Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
’n Lord se stryd teen korrupsie

Peter Hain is trots op sy verlede as anti-apartheidsaktivis en het deesdae ook geen genade vir korrupte maatskappye nie, skryf Gert van der Westhuizen.

Peter Hain toe hy Suid-Afrika in 1990 besoek het. Foto: Argief

Ons is kleintyd gereeld teen die man gewaarsku wat ’n dag voor sy 68ste verjaarsdag oorkant my in die sitkamer van ’n historiese Johannesburgse hotel sit: Die “takhaar-kommunis” wat vir byna twee dekades toere van Springbok rugby- en krieketspanne verongeluk het.

Dieselfde man wat nou alles in sy vermoë doen om rekenskap te eis van Britse maatskappye wat na bewering bande met die omstrede Gupta-familie gehad het, soos die bankreus HSBC, Bell Pottinger wat die “leun van witmonopoliekapitaal” versprei het, die ouditeursfirma KPMG en die internasionale regsfirma Hogan Lovells.

Want korrupsie en staatskaping is deesdae nes apartheid in lord Peter Hain se visier en, soos die geskiedenis ons geleer het, laat dié anti-apartheidsaktivis en voormalige Britse minister hom nie sommer stuit nie.

Hain is in Kenia gebore en het in Pretoria grootgeword, waar sy ouers, Walter en Adelaine, vooraanstaande lede van die Liberale Party was. Hy onthou die opofferings wat die stryd teen apartheid geverg het, en wat van hom bykans oornag volwasse gemaak het, nog goed.

Hy wys egter vinnig daarop dat sy gesin se swaarkry niks was in vergelyking met wat swart aktiviste moes deurmaak nie.

Maar maklik was dit nie. “Die veiligheidspolisie was die heeltyd buite die huis en het ons gevolg waar ons ook al gegaan het,” vertel Hain. “Klopjagte is in die vroeë oggendure uitgevoer en daar was telefoonoproepe waarin ons gedreig is.”

Die owerhede het dit uiteindelik onmoontlik vir Walter gemaak om te werk en die gesin moes ’n heenkome in Engeland gaan soek. Dit was miskien die ergste. “Ons wou nie gaan nie. Ons is gedwing om Suid-Afrika te verlaat.”

Dit sou egter nie die laaste wees wat Suid-Afrikaners van Hain gehoor het nie.

Openbare Vyand Nr. 1

Skaars vier jaar later was hy gereeld in die nuus met die betogings wat hy teen die Springbok-rugbyspan van 1969-1970 op hul toer in Brittanje gelei het. Gerhard Viviers het Suid-Afrikaners gereeld in sy radio-kommentaar vertel van die ontwrigtende betogers met hul “smerige, lang hare” wat dikwels geen benul gehad het waarteen hulle betoog nie.

Hain, iemand wat steeds ’n koerant van agter begin lees omdat hy so baie van sport hou, het gou Openbare Vyand Nr. 1 in die sportmal wit Suid-Afrika geword.

Dit was my idee om op velde soos Twickenham te storm om die Springbokke te keer om te speel.

’n Mens kan nie help om Hain te vra hoe hy nou, byna 50 jaar later, oor sy optrede voel nie.

“Ek is trots op wat ek gedoen het. Ek het dit gedoen omdat ek as ’n wit seun in Suid-Afrika grootgeword en fanaties was oor sport. Ek het besef dat sport die Achilleshiel van apartheid kan wees.

“Dit was my idee om op velde soos Twickenham te storm om die Springbokke te keer om te speel.”

Hain en sy makkers het ook daarin geslaag om die Springbok-krieketspan se toer van 1970 in Brittanje afgelas te kry. Daarna sou ’n Springbok-krieketspan nooit weer in die buiteland gaan toer nie en Suid-Afrikaners moes tevrede wees met enkele rebelletoere na hul land.

Dit was nie al nie. Suid-Afrika is uit die Olimpiese Spele geskors en die Springbokke se rugbytoer na Nieu-Seeland in 1973 is afgelas. Die Bokke het nog in 1971 in Australië, 1974 in Frankryk en in 1981 in Nieu-Seeland gaan toer, maar was daarna nie meer in die buiteland welkom nie.

“Van daai krieketspelers was my helde. Ek het self krieket gespeel en Graeme Pollock, wat net soos ek ’n linkerhandse kolwer was, was my held. Daardie span wat ons gekeer het om te gaan toer, was waarskynlik tóé die beste in die wêreld: die Pollock-broers, Ali Bacher, John [Dennis] Lindsay, Barry Richards, Mike Proctor, Eddie Barlow . . . dit was fantastiese spelers, spelers van wêreldgehalte.

“Persoonlik het ek sleg daaroor gevoel, maar wat die toekoms van Suid-Afrika betref, was dit die beste ding wat kon gebeur het. Dit het om verskeie redes ’n groot verskil gemaak. Teen die einde van die 1960’s en aan die begin van die 1970’s was die weerstand teen apartheid op ’n laagtepunt. Die internasionale anti-apartheidsbeweging was nog in sy kinderskoene en het min sukses behaal.

“Maar ons het dit reggekry om wit Suid-Afrika byna 100% te isoleer op sportgebied. (Oudpres.) Nelson Mandela en Govan Mbeki het aan my gesê hulle dink die sportboikot was absoluut deurslaggewend in die stryd teen apartheid.”

Die Nieu-Seelander Trevor Richards en Peter Hain toe hulle probeer het om die All Black-toer van 1976 in die wiele te ry. Foto: Argief

Stem van die stryd teen korrupsie

Dink hy nie daar is steeds mense in Suid-Afrika wat ’n wrok daaroor teen hom koester en dalk sy veiligheid kan bedreig nie?

“Nee wat,” antwoord Hain. “Sedert die einde van apartheid hou ek daarvan om Suid-Afrika te besoek en die afgelope 15 maande is ek ’n besoekende professor aan die Universiteit van die Witwatersrand se sakeskool.

“My vrou (Elizabeth) en ma was wel dié keer oor my veiligheid bekommerd omdat ek so uitgesproke is oor korrupsie. Hulle het gedink van die bende- en mafia-elemente rondom die Guptas en die Zumas sou my leed wou aandoen, maar genadiglik het dit nie gebeur nie.”

Die stryd teen korrupsie is volgens Hain nog lank nie gewen nie. Nes in die 1960’s met die stryd teen apartheid, het hy nou weer die openbare stem in die stryd teen korrupsie geword. Ringkoppe van die ANC het hom gevra om dit te doen nadat hulle met hom vergader het op een van sy besoeke as lektor aan Wits se sakeskool.

“Hulle het my in aanraking gebring met dapper fluitjieblasers wat my toesprake help skryf het en my briewe aan die Britse minister van finansies en reguleerders opgestel het. Ek is die een wat die skote geskiet het, maar ek moes die ammunisie kry.

“Toe ons oor Bell Pottinger se rassistiese veldtog van fopnuus en leuens begin praat het, het die Britse media en politici eers daarvan begin kennis neem hoewel dit reeds vir maande lank in Suid-Afrika bekend was.”

Hy het dié stryd met dieselfde passie gevoer as die een teen apartheid. Bell Pottinger, die skakelmaatskappy, het reeds geboet vir sy dade en Hain het nou sy mes in vir Hogan Lovells wat na bewering finansiële kwaaddoenery goedgepraat het.

Iets van die aktivis in die vriendelike man in die ligblou pak en wit oopnekhemp skemer weer deur as hy oor sulke maatskappye praat. Hy is veral heftig oor Bell Pottinger en sê hy weier om met Hogan Lovells te praat voordat dié firma om verskoning vra.

“Ek het net een boodskap aan sulke maatskappye: In die era van digitale nuus sal wandade aan die lig gebring word en sal dit jou internasionale beeld skade berokken.”

Peter Hain word in 2015 deur oudpres. Jacob Zuma vereer. Foto: Argief

ANC kan nie op louere rus

Die bestryding van korrupsie is belangrik, sê Hain, omdat dit ondernemings weens streng Britse wetgewing kan verhoed om in Suid-Afrika te belê. En Suid-Afrika het beleggings nodig as dit hoop om onder meer ’n einde te maak aan die skreiende ongelykhede tussen ryk en arm in die land – volgens Hain een die grootste probleme in Suid-Afrika.

Die onlangse politieke ontwikkelinge wat tot die bedanking van oudpres. Jacob Zuma gelei het, gee Hain baie moed vir die toekoms. Dit het gewys dat Suid-Afrika se demokrasie sterk is en dat die burgerlike samelewing nie met hom sal laat mors nie. ’n “Briljante” Grondwet, onafhanklike regbank en goeie finansiële regulering is verdere pluspunte.

Hain is duidelik nie naastenby die ploert wat meeste van ons, ek inkluis, deur baie jare gedink het hy was nie.

Die ANC het Hain wel die afgelope tien jaar teleurgestel omdat hy sy waardes onder Zuma se leierskap versaak het. “Dit is dinge soos sosiale geregtigheid, gelykheid, integriteit en menseregte.

“Die ANC sal weer dié waardes sy eie moet maak. Daar is ’n goeie kans dat dit onder pres. Cyril Ramaphosa se leierskap kan gebeur. Die ANC het geen ander keuse as om dit te doen nie, anders sal hy sterf.

“Die ANC het ’n edele verlede gehad en apartheid tot ’n einde gebring, maar geen party kan op sy louere rus nie. Jy kan nie op arrogante wyse aanneem dat mense vir jou moet stem vir dinge wat jy 25 of 40 jaar gelede gedoen het nie as wat jy vandag doen verkeerd is nie.”

Dit is iets waarvan Hain nie beskuldig kan word nie. Wat hy 50 jaar gelede gepredik het, rig hom steeds.

’n Leser se kommentaar onder ’n storie op Netwerk24 waarin Hain oor Ramaphosa praat, som dit dalk die beste op: “Hain is duidelik nie naastenby die ploert wat meeste van ons, ek inkluis, deur baie jare gedink het hy was nie. Inteendeel, sy huidige bydrae om korrupsie in SA uit te roei is absoluut merkwaardig, en bewys van integriteit wat baie van ons tot nadenke moet dwing. Hain verdien beslis ’n ‘Bells’ of twee, ongeag of ons dit wil weet of nie.”

Hoewel hy ’n whiskeydrinker is, glo ek Hain sal heel tevrede wees met een van die Afrikaanse frases wat hy nog graag gebruik: Baie dankie.

Meer oor:  Gert Van Der Westhuizen  |  Springbokke  |  Peter Hain  |  Brittanje  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.