Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
’n Stil man en ’n moord in Bethlehem

Suid-Afrika lyk soos ’n vliegtuig sonder ’n vlieënier, sê Jonny Steinberg aan Murray La Vita. Hy was in Suid-Afrika om One Day in Bethlehem bekend te stel, waarin hy skryf oor ’n man wat 19 jaar in die tronk was vir ’n moord wat hy nie gepleeg het nie.

Jonny Steinberg en Fusi Mofokeng in Kaapstad ná ’n gesprek op die Open Book Festival. Foto: Murray La Vita

Hy wou die oë leen van iemand wat uit die verlede uit die jaar 2011 binnegestap het, sê Jonny Steinberg.

“Ek het gedink ons het vergeet wat sedert die einde van apartheid verander het en wat nié . . . Wat ’n geleentheid, het ek gedink, om iemand te raadpleeg wat netsowel al hierdie jare aan die slaap kon gewees het.”

Na wie Steinberg hier verwys, is Fusi Mofokeng, die fokus van sy aangrypende boek One Day in Bethlehem.

Fusi Mofokeng en Tshokolo Mokoena is aan moord skuldig bevind, ondanks die feit dat hulle nie op die toneel was nie.

Steinberg ondersoek in dié boek die lewe en stryd om geregtigheid van Mofokeng, wat op 2 April 1992 as medepligtige tronk toe gestuur is nadat ’n groep mans – lede van ’n Oos-Randse, ANC-geaffilieerde selfverdedigingseenheid (SDU) – met AK47’s in Bethlehem in die Vrystaat op twee polisiemanne losgebrand en een doodgeskiet het.

Mofokeng en Tshokolo Mokoena is aan moord skuldig bevind, ondanks die feit dat hulle nie op die toneel was nie. Die vier werklike moordenaars is later vrygelaat nadat hulle in 1998 voor die Waarheids-en-versoeningskommissie verskyn het en amnestie aan hulle toegestaan is op grond daarvan dat hulle as vryheidsvegters opgetree het.

Mofokeng en Mokoena het nie amnestie gekry nie omdat hulle het nie daarvoor in aanmerking gekom nie – hulle het immers geen misdaad gepleeg waarvoor hulle amnestie kon vra nie. Omdat ook hul appèlle nie geslaag het nie, het hulle nog 12 jaar in die tronk deurgebring en is hulle eers in 2011 vrygelaat.

‘Belangrike verandering’

“Jy skryf mos oor iemand wat práát en hardop dink en wat dinge te sê het oor hul plek in die wêreld.” Foto: Jaco Marais

Die onderhoud met Steinberg vind plaas in ’n hotel in Kaapstad. Hy is die veelbekroonde skrywer van boeke soos A Man of Good Hope, The Number en Midlands waarin onderwerpe soos xenofobie, tronkbendes en plaasmoorde verken word. Hy gee klas aan die University of Oxford se African Studies Centre en is besoekende professor aan Wits se Institute for Social and Economic Research (WiSER).

“Ek dink 2011 was die jaar waarin daar ’n baie belangrike verandering in die land plaasgevind het. Suid-Afrika was ’n land wat deur hoop aanmekaargehou is. Sedert 1994 was daar hierdie massiewe verwagting dat dinge gaan verander. Maar rondom 2011 het ’n reeks dinge gebeur wat ’n kopskuif by mense tot gevolg gehad het,” sê Steinberg.

Skielik was dinge wat mense laat hoop het, nou die bron van sinisme.

“Ek het in 2011 en 2012 gesprekke gehoor wat nooit ’n paar jaar tevore sou plaasgevind het nie. Skielik was dinge wat mense laat hoop het, nou die bron van sinisme.

“So, in ’n dorp soos Bethlehem waar Fusi gewoon het, het ’n burgemeester of raadslid wat in ’n duur motor rondgery het . . . In 2008 was dít ’n simbool van hoop – dit was iemand saam met wie sy onder apartheid in ’n township grootgeword het en met wie jy jou kon vereenselwig, wat vooruitgang gemaak het en wat dus beteken het jy kan óók; dit het beteken dat die wêreld aan die verander was.

“Maar in 2011 het daardie beeld van ’n man in ’n blink motor iets anders beteken; dit het beteken iemand is besig om iets van jou af weg te neem.”

Vol hoop uit die tronk

Baie onskuldiges in die tronk

Meen Steinberg daar is baie mense in Suid-Afrika se tronke wat, soos Fusi Mofokeng en Tshokolo Mokoena, onskuldig is?

“O, ja, daar moet ongetwyfeld wees. Toe Jacques Pauw oorspronklik by die Wits Justice Project gewerk het, het hy op mense afgekom wat al 14 jaar verhoorafwagtend is. Dis mense wat letterlik vergeet is.”

Steinberg wys in die epiloog van sy boek ’n ernstige tekortkoming in die Suid-Afrikaanse regstelsel uit.

Indien iemand in Suid-Afrika aan ’n misdaad skuldig bevind word en appèlle nie slaag nie, is daar geen regsproses waardeur ’n hof die saak kan heropen nie.

“Dit is ’n leemte in die land se statutêre reg. Want wat as sterk nuwe getuienis aan die lig kom? Daar is geen regterlike forum waarop ’n onregverdige vonnis reggestel kan word nie.”

Dit was vir hom interessant dat Mofokeng nie deur daardie proses gegaan het nie.

“Hý het vol hoop en verwagtinge uit die tronk gekom. So daar was hierdie teenstelling tussen waardeur hy gegaan het en waardeur die land gegaan het. Dit is baie ironies dat toe hy uiteindelik vrygelaat word, was die wêreld om hom besig om redelik ontnugter te raak; en hý was nie ontnugter nie want hy was nou vry en wat hy rondom hom gesien het, het hom opgewonde gemaak.

"Dit het my gefassineer om te sien hoe hy die hede met ’n ingesteldheid of emosies uit die verlede beleef.

“Hy en Tshokolo het weens ’n onreg wat hulle aangedoen is, so te sê die eerste twee dekades van die demokrasie in die tronk deurgebring.

"Maar tog het dit uit ’n onderhoud wat ek gelees het, geblyk dat hulle met hoop en ’n huppel in hul stap uit die tronk gekom het. Hoe is dit moontlik?

“Ek was geïnteresseerd in wat in daardie 19 jaar in hul koppe gebeur het; ek wou weet deur watter emosionele, intellektuele en denkprosesse hulle gegaan het.”

‘Wees versigtig’

Het hy ’n verandering by Mofokeng waargeneem; ’n oomblik of tydstip toe hierdie optimisme en hoop vervaag het?

“Nee, ek het nie. Ek dink hy was redelik geskok oor baie van die dinge wat hy waargeneem het toe hy uit die tronk kom, maar hy het nie daaroor gepraat nie, deels om koue, taktiese redes – hy het besef hy woon in Bethlehem, ’n dorp wat deur die ANC beheer word; hy moes versigtig wees oor wat hy sê en selfs dink.”

Ná sy vrylating het die ANC aan ’n werk aan hom in die Dihlabeng-stadsraad verskaf.

“Hy was nie heeltemal vry nie; hy moes aan sy eie posisie dink. En hy is ’n baie pragmatiese man. Maar hy het uit die tronk gekom en ’n goeie lewe geskep; hy het soveel beter gevaar as die jong mense saam met wie hy grootgeword het. Dit was nóg iets wat ek wou verken.”

’n Stil mens

“Dit het my gefassineer om te sien hoe Fusi die hede met ’n ingesteldheid of emosies uit die verlede beleef.” Foto: Jaco Marais

Ons praat oor Mofokeng se diep liefde vir Bethlehem en die plaas Oorsprong, waar hy ’n deel van sy jeug deurgebring het.

“Hy is ’n baie stil man en daar was tye toe ek gedink het ek het ’n fout begaan om oor hom te skryf, want hoe kan jy oor ’n stil mens skryf? Jy skryf mos oor iemand wat práát en hardop dink, en wat dinge te sê het oor hul plek in die wêreld. Maar hier was ’n persoon wat nie net terughoudend en versigtig was nie, maar ook van nature stil. Dit het my soms mal gemaak.

“Toe besef ek dít is waarmee ek moet werk en dat stilte ook kan praat. Hy kan ’n stemming oordra net deur die manier waarop hy nié praat nie.

“Dit is báie moeilik om te beskryf wat van Fusi besit geneem het toe ons deur daardie landskap gereis het. Dit is ’n baie spesifieke landskap suidwes van Bethlehem waar hy grootgeword het en dit het klaarblyklik hierdie herinneringe aan sy kinderdae wakker gemaak.

“Die woord waarmee ek dit die beste kan beskryf, is transendensie; ’n besef dat hy deel is van iets veel ouer en groter as hy en dat dit hom koester.”

Vergete mense

“Ek dink 2011 was die jaar waarin daar ’n baie belangrike verandering in die land plaasgevind het.” Foto: Jaco Marais

Ek pols Steinberg oor die Suid-Afrikaanse grondkwessie.

“ ’n Geraamde 2 miljoen [swart] mense is tussen 1995 tot die vroeë 2000’s afgesit van grond wat deur wit mense besit is.

“Dit is iets wat amper ongesiens gebeur het omdat hulle van die mees gemarginaliseerde mense in die samelewing was. Dit was een van die grootste demografiese veranderinge wat uit die oorgang na demokrasie gespruit het. Omdat dit op plase en in die platteland gebeur het, het dit nie ’n groot kwessie in die politieke arena geword nie.

“Maar dit is een van die verklarings waarom die grondkwessie nou so ’n gelaaide een is. Toe die minister van grondsake na Bethlehem gekom het, het Fusi na hom gaan luister en het hy – soos duisende ander mense – ’n grondeis ingestel.

Fusi het desperaat probeer om die wêreld te vertel van die onreg wat hom aangedoen is, en niemand het geluister nie.

“Vir daardie 2 miljoen mense is dit iets wat vars in hul geheue is, en wanneer ’n politikus opstaan en sê: ‘Julle grond is van julle weggeneem’, dan wéét hierdie mense dit.”

Wat hom opgeval het, is die parallel tussen wat met Mofokeng in die tronk gebeur het en wat sy familie buite die tronk beleef het.

“Hy én hulle is op verskillende maniere vergeet. Fusi het desperaat probeer om die wêreld te vertel van die onreg wat hom aangedoen is, en niemand het geluister nie. Terselfdertyd het sy mense gesê ons grond word van ons weggeneem, en ook het niemand na hulle geluister nie.

“Toe hy tronk toe is, het sy familie nog in die vallei op Oorsprong gewoon, en toe hy uitkom, was hulle nie meer daar nie. Dit is wat vir hom so skokkend was toe ons die vallei besoek het. Ons het deur hierdie veld gestap en daar was niks.”

‘Boere het mense weggejaag’

Tydens daardie besoek sê die andersins swygsame Mofokeng aan Steinberg:

“Hier het mense gewoon. Voordat ek tronk toe is, was daardie gebied vol huise. Miskien 12 van hulle. Ons het elke gesin geken. Nou is dit asof niemand ooit hier was nie. Dit is net veld. Om die waarheid te sê, hierdie hele vallei . . . Dit is verbysterend om te dink dit is nou leeg terwyl hier eens honderde swart mense gewoon het.

Dit was ’n redelike skok toe ek uit die tronk kom.
Fusi Mofokeng

“Toe demokrasie aanbreek, het die regering ’n wet gemaak wat huurders op wit plase se verblyfreg verseker. Die boere het hierop gereageer deur mense weg te jaag. Die regering het aan mense regte gegee, maar het vergeet om hulle daarvan te vertel.”

Hy beskryf dan hoe hy die gevolge hiervan beleef.

“Dit was ’n redelike skok toe ek uit die tronk kom. Die township [Bohlokong] was soveel voller as voorheen. Die nuwe mense was die mense wat van die plase af gejaag is. Baie van hulle was honger. Baie van hulle het swaargekry; ’n mens kon aan die kyk in hul oë sien die pyn lê diep. Voordat ek tronk toe is, het mense nie daardie kyk gehad nie. Dit is iets nuuts.”

‘Waar was Cyril?’

One Day in Bethlehem het pas by Jonathan Ball Uitgewers verskyn.

Ek vra Steinberg, wat al beskryf is as “Suid-Afrika se voorste optekenaar van die implikasies wat ons rassistiese verlede vir gewone mense inhou”, om sy indrukke van die huidige stand van sake in Suid-Afrika te deel.

“Enersyds is ek baie, baie dankbaar dat Cyril Ramaphosa die president is, want die alternatief sou baie donker gewees het; ons is van ’n verskriklike situasie gered toe hy die leierskapstryd gewen het.

“Nietemin dink ek op ’n tydstip soos hierdie [xenofobiese geweld oor die hele land] sien ons die beperkinge van sy leierskap. Hy hou daarvan om homself met Mandela te vergelyk; te sê dat hulle albei leiers is wat deur konsensus regeer.

“Daar is egter een opsig waarin hy baie van Mandela verskil. Mandela was nie baie bedrewe met detail in ’n regeringsopset nie, maar hy was geweldig begaaf in dié opsig dat hy simbolies gedink het. Hy het geweet waar om te wees, wat om te dra. Hy het die enorme krag van simboliese verskynings en voorkoms absolúút verstaan.”

Ramaphosa beskik glad nie oor daardie insig nie.

“Die gevolg is dat die land lyk soos ’n vliegtuig sonder ’n vlieënier. Dit is ’n belangrike deel van leierskap wat hy nie het nie en wat soms baie nodig is. Ek was byvoorbeeld verbyster dat hy nie Johannesburg besoek het tydens die [xenofobiese] geweld daar nie . . . Hy moes uit die parlement getrek word om by die optog teen geweld teen vroue te praat.

“Dis so belangrik om te wys jy is daar en om simbolies te dink en op te tree. Ek dink dit is ’n angswekkende oomblik wanneer daar niemand is wat dit doen nie . . . Dit lyk vir mense asof die land nie regeer word nie, asof die politieke klas weggedryf het en niemand daar is nie.”

Hulle wil die staat dagvaar vir lyding

Nadat Fusi Mofokeng en Tshokolo Mokoena op parool vrygelaat is, wou hulle ’n artikel 327-petisie indien om hul skuldigbevinding en vonnis te laat skrap. Hul motivering was onder meer sodat hulle daarna kon voortgaan om die staat te dagvaar vir die lyding wat hulle gedurende hul gevangenskap moes deurmaak.

So ’n petisie is in Augustus 2017 ingedien, maar die minister van justisie het nog geen aanduiding gegee of hy die aangeleentheid na ’n regter gaan verwys nie.

Artikel 327 van die Strafproseswet is die meganisme waardeur ’n gevonniste persoon vertoë tot die minister van justisie kan rig oor nuwe getuienis wat aan die lig gekom het en die oorspronklike vonnis uitdaag.

Indien die minister die nuwe getuienis oortuigend vind, kan hy of sy die saak na die vonnishof terugverwys.

Daardie hof evalueer dan die getuienis, waarna hy die president van sy bevinding inlig. Die president kan dan besluit of hy die skuldigbevinding kan skrap.

Die rede waarom dié wetgewing so ontoereikend is, is omdat die minister van justisie geen redes hoef te verstrek waarom hy ’n aangeleentheid na ’n regter verwys of nié verwys nie. Die regter word op sy beurt deur die reg verplig om nié sy evaluering openbaar te maak nie.

Ook is die president onder geen verpligting om redes te verskaf waarom hy ’n skuldigbevinding skrap of nie.

Meer oor:  Jonny Steinberg  |  Bethlehem  |  Grondkwessie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.