Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
’n Man neem afskeid van sy kanon

Die man wat die afgelope 20 jaar al Kaapstad se middagkanon afvuur, vertel aan Murray La Vita van die dag toe die kanon vir die eerste keer in 200 jaar nie afgevuur is nie.

Eerste bootsman Dudley Malgas stamp die buskruit in die kanon op Vlaeberg voordat dit afgevuur word. Foto: Jaco Marais

Ons gesels op ’n Vrydagoggend in ’n effens gehawende kantoor teen die voet van Vlaeberg met eerste bootsman Dudley Malgas. Op ’n lessenaar neffens ons lê onder meer ’n voorvalleboek en ’n verkyker.

Dié lenige, vriendelike man met die mooi glimlag is in beheer van Kaapstad se ikoniese middagkanon wat elke dag om twaalfuur hier van die vloot se Leeubattery af afgevuur word. Hy tree op 31 Augustus af ná 20 jaar waarin hy dié belangrike taak verrig het.

“Op die eerste van die vierde vanjaar was ek 39 jaar lank in die vloot. Ek het in 1980 by die vloot se hondeskool in Simonstad begin,” sê Malgas.

Hy het in Mosselbaai grootgeword.

“My ouer broers was in die onderwys en Pappa het gevra: ‘Gaan jy ook onderwys toe?’ Hy het toe gesê ek het maar swaar deur die skool gekom, so ek gaan nie onderwys toe nie, ek gaan vloot toe.

“Daai jare het die vloot nog by die skole omgekom en kom recruit. Ek het toe aansoek gedoen en deur die keuringsprosesse gegaan en toe begin ek op die eerste April 1980.

Ek slaap alleen in ’n bungalow wat gemaak is vir 24 troepe . . . Ek slaap alleen.

“Ek was die eerste Kleurling-hondehanteerder in die hele weermag. In daai tyd was dit nog ’n koerantopskrif. En daarvandaan af gaan ek toe na Bourke’s Luck toe in die Oos-Transvaal waar die hondeskool was. Daar het ek vir sewe jaar gebly. Ek was een van die instrukteurs wat die vloot se troepe daar opgelei het.

“My belewenis was gewees . . . Kyk, daai tyd was apartheid nog sterk gewees . . . Ek slaap alleen in ’n bungalow wat gemaak is vir 24 troepe . . . Ek slaap alleen.

“Die wit troepe . . . As ons soggens aantree vir ete dan’s ons weer saam en dan doen ons ons dinge die heeldag saam, maar saans as jy gaan slaap, dan gaan jy alleen slaap.”

Hoe het dit gevoel?

“Ek was baie . . . nie naïef nie, maar omdat ek baie máklik kon meng met mense . . . Dis baie min dat ek die kleurverskil gesien het. Jy kon sien die land wou dit so hê, maar die jong manne wat saam met my was [en wie se instrukteur hy was], was gewillig om met my te meng. Deur die dag as ons die kursus doen dan doen ons die kursus saam, ons praat nie daaroor [apartheid] nie; ek is een van hulle.

“Ek dink nie dit het my in die dag, terwyl ons met opleiding besig was, seergemaak nie, maar in die aand . . . As dit nou stil raak . . . Hier sit ek nou alleen en niemand praat met my nie. Dít was wanneer jy daai pyn gevoel het.”

Grens toe en terug

Malgas met een van die leë slagdoppies wat gebruik is om die kanon te laat afvuur. Foto: Jaco Marais

Malgas is daarna terug na die Simonstad-vlootbasis.

“Die hondehanteerders en die mariniers het toe saamgesmelt. Ek het toe die marinierskursus gaan doen en later het ek ’n instrukteur geword en die troepe grens toe gevat; dan weer troepe kom oplei en dan maar weer grens toe gegaan.

“In ’91 of ’92 het die mariniers toegemaak en toe gaan ek weer terug na die hondeskool in Simonstad. Toe is ek instrukteur en in beheer van die honde. En in 1997 kom ek toe hiernatoe.”

Hy kyk op sy horlosie. Dit is nou 11:20.

“Destyds was die vlooteenheid hier toe vir die publiek, en toe het die vloot besluit nee man, ons moet die plek oopmaak vir die publiek.”

Dit is twaalfuur en die kanon gaan af. Foto: Jaco Marais

Die afvuur van die kanon is ’n groot toeristeaantreklikheid.

“Ek gee die mense eers ’n bietjie van ’n oorsig. Ek vertel vir hulle waarom ek die kanon skiet en so aan. Dan laai ek die twee kanonne. Vyf voor twaalf dan staan ons clear en sit die rooi vlag op.

“Die presiese tyd kom deesdae van die sterrewag in Observatory af. So dit is nie volgens my fleamarket watch nie,” sê hy glimlaggend terwyl hy sy arm uitstrek en vir ons die bonkige swart plastiekhorlosie aan sy pols wys.

“Dit is ’n datalyn wat basies vir ons die krag bring van die sterrewag af. So 18 millisekondes stuur hulle die sein deur en dit steek die slagdoppie aan die brand en die slagdoppie steek die sak met die buskruit in aan die brand en dan is daar die ontploffing.

“Die ding van die kanon is as hy nie afgaan nie dan hou onse telefone nie op met lui nie. Baie van die ou mense lúister nog na die kanon. Somtyds is hier mense van die Bo-Kaap . . . dan sal die oom vir my sê: ‘Toe ons in Distrik Ses skoolgegaan het en die kanon het afgegaan dan moes ons onse penne neergesit het en ons moes opgestaan het. En dan moes ons ons stiltetyd bewys het vir die soldate wat dood is.’ ”

Toe die kanon nie afgaan nie

Enkele minute voordat die kanon afgevuur word, verduidelik Malgas nog iets aan die toeriste wat die skouspel kom besigtig het. Foto: Jaco Marais

Hy vertel van die een keer in sy dienstyd van 20 jaar wat die kanon nie afgegaan het nie.

“Dit was op 9 Januarie 2005. Wat gebeur het, is ons het oorgegaan na ’n nuwe ammunisie. Denel, wat die ammunisie maak, het nuwe slagdoppies gemaak. Die heel maand het hulle die ammunisie getoets en dit het gewerk, maar toe raak Denel nou slim en hulle dink: Oukei, siende dat daardie mense so hoog is daar bo en by die see is, kom ons plastic-coat die ammunisie dan kan dit die roes keer.

“En dié dag sit ons toe nou die nuwe doppies in en die doppies skiet nie. En hulle kyk vir my en ek kyk vir my base. Eers hier by halfeen se kant kom ons agter hoekom die goed nie geskiet het nie – hulle het die goed geplastic-coat en soos hulle in die sluitstukke ingaan, maak hulle nie kontak nie.

“Daai tyd was dit nog die Argus se late final. Toe ek huis toe gaan toe sien ek op die lamppale: ‘Noongun fails first time in 200 years’.”

Hy lag.

‘Dis nie jou plek nie’

Malgas besig om seker te maak die kruit is behoorlik gelaai. Foto: Jaco Marais

Dudley woon in die Kaapse voorstad Brooklyn. Hy en sy gesin het egter vir tien jaar in ’n huis hier neffens die kanonne gewoon.

“Ja, ons het hier op die premises gebly. Dit was baie lekker; dit was baie goed gewees. Maar al rede hoekom ons as gesin besluit het om uit te trek – is nie jou plek nie.

“As ek nou hier gebly het en ek maak op 31 Augustus klaar, dan moes ek ’n huis gaan koop het. Dan sit jy met ’n bond.”

Eerste bootsman Warren Sampson gaan by hom oorneem.

“Ek dink ek gaan dit definitief mis. Ek wil nie op 60 gaan nie, maar dit is die vlootbeleid vir uniformmense. Ek het vir my ingeskryf . . . Die weermag het ’n program waar hulle jou re-skill en vir my re-skill gaan ek travel en tourism doen.

“So, ek gaan nou betrokke wees in daai sin dat ek wil mense hiernatoe bring en ek wil nog altyd die Kaap verkoop.”

‘Nooit eentonig nie’

Baie mense vra hom hoekom het hy vir so lank hierdie werk gedoen.

“Ek sê altyd: Doen net dit waarvoor jy lief is en doen dit reg. Moenie iets anders doen nie. Hierdie werk was nooit vir my eentonig nie, want elke dag is hier verskillende mense. Die toerbussies kom met hulle toeriste. As ek nonsens gepraat het sou hulle nie hulle mense hiernatoe gebring het nie, maar hier is élke dag verskillende mense en die mense vra verskillende vrae en verbreed my kennis ook.

Nelson Mandela-hulle moes natuurlik ook elke dag die kanon gehoor het. Ek het soms daaraan gedink.

“Ek het die dametjie ontmoet wat die kanon skiet in Sydney, Australië. Sy’t eendag hier gekom toe sê sy vir my: ‘Maar ek sien julle in die Kaap claim dis die oudste kanon.’ Ek wys haar toe die markings en die emblems op die kanon en waar daar staan die gun is in 1794 gemaak.

“Ek het al selfs vriende. Ek het een ou, Jan, hy’s ’n Hollander, maar hy leer kinders in Japan; hy’s ’n onderwyser in Japan.

“As hy elke tweede jaar na Suid-Afrika toe kom dan kom hy eerste hiernatoe met sy skoolgroep en dan hou ons ’n braai en dan gaan hy hiervandaan weer verder.”

Sonder verlof

“Baie van die ou mense lúister nog na die kanon.” Foto: Jaco Marais

Wie het die kanonne afgevuur wanneer hy verlof sou neem?

“Ons was altyd twee, maar toe het die ander outjie nou bedank en toe is ek nou alleen hier. So vir die laaste twee jaar was ek alleen hier gewees tot hulle nou vir Warren aan die begin van hierdie jaar na my toe gestuur het en wat ek hom kon oplei.

“So die afgelope twee jaar kon ek nie verlof neem nie. En ek het daardie verlof verloor, dit is nie uitbetaal nie, want hulle het so ’n groot ding daarvan gemaak. Ek het toe maar gesê: ‘Hei, los dit man, ek is lief vir dié goeters.’ ”

Om 11:45 stap ons na waar die twee kanonne staan. Van daar het ’n mens ’n panoramiese uitsig op Tafelbaai. En op Robbeneiland.

“Nelson Mandela-hulle moes natuurlik ook elke dag die kanon gehoor het. Ek het soms daaraan gedink. Hulle het seker gedink dis nou twaalfuur, daar is nog die helfte van die dag wat voorlê voordat hulle nou weer toegesluit word en moet gaan slaap en alleen wees.”

‘Staan nader’

Malgas wys hoe ’n moderne meganisme en datalyn deesdae ingespan word om die kanon te laat afgaan. Agter hom staan bevare seeman Lawrence Tshivhase, die assistent van sy opvolger. Foto: Jaco Marais

’n Klomp mense – te oordeel na die groot toeristebusse in die parkeerterrein is hulle toeriste – het reeds agter die kanonne vergader.

’n Bebaarde man in ’n kortbroek is die eerste mens wat op Malgas se aandag aanspraak maak. Hy sê hy weet die kanon word nie op Sondae afgevuur nie, maar wat van openbare vakansiedae? Hy en sy gesin beplan om op Erfenisdag hierheen te kom.

“Op openbare vakansiedae vuur ons nie die kanon hier af nie, dan word dit van Simonstad af gevuur – ’n negeponder.”

Hy vra (in ’n effens temerige stem) wat van die klein hondjie geword het wat hier was. Malgas weet klaarblyklik nie waarvan hy praat nie en draai na die groep wagtende mense.

Malgas vra die mense om nader te staan sodat hy met hulle die geskiedenis van hierdie Kaapse tradisie, die afvuur van die kanon, kan deel: Hoe dit aanvanklik gedoen is om die bemanning van skepe in die hawe te help om onder meer tred te hou met tyd, en later in die wêreldoorloë om die soldate wat gesterf het te gedenk.

’n Middeljarige borselkop-kêrel van “California, USA” (dalk ook ’n militêre man) staan nader om ’n praatjie aan te knoop. Hy het gehoor van Malgas se naderende aftrede en wil hom net alle sterkte toewens. “Great job! Great job!” voeg hy by.

Daar word foto’s saam met Malgas geneem. Sommige mense maak video’s.

’n Ma sê aan haar dogtertjie hulle moet agtertoe gaan staan. Sy is waarskynlik, soos ek, op haar senuwees oor die groot knal wat oor enkele minute hier uit die kanon (die tweede kanon is daar vir ingeval die eerste een nie afgaan nie) gaan weergalm.

Malgas vra die mense om nader te staan sodat hy met hulle die geskiedenis van hierdie Kaapse tradisie, die afvuur van die kanon, kan deel: Hoe dit aanvanklik gedoen is om die bemanning van skepe in die hawe te help om onder meer tred te hou met tyd, en later in die wêreldoorloë om die soldate wat gesterf het te gedenk.

Hy beantwoord daarna ’n paar vrae en sê ná sowat drie minute hy sal ná die afvuur van die kanon nog vrae beantwoord.

“I’m running out of time. I’ve got seven minutes to go.”

Malgas stap na die kanonne en beduie hoe die meganismes werk. Daar heers nou ’n gespanne atmosfeer van afwagting.

“Ons het twee minute om te gaan!” roep hy. Almal het stil geword. “Ons het één minuut! Ons gaan die regterkantse kanon vuur. Ek sal aftel. Oukei, ons het 30 sekondes.” ’n Jong vrou lag senuweeagtig. Ek begin agteruit tree. “Twintig sekondes! . . . Tien! Nege! Agt! Sewe! Ses! Vyf! Vier! Drie! Twee! Een! en . . .”

Sy laaste woord word deur die sidderende knal van die kanon verdoof. Rook hang in die lug. Dit is twaalfuur.

Meer oor:  Dudley Malgas  |  Vlaeberg  |  Weermag  |  Vloot  |  Middagkanon  |  Apartheid  |  Oos-Kaap Naweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.