Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Navorser oor jag, biltong en toerisme word bekroon

Prof. Melville Saayman is pas die vyfde keer as die Noordwes-Universiteit se navorser van die jaar aangewys. Susan Cilliers het met hom oor sy navorsingsprojekte gesels.

Prof. Melville Saayman in sy kantoor op die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus.Foto: Susan Cilliers

Skubaduik in Italië, besoeke aan wildplase en die bywoon van kunstefeeste klink nie juis na die lewe van ’n bleeksielprofessor nie, maar dis die soort omgewings waarin hy sy bekroonde navorsingsprojekte aanpak.

’n Bleeksiel is dié sportiewe akademikus gewis nie, maar wel ’n professor wat sy titel met onderskeiding voor wêreldgehore gestand doen.

Sy navorsingsprojekte sluit van nederige onderwerpe soos biltong tot skubaduik saam met ’n span Italiaanse navorsers in.

Saayman, direkteur van die navorsingseenheid Toerismenavorsing in Ekonomiese Omgewings en die Samelewing (Trees) aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus, is in 2017 die vyfde keer as dié universiteit se produktiefste navorser van die jaar aangewys. Dit is ook die derde keer agtereenvolgens dat dié eer hom te beurt val.

Sy akademiese mylpale wat reeds op ’n jong ouderdom begin het, lê soos sierkrale op sy curriculum vitae ingeryg: honderde akademiese en populêre artikels, outeur en mede-outeur van verskeie handleidings en boeke, gasspreker op talle oorsese en plaaslike konferensies en jare lange betrokkenheid by tientalle toerisme- en akademiese organisasies. Saayman is al internasionaal vereer, en was en is redakteur van verskeie akademiese publikasies.

Trees se navorsing het byvoorbeeld getoon dat die Suid-Afrikaanse jagbedryf vir biltong in 2015 ’n reuse- R8,5 miljard tot die ekonomie bygedra het.

Vir die 52-jarige akademikus was dit egter ’n hoogtepunt toe hy in Julie 2017 ’n toekenning van die departement van wetenskap en kuns vir sy bydrae tot volhoubare toerisme in Suid-Afrika ontvang het.

Hy is die eerste ontvanger van dié toekenning, sê Saayman. Dit is die kern van wat hy doen: Om deur middel van navorsing ’n bydrae tot die volhoubare voortbestaan van toerisme te lewer, veral wat betref die rol wat dit deur werkskepping in armoedeverligting kan speel.

“As ons armoede kan uitskakel, sal 90% van ons ander probleme ook verdwyn.”

Saayman sê hy is dikwels in die spervuur wat sy navorsing oor die bydrae van die Suid-Afrikaanse jagbedryf tot die ekonomie betref. “Dis egter objektief sodat dié bedryf miljoene vir die land inbring. Daar is baie wanpersepsies oor die bedryf. Geblikte jag byvoorbeeld kom baie min voor, maar enkele voorvalle word aan die groot klok gehang.”

Trees se navorsing het byvoorbeeld getoon dat die Suid-Afrikaanse jagbedryf vir biltong in 2015 ’n reuse- R8,5 miljard tot die ekonomie bygedra het. “Jag skep ook talle newebedrywe soos die maak van produkte met horings en vel,” sê Saayman.

Hy is ’n gebore Oos-Kapenaar en het sy skoolloopbaan in Port Elizabeth begin. Sy gesin het in sy laat tienerjare na Pretoria verhuis, waar hy in 1982 gematrikuleer het. Dit was ook aan die Universiteit van Pretoria (UP) waar die eerste saadjies vir sy produktiewe loopbaan gesaai is.

Vroeg-vroeg al ’n akademikus

“Toe ek daar op die mooi kampus in so ’n vry akademiese omgewing beweeg het, het ek besluit ek wil ’n akademikus word,” sê hy oor sy gewaarwordinge as eerstejaar.

Hy het ekonomie en rekreasiebestuur gestudeer en toerismebestuur was ’n onderafdeling van laasgenoemde. Die toerismebedryf was destyds weens isolasie in die apartheidsjare baie plaaslik en klein, sê hy.

Hy was byna klaar met sy doktorsgraad in rekreasiekunde aan die UP toe hy in 1992 by die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (nou deel van die NWU) aangestel is.

Saayman by ’n skildery van Isabel le Roux, wat hy op die Aardklop Nasionale Kunstefees gekoop het. Die skildery hang in sy kantoor op die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus.Foto: Susan Cilliers

“My opdrag was om toerismebestuur as vak hier uit te brei. Ek was gereed vir die uitdaging, want die skrif vir die einde van apartheid was aan die muur. Die toerismebedryf in Suid-Afrika is nou groter as wat ons verwag het.”

Saayman sê die plan was om net ’n paar jaar in Potchefstroom te woon, maar nou woon hy, sy vrou, Andrea (ook ’n professor en navorser by Trees), en hul twee dogters al 26 jaar daar. “Dis ’n lekker stad, goed geleë en betreklik veilig,” sê Saayman.

Dis ook hier waar hy van ’n jong akademikus tot ’n bekroonde navorser gegroei het.

Toerisme kan nog baie groei

Saayman meen een van die grootste uitdagings in die Suid-Afrikaanse toerismebedryf is om op veral twee gebiede te groei: kreatiewe en landboutoerisme.

“Onkunde oor geleenthede in albei hierdie velde belemmer groei.”

Hy verduidelik dat kreatiewe toerisme alle kreatiewe produkte insluit wat toerisme bevorder en uitbrei – van publikasies soos reis- en fiksieboeke tot rolprente en kunstefeeste.

“Baie entrepreneurs maak ’n bestaan daaruit om van die een kunstefees na die volgende te gaan.”

Saayman ondersteun self kunstefeeste en brei jaarliks sy kunsversameling uit deur kuns op onder meer die Aardklop Nasionale Kunstefees in sy tuisstad te koop.

Saayman benadruk die tipe toerisme wat besoekers lok en werk skep, verg nie die omvang van byvoorbeeld die Krugerwildtuin nie.

Hy en sy span se navorsing vroeër vanjaar oor Aardklop het juis getoon dat 92% van die feesgangers weer wil kom.

Landboutoerisme, waar bykomende bronne van werk en inkomste uit die bedryf geskep word, bied ook enorme geleenthede op veral die platteland waar hulpbronne en geleenthede beperk is, sê hy. “Dink maar net aan plase waar daar aktiwiteite en geriewe soos staproetes, 4x4-ritte, gastehuise, jaggeriewe, uitkykpunte en opvoedkundige toere is.”

Saayman benadruk die tipe toerisme wat besoekers lok en werk skep, verg nie die omvang van byvoorbeeld die Krugerwildtuin nie.

“In die klein dorpie Hoekwil in die Wes-Kaap is daar byvoorbeeld ’n restaurant wat homself bemark as die plek met die beste kaaskoek in die land nadat iemand gesê het sy kaaskoek is baie lekker. Die plek is wyd bekend vir sy kaaskoek. Die Redberry-aarbeiplaas buite George maak miljoene rande deur middel van aktiwiteite soos die pluk van aarbeie, asook (onder meer) ’n restaurant en winkel op die plaas.”

Swak plaaslike bestuur, misdaad nie doodskoot

Saayman sê hoewel baie munisipaliteite op die platteland in duie stort weens wanbestuur en korrupsie, verg dit net mense in sulke gemeenskappe om private inisiatiewe te begin om die toerismebedryf ’n hupstoot te gee.

“Hierdie mense kan met kundige hulp baie vermag. Ons span navorsers is byvoorbeeld reeds besig om ’n mislukte toerisme-inisiatief van die regering in die Vredefort-koepel (naby Parys in die Vrystaat) saam met die plaaslike gemeenskap weer op die been te kry.

“Ons beplan onder meer ’n planetarium as deel van ’n interpretasiesentrum. Plaaslike gemeenskappe in die Oudtshoorn-omgewing (in die Wes-Kaap) is ook besig met hul eie inisiatiewe om toerisme te stimuleer.”

Prof. Melville Saayman in sy kantoor by die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus.Foto: Susan Cilliers

Suid-Afrika se hoë misdaadsyfer word dikwels as ’n bedreiging vir die toerismebedryf voorgehou, maar volgens Saayman presteer ons nogtans goed.

“Navorsing deur die Suid-Afrikaanse Toerismeraad toon dat oorsese toeriste baie minder misdaad hier ondervind as wat hulle verwag het.”

En noudat Cyril Ramaphosa die ANC se president is en heel moontlik die land se volgende president gaan word, is daar rede om meer optimisties te wees. “Ons het die rand dadelik sien styg (toe hy in Desember verkies is),” sê hy. “Die Europeërs sien Cyril as meer betroubaar en eerbaar as sy voorganger. Die persepsie is dat hy nie korrup is nie en die ekonomie verstaan.”

En toerisme kan nie voortbestaan sonder ’n sterk ekonomie nie, sê hy. Dis juis hierdie wisselwerking wat hy en die span by Trees ondersoek.

Dis nie vir my ’n straf nie, want ek geniet my werk. Dis vir my ’n stokperdjie. Nie een dag is dieselfde nie.

Die eenheid spesialiseer in navorsing waarmee honneurs-, meesters- en doktorsgraadstudente help. Volgens hom het Trees die grootste doktorsgraadprogram in Suid-Afrika, waarvan die meeste studente uit die res van Afrika kom. “Ons het veral baie studente uit buurlande soos Malawi en Namibië.”

Hy vertel daar is geen tekort aan interessante onderwerpe nie. ’n Meestersgraadstudent van Trees het byvoorbeeld pas ’n studie oor die belangstelling in paddas in die nasionale parke voltooi.

Sy werk is sy stokperdjie

G’n wonder Saayman sê sy werk is een van sy vele “stokperdjies” waaraan hy ook naweke tyd afstaan nie. “Dis nie vir my ’n straf nie, want ek geniet my werk. Dis vir my ’n stokperdjie. Nie een dag is dieselfde nie. Dis vir my altyd ’n uitdaging om die uitwerking van een verskynsel op ’n ander te ondersoek.”

Saayman hou ook van tuinmaak, lees, reis en om te gaan fliek. Hy speel kitaar en tromme, en bly aktief deur te ski, asook golf, basketbal en sokker te speel. Hy jag ook graag en neem aan tweekamp deel.

Sy vrou is ewe sportief. Hulle het mekaar juis as studente aan die UP ontmoet toe hy haar atletiekafrigter was. Saayman was self ’n kranige naelloper – destyds was hy een van die topagt in die 100 m en 200 m in Suid-Afrika. Die Saaymans se oudste dogter, Anaïs, studeer grafiese ontwerp aan die NWU. Hul jongste dogter, Dominique, is vanjaar in gr. 10. Sy is een van Suid-Afrika se top-skaakspelers in haar ouderdomsgroep.

Dis duidelik dat die Saaymans op ’n drafstap deur die lewe gaan.

Hy vertel dat sy grootouers sy pa, Melville sr., na ’n motorfietsjaer genoem het. Vandag jaag Melville jr. elke nuwe navorsingsonderwerp met net soveel ywer as die vorige een na.

Meer oor:  Noordwes-Universiteit  |  Potchefstroom  |  Toerisme  |  Biltong  |  Navorsing  |  Jag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.