Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Nederige skilpadjie het bekende sjef in vervoering

Haar jongste kookboek handel oor vegetariese resepte, maar dit is die eenvoudige Suid-Afrikaanse skepping van lewer in netvet (skildpadjie) wat die wêreldbekende sjef Prue Leith in vervoering het, skryf Gert van der Westhuizen.

Prue Leith voor die gebou van die Prue Leith Culinary Institute in Hennopspark in Centurion, waarvan sy die beskermvrou is. Foto: Deaan Vivier

Leith se biografie op Wikipedia is ’n mondvol wat die storie vertel van die baie vol lewe van ’n vrou wat in 1940 in Suid-Afrika gebore is: restaurateur, sjef, spysenier, televisie-aanbieder/uitsaaier, sakevrou, joernalis, kosskrywer en romansier. Sy was 11 jaar lank ’n beoordelaar in die televisieprogram Great British Menu voordat sy haar in 2017 by The Great British Bake Off aangesluit het.

In die gesellige biblioteek van die Prue Leith Culinary Institute in Hennopspark in Centurion, waar ons vinnig weer gesels nadat ons ’n hele ete lank oor kos, Suid-Afrikaanse kos (veral die nederige skilpadjie) gepraat het en Brexit ook onder meer ter sprake gekom het, lê ’n stapel slapbandboeke op ’n tafel: Choral Society, The Gardener, The Lost Son en A Serving of Scandal – vier van die agt romans wat sy al geskryf het. ’n Kopie of twee van Relish, haar outobiografie is ook te sien.

Op ’n tafel voor ons lê haar jongste kookboeke, twee van die 14 wat haar naam op die omslag as skrywer of mede-skrywer het.

Dis moeilik om te glo dat die sprankelende vrou voor my al byna 80 jaar oud is. (Sy het Dinsdag, ’n paar dae ná ons gesprek, verjaar.) In haar geblomde bloes en kleurryke oorgrote halssnoer van houtringe lyk Prue, afgelei van Prudence, nie ’n dag ouer as 60 nie. Sy het een van haar kenmerkende brille – met ’n rooi raam en blou, groen en pers strepies – op.

Prue Leith meen mense moet meer groente en minder vleis eet. Foto: Deaan Vivier

Dit lyk (en klink) glad nie asof dit haar vyfde onderhoud van die dag is nie. Dít nadat sy die vorige aand die eregas was op ’n geleentheid van die sjefskool wat haar naam dra en waarvan sy die beskermvrou is. Net voor ons gesprek was sy by ’n ete waar disse uit haar kookboek voorgesit is en sy het met tientalle bewonderaars gesels, hul boeke geteken en saam met hulle vir foto’s geposeer. Later die aand het nóg ’n ete van disse uit haar vegetariese kookboek op haar gewag.

Toe ek wil weet waar sy al haar energie vandaan kry, laat Jenny Griesel, wat die mediaskakeling op haar Suid-Afrikaanse besoek behartig, van die kant af hoor dat dit eintlik nog “ ’n relatiewe stil dag is”.

“Ek het deesdae nie meer so baie energie soos wat ek gehad het nie,” voeg Prue by. “Ek sal nie nou omgee vir ’n siësta nie,” spot sy.

“Ek dink ek het nog genoeg energie omdat ek goed slaap, goed eet en baie gelukkig is.”

Prue en Brexit

Prue se seun, Danny Kruger, is ’n parlementslid van die Konserwatiewe Party. Hy is nes sy en John ’n stoere voorstander van Brexit. Prue se siening oor dié omstrede onderwerp is eenvoudig. “Die meeste mense in Brittanje het daarvoor gestem. Dit is weer met verlede jaar se verkiesing bewys. Kom ons doen dit nou en kry klaar daarmee.” Prue glo nie aan die doemprofete se voorspelling van onder meer ekonomiese en ander ontberings in die toekoms nie.

John Playfair, haar tweede man, na wie sy al verwys het as haar katelknaap (toy boy) omdat hy sewe jaar jonger as sy is, is een van die redes vir haar geluk. Hy is gedurigdeur aan haar sy en hulle gesels en lag gereeld saam. Dit is duidelik dat hulle geesgenote is. Albei is ook voorstanders van Brexit.

John, ’n oud-modeontwerper, is ook altyd vinnig by wanneer bewonderaars selfies saam met Prue wil neem. Hy bied altyd aan om die foto’s te neem om te voorkom dat die selfies uit fokus is, of erger nog, “net vier neusgate wys”.

Met die ete het hulle met elke gereg verskillende disse bestel sodat hulle ná ’n rukkie borde kon omruil en elkeen alles kon proe wat op die spyskaart is. Die disse was almal uit Prue se My All-time Favourite Recipes. Dit het in 2018 verskyn en was die eerste kookboek wat sy in 25 jaar geskryf het.

Vir die vegetariërs was daar geroosterde blomkool met borrie op rogbrood.

Meer groente, minder vleis en wat van insekte?

Prue Leith en haar man, John Playfair, deel ’n grappie. Foto: Corné-anne Schnetler

Prue dink ons moet baie meer groente eet.

“Ons moet ons koolstof-voetspoor verklein. Groente het aansienlik minder water en grond nodig as vee en is oor die algemeen goedkoper en gesonder as vleis. Hoewel ek self nie ’n vegetariër is nie, is ek baie bly dat vegetariese eetgewoontes wêreldwyd toeneem,” sê Prue.

“Dit is beter vir die planeet as ons minder vleis eet. Dit sal ook beter vir die planeet wees as ons vleis van ’n beter gehalte eet. Kos wat in fabrieke vervaardig word, is dikwels nie net smaakloos en vervelig nie, maar die vervaardiging daarvan is ook verskriklik wreed. Dit is aaklig.

“Hoenders word ses weke lank grootgemaak en teen die tyd dat hulle geslag word, is hulle so swak dat hulle nie eens meer vere oor het of regop kan staan nie. Dit is nét so wreed. As mense weet wat aangaan in die fabrieke waar varke of hoenders geteel word, sal hulle dit nooit weer eet nie.

“Ek bly ’n groot voorstander daarvan dat ons vleis moet eet, maar ons moenie so baie daarvan eet nie en dit wat ons eet, moet van ’n beter gehalte wees. Diere moet byvoorbeeld gras eet en vry rondloop.”

Bewonderaars staan tou om Prue Leith se handtekening te kry. Foto: Deaan Vivier

Prue is ook ’n voorstander van insekte as ’n alternatiewe bron van proteïene.

“Ek het in groot moeilikheid beland omdat ek gesê het dis onvermydelik dat ons ter wille van die planeet later na ander bronne van kos sal moet kyk,” sê Prue laggend.

“Met insekte kan jy baie goedkoop proteïene vervaardig. Dis baie meer ekonomies as vee wat baie grond en water nodig het. Jy kan hulle in silo’s laat aanteel. Hulle teel so vinnig soos hase aan en jy kan binne twee weke ’n hele silo vol proteïene hê.

“Daarmee sê ek nie dat ek nou my lippe aflek vir ’n happie sprinkaan, meelwurm of kriek nie, maar dit kan gebruik word om baie lekker disse mee te maak. Ek het al met die meel van krieke gebak en ek kon nie die verskil agterkom nie.

Minder vleis sal ons móét eet, of ons nou daarvan hou of nie.

“Ek het ook al diepgebraaide insekte geëet en ek moet sê dit was baie lekker. Maar,” sê Prue, “enigiets wat diepgebraai word, is lekker. Dit is seker nie goed vir jou as alles vol vet is nie, maar dit is ’n bron van proteïene.”

Prue glo instellings wat honderde mense moet voer, soos skole en hospitale, kan in die toekoms die meel van insekte of kunsmatig vervaardigde proteïene gebruik van byvoorbeeld swamme wat in fabrieke gekweek word.

“Dit sal die voedingswaarde van die kos verhoog en die mensdom minder vleis laat eet.

En minder vleis sal ons móét eet, sê Prue weer, of ons nou daarvan hou of nie.

Dink eers aan groente en dán aan vleis

Suid-Afrikaners wag heeltemal té lank vir hul kos in restaurante, meen Prue Leith. Foto: Deaan Vivier

Diegene wat hulle nie ’n lewe sonder vleis kan voorstel nie, kan dit ook oorweeg om fleksitariërs te word.

Prue dink nie ons besef aldag die waarde van groente nie. Dit is altyd ’n soort van ’n nagedagte as ons etes beplan. “Agteros in die kraal,” sê sy in Afrikaans.

“Ons dink eerste aan die vleis en daarna voeg ons ’n bietjie broccoli of boontjies by. Maar ek dink as ons met die broccoli of die boontjies begin, kan dit ’n wonderlike dis wees. As jy ’n vegetariër is, kan jy kaas oor die broccoli strooi of stukkies spek as jy ’n vleiseter is. Vleis moet die sekondêre dis op die bord wees.”

'Goodbye Dolly Gray'
Prue se eerste man, Rayne Kruger, met wie sy 28 jaar getroud was, is veral as die skrywer van Goodbye Dolly Gray, ’n boek oor die Anglo-Boereoorlog, bekend. Dit is ná 60 jaar steeds een van die beter boeke oor dié konflik.

Prue sê sy het sowat 25 jaar gelede ’n boek met vegetariese resepte geskryf, maar die uitgewer wou nie hê dat sy dit ’n vegetariese kookboek noem nie. “In daai dae het die meeste mense gedink vegetariërs is betottelde hippies wat sandale dra. Sjefs het ook nie van vegetariese disse gehou nie.

“Die boek (Contemporary Cooking) het nie baie goed verkoop nie, maar ek het gedink dit is ’n goeie boek en ek was baie trots daarop. Nou kan ek uiteindelik die woord ‘vegetaries’ in die titel gebruik,” sê Prue oor haar jongste boek.

Prue het The Vegetarian Kitchen saam met haar broerskind, Peta Leith, ’n voormalige patisserie-sjef in die Londense restaurant The Ivy, geskryf. Sy wou ’n jonger sjef betrek en Peta was ideaal omdat sy al sedert haar geboorte ’n vegetariër is.

’n Jonger mede-skrywer sou ook die donkiewerk kon doen, skerts Prue. “Ek moes twee kookboeke binne twee jaar voltooi en met jonger mense wat my gehelp het, kon ek net pret hê. Ek het net die proewerk gedoen en iemand anders het die resepte getoets en weer getoets, seker gemaak die bestanddele is wat dit moet wees en die resepte geproeflees.”

Die skilpadjie

Prue Leith is gaande oor skilpadjies (lewer in netvet). Sy kan nie glo dat niemand dit nog op enige van haar ander Suid-Afrikaanse besoeke vir haar voorgesit het nie. Foto: Deaan Vivier

Met al die gesels oor groente en vleis is dit ook onvermydelik dat Suid-Afrikaanse kos een van die onderwerpe in die gesprek om die etenstafel is. Prue dink Suid-Afrikaanse kos is deesdae baie beter as wat dit in die verlede was.

Sy kan net nie glo Suid-Afrikaners is so geduldig in restaurante nie. Hulle wag heeltemal te lank vir hul kos.

Prue sê dat sy van spog-restaurante in die Kaap tot by ontbytplekke in Gauteng te lank vir haar kos gewag het, op ’n keer selfs so een uur en 45 minute.

Die kos is baie smaaklik wanneer dit uiteindelik opdaag, maar volgens haar behoort ’n mens net 20 minute of hoogstens ’n halfuur vir jou kos in ’n restaurant te wag.

Gelukkig is die lang gewag in restaurante nie die enigste Suid-Afrikaanse kos-ervaring wat Prue sal bybly nie.

Prue Leith praat oor die disse in haar boek My All-time Favourite Recipes. Foto: Deaan Vivier

Daarvoor het die nederige skilpadjie, gemaalde lewer toegedraai in netvet, gesorg. Sy is absoluut gaande daaroor en kan nie glo dat dit ná al haar besoeke aan Suid-Afrika nou eers aan haar voorgesit is nie.

By die ete voor die onderhoud wil sy meer daarvan weet. Johrné van Huyssteen, een van die aanbieders van die TV-program Die groot ontbyt wat saam met ons aan tafel is, vertel haar hoe dit gemaak word.

Hy sê die lewer word gemaal voordat dit in die netvet toegedraai word. Dit word net gesout en geen ander speserye word bygevoeg nie. Sommige mense sal ’n tandestokkie gebruik om die netvet vas te steek, ander sal die lewer só daarin toevou dat ’n tandestokkie nie nodig is nie.

En dan die belangrikste van alles: Skilpadjies moenie in ’n pan of in die oond gaargemaak word nie. Dit moet oor die kole gebraai word.

Prue meen skilpadjies is ’n baie smaaklike manier waarmee mense dalk oorreed kan word om afval te eet. Sy self is nie te gek oor afval nie, maar het wel onlangs ’n afval-dis geëet in een van die bekende Roux-broers se Franse restaurante in Londen wat haar beïndruk het.

“Ek dink hulle is fantasties,” sê Prue oor skilpadjies, wat sy in Engels little tortoises noem. “Ek gaan my slagter vra om vir my ook daarvan te maak. Ek kan dit seker self maak as ek netvet in die hande kan kry,” sê sy voor ons groet.

Ná al die gesels oor die kos wat ons eet en nie behoort te eet nie en die verrassings soos skilpadjies wat soms op jou bord beland, het die tyd vir haar welverdiende siësta uiteindelik aangebreek.

Meer oor:  Prue Leith  |  Brittanje  |  Suid-Afrika  |  Insekte  |  Restaurante  |  Vegetaries  |  Vleis  |  Groente  |  Kos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.