Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
’n Morele moeras en ’n soldaat sonder arms

’n Offisier sonder arms wat hy in die nag teëgekom het, het as prikkel vir sy debuutroman oor Suid-Afrika se “morele moeras” gedien, sê Jaco Wolmarans aan Murray La Vita.

Jaco Wolmarans in die onderhoud in Kaapstad oor sy debuutroman, Bos. Foto: Jaco Marais

Die 55-jarige Wolmarans het wakker ligblou oë, kort rooi hare en is geklee in (onder meer) ’n grys militêre-styl kortmouhemp. Aan sy pols is bonkige swart horlosie.

“Dit is ’n Italiaanse horlosie; hulle noem dit ’n tactical watch. Ek is redelik behep met goed soos kamoefleerdrag en so aan, wat embarrassing is nadat ek die boek geskryf het, want nou kan ek dit nie meer dra nie,” sê hy en lag.

“Toe ek ’n kind van so 12 was, het my ma vir my in die dae wat dit nie wettig was nie ’n kamoefleerpak gekoop. En ek het geweier om daai ding uit te trek. Sy het hom van my lyf afgeruk en in die wasmasjien gegooi, en as sy haar rug draai, het ek hom gaan uithaal en weer gedra. Ek het gelééf in kamoefleerdrag. Ek dink iewers het dit bygebly.”

Bos het onlangs by Tafelberg die lig gesien. Foto: Verskaf

Hy spring uit sy kinderdae na “een van die keerpunte wat ’n prikkel vir Bos” was.

“Toe ek op die grens was . . . ek was in die lugmag gewees, ons het hierdie soort goed glad nie ervaar nie [hy wys na sy boek voor hom op die tafel in die Kaapse restaurant waar ons sit]; my werk was om vliegtuigbewegings te monitor – grond-tot-lug-kommunikasie.

“Dit was op Oshakati en voor dit in Rundu, wat in die middel was van twee redelike warm sones; daar was baie oorgrens-operasies in Zambië waarvan ons niks mag geweet het nie.

“As ’n vliegtuig opgestyg het, moes hy missieklaring kry vir die volgende plek en dan moes ek hom in die lug roep en sê: ‘Is jy oukei?’ En as hy sê hy is oukei elke halfuur dan merk ek hom af as oukei. En as hy nié oukei is nie, moes jy goed doen.

“Dit het gebeur. Ek het ’n kudu [vliegtuig] verloor eendag en ek moet ’n helikopter wat iemand anders geroep het, help. So, dit was nie net ’n job nie, jy het dit baie ernstig opgeneem.

“Een nag was daar ’n mission gewees in die Mpacha-area in die Caprivi in, en dié vliegtuig het net verdwyn en twaalfuur die nag het ek nog nie ’n ops normal call van hom gehad nie, ek het nog nie ’n ground call gehad nie, die ouens in Mpacha het nie geweet waar die vliegtuig was nie. En dit was ’n civvie-vliegtuig wat obviously ’n intelligensie-mission gevlieg het.

“Dit het my totaal uitgefreak. Toe bel ek die army-mense en vra: ‘Ken julle dié ding? Waarheen is hy op pad? Is hy veilig?’

“Hulle sê toe die ou wat daarmee sou gewerk het, is ’n majoor so-en-so. Toe dring ek daarop aan dat hulle my met ’n Landrover na die majoor se huis toe vat in die middel van die nag. Dit was in Rundu en dit is píkdonker. en ek klim uit die Landrover uit en daar is net bosse reg rondom die huis. En toe ek so instap, toe spring twee ouens met gewere uit. Toe’s hulle rég; ek het hulle nie eers gesien nie, hulle het in die bos weggekruip.

“Hulle maak die majoor toe wakker en die ou kom uit . . . Toe het hy nie arms nie. Hy was in ’n landmynontploffing en is daarom oorgeskuif na intelligensie toe. Ek het daar gestaan en my bek het oopgehang.

“Ek het onlangs besef dit was waarskynlik die begin gewees van my fassinasie met die wêreld van intelligensie; dis onbewustelik wat my gegryp het. Ek het gehou van spies en sulke goeters en ek het sulke flieks gekyk, maar hierdie was die eerste keer wat ek werklik iets sien wat ek nie mag sien nie; wat ek nie mag weet nie. Dit was ’n rooi vlag.”

’n Sameswering

“Die mense wat hulle vereenselwig met die tyd waaroor ek skryf, is ’n kleiner wordende groepie.” Foto: Jaco Marais

In sy resensie oor Bos skryf Gert van der Westhuizen: “By tye moet jy nogal moeite doen om jouself te herinner dat jy besig is om ’n roman te lees en nie Jacques Pauw se The President’s Keepers nie. Wolmarans dis vir ons in sy eerste roman die volle spektrum van Suid-Afrika se ‘morele moeras’ op: gierigheid, korrupsie, staatskaping en ’n inligtingsgemeenskap wat só deur korrupsie ondermyn word dat jy naderhand nie meer weet wie aan jou kant is en wie nie. Daar is onbeholpe polisiemanne, gewetenlose renosterstropers en geweldenaars wat nie skroom om te moor om hul opbrengste uit misdaad te beskerm nie.”

Wow! Dis ongelooflik dat soveel goeters wat ek geskryf het, nou uitkom.

Wolmarans: “Daar was ’n geweldige toevalligheid. Jacques Pauw se boek het uitgekom kort nadat ek die manuskrip van Bos klaar geskryf het. Ek het Jacques se werk, soos sy artikels in koerante, oor ’n baie lang tyd gevolg. En ek dink onbewustelik moes dit help skep het aan die conspiracy in my kop, maar daar was niks op skrif gewees nie. Ek het die boek agterna gaan lees en ek het net gesê: Wow! Dis ongelooflik dat soveel goeters wat ek geskryf het, nou uitkom.

“Die conspiracy gedeelte van Bos was nie iets wat ek met voorbedagte rade geskryf het nie; dit was óók ’n toevalligheid. Aanvanklik was die storie oor die kameraadskap [tussen Tex Texeira, die hoofkarakter en sy ou oorlogkameraad Carlos Viyera], die oënskynlike verraad teen die waardestelsel wat Tex geken het, en hoe hy moreel verplig gevoel het om te gaan ondersoek instel en vas te stel of daar inderdaad verraad gepleeg is. Maar soos dit met stories gaan, het die karakters dit gedryf.”

In die donker

Wanneer jy skryf, veral as dit jou eerste keer is, dan skryf jy in die donker.

“Jy’t nie ’n clue vír wie jy skryf nie en wie dit gaan geniet nie. Die reaksie sover, ek het nou net ’n e-pos gekry van iemand wat ek glad nie ken nie wat sê: Verskriklik dankie, dit neem hom terug na die ou dae. Toe skryf ek terug en vra: Waar? Nee, hy was in Ondangwa en hy was daar in Angola gewees. So, klaarblyklik is daar ’n nisgroep van mense wat dit geniet en ek het gehoop ek kan by hulle uitkom, maar dit is nie noodwendig die mense vir wie jy skryf nie. Jy moet tog vir ’n wyer gehoor skryf; dis my groot issue gewees om te soek wie is daai gehoor.

“Die mense wat hulle vereenselwig met die tyd waaroor ek skryf, is ’n kleiner wordende groepie. Dit klink ook asof Tex redelik aanklank vind, wat ook vir my vreemd is, want hy is aan die verkeerde kant van 50. Ek wou nie te spesifiek wees daaroor nie, maar ek wou wel die punt maak dat hy oor die muur is.

“Maar tog het Tex nog ’n redelike atletiese vermoë; hy is nog goed aan die gang; sy postuur is nog goed en al sulke dinge. Hy is ervare, maar nie noodwendig meer aan die snykant van dinge nie.”

Oor die muur

“Ek dink ’n mens skryf ’n boek omdat dit iets is wat móét uitkom op een of ander stadium . . . ” Foto: Jaco Marais

Vereenselwig hy hom enigsins met Tex, die man wat al effens oor die muur is?

“Ek dink tot ’n mate is die kennis van wat ’n mens wás en enige regrets, waarskynlik redelik sterk in jou onderbewussyn as jy so iets skryf. Tex se karakter is nie gegrond op enigiets wat ek is nie, maar ironies genoeg het iemand vanoggend gesê sy kan nie Tex sien as die donkerkop ou met kort hare nie; sy sien heeltyd vir my, want ek praat soos Tex. So, uiteraard het ek onbewustelik baie meer van myself in daardie karakter gesit as wat ek besef het of as wat ek wou.

“Ek het nie Tex se kundigheid nie, maar waar ek wel simpatie met hom het, is dat hy op sy dag een van die bestes was en dat hy net nie meer ’n plek het in die wêreld nie; sy raklewe is verby . . .

“Maar ek dink wat hy op ’n persoonlike vlak deurgaan, is redelik universeel. Ek dink enige mens wat wit is en in die army was en sy werk verloor het – dinge wat ek deurgegaan het; ons het maar almal op die ou einde vryskutmense geraak – dit spreek tot die selfvertroue of die gebrek aan selfvertroue wat ek dink enige mens bo ’n spesifieke ouderdom begin ervaar. As dit nou die manlike menopouse is, dan is dit nou so.”

Wolmarans was ’n joernalis by Die Burger en werk deesdae vryskut as fotograaf, videovervaardiger en kopieskrywer.

“Daardie gebrek aan selfvertroue wat Tex het en wat hom nie die werk [missie] wil laat aanvaar nie . . . Hulle kan hom nie heuning om die mond smeer en sê: ‘Jy is nog great; jy kan dit doen nie’; daar moet vir hom ’n rede wees waarom hy dit doen. En die rede word vir hom ’n redelike sterk ene, naamlik ’n lojaliteit teenoor Carlos, sy soldatebuddy van destyds. En daardie lojaliteit is baie tipies van die ouens van die magte, die ouens wat in die spesiale magte gedien het; hulle het lewenslange bande gesmee.”

Morele keuses

Tex het as student, net soos Wolmarans, politieke filosofie onder die groot Stellenbosse filosoof prof. Johan Degenaar gestudeer.

“Ek moes hom cast as ’n morele mens, want hy moet baie spesifieke morele keuses maak in die boek, net soos Carlos. En hy oordeel Carlos se optrede na gelang van sy kennis van Carlos as morele mens.

“Die rede waarom hulle aanvanklik vriende geraak het, is omdat hulle waarskynlik baie dieselfde morele ingesteldheid en waardes gehad het.”

Daar is altyd ’n ou wat meer weet as jy wat jou boek lees en wat na jou toe terugkom en dan oor een puntjie nitpick.

Hy praat oor die “outentiekheid van dinge” en hoe hy dit nagestreef het deur geweldig baie navorsing.

“Ek het ’n absolute manie daaroor om goed rég te kry. Daar moenie ’n masjiengeweer wees wat duisend skote per minuut kan skiet sonder dat jy magasyne ruil nie; daar moet nie ’n helikopter wees wat teen 700 km per uur kan vlieg nie.

“Daar is altyd ’n ou wat meer weet as jy wat jou boek lees en wat na jou toe terugkom en dan oor een puntjie nitpick. Ek pes dit as mense dit doen want dit ondermyn die geloofwaardigheid van die res van die storie. So as jy beheer het oor die feite, sit moeite in en kry dit reg.”

Iets wat moet uitkom

“Ek het ’n absolute manie daaroor om goed rég te kry.” Foto: Jaco Marais

Hy is reeds besig met ’n tweede boek.

“Soos Tex met sy gebrek aan selfvertroue, gaan ek in die skryfproses deur dieselfde wroeging: Mors ek my tyd? Mors ek potensiële inkomste deur te sit en uur ná uur te werk aan iets wat ek nie weet of dit enigsins by iemand gaan aftrek vind nie?

“Ek weet nie hoe die boek verkoop nie. Maar dís nie hoekom ’n mens ’n boek skryf nie. Ek dink ’n mens skryf ’n boek omdat dit iets is wat móét uitkom op een of ander stadium; dis iets wat bórrel, en as jy dít ignoreer, gaan dit vir jou vir ewig pes. In hierdie geval was dit iets wat ’n noodwéndige proses was, dit móés net uitkom.

“Ek het, soos Tex, baie spyt dat dit nie vroeër jare al gebeur het nie; dat ek nie eers op 55 ’n boek uitgegee het nie. En ek het al baie gewonder – moes ek nie vroeër al begin het nie? Kón ek vroeër begin het? Ek dink daar is ’n sekere lewenswysheid wat nodig is om met vertroue te kan skryf.

“Maar ek kan nie sê dat daar ’n punt in my lewe was waar daar iets groots gebeur het en ek kon sê: Oukei, nou het ek genoeg lewenswysheid nie; dis ’n ding wat in die nag opsluip.”

Meer oor:  Murray La Vita  |  Johan Degenaar  |  Jaco Wolmarans  |  Jacques Pauw  |  Caprivi  |  Zambië  |  Angola  |  Oshakati
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.