Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
’n Moederskip vir Karen Zoid

Karen Zoid praat met Murray La Vita oor eensaamheid, ’n moederskip waarin sy haar nou bevind, en die gat in die hart van skeppende mense.

Karen Zoid: “Ek dink al vandat ek ’n kind was, voel ek pretty alleen.” Foto: Anelia Loubser

Die president van Republiek van Zoid Afrika het ’n moederskip gekry. Langs ’n ou meul in die Swartlandse dorpie Philadelphia verrys dié “skip”.

Dit bestaan uit rolprent- , televisie- en musiekateljees wat Karen en onder andere haar vennoot Carien Loubser laat bou het.

Terwyl Karen my op ’n toer deur die gebou neem, vertel sy van die planne met Mothership. Dit is ’n ruimte vir haar eie werk soos musiekopnames en die verfilming van episodes van Republiek van Zoid Afrika, maar ook vir samewerking met ander kunstenaars.

Tye het verander. Daar gaan nie meer groot sterre wees wat deur maatskappye beheer word nie.

“Mothership wil ’n veilige hawe vir jong talent wees.

Ek wil vir jong mense geleenthede skep. Daar gaan baie jong kunstenaars hier in- en uitbeweeg as ek my sin kry. So ons wil jong mense koester en lei, want daar is soveel talent.

“Wisselwerking is verskriklik belangrik. My loopbaan het in my 30’s eksponensieel begin groei toe ek saam met ander mense begin werk het. Mense soos Louis Mhlanga, Selaelo Selota, Koos Kombuis, Ollie Viljoen.

“Tye het verander. Daar gaan nie meer groot sterre wees wat deur maatskappye beheer word nie. Wisselwerking en deel, is waar die sweet spot lê. Dis ’n nuwe era.”

Karen Zoid sing saam met Jo Black. Foto: Verskaf

Ons gaan na die onderste vlak van die gebou waar ons in die beheerkamer van ’n ateljee in ’n hoek by ’n lamp wat op ’n tafeltjie langs ’n glasskedel staan, plaasneem vir die onderhoud. Uit ’n boonste ateljee kom musiek: kitare en tromme is veral hoorbaar.

Daar word vandag gerepeteer vir Karen se “grootste concert ooit”. Dit is Republiek van Zoid Afrika, waarvan die vyfde seisoen onlangs begin het, se Arenakonsert wat op 15 Junie in die Sun Arena in Pretoria plaasvind. Saam met haar gaan kunstenaars soos Francois van Coke, Zolani Mahola, Kahn Morbee, Jo Black, Vusi Mahlasela en Ross Learmonth optree.

Karen is in swart geklee. Sy lag gereeld en dit is lekker om na haar lieflike, effens heserige stem te luister. Tussen die duim en wysvinger van haar regterhand vryf sy ingedagte ’n roomkleurige plektrum. Sy sou waarskynlik nou eerder met haar kitaar in haar arms saam met die musikante daar in die ateljee wou wees.

Met die onderhoude doen ek net wat ek wil. Ek speel, ek geniet dit net om dit te doen, dis ’n stokperdjie.”

Die onderhoud begin by die gewilde en bekroonde televisieprogram Republiek van Zoid Afrika, waarin Karen met bekende Suid-Afrikaners onderhoude voer en dan saam met van hulle musiek maak.

“Ek sal myself nooit uitgee as ’n aktrise of ’n onderhoudvoerder nie.” Sy lag. “Oukei, as ek die liedjie aan die einde sing, beter die ding donners goed wees, want dít is waarvoor almal my ken, maar met die onderhoude doen ek net wat ek wil. Ek speel, ek geniet dit net om dit te doen, dis ’n stokperdjie.”

Republiek van Zoid Afrika bied aan haar “meesterklasse in die lewe”.

“Jy het die geleentheid om ’n hele uur met iemand te sit . . . al ons gaste is mense wat uitstekend is in wat hulle ook al doen en hulle verduidelik vir jou waarvandaan hulle af kom.

“Daar het al soveel juwele uitgekom. Pieter-Dirk Uys . . . ek vra vir hom: ‘Wat is jou raad aan enige jong akteur of dramaturg?’ Hy sê vir my: ‘Wéés een. Wees nóú een. Dit maak nie saak hoe oud jy is nie – skryf nóú ’n play. As jy 13 is, doen dit. As jy wil leer om te juggle, doen dit net.’

“Dis so ’n eenvoudige ding wat hy gesê het, maar toe hy dit sê toe is dit vir my asof ek hom sien in al sy glorie en ek besef hoe hy daar gekom het – hy het dit net gedóén!”

Nie kommersieel nie

Karen het vroeg in haar loopbaan besef sy is nie ’n groot kommersiële kunstenaar nie.

“Ek is nie Steve Hofmeyr of Juanita du Plessis nie, alhoewel ek al kommersiële sukses gehad het. Ek was gelukkig met Republiek van Zoid Afrika en ek het al een of twee albums gehad wat goud gegaan het en ek dink een het platinum gegaan, maar mý mark is nie die gróót mark nie. Ek het ’n nismark . . . Ek is te veel van ’n control freak om te véél goed te maak. So, ek wil liewers drie gróót projekte doen en dan kan ek álles daarin sit en hopelik iets uitsonderliks maak. Daar is soveel trash in hierdie era waarin ons leef want álles word net gebroadcast en gesê. Vir my lê die skoonheid in wat uitgelaat word en jy kan nie iets uitlaat as jy die hele tyd net probeer om soveel as moontlik in die wêreld in te stoot nie.

“Insinuasie . . . Hoe het ons geleer van maniere? Deur Hans Christian Andersen se stories. Wat is geïnsinueer in "The Boy Who Cried Wolf"? Hulle spél dit nie vir jou uit nie. Bybel-gelykenisse – dit word nie uitgespel nie. "Imagine" van John Lennon, een van die beste songs ooit . . . Hy raas met niemand nie, maar eintlik ís hy die moer in. Dis die grootste vredeslied wat eintlik die probleme dirék takel. Maar dis ook wat hy nié gesê het nie.

“Dit gaan vir my oor die werk en die proses daarvan; die skeppingsprosés het ’n baie groot uitwerking op die werk. As jy kalm en rustig en op jou tyd jou ding kan doen, kan jy jou beste lewer. Ek kan onder druk werk en improviseer, maar dis verskriklik belangrik om space te hê. So Mothership bied nou daardie space.”

“Kreatiwiteit is wat my aan die lewe hou. Wat gaan gebeur as ek ophou goed maak?” Foto: Verskaf

Die uitdaging met Republiek van Zoid Afrika was om ’n balans te skep tussen soorte musiek of benaderings tot musiek.

“In die vroeë 2000’s het Steve en Anton Goosen baie met mekaar baklei oor backtracks. Ek ook voel backtracks is bietjie substandard, so ’n bietjie ‘you didn’t try hard enough’ . . . Die uitdaging wat ek aan myself gestel het, was om, sonder om te baklei, vir die publiek te wys wat is die verskil tussen ’n backtrack en ’n arranged piece of music met live musicians.

“Ons het byvoorbeeld Liani May se ‘Jy soen my nie meer nie’ gevat wat highbrow mense miskien dink: ‘Oe, dis ’n trashy liedjie!’ en dan gegaan en daai amazing melodie wat dit só catchy gemaak het, gaan uithaal. Daar’s ’n rede hoekom so baie mense daai song gekoop het, want dis ’n goeie song.

Dis so eenvoudig, maar ewe skielik in die middel gebeur daar hierdie ding en voel dit asof jy nie net persoonlik met daardie song connect nie, maar ook met daardie sanger en daardie skrywer.

“En dan om dit te probeer verander en ’n middle ground te probeer skep tussen mense wat luister na jazz, rock en klassieke musiek en mense wat na pop luister. Jy kán nie met ’n backtrack uit ’n liedjie uit tap wat jy kan as jy spelers het wat saamwerk nie.

“Dit klink dalk airy fairy om dit te sê, maar ek glo as jy emosioneel connect met jou werk, dan is daar ’n 95%-kans dat die luisteraar dit ook sal doen. Dit maak nie saak in watter medium jy werk nie.

“So dit is die journey waarop ons is en ons love dit. Ons het met hierdie program die geleentheid gehad om songs waarvan ons nog altyd hou te ondersoek en te ontdek op ’n nuwe level. Om songs waaroor ons nog altyd gewonder het: Jissie, hoekom is hiérdie liedjie so populêr? te ontleed en te besef: ‘Oh, wow! Dis ’n komplekse melodie.’ Dis so eenvoudig, maar ewe skielik in die middel gebeur daar hierdie ding en voel dit asof jy nie net persoonlik met daardie song connect nie, maar ook met daardie sanger en daardie skrywer.”

Ondanks die drama

Republiek van Zoid Afrika was nie veronderstel om suksesvol te wees nie.

“Ek het nie gedink dat ons so ’n groot gehoor sou bereik nie. Ek het gedink dit gaan maar my fans wees, maar dit het net gegroei.”

“Ek sal myself nooit uitgee as ’n aktrise of ’n onderhoudvoerder nie.” Foto: Verskaf

Hoekom is dit so suksesvol?

“Dit is die samesyn van diversiteit – musikale diversiteit, kulturele diversiteit, diversiteit wat generasies betref, arm mense, splinternuwe kunstenaars, mense wat al in hul 40ste jaar in die bedryf is, politici. Dit gaan daaroor om saam te sit en ’n glasie wyn te drink en te chat: Waar kom jy vandaan? Wat doen jy? Waaraan dink jy? Wat dink jy van hierdie ding? Net saamwees. Ek dink mense leef hulself uit as hulle die show kyk; ek weet ék doen.”

Spreek die sukses van die reeks dalk daarvan dat die meeste mense te midde van byvoorbeeld rasse-debakels en politieke drama ’n behoefte aan hierdie soort diversiteit het?

My ouma het altyd gesê jy moet luister na die stil, sagte stemmetjie, en ons almal weet dit.

“Ja! Ten spyte van die drama. Kyk, die drama-queens kry altyd die meeste lugtyd. As jy op Facebook gaan kyk, dan gaan dit lyk asof die hele plek uit mekaar uit val. As jy ’n koerant optel, dan gaan dit lyk of die hele plek val. As jy met ’n politikus praat . . . Mense dink musikante en akteurs is drama-queens – die politicians is die ergste van almal!

“My ouma het altyd gesê jy moet luister na die stil, sagte stemmetjie, en ons almal weet dit . . . Dis só belangrik om stil te raak en fone af te skakel en net te sit en te gesels . . . gekombineer met ’n bietjie musiek. Ek dink dis maar wat dit is – die mense ontspan.”

Verhoudings verdiep

Karen sê sy het “ ’n groot begeerte om te connect” met ander mense, ander kunstenaars. Beteken dit dat sy soms eensaam is?

“Ja, baie. Ek dink al vandat ek ’n kind was, voel ek pretty alleen. Maar ek geniet ook die eensaamheid, want binne-in eensaamheid begin ’n soektog altyd. Enigiemand wat skeppend is, loop met ’n gat in hul hart. Dít is waar die skeppingsproses begin.”

Karen en Patricia Lewis, een van die gaste van Republiek van Zoid Afrika. Foto: Verskaf

Republiek van Zoid Afrika het aan haar die geleentheid gebied om verhoudinge te verdiep met mense wat voorheen net kollegas was.

“Hulle het nou vriende geword en mense wat vriende was, het nou amper meer familie geword. Met Francois van Coke byvoorbeeld; ons het mekaar nie verskriklik goed geken nie en toe het ons "Toe vind ek jou" geskryf en daarna het ons die hit gehad en ’n reeks konserte gedoen en vandag is ons ongelooflike close vriende; hy is een van my béste, béste vriende. Ek glo ek verstaan en ken hom goed omdat ek sy musiek ken en ek ken sy hart. Om saam met iemand te sing en te skryf is nogal ’n vulnerable ding. Jy stel jouself bloot; jy wys jou weerloosheid en jy vat die kans want miskien gaan iemand jou drop, maar nou doen hulle nie.”

Wat deel ’n mens in so ’n proses?

“Alles. "Toe vind ek jou" is ’n love song en ons het persoonlike goed met mekaar gedeel. Jy vertrou iemand met jou hart en jou persoonlike lewe en jy weet net die persoon is daar vir jou. Dit klink so simpel, maar in die entertainment-wêreld is dit skaars. So jy weet: ‘Jissie, ek kan darem vir jou bel en sê hierdie donnerse ding het nou gebeur en ek weet nie wat om te doen nie’ . . . en jy weet jy’s veilig.'”

Musiek teen die pyn

Karen saam met Erns Grundling, Johnny Clegg en Schalk Bezuidenhout ná ’n onlangse episode van Republiek van Zoid Afrika. Foto: Verskaf

Hoe sien sy haar kreatiewe toekoms? Sal sy nog lank wil musiek maak?

“Kreatiwiteit is wat my aan die lewe hou. Wat gaan gebeur as ek ophou goed maak? Ek sal baie depressief raak en ek wórd baie depressief as ek dit nie doen nie. Die lewe is eintlik so hartseer en daar is soveel swaarkry en soveel pyn, en musiek en die kunste is die plek waar ons daarmee kan deal en dit verken sonder om verdere pyn en seerkry te veroorsaak . . . Daar is soveel geraas in die wêreld; jy kan dit nie afsit nie, al wat jy kan doen, is jy kan jou eie musiek aansit of maak.

“Jy kan nie die wêreld pause nie, maar jy kan jouself suspend. Dis wanneer ek stilstaan dat dit partykeer vir my te veel raak. Ek voel partykeer ’n bietjie angstig en ek probeer die nuus vermy, maar dan sit ek musiek aan en dan gaan my gedagtes na waar die musiek my lei. Dis amazing hoe ’n liedjie my kan lei na gedagtes oor Suid-Afrika of wat aangaan, terwyl die media of tweets my partykeer nie help nie. Ek wil weet wat aangaan, maar ek wil eintlik nog meer as dit weet. Waar is ék? Wat kan ék doen?”

Wanneer ek vertrek, gee Karen vir my ’n klein vierkantige swart kaartjie waarop staan: THE MOTHERSHIP HAS LANDED.

Meer oor:  Murray La Vita  |  Karen Zoid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.