Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
’n Vrystater en sy vreemde vriende
Du Preez Strauss as ’n produksiebestuurder op die Australiese TV-program I’m a celebrity, get me out of here! wat elke jaar verfilm word in sy gunstelingplek op aarde: die Blyderivier-canyon naby Hoedspruit.Foto’s: Verskaf

Du Preez Strauss (41) is ’n predikantskind, ’n oud-hoofseun van die Hoërskool Jim Fouché in Bloemfontein en ’n Vrystaatse boerseun van ’n familieplaas by Vredefort wat wou sien wat buite die plaasgrense lê.

Hy is ’n wêreldreisiger wat as pianis in The Lion King optree, het twee grade, in kuns en filosofie, agter sy naam en is ’n dirigent. Sy lewe is vol, maar tog bly hy verveeld. Hy kry toe die idee om sy lewe op te kikker en sy lewenslange passie vir mense in ’n televisieprogram vas te vang.

Op sy sosiale media het hy 5 000 vriende en hy leer die vreemdstes ken in die televisieprogram My Vreemde Vriende.

Waar het die idee vir die program begin?

Ek het oor die jare te veel belangstellings gehad. Uit die staanspoor swot ek toe twee grade, want ek het elke moontlike geesteswetenskap-vak wat ’n mens kon neem, geneem en daaruit toe sommer twee grade met een klap verwerf aan die Universiteit van die Vrystaat.

My hele lewe lank het my onderwysers en dosente vir my gesê het dat my aandag te wyd strek, ek moet op een ding fokus en dit maak werk. Die idee dat ek een van my belangstellings moet los sodat ek my aandag op iets anders moet toespits, het my vreeslik ongemaklik gemaak.

Deur my hele volwasse lewe het ek gelyktydig verskillende loopbane gevolg.

Ek was, en is steeds, betrokke by die Broadway-produksie van The Lion King en een van my vriendinne daar het my blootgestel aan televisiewerk.

So eindig ek toe op by ’n televisieproduksie waar ek die produksiebestuurder was van beroemde, geharde manne wat deel was van die program. Ons het deur Afrika getrek na Londen.

Kyk, daar, tussen al die groot, wilde wrede manne het ek soos ’n seer oog uitgestaan.

Ek moes die geharde manne uit hul tent kry en gereed maak vir die dag en blykbaar hier, waar ek so uit plek uit gevoel het, heeltemal uit my gemaksone, was dit vreeslik entertaining.

Nadat ons die program klaar gemaak het, drink ek en dieselfde vriendin een aand liters wyn en sy stel toe twee dinge voor . . .

Die eerste was die gedagte van ’n program waar ek elke episode uit my gemaksone uit gehaal word. Die tweede was die gedagte om op sosiale media vriende te ontmoet.

So het die gedagte oor talle glase wyn in My Vreemde Vriende ontaard.

Jy is ’n pianis, dirigent en het twee ander grade. Hoekom interesseer mense jou?

Weet jy nè, ek het grootgeword as die kunssinnige kind in ’n wêreld wat ek as konserwatief ervaar het.

By die skool moes die seuns altyd in rye staan en dan het die onderwysers ’n rugbyposisie aan elke kind uitgedeel. Daar was nie enige opsie van rugby speel of nie, jy móés rugby speel. Ek wou nie ’n hel rugby speel nie.

Daardie wêreld het my bedruk – ek was ’n slim kind met 7 A’s in matriek en boonop hoofseun wat ek steeds nie weet hoe ek dit reggekry het nie, maar ek het in die hoërskool reeds besef dat daar waarde daarin lê om met mense te connect en ek het ’n passie daarvoor. Mense interesseer my en dis vir my so interessant dat die meeste mense in so ’n eng dorpie ’n konserwatiewe lewe leef en so verknog is aan hul vooropgestelde opinies en idees oor die wêreld.

Ek het net geweier om toe te gee aan die dorpie se manier.

Dalk is dit hoekom ek, Du Preeztjie, die snaakse kindjie, toe hoofseun geword het en nie die kaptein van die rugbyspan nie. Ek dink dit kon dalk wees omdat ek vriende was met almal, van die washouts tot die rugby-jocks. En hulle was regtig vir my vriende – daar was iets aan elkeen van hulle wat my geïnteresseer het. Almal was eiesoortig.

Toe raak dit my lewensmantra – om soveel van die wêreld te leer by ander mense sodat ek regtig elke dag nader kan kom aan wie ek self is. Ek wil sien hoe lewe ander mense, sodat ek stukkies daaruit kan haal en dit van toepassing maak in my eie.

Du Preez se vreemde vriend Kevin het hom na die fabelagtige Pansy-eiland in Mosambiek geneem. Die hele eiland is bestrooi met hierdie skulpe – elkeen dieselfde perfekte vorm

Baie van dié oor wie jy ’n program doen, sal nie die hoofstroommedia haal nie. Tog is hul lewe ’n wonderlike storie. Waarna soek jy in ’n storie?

Die mense oor wie ek stories maak, is gewone authentic mense wat ’n interessante lewe leef omdat dit werklik is wie hulle is en die lewe leef wat hulle pas.

Ek soek nie mense wat ’n tipe lewe leef omdat hulle in die media wil wees nie, hulle moet die lewe vir hulself leef en nie vir die kollig nie.Wat was al van die vreemdste van jou vriende wat jy ontmoet het?In die lewe wat ek vir myself gekies het, sien mense baie vreemde dinge, maar dis goed, want dis wat ek wou bereik!

As ek een moes kies, sou dit die vampier en sy beste vriendin die weerwolf wees.

By hulle het ek my grense ver verskuif en baie geleer.

Dié twee is nie soos almal sou dink sataniste nie, maar werklik Christene.

Dit wys mense net meer hoe flieks en die media jou opinie oor mense kan vorm.

Ek het nog nooit nee gesê vir ’n uitdaging nie, so ek het ook toegelaat dat die vampier van my bloed drink.

Hy sê hy byt deesdae nie meer aan mense nie en hy moes eers deur bloedtoetse bevestiging hê dat my bloed skoon is.

Toe drink hy my bloed ook nadat hy my met ’n skoon messie oopgesny het.

Die media het werklik ’n invloed op die vooropgestelde idee wat ons van subkulture en mense het. Daarom steur ek myself nie juis aan die nuus en die media nie.

Ek hou daarvan om ingelig te bly, maar my opinies word nie sommer deur iets gevorm waarvan ek nie eerstehandse ervaring het nie.

Jou program is een van die min oorspronklike Suid-Afrikaanse programme op TV. Daardie mense is ons mense, of jy hulle nou wil ken of nie. Wat is jou resep?

'n Land soos Suid-Afrika, waar almal mekaar so kan oordeel sonder om mekaar te ken of te verstaan, sorg vir groot probleme.

Die lekker ding is dat ek die mense self gaan soek en opspoor.

Mense wat jou kontak en dink iets is vreemd en snaaks is of gewoonlik nie, of hulle doen dit net vir die mediablootstelling.

Daarom maak ek dit my lewenstaak om mense te help om hul oë oop te maak om mense dieper te sien as wat net op die oppervlak sigbaar is.

Jy is ’n Vrystater in murg en been. ’n Hoofseun en koorknaap. Maar ook wêreldreisiger. Wat het die wêreld jou oor jouself en jou mense geleer?

Die wêreld is ’n onuitputbare bron van wysheid.

Elke keer as ek dink ek het alles gesien, dan sien ek iets nuuts. Ek dink nie ek sal ooit alles sien nie, maar ek gaan probeer om naby daaraan te kom.

Op 41 het ek nie ’n huis wat in my naam is nie.

Wanneer mense my vra waar ek bly, dan sê ek: “Nêrens, ek lewe in die oomblik!” Die enigste goed wat ek besit, is ’n klawerbord, tien tasse klere en ’n motor.

Ek begin wel daaraan dink om dalk ’n plekkie van my eie te koop, maar ek wil eintlik met so min as moontlik klaarkom en so veel as moontlik plekke en mense sien en verken.

Jy kom uit ’n stoere NG familie. Maar jy huiwer nie om vreemde godsdienste, sektes en mense met baie ander sienings hul plekkie in die kalklig te gee nie. En dit sonder oordeel. Hoe doen jy dit?

Ek het nog altyd geweet hoe om mense se knoppies te druk en weg te skram van die manier waarop hulle dinge gedoen wil hê.

Ek wil vir mense wys dat ’n mensgemaakte verwysingsraamwerk nie noodwendig die weg is wat jy in jou lewe hoef te volg nie.

As ek geluister het na wat mense wou gehad het ek moes doen, sou ek seker nou ’n dokter gewees het, maar ’n vreeslike ongelukkige een.

’n Mens moet jouself losmaak van ander se opinies en idees, jou eie waarheid maak jou ongelooflik vry.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.