Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
’n Pastoor, ’n psigopaat en die wilde opsie

Irna van Zyl praat met Murray La Vita oor een van die mees bose karakters wat bestaan, ’n speurder met ’n slapchips-verslawing, ’n vreemde pastoor, en waarom treine haar “die heebie-jeebies gee”.

Die bekroonde joernalis, sakevrou en entrepreneur Irna van Zyl, het op 56 afgetree en haar lewensdroom om fiksie te skryf verwesenlik.Foto: Joanne Oliver

Die manier waarop jy na die lewe kyk, verander wanneer jy ’n skrywer word, sê Irna.

“Daar is detail wat ek nou raaksien wat ek nie noodwendig vroeër raakgesien het nie. En hoe ek goeters sien en dink: ‘Ek kan dít dalk vir ’n karakter gebruik.’

“Om ’n klein voorbeeld te noem: Vanoggend terwyl ek my maskara aansit – ek is nie baie bedrewe daarmee nie en ek het die afgelope tyd omtrent nooit grimering gedra nie – smeer ek per ongeluk ’n bietjie aan my ooglid.”

Sy meld laggend dat sy selfs ook parfuum aangesit het vir die virtuele samesyn van hierdie Zoom-onderhoud van ons.

“En toe wonder ek of ek dít kan gebruik in ’n boek? Gaan Storm van der Merwe [die speurder in haar misdaadromans Moordvis, Gifbeker en Bloedsteen] haarself dalk probeer opdress vir die een of ander geleentheid en dan smeer sy die maskara en dan irriteer dit haar?

“Óf gaan een van die karakters wat dalk ’n bóéf is in ’n volgende boek ’n smeersel maskara oor haar ooglid hê en dít is dan deels iets wat die waansin wys of die verval van daardie karakter?”

Onder Storm se vel

“Daar is detail wat ek nou raaksien wat ek nie noodwendig vroeër raakgesien het nie.”Foto: Joanne Oliver

Ek pols haar oor hoe die karakter Storm ontwikkel het en wat in Bloedsteen, wat onlangs by Penguin verskyn het, met haar gebeur.

“Toe ek begin werk het aan ’n misdaadroman, wou ek graag ’n vrouehoofkarakter gehad het. Storm het ontstaan uit ’n samevoeging van twee soorte karakters. Sy is nie noodwendig gebaseer op enigiemand nie . . . ek het in die begin ’n bietjie met haar gesukkel totdat ek by hierdie laaste boek gekom het.

“Ek het toe gevoel dat ek meer onder haar vel inkom . . . Terwyl die goed wat Storm doen en beleef níks te doen het met my eie lewe nie, het ek haar beter begin verstaan en dan gaan jy in jouself in en jy soek sekere emosies wat jy ervaar in situasies wat vir jou moeilik is of wat konflik veroorsaak of wat pýn veroorsaak, en jy probeer dit na haar toe transponeer.”

‘Interne stryd’

Kort voor die inperking het Irna en Mike Nicol op Twitter ’n virtuele bekendstelling van “Bloedsteen” gehou. Dié foto is gedurende daardie “gesprek” geneem.Foto: Verskaf

’n Karakter wat een of ander interne stryd het, is ’n interessanter karakter.

“Met elke boek dink ek: Wat is die kwessie waarmee Storm in hierdie boek gaan sukkel? In die eerste boek het dit gegaan oor haar pa en die kwessie dat sy nie geweet het wie haar biologiese pa is nie en hoe geskok sy was toe haar ma dit aan haar bekend gemaak het.

“In die tweede boek het dit gegaan oor die bevelvoerder van die polisiekantoor waar sy was wat haar seksueel geteister het . . . En in Bloedsteen het sy [wat slap chips nie kan weerstaan nie] dan ’n eating disorder.

“Dit is ’n bietjie van ’n konvensie van die genre dat die held of die heldin die een of ander probleem het. Dit help natuurlik ook om die spanning te verhoog rondom daardie karakter – gaan die karakter dit kan oorwin of gaan sy nié? Gaan sy ineenstort voordat sy die boef kan vang?”

Treinvrees

Die voorval aan die begin van Bloedsteen waarin Storm se ma, Rowena, op Paddington-stasie in Londen onder ’n trein ingestamp word, is gebaseer op ’n werklike gebeurtenis.

“My vrou, Bridget [McCarney], het jare gelede op Paddington-stasie gehardloop om ’n trein te haal; die trein het stilgestaan en net voordat sy dit kon bereik, het die fluitjie geblaas. Sy klim toe op maar toe kom ’n ou van agter af gehardloop en stamp haar uit die pad uit en sy val onder die trein in. Gelukkig het sy langs die spoor geval en dit was die laaste wa en die trein het onmiddellik vertrek nog voordat sy tot verhaal kon kom en regop gekom het . . .

Goed vs. kwaad

Hoekom is die misdaadroman wêreldwyd so ’n gewilde genre?

“Dit is omdat goed oor kwaad seëvier en ’n spanning opgelos word; dit bied ontvlugting, maar dit gaan oor die stórie,” sê Irna.

“’n Misdaadroman het gewoonlik ’n goeie storie met allerhande kinkels en verrassingselemente wat ’n mens laat bly by die storie.

“Karakters is óók baie belangrik in misdaadromans en mense wat die misdaadgenre afmaak as ’n mindere genre, dink ek verstaan nie al daardie elemente wat inspeel nie en hoe belangrik hulle is nie.”

“Dit gee my nou nog steeds die heebie-jeebies as ons enigsins naby ’n trein kom – ék het nou ’n angsvrees vir ’n trein.”

Die wêreld van diamante en diamantsmokkelary wat in die roman figureer, het begin by ’n gesprek wat Irna met ’n Uber-bestuurder gehad het.

“Die ou was ’n veiligheidswag bo in Alexanderbaai en hy het my van die diamantsmokkelary vertel. Dít het my laat dink: Oukei, dís ’n interessante storie; hoe kan ek dit gebruik? Dis so half waar die boek begin het . . . Dít en die val onder die trein – hoe om daardie twee goed byeen te bring.

“En dit is natuurlik ’n kort pad van diamante na mode toe,” sê sy met verwysing na die modewêreld wat ook – by wyse van onder meer die moord op ’n befaamde Suid-Afrikaanse modeontwerper – deel uitmaak van Bloedsteen.

Die wilde opsie

Irna besig om in Port Nolloth navorsing vir “Bloedsteen” te doen.Foto: Verskaf

Die gedagte vir die uiters vreemde profeet-karakter in Bloedsteen het by haar opgekom nadat sy die dokumentêr Wild, Wild Country oor die kultusleier Osho gekyk het.

“So, dit is waar die gedagte van hoe ek die pastoor wou hê by my opgekom het. Van daar af werk ek ontsettend hard. Hier het ek nou een gegewe; ek wil graag ’n pastoorkarakter hê – hoe gaan hierdie karakter wees en hoe link ek hierdie karakter in by die storie soos wat hy besig is om te ontwikkel?

’n Boek kom nie in my kop in en hy is daar staangemaak nie. Hy kom in die vorm van ’n paar gedagtes en miskien ’n ruggraat en dan, soos wat ek daaraan skryf, ontwikkel hy.

“Dan skep ek vir myself verskillende scenario’s of opsies – skryf dit letterlik uit. Ek voeg dan altyd ook ’n wilde opsie by. Dit kom uit ’n toespraak waarin Jane Raphaely eenkeer genoem het dat as jy ’n goeie ingewing het, dan moet jy vérder as die goeie ingewing gaan. So, dít is die reël wat ek probeer toepas.

“’n Boek kom nie in my kop in en hy is daar staangemaak nie. Hy kom in die vorm van ’n paar gedagtes en miskien ’n ruggraat en dan, soos wat ek daaraan skryf, ontwikkel hy.”

’n Karakter wat “letterlik ingestap het in die storie” is die psigopaat Whitey van Worcester.

“Ek kan nie onthou wáár hy vandaan gekom het en hóé hy daar gekom het nie. Al wat ek geweet het, is dat ek iets wil skep wat Storm en haar ma bedreig. En toe het ek daai bedreiging ’n stem gegee en dit ’n karakter gemaak . . . Hy is evil. Mike Nicol het hom beskryf as een van die evilste karakters wat daar is.”

Kommer oor boekbedryf

Navorsing vir “Bloedsteen” in Antwerpen.Foto: Verskaf

Bloedsteen, wat soos haar ander romans ook in Engels verskyn, het pas voor die nasionale inperking weens die Covid-19-pandemie die lig gesien. Die beplande boekbekendstellings het dus deur die mat geval.

“Dit was nogal ’n groot teleurstelling . . . Dis ’n bietjie soos om ’n kind die wêreld in te stuur en dan kan niemand na hom kyk nie.

“Mense kon toe net e-boeke koop. Buiten dat ek jammer voel vir die boekbedryf en bekommerd is oor hulle, het ek myself baie jammer gekry in daardie stadium.

“Maar dit help nou nie jy sit en tob daaroor nie; ek glo jy moet aangaan en as die boek die moeite werd is, sal mense hom vind en hy sal ’n lewe van sy eie kry wanneer die nuwe normaal aangebreek het.

“Ek is meer bekommerd oor die seerkry van die kleiner onafhanklike boekwinkels soos die Book Lounge en Graffiti wat so ontsettend baie doen vir Afrikaanse boeke.

“Nie een van ons weet wat gaan met die ekonomie gebeur nie – wat gaan oorbly en wat gaan nié oorbly nie . . . Ek dink ’n mens moet maar net nuwe paaie vind; nuwe maniere van doen.”

Skrikstories

’n Stadsroman

Irna is pas klaar met die eerste weergawe van daardie nuwe roman.

“Ek het hom nou laat lê vir so drie weke net om hom te laat rus en ook omdat ek nog taamlik baie huiswerk moet doen. Ek moet nog werk aan die karakters en ek moet kyk of die storie werk en sulke soort van goed.

“Ek is van plan om vandag weer volstoom aan hom te begin werk. Ek het ’n plan in my kop gehad nog voordat ek Bloedsteen begin skryf het. Hierdie boek sluit nie Storm as ’n karakter in nie.

“Dis ’n boek wat in Kaapstad afspeel – in Tamboerskloof [waar sy woon] hoofsaaklik. So dis meer ’n stadsroman; dit is nog steeds spanningsfiksie, maar dis nie noodwendig ’n polisieroman nie.

“Ons sal moet sien of dit gaan werk en of dit noodwendig die volgende boek gaan wees want daar is ’n Storm-roman waaroor ek al notas begin maak het.”

Hoe voorsien sy gaan die “nuwe wêreld” wat ons besig is om te betree, haar skryfwerk beïnvloed?

“In dié stadium is dit alles nog te naby om genoeg perspektief te hê – vir mý in elk geval, om daaroor te kan skryf of dit in te bring as ’n milieu of ’n agtergrond waarteen ’n boek afspeel. Ek het so een of twee kortverhale geskryf . . . Ek skryf sulke kort skrikstories: ’n Vrou wat in hegtenis geneem word in die tyd van korona; niks wonderliks nie. Maar met die langer skryfwerk kan ek nog glad nie my kop kry rondom wat besig is om met ons te gebeur nie en hoe dit gaan wees nie.

“Ek dink dit gaan ook daarvan afhang of dit gaan verbygaan en of dit op ’n manier gaan aanhou leef soos wat ons nou leef, met ’n bietjie van ’n verslapping, maar maskers dra vir die res van ons lewe.

“Toe ek aan Bloedsteen gewerk het, het ek baie tyd op Hermanus deurgebring om daaraan te skryf en dit was in die tyd van die onluste, 2018 dink ek, en dit was vir my onvermydelik om die onluste as agtergrond te gebruik – in Storm se wêreld in Hermanus was daar onluste en dit het die polisie besig gehou en dit het haar kollegas wat in die township bly, bedreig.

“Maar ek kan glád nie op daardie manier oor die huidige toestand skryf nie. Moontlik ook omdat die boek waaraan ek besig was om te werk reeds meer as halfpad deur sy eerste draft was teen die tyd wat ons die inperking ingegaan het.”

Magic-oomblikke

“ ’n Boek kom nie in my kop in en hy is daar staangemaak nie.”Foto: Joanne Oliver

Sy praat graag van die “magic” wat in ’n skryfproses gebeur.

“As jy lank genoeg voor jou rekenaar sit en skryf, dan kom daar ’n stadium wat daar sinne uitkom wat jy voel jý nie uitgedink het nie – dit gaan direk van jou vingers af na die rekenaar toe, of van jou brein af na jou vingers toe. En dikwels is daar magic-oomblikke daarin.

“’n Mens moet dit dan baie mooi redigeer want jy kan met daardie soort van free writing vreeslik verlief raak op jou eie woorde, so jy moet streng wees met jouself. Maar baiekeer is daar soort van juwele wat opkom, al is dit een sinnetjie wat oorbly daarvan. Dis baie lekker as die magic gekom het.

“As dit goed gaan en jy het daardie deur wat oopgaan in jou kop – of die deur word oopgeskóp – dan vind ek dat ek nogal lank kan aanhou skryf. Maar as ek sukkel, dan spring ek aanmekaar op om te gaan koffie maak of om die hond te gaan vryf.”

Indien sy nie die dag begin deur te skryf nie, ervaar sy ’n leemte.

“Skryf het nou ’n deel van my lewe geword; dis deel van my ritme. Maar dit is nie allesoorheersend nie; ek glo daaraan om te leef; ek glo daaraan om . . . wel, in ’n normale tyd . . . uit te kom en te gaan uiteet of met vriende te kuier.”

Meer oor:  Irna Van Zyl  |  Kaapstad  |  Hermanus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.