Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
’n Mens kan Thuli nie in ’n boksie druk
Adv. Thuli Madonsela Foto: André Damons

Thuli Madonsela is eentonig. Amper vervelig. Dit was veral so wanneer sy nuuskonferensies gehou het oor die bekendmaking van ondersoekverslae.

Sy sit daar soos ’n sfinks. Niks van die liggaam beweeg nie, net die lippe, en een hand as sy die hoeveelste bladsy omblaai. Haar stem dreun vir ’n uur of wat op een toonhoogte aan sonder enige afwisseling.

Sy maak nie oogkontak met die joernaliste nie. Tydens vraetyd by nuuskonferensies of in onderhoude het dit ietwat beter gegaan.

Madonsela het verskeie reëls in doeltreffende kommunikasie verbreek. Kenners sal jou vertel die gebruik van ’n persoon se stem en lyftaal verteenwoordig meer as 50% van die kommunikasieproses.

Dis nodig dat die stem afgewissel word in toon, toonhoogte, volume, tempo, intonasie en poses. Die stem moet kalmte hê, maar ook energie. En daarmee saam moet die lyf saampraat in jou postuur, die gebruik van hande en arms, bene en voete, skouers, gesig en oë. In die kommunikasieproses, die oordra van betekenis, is die werklike inhoud van die boodskap eintlik van minder belang – veral as die stem en lyftaal in stryd is met die inhoud. Alles moet belyn wees om die boodskap trefkrag te gee.

Thuli Madonsela is eentonig. Amper vervelig.

Maar die eienaardigste ding is dat tradisionele reëls in Madonsela se geval nie geld nie. Ek het tydens etlike onderhoude met haar telkens verstom gesit oor hoe sy in ’n kalm stem sonder bewegingsomhaal van die opspraakwekkendste dinge kan sê. So “matter of factly” kan sy enigeen, van die president tot ’n munisipale amptenaar, behoorlik die kop was.

En sy vel beslissings wat verreikende gevolge het. Dis nie sommer net breedsprakerige geklets of geskrou soos ons maar al te dikwels deesdae in die parlement sien nie. Jy kan elke woord hoor wat sy sê en vele daarvan tref jou tussen die oë. En jy dink: “Sjoe, hier kom ’n ding.”

Dis ’n ding wat pres. Jacob Zuma nie sien kom het nie. Toe hy ’n nuwe openbare beskermer moes aanstel, het hy seker gedink: “A, hier het ons nou ’n sagaardige, jong lawyer-tjie wat gemanipuleer kan word om diensbaar te wees.” Min het hy, en ons, geweet dat jy hier met ’n vrou van ’n ander stoffasie te doen het.

Iemand wat met integriteit, getrou aan die missie van die openbare beskermer, sonder aansien des persoons, klagtes van vergrype ondersoek het in die belang van die gewone burger: Gogo Dlamini, soos sy dikwels gesê het.

Haar optrede het aan haar ’n aansien hier en internasionaal verwerf wat seker net deur Nelson Mandela in die nuwe era oortref word.

Madonsela is seker die enkele, grootste faktor wat die Zuma-skandmuur van korrupsie en staatskaping tot in sy fondament geskud het. Dit het nie net tot die verkiesing van ’n nuwe staatshoof gelei nie, maar haar verslae was die begin van die oopvlekking van ’n verstommende, uitgebreide netwerk van misdadigheid.

Haar optrede het aan haar ’n aansien hier en internasionaal verwerf wat seker net deur Nelson Mandela in die nuwe era oortref word.

My ervaring van Mandela was dat hy juis so gewild was omdat hy buite die raamwerk van persepsies oor die gewone politikus opgetree het.

Freek Robinson

Hier het jy ’n staatshoof gehad wat eiebelang op die agtergrond geskuif en werklik met meelewing belang gestel het in die lewe van gewone burgers. (Daarvan kan ek heelwat staaltjies vertel.)

En so tree Madonsela buite die raamwerk op van wat van haar verwag is. Sy verbreek die gewone kommunikasiereëls en is desnieteenstaande doeltreffend. Dalk juis omdat sy so oënskynlik sagaardig en soetjies voorkom.

Almal het al geleer: As Madonsela praat, kan of beter jy luister. Die konsentrasie is die moeite werd. Haar woorde het betekenisvolle inhoud – ver verby stemgebruik en lyftaal. En sy het die verworwe aansien en respek om sulke luister te verdien.

Madonsela is deesdae ’n regsprofessor aan die Universiteit Stellenbosch. Ek hoop die studente waardeer haar.

Daar is veel meer aan haar as wat jy sien en hoor.

Robinson is die hoofanker van eNuus.

Meer oor:  Freek Robinson  |  Thuli Madonsela
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.