Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
’n Swaargewig in media
Skets: Fred Mouton

Ton Vosloo, voormalige voorsitter van Naspers, word môre 80 jaar oud. Met dié mylpaal is dit duidelik watter swaargewig hy in die Suid-Afrikaanse en globale mediabedryf was, skryf Lizette Rabe.

In 1997, toe Ton Vosloo op 60 uitgetree het as uitvoerende voorsitter van Naspers om as nie­uitvoerende voorsitter aan te bly, is hy in die tydskrif Leadership nie net as doyen van die Afrikaanse joernalistiek beskryf nie, maar as visioenêr wat die “versteende Naspers-groep” in een van die “mees dinamiese multimedia-ondernemings” omskep het.

Môre vier hy sy 80ste verjaardag, en daarmee saam ’n leeftyd as krytkant-waarnemer van meer as ses dekades van totale omwentelinge, van die politiek tot mediategnologie. Maar as swaargewigjoernalis en -medialeier was hy nie net “getuie van groot tye” nie (na die bundel deur sy mentor Schalk Pienaar), maar ook iemand wat groot dinge laat gebéúr het – en in die proses ook ’n mokerhou of twee gekry het.

Daarom ook gepas dat die Brandwag Hoërskool op Uitenhage pas sy sportterrein genoem het na sy beroemdste oudleerling wat sy lewe lank ook sportgenieter was – een wat juis ook sy eerste joernalistieke les daar op die sportveld geleer het. ’n Jong Ton het al as laerskooltjokker sy eerste koerantwerk gehad – koerantverkoper – en op

hoërskool het hy vir die plaaslike Engelse koerant geskryf. Hul eerste span, van wie hy lid was, het met 5-8 teen Muir College verloor. Die opskrif, “Muir triumphs over Brandwag”, het vanselfsprekend gelei tot ’n uittrap voor die hele span. Natuurlik was dit nie hy wat die opskrif geskryf het nie – maar hoe sou dit help om die afrigter se ego te troos?

Om ál sy prestasies te lys, klink soos ’n litanie vir ’n eredoktorsgraad (waarvan hy drie het).

Daar was nog baie lesse – lesse wat hy geleer het, en lesse wat hy ander geleer het. En almal op die Ton-manier: oorwoë en ordentlik, al was sommige onaangenaam.

Waar begin die kartering van die nalatenskap van dié swaargewig in ons mediabedryf? Onder sy leiding het Naspers immers van ’n Afrikanermaatskappy ontwikkel in ’n globale reus met ondernemings in meer as 130 lande.

’n Sleutel lê onder meer in die Harvard-jaar wat Vosloo in 1970-’71 as Nieman-genoot deurgebring het. Dit was ’n katalisatortyd vir die jong joernalis, en het enersyds gelei tot ’n ander siening van die politieke landskap, en andersyds die besef van die moontlikhede van mediategnologie tuisgebring. Die Amerikaanse mediategnologie­veelvoud – anders as die verstarde Suid-Afrikaanse landskap onder die apartheidsregering – het vir hom ’n vingerspitsgevoel vir vernuwing gegee.

Want laasgenoemde was presies dít wat tot die kantelpunt-oomblik tussen die Naspers van ouds en die moderne Naspers gelei het. Toe ’n MBA-student van die Columbia-Universiteit in New York ’n middernagtelike faks (hipermoderne kommunikasie vir 1984 – almal het nog nie eens ’n faksmasjien gehad nie) met ’n “Streng Vertroulik” na ’n Kaapse advertensiemaatskappy stuur met die versoek dit moet direk in Ton Vosloo se hande gegee word, het Vosloo besef hy het die antwoord op die drukmedia se ellende. Die SAUK van tóé was nie net His Master’s Voice nie, maar as uitsaaimonopolie het hy al hoe meer van die advertensiekoek opgeslurp – in só ’n mate dat druk­media-inkomste dwarsoor die politieke spektrum jaar ná jaar gekrimp het – en dít nog lank voor die knyptang van die digitale ekonomie.

Ton Vosloo Foto: Edrea du Toit
Daarmee het Vosloo ook vir Naspers as Afrikaner-persmaatskappy tot binne-in die elektroniese eeu gelanseer.

Die MBA-student was Koos Bekker, en die gevolg was die koerantkonsortium Elektroniese Medianetwerk – oftewel M-Net. Die stig van M-Net in 1985 kan beskou word as ’n kwantumsprong aan die einde van Naspers se sewende dekade. Danksy Vosloo se onderhandelingsfinesse met die NP-regering enersyds, en andersyds die mediabedryf – tussen Afrikanermaatskappy en Afrikanermaatskappy én die “opposisie”, die “Engelse Pers” – is Naspers en die ander persmaatskappye vir eers gered.

Daarmee het Vosloo ook vir Naspers as Afrikanerpersmaatskappy tot binne-in die elektroniese eeu gelanseer. Naspers was nou geposisioneer vir die digitale eeu – hy was immers van sy eerste dekade reeds ’n innoverende entrepreneursmaatskappy. Onder die leiding van die dinamiese duo Vosloo en Bekker – laasgenoemde van 1997 as besturende direkteur met Vosloo as nie-uitvoerende voorsitter – kon Naspers elke nuwe golf ry. Soms was hulle gelukkig – amper ongelooflik so, soos die Tencent-belegging in 2001. Maar soms ook nie, en daaroor, het Vosloo al gesê, moet die sluier maar liewer nie gelig word nie.

Wat betref sy vernuwende politieke denke uit sy Harvard-tyd: As hervormingsjoernalis het Vosloo reeds in Januarie 1981 geskryf dis onvermydelik dat die NP saam met die ANC om ’n tafel sal sit. Dit was revolusionêre woorde vir hul tyd. Hy is verguis; was persona non grata in Afrikanerpolitiek. Maar met die finesse van ’n fyntrap-swaargewig het Vosloo sterker – en met meer invloed – anderkant uit gekom, sodat hy onder meer in 1982 kon sê: “ ’n Primêre rol van die pers is om riskant te lewe, om sake aan te sny, oop te krap en om te roer.”

En die ink in die are – of dan die digitale stroombane – vloei steeds.

Vosloo, gedoop Theunissen, maar op laerskool al Ton, is op 29 September 1937 op Uitenhage gebore en het in 1954 aan die Brandwag Hoërskool gematrikuleer. Sy pa is oorlede toe hy ses was. Hy en sy sussie Joan – hulle het drie jaar ná hul pa se dood ook hul oudste boetie verloor – sou, as hulle dit durf waag om te neul hulle weet nie wat om te doen nie, by hul ma hoor: “Waar is jou boek?” Nuuskierige agie Vosloo wou van kleins af net een ding doen: joernalis word. Vir studeer was daar nie geld nie, en die jong Ton se slim plan was ’n buitemuurse BA terwyl hy in Pretoria by die bosboudepartement werk. Maar in 1956, met vakansie terug op Uitenhage, werk hy met groot vreugde gedurende iemand se verlof by Die Oosterlig – die einde van bosbou en die begin van ’n loopbaan wat in Maart 2015 as nieuitvoerende voorsitter van Naspers sou eindig.

Vosloo was lid van die stigtingsredaksies van die Sondagkoerant Die Beeld in 1965, Rapport in 1970 en die dagblad Beeld in 1974. Van 1977 was hy redakteur van Beeld, van 1984 besturende direkteur van Naspers, en van 1992 tot 1997 uitvoerende voorsitter, daarna nie­uitvoerende voorsitter tot 2015.

Om ál sy prestasies te lys, klink soos ’n litanie vir ’n eredoktorsgraad (waarvan hy drie het): instrumenteel in die stig van M-Net, waaruit verskeie “M-maatskappye” gevolg het, soos Multichoice, MTN, MWEB en Supersport, en onder sy leiding is na die res van Afrika, Europa, die Midde-Ooste, Asië en Amerika uitgebrei. In die proses is Naspers van Afrikanerpersmaatskappy omvorm tot vandag se globale internet- en vermaakgroep en een van die grootste tegnologie­beleggers ter wêreld. Vosloo self het die koms van die internet beskryf as die belangrikste innovering sedert Gutenberg se drukpers in die 15de eeu.

Ook buite die mediawêreld was hy ’n swaargewig.

Ook buite die mediawêreld was hy ’n swaargewig. Hy was nie­uitvoerende voorsitter van Sanlam, ook voorsitter van die Wêreld­Natuurfonds (WWF) SA en 11 jaar lank raadslid van die Nasionale Parke – wat sy liefde vir die natuur weerspieël. Sy voorsitterskap van die Kaapse Filharmonie weerspieël sy liefde vir kultuur, ook sy rol in byvoorbeeld kunstefeeste. Vosloo was ook president van die Druk­mediavereniging van Suid-Afrika. In 1992 het hy as president van die Nuusblad-Persunie die Suid-Afrikaanse afvaardiging gelei na die World Association of Newspapers in Praag, waar Suid-Afrika weer as lid toegelaat is.

Daarby is Vosloo paterfamilias van ’n hele generasie van joernaliste – nie net dié wat in die praktyk onder sy wyse redakteurshand geleer het nie, maar deesdae ook as ereprofessor aan die Universiteit Stellenbosch se departement joernalistiek, waar hy ’n veel jonger generasie inspireer.

En die ink in die are – of dan die digitale stroombane – vloei steeds. In Junie 2014, met sy uittrede uit die Media24-direksie, het hy gesê hy sal nie sy plig nakom as hy nie die gevare vir mediavryheid en die demokrasie uitwys nie: “Moet nooit skiet gee op vryheid van spraak, die selfstandige regbank, die menslike drang om uiting te gee aan sy talente in ’n vrye samelewing nie; moet nooit ons verworwe vryheid gemeet aan ons tot dusver onaangetaste Grondwet versaak nie.”

Met Vosloo se 70ste verjaardag in 2007 is ’n feesbundel met die titel Ton van ’n man aan hom opgedra. Almal wat met dié inspirerende, beskeie mens saamgewerk het, sal byvoeg: Ton van ’n mensch.

Aan die jubilaris op 80: Geluk, gesondheid en goedheid toegewens.

Prof. Rabe is voorsitter van die departement joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch.

Meer oor:  Swaargewig  |  Media
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.