Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
’n ‘Wonderkind’ en die virus

Stacey Fru, ’n “wonderkind” wat op sewe haar eerste boek geskryf het, verduidelik aan Murray La Vita wat sy en haar stigting doen om die inperking vir veral kinders draagliker te maak.

Stacey Fru tussen die boeke wat sy geskryf het en die talle toekennings wat sy al ontvang het. Foto: Verskaf

Op die Stacey Fru-stigting se webblad word die 13-jarige Stacey as ’n filantroop en die jongste ambassadeur vir die organisasie Save The Children beskryf.

Die besoeker aan staceyfrufoundation.org.za word ook meegedeel dat sy “daarop toegespits is om te leer, te motiveer en om ander deur haar openbare praatjies, skryfwerk en televisieprojekte aan te moedig, omdat sy baie teleurgesteld is dat baie kinders teen die ouderdom van nege nog nie kan lees of skryf nie”.

Ek gesels per Zoom met Stacey, wat in die Johannesburgse voorstad Waverley woon. Op die agtergrond (en buite sig) hoes iemand elke nou en dan. Ek neem aan dit is ’n volwassene (haar pa of ma), wat in die vertrek is en na ons gesprek luister.

Ons is ’n redelike groot gesin van ses mense plus nog drie ander mense wat nou by ons bly.

“Dit gaan redelik goed met my en my gesin omdat ons so bevoorreg is om toegang tot ’n veilige skuiling, en kos en water te hê. Ons is nie ontwrig nie . . . Daar is nie enige groot struikelblokke in ons lewens wat ongerief veroorsaak nie.

“So, ons is hier by die huis besig om soort van daaraan gewoond te raak om dag en nag saam te wees. Ons is ’n redelike groot gesin van ses mense plus nog drie ander mense wat nou by ons bly.

“Dit was vir ons ’n groot uitdaging om gewoond te raak daaraan om die heel tyd saam te wees, maar ons werk dag vir dag daaraan en ek dink dit is besig om beter te raak.

“My sibbe en ek – ek het drie sibbe – gaan almal aanlyn skool. Dít is ’n reuse-uitdaging want ons is nie daaraan gewoond nie en ons onderwysers ook nie, maar ons sal daardeur kom want ons is almal saam in hierdie ding en opvoeding kom altyd eerste.”

‘Ons wil mense help’

Stacey ontvang op die Wêreldjeugforum se geleentheid in Aswan in Egipte ’n toekenning vir die mees invloedryke en belowende jong mens in Arabië en Afrika. Die land se president, Abdel Fattah el-Sisi, oorhandig die eerbewys van die Arab and Africa Youth Platform aan haar.Foto: Verskaf

Stacey vertel wat sy en die Stacey Fru-stigting gedurende die inperking doen.

“Ons gebruik sosiale media om mense te inspireer om aktief te bly en te midde van die korona-pandemie te bly hoop, want soos die tyd aanstap, is baie van ons besig om hoop te verloor. Ons wil probeer om mense te help om gesond en gelukkig te bly.

“Ons moedig mense aan om ’n kort video aan ons te stuur waarin hulle iets uit hul gunsteling-boek voorlees of selfs ’n kort storie, wat ons op ons platforms kan deel. Die video’s kan ook vir opvoedkundige doeleindes of net as ’n slaaptydstorie gebruik word.

‘Trots op Stacey'

Victorine en haar man, dr. Emmanuel Anye Fru, is oorspronklik van Kameroen, maar hulle woon al lank in Suid-Afrika.

Sy is die skrywer van vyf boeke en het ’n meestergraad in mediastudies. Sy het haar pas aan die Universiteit van die Vrystaat vir ’n doktorsgraad geregistreer.

“Ek wil kyk hoe gesprekke binne ’n gesin die seksuele identiteit van adolessente beïnvloed,” sê sy.

Victorine en Emmanuel, ’n politieke wetenskaplike, bedryf saam ’n kongressentrum waar hulle as fasiliteerders vir kongresse en werksessies optree.

Sy sê hulle is baie trots op Stacey en die werk wat sy doen.

“Maar dit is ’n bietjie ingewikkeld om té trots te wees want ons het vier kinders. ’n Mens moet versigtig wees oor hoe jy aan jou trots uiting gee want nou wonder jy wat die ander kinders dink.”

“Die boodskappe wat ek self stuur, is aan mense in die algemeen wat deur ’n moeilike tyd gaan, en dan opvoedkundige video’s wat op leerlinge gerig is.”

Sy praat oor haar grootste vrese met betrekking tot die korona-pandemie.

“Ek is ’n bietjie bang dat ek of my gesin die virus kan kry omdat my pa baie uitgaan – hý is die een wat ons inkopies doen; hy is die enigste een wat die huis sedert die begin van die inperking verlaat het.

“Maar ek is veral besorg oor armoede en hoe talle arm mense nou swaarkry omdat hulle nie ’n inkomste of kos en water het nie . . . En hulle leef in hierdie arm gebiede waar dit makliker is om met die virus besmet te word.

“So, ek is verskriklik bekommerd oor mense wat in sulke omstandighede lewe. Ek is ook bekommerd oor die geestesgesondheid van kinders en van mense in die algemeen . . . Dit ís moeilik, ook vir my persoonlik, om positief te bly wanneer almal weet dit is besig om by die dag erger te word. As ons nié ’n teenmiddel vind nie, gaan die wêreld emosioneel geskend wees.”

Huil en skreeu

“Ons gebruik sosiale media om mense te inspireer om aktief te bly en om te midde van die korona-pandemie te bly hoop.”Foto: Verskaf

“Toe ek sewe jaar oud was, het my ma haar meestergraad behaal. En terwyl ons as gesin daar by die gradeplegtigheid gesit het, hoor ek hoe almal hierdie boek [tesis] aanprys – hulle het hierdie groot boek omhoog gehou en gesê hoe lieflik dit is en wat ook al. Ek het toe baie kwaad geword omdat my ma hierdie boek geskryf het en my nie daarvan vertel het nie.

“Ek het begin huil en skreeu, en het weggehardloop. En in daardie oomblik het ek besluit dat as my ma ’n boek kan skryf sonder om my daarvan te vertel, kan ék sekerlik my eie boek skryf sonder om háár daarvan te vertel.”

En dít is hoe Smelly Cats die lig gesien het.

“Dit is die verhaal van twee katte, die neefs Mack en Mark, wat in dieselfde skool is. Dáár beleef hulle uitdagings soos wie kan die gewildste wees, wie kan die meeste meisies aantrek . . .” Sy lag. “Jou normale kinderdinge. Maar saam met hierdie uitdagings leer hulle ook hoe om die uitdagings te oorkom en om hul verhouding met mekaar te verbeter.”

Praat met matrieks

Die Pan African Leadership and Entrepreneurship Developement Centre het in Accra in samewerking met die internasionale menseregtekommissie die toekenning African Child Award for Creative Writing and Social Impact aan Stacey (middel) toegeken. Foto: Verskaf

Sy het talle toekennings vir die boek ontvang en die onderwysdepartement het dit as leermateriaal vir jong leerlinge goedgekeur.

“Nog voordat die boek bekend gestel is, het ek my reis as motiveringspreker begin. Ek het met my eerste groep gepraat het – 1 200 matrieks. Dit het só gebeur: Anglo Gold Ashanti het my ma aanvanklik genader want sy is ’n openbare spreker wat in ouerskap spesialiseer.

Haar eerste toespraak het gegaan oor hoe om jou drome te bewaarheid.

“Sy het ingestem om met die matrikulante te praat, maar gesê haar dogter se eerste boek verskyn oor ’n maand en sy stel voor dat sý met die matrieks praat.

“Dit was ’n skrikwekkende ervaring! Selfs nou, vyf jaar later, bewe ek wanneer ek op ’n verhoog kom. Maar ek dink dit is normaal en ek het mettertyd baie lief geword daarvoor om in die openbaar te praat.”

Haar eerste toespraak het gegaan oor hoe om jou drome te bewaarheid.

Internasionale toekennings

Stacey is in die skryfkategorie van die Global Child Prodigy Award benoem. Die geleentheid was in Nieu-Delhi.Foto: Verskaf

Sedert haar debuut met Smelly Cats het sy nog vier boeke geskryf en haar loopbaan as kinderaktivis en openbare spreker het van krag tot krag gegaan, en sy het die Stacey Fru-stigting op die been gebring.

“Die president van Egipte het my eerste internasionale toekenning in Maart 2019 op die Wêreldjeugforum aan my oorhandig. My tweede internasionale toekenning was in September verlede jaar deur die Britse ambassade in Ghana. En ek het in Januarie ’n toekenning op vanjaar se Global Child Prodigy-toekenningsgeleentheid ontvang. Honderd ‘wonderkinders’ het elk ’n toekenning gekry.”

Sy huiwer toe ek vra of sy haarself as ’n wonderkind beskou.

Ek is gewoonlik die enigste kind in die vertrek.

“Ja . . . maar wanneer ek dít sê, probeer ek nie spog nie, want jy hoef nie ’n wonderkind te wees om uniek te wees nie, maar ek dink wél aan myself as ’n wonderkind omdat ek as ’n kind al begin het om dinge te doen.

“Ek voel wel . . . ek praat op baie geleenthede waar volwassenes betrokke is en die meeste van die toekenningsgeleenthede wat ek bywoon, is hoofsaaklik vir volwassenes. Ek is gewoonlik die enigste kind in die vertrek, en ek het nou al so gewoond geraak aan hul teenwoordigheid dat ek nie daardeur geraak word nie.

“Ek weet nie of hulle deur my geïntimideer voel nie, maar ek weet ek maak die een of ander impak wanneer hulle sien: O, kyk, hier is ’n kind in die vertrek, of wanneer ek opstap om ’n toekenning te ontvang of ’n toespraak te lewer.”

Wil satelliete bou

Stacey en haar ma, Victorine.Foto: Verskaf

Ons praat oor die 17-jarige Greta Thurnberg, die Sweedse omgewingsaktivis wat in die afgelope jare ’n internasionaal gerekende stem geword het.

“Ek is mal oor die werk wat sy doen. Sy het so ’n ongelooflike impak – wêreldwyd. Sy het al op duisende geleenthede gepraat en het ’n reuse-gevolg opgebou. Ek oorweeg dit om ook die klimaatsveranderingruimte te betree want dit maak ’n groot impak op die wêreld en sal ook op toekomstige generasies ’n groot impak hê.

“Ek dink sy is ’n uitsonderlike jong dame . . . Sy is só dapper om te doen wat sy doen.”

Ek het aanvanklik gedink ek wil filosofie studeer en ’n filosoof word, maar toe het my ouers gesê ek moet daarvan vergeet.

Wat oorweeg sy as ’n loopbaan?

“Ek het aanvanklik gedink ek wil filosofie studeer en ’n filosoof word, maar toe het my ouers gesê ek moet daarvan vergeet. Toe dink ek: Oukei, wat anders? My pa het toe voorgestel dat ek ’n astrofisikus word. Ek was soos in: ‘Oukei, maar ek hou nie eintlik van wetenskap nie.’

“Toe vind ek uit van ruimte-ingenieurswese en ek is steeds mal oor dié gedagte; dít is wat ek wil doen – satelliete ontwerp en so aan.”

Stacey sê sy wil pres. Cyril Ramaphosa graag ontmoet en met hom gesels.

“Ek sal hom dan wil bedank vir die werk wat hy gedurende die korona-pandemie doen, maar ek sal ook met hom wil gesels oor sy sienings oor die toekoms van hierdie land, wat die ekonomie betref en ook landbou, kultuur, godsdiens en net al die wonderlike dinge wat ’n president dalk in gedagte het.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.