Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
’n Vrou en haar span mik na Wêreldbeker

Sy wil seker maak niemand vergeet weer van Banyana Banyana ná die Wêreldbekertoernooi nie, het Desiree Ellis aan Murray La Vita gesê.

Desiree Ellis praat vandeesweek in Kaapstad oor haar aanwysing as Afrika se vrouesokkerafrigter van die jaar. Foto: Jaco Marais

“Ek is nog ’n babatjie in coaching,” sê die vrou wat pas as Afrika se vroue-afrigter van die jaar aangewys is en onder wie se leiding die nasionale vrouesokkerspan Banyana Banyana vir die eerste keer vir die Wêreldbekertoernooi gekwalifiseer het.

Die onderhoud met Desiree Ellis (55) vind plaas op die terras van ’n hotel aan die rand van Kaapstad van waar die hawe en Tafelbaai sigbaar is.

Sy en Banyana gaan vir die week daar tuis terwyl hulle oefen vir vriendskaplike wedstryde teen Nederland en Swede in die Moederstad.

Hierdie wedstryde dien ook as belangrike voorbereiding vir die Wêreldbekertoernooi in Junie in Frankryk. Banyana het op die onlangse Afrika-nasiebeker vir vroue vir dié groot toernooi gekwalifiseer.

Ek het ’n fantastiese span en assistente.

Was dit nie vir die groen-en-goud sweetpak nie sou ’n mens nie sommer kon raai die kleinerige vrou met die poniestert en blink oorkrabbetjies wat oorkant jou sit, was op haar dag ’n kranige sokkerspeler wat gevorder het tot ’n gevierde afrigter nie.

Die onderhoud begin by die geleentheid onlangs in Dakar waar sy as Afrika se vroue-afrigter van die jaar aangewys is.

“Jy wil opspring en jy wil skreeu, maar jy sit daar tussen die groot sokkergeeste en jy het die grootste smile op jou gesig. Ek kan nie al die credit vat nie; ek het ’n fantastiese span en assistente. Jy weet, as ’n coach staan jy nie net daar met die fluitjie nie; daar is ’n klomp ander goed wat jy moet doen. Jy moet voorberei en so aan. Ja, ek het nou die trofee gekry, maar dit is maar vir hulle ook.”

Elf teen elf

Desiree en Janine van Wyk, kaptein van Banyana Banyana, Maandag in ’n oefensessie van die span in die Kaapstad-stadion. Foto: Gallo Images

En nou lê die Wêreldbeker voor.

“Niemand het ons by die Afrikanasiebeker-toernooi ’n kans gegee teen Nigerië nie. Toe ons in Ghana kom, toe praat die mense van Nigerië, Ghana en Kameroen wat Wêreldbeker toe gaan.

“Ja, die Wêreldbeker is baie levels op. Dit is wat dit is. Dit is elf teen elf. As ons fitness levels goed raak en ons het ’n goeie plan en die players execute die plan, want daai is die belangrikste – jy kan ’n plan het, maar as die players dit nie execute nie, beteken dit níks.

“Ons speel nou Nederland en Swede en dan gaan ons Ciprus toe; in Februarie-Maart speel ons in daai toernooi. Ons speel ook die VSA – hulle is nommer een in die wêreld. Sasol en Safra het rêrig on board gekom om seker te maak dat ons goeie voorbereiding kry.

“Ons wil net seker maak dat wanneer die Wêreldbeker oor is, die mense nie weer van Banyana Banyana vergeet nie; dat hulle práát van Banyana Banyana – dis die belangrikste vir ons.

“Ons moet ook realisties wees – dis onse eerste Wêreldbeker, maar niks is onmoontlik vir ons nie.”

Waar dit begin het

Desiree in 1995 in aksie op die sokkerveld. Foto: Gallo Images

Desiree se verhouding met “die pragtige spel” het begin nie ver van hier waar ons teen die hang van Duiwelspiek sit nie.

“Ek het in Heideveld opgegroei, maar ons het in Soutrivier skoolgegaan en by my ouma in Soutrivier gebly ná skool totdat my ouers tuisgekom het. My ma was ’n dressmaker en my pa het typewriters reggemaak.

“Ek het van ek ses was saam met die seuns by die skool sokker gespeel – dís waar dit begin het. En in die middae ná skool het die seuns vir my buite my ouma se huis gewag as ek daar kom. Dan het ons in die straat gespeel.

“My pa het gereeld vir my gesê hy gaan my kaalvoet skool toe stuur want my skoolskoene was altyd stukkend gewees. So, dit het eintlik daar begin.

“Toe ek 15 was het die bestuurder van die sokkerklub Athlone Celtic my gesien waar ek besig was om saam met die boys te speel en toe het hy my gevra om by hulle aan te sluit.

“Met my eerste game was ek ’n plaasvervanger, maar net voor rustyd was ek op die veld en het ek die wendoel gescore.

“Twee jaar ná daai toe het die span amper gevou en toe vat my ouers dit oor en toe is al my susters [drie] geforseer om te speel.

“Ek het gespeel en gedroom dat ek vir die nasionale span kan speel en toe Nelson Mandela uit die tronk uit is, het ek die kans gekry om vir proewe te gaan vir die nasionale span.”

Sy was toe dertig.

“Ek het gewerk by ’n slagter in Lansdowne. Ek het daar gewerk in die store room; ek het die spices aangemaak vir die polonies en sulke goete. En toe kry ek die geleentheid om in die proewe te gaan speel.

Ek was toe vir drie jaar werkloos. Ek het toe maar bietjie hier geskarrel en daar geskarrel.

“Ek het toe die span gemaak as onderkaptein en ons het teen Swaziland gespeel en die telling was 14 - 0 en ek was een van drie persone wat ’n driekuns gekry het. In daai dae het ons met ’n minibus gery en toe ons terugkom het die minibus ’n puncture gehad en toe verloor ek my werk; hulle het gesê ek het abscond.

“Ek was toe vir drie jaar werkloos. Ek het toe maar bietjie hier geskarrel en daar geskarrel. Ek het ook op ’n tyd daai door to door sales gedoen – nogal in Noordhoek, en jy weet hoe ver is die huise van mekaar af; in die aand is jou voete so seer en jy het miskien nie genoeg geld gemaak nie.

“Toe het Mark Gleeson, hy was die editor van KickOff magazine gewees, my gebel en gevra kan ek sy fan mail kom antwoord. Jy weet mense skryf na die magazine en vra waar speel Benni McCarthy, wat is die adres, hulle wil graag in kontak kom met hom, en so voorts.

“En toe gaan ek en ek tik so hierdie paar briewe en in die aand het ek na die subscription department gegaan en al hulle gifts gewrap en dan hardloop ek vir die taxi om terug huis toe te gaan na Hanover Park.

“Jerome McCarthy het toe in die photo agency gewerk by Touchline [uitgewer van KickOff] en toe is hy na AmaZulu toe en toe bied hulle my die werk aan as assistant picture editor. Ek het toe vir min of meer tien jaar daar gewerk.”

‘Jy wil vir ewig speel’

Desiree Ellis op Banyana Banyana se media-opedag onlangs by iKamva buite Kaapstad. Foto: Gallo Images

Haar laaste wedstryd vir Banyana was in 2002.

“As jy speel . . . Jy wil vir ewig speel, maar dit kan nie gebeur nie. Dan droom jy jy wil die coach word. In daardie laaste wedstryd het ons die Cosafa (Council of Southern Africa Football Associations) Cup in Zimbabwe gewen. En ná daai het ek net by my klubspan, Spurs Ladies, gecoach en toe word ek in 2010 aangestel as een van die ambassadeurs vir die World Cup.”

Daarna het sy vir die organisasie Stars in their eyes gaan werk.

“Hulle het gemeenskapswerk gedoen met coaches en hulle het coaches van die KNVB, die Dutch Football Association, uitgebring Suid-Afrika toe. Hulle het ook coaching courses met mense uit die gemeenskap gedoen.”

Ons is maar net ’n klein familiegroepie. Ons gee om vir mekaar.

In 2014 is Vera Pauw as Banyana se afrigter aangestel en sy vra toe vir Desiree om haar assistent te word.

“Toe sy in 2016 weggaan, was ek die acting coach. In 2017 was ek nog altyd die acting coach en toe wen ons die Cosafa. So ek het toe die Cosafa Cup as speler en as coach gewen.”

Sy was die eerste vrou in die geskiedenis van vrouesokker wat dít reggekry het.

“In Februarie 2018 word ek toe aangestel as die afrigter van Banyana.”

En in dié hoedanigheid het sy ook die eerste afrigter geword om Banyana na die Wêreldbekertoernooi te neem.

Trofee is vir almal

Desiree Ellis
Desiree Ellis wys dat sy nog nie haar vaardighede van ouds verloor het nie. Foto: Trevor Kunene

Wat is die grootste uitdaging van haar werk as afrigter?

“Om ’n klomp spelers bymekaar te bring. Jy weet, sy kry somtyds net sewe dae waarin jy die span moet voorberei vir ’n wedstryd. En hulle kom van verskillende klubs en vanoor die hele Suid-Afrika, so jy moet hulle almal nou kry om te gel.

“Die hartseerste is om vir ’n speler te sê sy het nie die span gemaak nie. Dís die hártseerste oomblikke wat jy het. Dit maak nie van ’n speler ’n bad speler nie, maar jy kan net soveel kies.

“Die groot challenge is ook die selections somtyds. Ons sien nie die games op TV soos die mans se games nie. Maar daar is nou provincial technical officers aangestel wat nou vir ons kan gaan scout.

“Ek voel jy kan nie ’n coach wees as jy nie omgee nie; jy moet kan omgee. Jy soek happy players.”

Vrouesokker het baie verander sedert haar dae as speler.

“Spelers werk, hulle studeer. Toe ék in die span was, was 90% werkloos; nou het 90% grade of hulle het ’n graad en studeer nog verder. Dís die geleenthede wat hulle uit sokker gekry het.

“Ons is maar net ’n klein familiegroepie. Ons gee om vir mekaar en maak seker dat ’n bad ball ’n goeie ball is of as iemand nie in posisie is nie dat ons fight vir daai ball. Ons hele ding is teamwork. Ons glo teamwork is dreamwork. So, ja, ek het nou die trofee gekry, maar dis vir almal. Daar is nie ’n ‘my’ en ’n ‘ek’ in onse span nie, daar is net teamwork.”

Meer oor:  Mark Gleeson  |  Vera Pauw  |  Desiree Ellis  |  Banyana Banyana
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.