Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Net een lewe om ’n verskil te maak
Barend la GrangeFoto: Amos van der Westhuizen

Barend la Grange is veel meer as net die man wat destyds die skildery The Spear, van oudpres. Jacob Zuma en sy kroonjuwele, geskend het. As bedryfshoof van Suid-Afrika-dag beywer hy hom vir die heropbou van die platteland en om Suid-Afrika ’n beter plek vir almal te maak. As roem sy oogmerk was, kon hy seker vele aansprake daarop maak.

In die 1980’s was hy gereeld op die TV-program oor die ekonomie Diagonal Street. As Sanlam-werknemer was hy die eerste wat ná die koms van die driekamerparlement in 1984 die huis van verteenvoordigers, meestal lede van Alan Hendrikse se Arbeiderspaty, van finansiële advies bedien het. Hierdie diens het hy mettertyd uitgebrei na die volksraad, die huis van afgevaardigdes en kabinetslede.

Tans is hy die bedryfshoof van die nie-winsgewende organisasie Suid-Afrika-dag wat projekte soos die heropbou van plattelandse dorpe dryf. Voorheen (2012-’17) was hy uitvoerende adjunkhoof en raadslid van die nie-regeringsorganisasie Citizens Partnership with Government (CPG).

Hy het CPG verteenwoordig in die komitee van die Menseregte-stigting gemoeid met kwesbare groepe, spesifiek die bekamping van xenofobie en rassisme.

Daardie skildery
Barend la Grange van Roodepoort erken, effens verleë, hy weet sy naam word meestal verbind met die skending van die skildery Spear of the Nation in 2012. Hy beskryf dit as ’n baie moeilike tyd in sy lewe.

Weens die uitbeelding van oudpresident Jacob Zuma, met ontblote geslagsdele, deur ’n wit kunstenaar, het opstand onder swart mense gedreig. Sy onderhandelings met die bestuur van die Goodman-galery was vrugteloos. Hulle was selfs nie te vinde nie vir sy aanbod om ’n replika met ’n rooi kruis daaroor buite die galery te plaas om te wys dat hy, as witte, ook gekant was teen vryheid van spraak wat misbruik word om te beledig en te polariseer. Die uiteinde was dat hy wederregtelik Zuma se skaamte met verf en kwas gaan bedek het.

Sy familie het ná hul aanvanklike skok begrip ontwikkel en ingesien dat hy uit beginsel genoodsaak was tot díe optrede. Die saak is buite die hof geskik met ’n skuldigbevinding aan kwaadwillige saakbeskadiging. Hierdie misdaadrekord het byna verreikende gevolge gehad toe hy daarna weer vir ’n visum moes aansoek doen om sy een seun, Albert, in Amerika te besoek.

“Ek is nie trots op my destydse optrede nie, maar is steeds oortuig dat dit korrek was in die omstandighede. Dit het ras as bepalende en verdelende faktor uit die konflik gehaal en die gesprek verander in ’n akademiese een oor die beperking wat die beskerming van mense se waardigheid plaas op die vryheid van spraak.

“ ’n Meningsverskil regverdig dit nie dat ek vernederend iemand se waardigheid as mens aantas nie. Gegewe ons verlede, moet spraakvryheid verantwoordelik hanteer word en nie verder polariseer nie.”

Reddingspoging Coligny

Maar roem is nie Barend se oogmerk nie.

Hy gesels entoesiasties. Nie oor homself nie, maar oor sy projekte. “Ek is trots Suid-Afrikaans. Ons hoofsentra se infrastruktuur is van wêreldgehalte. Ongelukkig verval die platteland en maak dit mense negatief oor die land. Daar word te veel gekla, en te min gedoen. Ek is taakgerig. Ek wil soos baie ander verandering sien: ’n mooier en beter Suid-Afrika. Ons het Coligny geïdentifiseer as projek om te wys wat gedoen kan word. Die Coligny-gemeenskap,
-sakesektor en boeregemeenskap, doen self die werk en finansier hoofsaaklik die heropbou van hul dorp. Die landboumaatskappy NWK het toegetree as amptelike borg van die projek en ondernemings voorsien verf vir geboue en verf die strate oor. Dit sou seker moontlik wees om ’n makro-borgskap by ’n selfoonmaatskappy of bank te kry, maar dit sou ten koste van gemeenskapsbetrokkenheid wees.

“Die Coligny-forum bestuur die projek in noue samewerking met die plaaslike en provinsiale regering. Dit sluit ook die opposisiepartye in. Goeie verhoudinge is opgebou met die plaaslike EFF-leierskap wat sentraal gestaan het in die opstande wat tot die verwoesting gelei het. Ek moes ’n groep boere toespreek die dag ná ’n plaasmoord. Mense is eers skepties, maar mettertyd kom meer mense van alle groepe aan boord.

Ek kan ’n verskil maak

“Ja, ons betaal reeds belasting, maar aan die regering se onbevoegdheid, korrupsie en gebrek aan politieke wil kan ek nie onmiddelik iets doen nie, maar ek kan my omgewing verbeter. Natuurlik is daar die risiko dat dit weer afgebreek word, maar ons sal twee stene bou vir elke een wat afgebreek word. Dalk nie op dieselfde plek nie, maar ons sal bou. Toekomstige projekte sluit in Waterval Boven (Emgwenya) en Kamieskroon.

Mense wat pessimisties is oor die land het dikwels net breër perspektief nodig, sê hy.

“Elke land het eiesoortige probleme. Suid-Afrikaners kan trots wees op ons hantering van uitdagings in die verlede. Ons sal dit weer kan doen.

In Afrika leer ’n mens

“Ek sorg dat ek jaarliks op reis gaan in Afrika. Die lewensvreugde van mense in ’n vlugtelingkamp in Burundi laat jou besef hoe bevoorreg ons is. Ek reis nie in Afrika met my eie voertuig nie, maar maak staat op openbare vervoer. Ek reis in Afrika sonder om omkoopgeld te betaal al glo mense dis nie moontlik nie. In my 15 jaar van reise in Afrika is ek nog net twee keer by ’n grenspos aangehou, maar uiteindelik laat hulle jou gaan as daar geen saak teen jou is nie en dit duidelik word dat jy hulle nie gaan omkoop nie.” “Heelwat Afrika-lande se ekonomie groei. In Zambië, waar ek onlangs ’n gesprek gehad het met oudpres. Kenneth Kaunda, steeds bekend as die vader van die nasie, is supermarkgroepe bedrywig waar 20 jaar gelede niks was nie.”

Lig jou sitvlak

Barend se gemeenskapsbetrokkenheid het vroeg reeds begin met jeugwerk by sy kerk. Die Sesdaagse Oorlog in 1967 was die sneller vir sy politieke bewustheid.

Nadat hy aan die Hoër Handelskool Tygerberg gematrikuleer en sy diensplig voltooi het, het sy loopbaan by die departement van finansies begin. Ná drie jaar val hy in by sy pa se taxi-onderneming in die noordelike voorstede van Kaapstad. Daarna sluit hy hom by Sanlam aan waar hy spesialiseer in werknemervoordele en opleiding en die CFP-kwalifikasie vir finansiële beplanners verwerf. Hy verlaat Sanlam in 2001 en begin sy eie risikobestuurmaatskappy wat hy in 2007 aan PSG verkoop. Daarna was hy vir ’n paar jaar saam met sy twee seuns in ’n onderneming betrokke.

Barend is 43 jaar getroud met Annalene en hulle het twee seuns, Barry en Albert, vyf kleinseuns en een kleindogter. My ontbytafspraak met hom eindig terwyl middagete se nagereg al rondom ons bedien word.

Ons groet en twee Barend la Grange-wyshede bly in my kop draai: “Op vyf-en-sestig kan ek seker in ’n huisie by die see sit, tee drink met vriende en gholf speel, maar ek het net hierdie een lewe” en “as jy die ekonomie wil lig, lig jou sitvlak”.

Meer oor:  Barend La Grange  |  Sake  |  Skildery  |  Profiel  |  Finansies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.