Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Nataniël: ‘Dís hoekom mense dink ek is Satan’

Nataniël praat oor sy nuwe boek en vertel aan Murray La Vita waarom daar baie mense is wat hom as boos, as Satan self, beskou.

“Daar is mense wat jou blameer, want hulle glo jóú costumes het hulle seun snaaks gemaak.” Foto: Lorinda van den Berg

“Die weerlig het my studio getref en ál die krag is uit – die borde, die ligte, die alarm, die remote, die WiFi . . . álles is dood – gone. So dit was net van vanoggend sewe-uur af chaos,” sê Nataniël.

“Maar anyway, ons gaan aan; mense is op pad om dit te kom fix. Dis hier in Irene. Ek woon mos in Irene in Pretoria. Dit storm verskríklik. Saterdag is my huis geslaan deur die weerlig. As ek nie obsessed was met rubberwiele nie – ál my meubels is op rubberwiele – was ek dood.

“So, dít is nou maar hoe dit hier gaan. Maar dis lékker . . . Dis opwindend en dis die Here se werk, so ek is fine daarbo. Ek woon in ’n bos, so ek trek weerlig omdat ek massíewe, massíewe bome het. Ek het die hoogste bome vir myle.”

Kyk, ek het net een manier van werk en my career is om stories uit te dink vir die verhoog.

Die fokus van die telefoononderhoud met Nataniël is sy jongste boek Dik Dun Thick Thin, ’n versameling kortverhale en sketse.

“Kyk, ek het net een manier van werk en my career is om stories uit te dink vir die verhoog. So, baie van hierdie stories was in shows en is verwerk vir die boek.

“Maar baie van my stories vir die verhoog het nie ’n slot nie, want die song wat volg, is die slot. En daar is ook nie handgebare of costumes of visuals by nie; dít is hoekom party van die stories sketse deur my costume designer Floris Louw by het van my costume toe ek daardie storie vertel het. Ek het dit ingesit vir die mense wat die shows ook gesien het. Daar sal ’n klokkie vir hulle lui. Baie van die stories het ek ook net geskryf vir ’n boek.”

‘Te oud vir detail’

“Ek skryf nie oor politiek nie – dit verveel my.” Foto: Clinton Lubbe

Hy verwag nie dat mense hulle met die stories moet kan vereenselwig nie.

“Maar dit moet werklik kan gebeur, al vertel ek dit net van ’n ander punt af. Ek beskou alles as visueel. Met alles wat ek doen, sien ek eers prentjies. Ek weet presies hoe lyk die mense in die stories; wat het hulle aan; wat is hulle omstandighede.

“Maar ek skryf baie kripties. Ek is te oud vir detail. Ek sal doodgaan as ek vir ure praat oor hoe voel dit op ’n grondpad. So, ek skryf so telegramvorm en kripties as moontlik.

“Ek hou van . . . jy moet mense in drie bladsye kan wegvat na ’n plek toe waarmee hulle of kan assosieer of wat vir hulle nuut is of wat hulle nie gedink het kan bestaan nie.

“Maar alles wat ek doen, is rooted in die waarheid, of elke karakter of hoofkarakter ten minste is gebaseer op iemand wat ek ken of iemand in die familie of iemand wat ek beleef het.”

‘Geen kragwoorde’

Hy weet dat hy “baie ouer mense en baie kunstige mense en baie gelowige mense” met ’n storie moet kan “bedien”. “Dis hoekom ek met trots kan sê dis my derde boek sonder ’n kragwoord. Dit het te máklik geword om impak te hê of ’n grappie te maak deur ’n vloekwoord te los.”

Hy sien dit by komediante.

“Komediante vloek ál hoe meer. Dis asof hulle desperate is vir ’n laugh. Dis nie dat ek preuts is of iets nie, maar om ’n laugh te kry of ’n statement te maak deesdae sonder ’n kragwoord, is régtig harde werk. Dis ’n skill waaraan ek al baie lank werk. Ek wil nie my ma upset met my boek nie en ek wil ook nie die wildste bliksem onder ’n boom teleur stel deur die feit dat ek nie ’n punch kan gooi nie. Maar ek wil dit doen deur tegniek en nié deur die maklike oplossing van kommin name en vloekwoorde nie.”

‘Dit gaan oor die individu’

Nataniël se jongste bundel het pas by Human & Rousseau verskyn.

Hoewel hy vreemd en eksoties is, het hy ’n groot gevolg onder “gewone” mense.

“My inhoud . . . Ek skryf nie oor politiek nie – dit verveel my. En ek skryf nie oor enige issues nie behalwe oor hoe ’n individu pas in ’n familie of in ’n kerk of in ’n gemeenskap of in ’n verhouding of in ’n maatskappy.

“Ons is ’n groepsbehépte samelewing – alles is groepe, en ’n groep beteken vir my ’n volkóme núl. ’n Groep het my nog altyd verveel. So, vir mý gaan dit oor die individu.

“As ek verby ’n plaas ry en daar staan ’n ry huisies, en of dit die boer nou mooi gemaak het of nié, daar bly plaaswerkers in met hulle kinders. Sê nou maar een van daai kinders het die absolute talent om ’n wêreldklasballerina te word, hóé op aarde gaan hulle dit ontdék?

“Nie almal het soos ék van kleins af die obsessie gehad om my pad oop te knáág totdat ek uitkom waar ek wil wees nie. Baie verval en word dan opgeslurp deur ’n brander van gewoonheid.

“Ek imagine altyd in my kop elke plaasballerinatjie . . . Hoe op aarde gaan hulle dit self ontdek as ek nie vir hulle ’n storie . . . Dalk loop hulle ’n storie eendag raak en spontaan gaan daar ’n – ek weet nie wat noem mens dit nie – ’n klier of ’n ensiem of ’n sel in hulle kop oop om hulle te leer hoe om na hulleself te loop kyk en ’n pad te soek wat ongewoon is.

“So, ek doen dit vir kinders, individue en sulke goed, want ek wil help as hulle in ’n veiligheidskompleks of ’n gewone skool of in iets vasgevang is dat hulle gaan leer om sélf iets te herken en te ontsluit.”

‘Net nie mooi nie’

Hy wil hê mense moet dink hulle weet wat gaan in sy huis aan.

“Ek is doodgewoon, ek is net nie mooi nie. As ek mooi was, het ek kaal gesing, maar omdat ek die aandag van my gesig moes aftrek, moes ek begin met vreeslike eksotiese costumes en daai tipe ding, wat eventually gelei het tot fantasie.

As die kind op die vloer speel dan ervaar hy die skoene en die tafelpote en die krummels en die troeteldiere en die mat ...

“Ek probeer só skryf dat as iemand ’n storie lees, moet dit vir hulle voel ek hou hulle dop, maar net uit ’n hoek van die sitkamer wat hulle nog nooit ontdek het nie . . .

“Dít is hoe ’n kind iets beleef; as mense sit en eet en die kind speel op die vloer dan ervaar hy die skoene en die tafelpote en die krummels en die troeteldiere en die mat, waarvan die ander mense nie eers bewus is nie, want hulle sit en kyk van die bokant van die tafel af. Dít het my nog altyd geïnteresseer.”

‘Hulle vrees onafhanklikheid’

“Ek was die freak van die dorp en die weird dingetjie wat nie die gewone goed kon verstaan nie.” Foto: Bernard Brand

Nataniël sê daar is baie mense wat “my blameer dat ek evil is – Satan self”.

“Mense is bang vir iets wat hulle nie ken nie, wat hulle nie herken nie of wat vreemd lýk. Dís hoekom mense vleis eet – hulle maak alles dood wat nie soos hulle lyk nie. As jy nie soos hulle lyk nie . . .

“Mense is mál oor ’n uitverkoping by ’n kettingwinkel en daarom lyk hulle almal soos mekaar. As ek hate mail kry op Instagram of op Facebook, dan kyk ek altyd na die foto en die naam. Dan is dit van die gewoonste mense wat ek nooit sal herken nie, want daar is niks wat hulle onderskei nie.

“Daar ís ’n vrees vir onafhanklikheid want as jy onafhanklik suksesvol is against all odds gáán mense jou haat daarvoor. En daar is mense wat jou daarvoor blameer dat jy nie deel is van die industry nie. Daar is mense wat jou blameer omdat jy presiés sê wat jy dink. Daar is mense wat jou blameer want hulle glo jóú costumes het hulle seun snaaks gemaak of iemand het homself gevind in een van my vertonings.”

Koninklik

Ons praat oor kos.

“Mense is blasé en hulle hou vir hulle grand en hulle wil gesien word. Hulle gaan eet nie meer uit sonder om agt keer deur ’n maal hulle pietersielie te blog of op Instagram te sit nie . . .

“Ek is van kleins af geleer as jy die klein dinge as koninklik ervaar – dis hoekom my nuwe blog se naam Small Coronation is – as jy weet die kleinste dinge is ’n event, en as jy nederig en in detail na iets kyk, maar ook dit verstáán, verander jou hele lewe.

Ek eet amper nooit uit nie. My beste ervarings was by my eie huis of by my ouma se huis of by vriende se huis.

“Baie mense het geen benul wat hulle eet nie. Hulle koop net ’n pakkie pre-packed goed en microwave dit, maar as jy . . . Ek word altyd deur sjefs omring – my ouma, Peter Veldsman, Topsi Venter – en ek het gesien met hoeveel ontsag kan hulle een vars bestanddeel hanteer; hoe vat hulle aan kos.

“Maar dit het niks te doen met sjefs nie; dit het te doen met home cooking. Ek eet amper nooit uit nie. My beste ervarings was by my eie huis of by my ouma se huis of by vriende se huis.

“My hele punt is: ek wil nie ’n sjef wees nie en ek wil nie noodwendig sjefskos eet nie. Ek is ’n home cook en ek hou van home-made meals in ’n beautiful setting. Dán celebrate jy die alledaagse lewe; jy verander jou héle bestaan; jy voel nooit gewoon nie.”

‘Mense word kwaad’

“Ons is ’n groepsbehépte samelewing – alles is groepe, en ’n groep beteken vir my ’n volkóme núl.” Foto: Bernard Brand

Sy hele lewe is ’n stryd met gewig.

“Baiekeer maak ek in my stories karakters maer en ek maak hulle vet. Mense word báie kwaad vir my. Daar is sekere groepe wat sê ek mag nie oor dik mense praat nie, dan dink ek, maar ek is my hele lewe lank al dik en sulke mense bestáán tog. Ek praat oor álmal. Ek sê nie dit slég nie.

“Thick [in die titel van sy boek] beskryf nie vet in Engels nie, so dit moet vir mense ’n hint gee dat dit oor ’n bietjie meer gaan: dom en slim, goed en sleg, voorspoed en teenspoed – alles.

“Ek wou ’n slogan hê. Ek wou nie kom met een of ander diep titel nie. Ek wou hê dat die boek moet deel word van pop culture. Ek vat ikoniese goed. Dis ’n ikoniese Bauhaus cover. Dis hoe die letters heel bo aan ’n oogtoets lyk. Dit is geïnspireer deur ’n ikoniese mode-ontwerper [Yves Saint Laurent]. Die gesegde [Dik, dun, thick thin.] kom van ’n ikoniese vrou in my lewe.”

‘In die minderheid’

Die openingsinne van “Mannequin”, die eerste verhaal in Dik Dun Thick Thin, lui as volg: “I am the least brave being in this world. I began to be fearful at the age of five.”

Nataniël sê dié karakter is geïnspireer deur sy eie lewe.

“Ek was ’n bang kind . . . Ek het grootgeword op drie plattelandse dorpe waar die kerk en rugby die konings was en waar ons nié die ryk mense was nie. Én ek het nie van sport gehou nie en ek was die enigste seuntjie wat musiek geneem het. So, ek was op elke level wat jy kan opnoem in die minderheid. En ek was ’n vét kind, so ek het nie my hemp uitgetrek saam met die ander seuntjies en in die swembad geduik nie.

Ek het agtergekom, alhoewel kinders dalk snaaks na my gekyk het, en grootmense, is ek nooit geboelie nie.

“So, ek was in ’n bubble. Dr. Jo Steenkamp [sy sielkundige] sê omdat mense vir my gelag het van kleins af het ek hiérdie career want ek het net besluit hulle kan aanhou lag, maar hulle gaan nou betaal daarvoor.

“Ek het agtergekom, alhoewel kinders dalk snaaks na my gekyk het, en grootmense, is ek nooit geboelie nie. Mense het my gevrees, op ’n vreemde manier, dit was asof hulle nie geweet het of ek kon gif spoeg, of daar iets vreemds met hulle gaan gebeur as hulle aan my raak nie.

“Ek was die freak van die dorp en die weird dingetjie wat nie die gewone goed kon verstaan nie. Ek kon nie verstaan hoekom mense hou van sport nie. Ek kon nie verstaan hoekom al die seuntjies aan alles wou deelneem nie. Ek het net tennis gespeel want ons was net vier in ons skool wat tennis gespeel het.”

‘Steeds dieselfde vrese’

“Mense het my gevrees, op ’n vreemde manier.” Foto: Bernard Brand

Daarvan het hy gehou want “daar was niémand nie – net ons en die tennisjuffrou. Dít was fantasties want daar was nie groepe nie. Ek het álle groepe gevrees. Ek het die atletiek gevrees, die kerkbasaar – ál daai groepe. Ek het nie verstaan wat gaan aan nie en waaroor lag hulle nie. Die kindertjies wat so hardloop, was vir my simpel.

“So, ek moes ’n bubble create vir myself om al hierdie vrese . . . Ek het nog steeds dieselfde vrese – ek swem nog steeds nie en ek is nog steeds bang vir skares – maar as jy onafhánklik is, kan jy jou lewe lei soos wat jy wil.

“As ’n kind sleep jou ouers en die skool en die kerk en jou maatjies – alle groepe – sleep jou saam. Jy as kind kan nie sê: ‘Ek gaan nie.’ Jy kan nie ontsnap van al hierdie goed nie. Ek kon dit eers as ’n volwassene vermy.”

Luister ook hier na Kwessie van ‘n dag, Nataniël se reeks podsendings wat hy spesiaal vir Netwerk24 gedoen het oor hoe om elke dag spesiaal te maak. 

Meer oor:  Nataniël  |  Pretoria  |  Irene  |  Stories  |  Gewig  |  Kos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.