand te bring.

'Hy’t ons toegelaat om anders te dink.’

Die skrywer-joernalis Kirby van der Merwe, wat eens ’n onderhoud met hom vir die glanstydskrif Stellenbosch Visiogevoer het, onthou: “Wat my die duidelikste bybly, is sy absolute Stellenbosse Afrikaansheid. En hy was soos ’n rustige maanhaarleeu, altyd bewus van sy krag en energie.” In dié artikel skryf hy: “Sy pa se familie is van die Strand. Vissersmense, messelaars, ambags­manne. Hy onthou hoe sy oupa altyd, as hulle met die lorrie in Merrimanlaan afry om koeldrank te gaan smous, na die gebou van die US gewys en vir hom gesê het: ‘Dít is waar die slim mense studeer. As jy oor landbou wil weet, moet jy by hulle gaan leer.’

“Sy oupa Abdul het dit by hom vasgelê. ‘ ’n Mens gaan lê nie. Jy is oop vir geleenthede én jy bemagtig jou deur studie en kennis.’ ”

’n Goeie vriendin, die US se hoofdirekteur van Maties Sport, Ilhaam Groenewald, vertel: “Ek sal sy teenwoordigheid tydens strategiese en moeilike gesprekke mis. Ook sy leierskap, geduld, ongelooflike vermoë om te luister en sy redelikheid. Hy het ons toegelaat om anders te dink, en ons in uitdagende tye aangemoedig om vorentoe te kyk. Hy het groot drome vir Maties-rugby gehad, veral vir die rol wat die universiteit speel in die ontwikkeling van rugby deur die fokus op afrigteropleiding en gemeenskapsontwikkeling te plaas.”

Die adjunkredakteur van Landbouweekblad, Nelia Richter, sê: “Die heengaan van prof. Mohammad Karaan is ’n groot slag vir die landbou. Ek het hom ’n paar keer hoor praat, maar die eerste keer bly vassteek. Hy het weggetrek deur te vra hoekom die meeste profete skaapwagters was – en hoekom ’n mens maar ’n blaadjie uit hul leierskapsbenadering kan neem. Soggens stap die skaapwagter voor, op die weiveld sit hy effens eenkant, hou die skape dop en reguleer hul gedrag, en in die namiddag loop die skaapwagter agter.

“Hy het ’n belangrike rol om die groep te verenig en bymekaar te hou – en nie om rigting te gee nie. Karaan het ’n paar vergelykings getref tussen veeboerdery en die politiek, en gewonder of die veeboere nie Suid-Afrika ’n paar lesse kan kom leer aan die hand van goeie kuddebestuur nie. En hy het hardop gewonder hoe dit gaan werk om politici te ontwurm.”

Hy word oorleef deur sy vrou Basheerah en vyf kinders, Zayne, Kamilah, Tauriq, Burhan en Adam, en ’n groot verskeidenheid van sielsgenote, protégés en ondersteuners.

† Abdus Salam Muhammad Karaan, gebore 22 Januarie 1968, oorlede 13 Januarie 2021.

Rus in vrede
Die aktrise en radioveteraan Margot Luyt, wat in die ouderdom van 73 aan Covid-19-verwante oorsake oorlede is, het nie ’n maklike lewe gehad nie. Alhoewel sy meestal geglimlag het, en jy dit in haar stem kon hoor, het sy episodes van chroniese depressie ervaar.
Sy is daarvoor in ’n kliniek behandel. Luyt was ’n sterk vrou wat haar vermoëns as aktrise onderskat het en haar nis met programme soos Vers en klank en Kortom op RSG gevind het.
Sy het ook vir ’n horde akteurs werk gegee destyds toe die ou SAUK nog oorklanking gedoen het en sy was ’n uitstekende regisseur van radiodramas. Luyt was ’n progressiewe denker wat as jong vrou reeds in alternatiewe teaters soos The Space in Kaapstad opgetree het.
In 1986 tydens apartheid het sy ’n bruin kind, Jacky, onder haar vlerke geneem en later aangeneem. Finansieel het sy swaar gekry. Haar lewensmaat, Graham Clarke, wat met inkluissindroom moes leef, het tragies vasgekluister in sy rolstoel verdrink in ’n kanaal by Century City.
Kort daarna is Parkinson-siekte by haar gediagnoseer. Die afgelope ruk was sy in ’n rolstoel. In ’n onderhoud met Kwêla laas jaar vertel sy dat haar pa ’n alkoholis was en dat haar ma eendag vir haar gesê het: “Vet meisies mag nie loop soos jy nou geloop het nie. Jy moet steeds vroulik en aantreklik wees.”
Oor mense wat moeilike kinderjare gehad het sê sy dat jy dit moet onthou sodat jy nie dieselfde aan ander mense doen nie. Sy het genoem dat sy nie juis TV of rolprentwerk kry nie, omdat sy bloot nie goed genoeg is nie.
Dit is onwaar, veral as ’n mens na haar rol mees onlangs in Sara se geheim kyk. Teen die einde van die onderhoud sê sy: “Ek is reg om te gaan, ek het nie meer ? funksie nie.”

Meer oor:  Mohammad Karaan  |  Margot Luyt  |  Rus In Vrede  |  'N Lewe  |  Sterfgevalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.