Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
‘’n Nuwe begin onder die Afrika-son’

Hoe ons tot nou toe Afrikaners was, het nie gewerk nie, ons moet dit op ’n ánder manier doen, sê die filosoof en skrywer Azille Coetzee aan Murray La Vita.

Azille Coetzee gedurende die onderhoud vandeesweek in Kaapstad. Foto: Jaco Marais

“Ek is die alchemis wat ’n wêreldreis moes onderneem om ’n skat te vind presies waar ek begin het, reg onder my neus. En wat ’n skat! My geliefde en my land.”

Só skryf Azille Coetzee (33) teen die einde van haar boek In my vel – ’n reis, wat pas by Tafelberg verskyn het.

Dit is onder meer die verhaal van hoe sy in 2013 na Amsterdam is om ’n PhD aan die Vrije Universiteit te doen en op die land sowel as op ’n Nederlander verlief raak. Sy keer in 2016 na Kaapstad terug en herenig hier met ’n ou geliefde.

Die gesprek met Azille, wat sedert haar terugkeer ’n nadoktorale navorser by die South African Research Chair in Gender Politics aan die Universiteit Stellenbosch is, vind in ’n Kaapstadse restaurant plaas.

Azille is ’n hoogs intelligente en welsprekende vrou. Sy is slank en het ’n vol, sensuele mond waarmee sy gereeld breed glimlag en dan ’n bietjie soos Carly Simon lyk.

In my vel het begin as ’n teoretiese gesprek oor identiteit – ek wat begin met: Ek is óf Europees óf van Afrika, en daardie pad wat ek moes loop om gemaklik te word in ál die verskillende dinge wat ek is . . .”

‘Lekker’ is nie ‘leuk’

Azille en ’n vriendin geniet ’n drankie op ’n Amsterdamse somerdag. Foto: Verskaf

Ek pols haar oor die titel.

“Ons wou iets liggaamlik hê . . . En die voordeel van vel is dat dit ook kleur suggereer, maar daar is iets sensueels daaraan . . . aanraking . . . ’n suggestie van seks.”

Sy skryf hoe sy van die begin af in Nederland gesukkel het met die onderskeid tussen die woorde ‘lekker’ en ‘leuk’.

“Alles wat ’n mens op ’n fisieke manier geniet, is ‘lekker’ en ‘leuk’ word gebruik vir ervarings wat nie fisieke plesier verskaf nie, maar wat op ’n meer abstrakte manier lekker is.

Ek het agtergekom wat ons so aanprys as dit wat Westers is – hierdie redelike, onliggaamlike manier van leef – is net glád nie vir my so aantreklik en so leefbaar nie.

“Die onderskeid tussen liggaam en rede, en materie en gees, is ook filosofiese konsepte wat sentraal is tot die feministiese debat. Die patriargie wil vir ons sê dat jou liggaam is heeltemal apart van jou rede, en die verstand en die rede is ’n manlike ding en die liggaamlike is iets wat op vroue geprojekteer word.

“En in die koloniale filosofie is dit presies daardie selfde soort onderskeid wat die Weste afdwing op Afrika en die gekoloniseerde – Afrika is ’n meer fisiéke teenwoordigheid, terwyl die Westerling beskik oor die vermoë om die materiële te transendeer en toegang te kry tot die rede.

“So, dit is ’n onderskeid wat sentraal staan tot die patriargale, koloniale regime, en toe ek as vrou uit Afrika in daardie konteks is, het ek dit só sterk gevoel op hierdie básiese manier.

“En as jy ‘lekker’ en ‘leuk’ verkeerdom gebruik, is dit ’n móérse faux pas. As jy sê die partytjie was lekker, dan sal almal sê: ‘Oe, by wat se partytjie was jy?’ Dan dink hulle dit was een of ander seksorgie. Dit was baie frowned upon as jy die twee per ongeluk omruil, en dit het die héél tyd met my gebeur.

“Ek het agtergekom wat ons so aanprys as dit wat Westers is – hierdie redelike, onliggaamlike manier van leef – is net glád nie vir my so aantreklik en so leefbaar nie.”

Eie herkoms

“Ek is die alchemis wat ’n wêreldreis moes onderneem om ’n skat te vind presies waar ek begin het, reg onder my neus.” Foto: Jaco Marais

Terwyl sy in Nederland was, het sy ook haar eie herkoms verken deur van haar oupagrootjie se boeke – onder meer sy eksemplaar van die Carnegie-verslag – uit die Kaap te laat aanstuur en te lees.

“Wat ek besef het toe ek daar was, is hoe mín ek weet; hoe afgesny ek as Afrikaner van my eie geskiedenis en kulturele geskiedenis is.

“Die Europeërs het ’n baie sterk begrip van waar hulle vandaan kom en hoe hul kulturele geskiedenis ontwikkel het. En ek het besef ek is in daardie sin verarm . . . Die apartheidsbestel het vir ons hierdie vreemde, verwronge geskiedenis gegee wat eintlik baie min te doen het met waar ons vandaan kom, en nou ná apartheid is ons óók huiwerig om in ons geskiedenis in te gaan asof dit ’n koestering is wat ons onsself nie moet toelaat nie.

Ons kom nou wéér nie by ons geskiedenis uit nie.

“Ons moet so half versigtig wees om te veel na die Afrikaner te wil kyk; ons is bang daarvoor. Die punt is – ons kom nou wéér nie by ons geskiedenis uit nie.

“Ek dink dit is amper ’n projek wat ons as Afrikaners met groter erns moet opneem – om te gaan soek na hierdie alternatiewe geskiedenisse en die stories wat ons gehoor het te bevraagteken as ons hierdie identiteit op ’n nuwe manier wil aktiveer of op ’n nuwe manier wil leef in die toekoms.

“Ons het gesien hoe ons tot nou toe Afrikaners was, het nie gewerk nie, ons moet op ’n ánder manier . . . Ek sê glad nie ons moet die identiteit verwerp nie; dis juis vir my die belangrike deel: Ek ís ’n Afrikaner en dít is waar ek wil wees, ek moet net uitpluis hóé om dit uit te leef.”

‘Ons moet praat’

Azille op ’n partytjie in Amsterdam. Foto: Verskaf

Hoe kan ’n mens as Afrikaner sinvol in Suid-Afrika leef?

“Ek het glád nie ’n finale antwoord nie, maar een van die insigte waartoe ek wél gekom het, is ons móét gesprekke hê.

“Dit is in postapartheid-Suid-Afrika asof ons Afrikaners soos volstruise is met ons koppe in die sand; dis asof ons nie nog aandag op onsself wil vestig nie.

“Daar is natuurlik ’n paar baie luide kampvegters vir Afrikaans, maar die soort Afrikanerskap en Afrikaans waarvoor hulle veg, is die een waarmee die meeste van ons baie ongemaklik voel.

“Om die een of ander rede is dáárdie amper die enigste stemme wat ons hoor oor Afrikaans, die res van ons bly doodstil. Ek dink dít maak dat ons nié vorentoe beweeg nie, en met vorentoe beweeg, bedoel ek so half ’n beter begrip kry van ons posisie en ons plek en ons verantwoordelikheid ten opsigte van waar ons nou is.

“Ons moet praat daaroor en ons moet in ons geskiedenis inkyk en bereid wees om daardie ongemaklike aandag op onsself te vestig . . . Ons kan nie nou net so stil as moontlik hier sit en hoop niemand kyk vir ons nie.

“Ek voel dis iets wat ons regtig vir onssélf moet doen. Dit was so half mý pad – daar is iets verskrikliks verrykend en verruimend daaraan om vir ’n menssélf hierdie vrae te vra: Wie is ek? Waar pas ek in? Waar hoort ek tuis? Wat is my verantwoordelikheid?”

Onderdrukking

“Ek het teruggekom met al hierdie idees van ek gaan nou hierdie great wit Afrikaner wees wat al die regte dinge doen . . .” Foto: Jaco Marais

Ek vra haar uit oor haar feminisme.

“Feminisme is vir my interessant omdat dit die werkinge van mag ondersoek. Dit is ’n lens op die wêreld wat vra: Wie word onderdruk en hoekom? En watter onsigbare onderdrukking is hier aan die gebeur? So, op die ou end gaan dit nie net oor vroue nie, dit gaan oor onderdrukkende sisteme.

“In my navorsing kyk ek spesifiek hoe gender ook deel van die koloniale projek is. Die koloniale projek ís ’n patriargale projek.

“Wat mense ook moet verstaan, is dat ’n plek soos Suid-Afrika se probleem van seksuele geweld ook ’n nadraai van die koloniale geweld is, wat ’n spesifiek seksuele aard aangeneem het.

Veral wit Afrikaner-manlikheid is ’n verskriklike rigiede raamwerk. En ons sien dit die heel tyd – Afrikanermans sukkel verskríklik.

“Dit is iets wat diép in ons hele samelewing sit. Die seksuele geweld waaraan ek as vrou blootgestel word of wat my deurentyd bedreig, is alles deel van ’n raamwerk van kolonialisme; dis ’n hangover van kolonialisme. Nie dat ons ons nie nou steeds op nuwe maniere daaraan skuldig maak nie, maar dit gaan oor ’n manier om gewelddadig met liggame om te gaan wat aanvaarbaar geword het in ons kollektiewe psige op ’n manier.

“Ál hierdie dinge is aan mekaar verbind: my bevryding as vrou, die dekolonialisering van my wit identiteit.”

Iets wat al die kulture in Suid-Afrika gemeen het, is ’n soort macho of gewelddadige manlikheid.

“En mans ly ook daaronder. Veral wit Afrikaner-manlikheid is ’n verskriklike rigiede raamwerk. En ons sien dit die heel tyd – Afrikanermans sukkel verskríklik. Die wonderlike fliek Kanarie het my weer laat dink aan hoe die Afrikanerman op baie spesifieke maniere deur kolonialisme en apartheid beskadig is. En ons praat nie daaroor nie.

“Weer eens: Deel van die projek om na Afrikaner-identiteit te kyk en dekolonialiserend daarmee te werk te gaan, is om ook na Afrikanermanlikheid te kyk. En dit is ’n interessante en opwindende en emansiperende projek wat vir ons álmal die lewe sal oopmaak.”

Liefdesreis

Azille en haar Amsterdamse woonstelmaats. Foto: Verskaf

In my vel– ’n reis is ook ’n liefdesreis.

“Dit was vir my interessant dat ek amper deur ’n liefdesverhouding [met die Nederlander] ’n tuishoort en ’n nuwe nasionale identiteit gesoek het. Ek is ’n feminis en dit is so ’n cliché, maar ek het dit gedoen.

“Maar op die ou end is dit natuurlik ook ’n reis terúg; ek wil ook sê ’n reis terug na myself, maar dan klink dit asof ek akkoord gaan met die een of ander essensialistiese self en natuurlik het ek deurgaans verander. Ek voel tóg dit is ’n reis wat ek verder úit myself uit gevat het en op ’n manier weer nader gekom het aan iets wat ek voel méér ek is as wat nié ek is nie.”

Middelklasmense, veral wit middelklasmense, in Suid-Afrika voel hulle moet uit Suid-Afrika wegkom.

“So, ek wou ook kyk na hoe dit is om ’n immigrant te wees of weg te trek, en dan die pad terug. Die pad terug is ook ’n moontlike pad en vir my was dit dié pad wat ek wou vat . . .

Ek het besef dit is nie maklik om net hierdie great nuwe wit mens te word nie. Dis nie maklik om my wit Afrikanerskap te hervorm en my wit middelklas-lewetjie meer te integreer nie, want ons sit nog in hierdie apartheidstrukture, ons hele samelewing is opgebou om my apart te hou en my Afrikaanse wit lewetjie te isoleer.

“Ek het teruggekom met al hierdie idees van ek gaan nou hierdie great wit Afrikaner wees wat al die regte dinge doen en nie net Afrikaans en Engels praat nie. Maar Suid-Afrika is meer kompleks as dit en die lewe is moeiliker as dit. Om ’n nuwe taal te leer neem baie tyd en is baie moeilik . . . Dit ís iets wat ek nog wil doen.

“Die idee wat ek gehad het dat ek ’n nuwe soort vriendekring gaan hê vol van bruin en swart vroue, ek gaan nie meer net saam met al hierdie wit mense van Bellville [waar sy grootgeword het en waar haar ouers steeds woon] uithang nie.”

Sy lag.

“So, ek kan met al hierdie goeie bedoelings uitgaan in die wêreld en dit gaan nie noodwendig so werk nie, want daar is baie ander faktore waaraan ’n mens nie dink nie. Ek het besef dit is nie maklik om net hierdie great nuwe wit mens te word nie. Dis nie maklik om my wit Afrikanerskap te hervorm en my wit middelklas-lewetjie meer te integreer nie, want ons sit nog in hierdie apartheidstrukture, ons hele samelewing is opgebou om my apart te hou en my Afrikaanse wit lewetjie te isoleer. So, om dit te oorkom gaan týd en moeite neem; dis nie net van só nie,” sê sy en klap haar lang, elegante vingers.

Dinge is wel aan die verander.

“Maar ons moet aktief werk daaraan; ons moet moeite doen om ons lewens breër te maak en te integreer met dié van mense wat anders lyk as ons; om veeltalige ruimtes te betree. Dít gaan nie vanself gebeur nie; as jy net doen wat jy altyd doen, gaan jou lewe net aanhou lyk soos dit lyk. Mý lewe lyk tot ’n groot mate nog soos ’n apartheidslewe. Ék moet daaraan werk, en dit gaan nie maklik wees nie.”

Meer oor:  Azille Coetzee  |  Suid-Afrika  |  Nederland  |  Apartheid  |  Feminisme  |  Kolonialisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.