Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Nuwe ATKV-baas: Afrikaans kán nie eksklusief wees
Deidre Le Hanie, nuwe besturende direkteur van die ATKV, het wye ervaring in die korporatiewe wêreld.Foto: Cornél van Heerden

Die ATKV se nuwe grootbaas is ’n vrou wat weet van swaarkry, deurdruk en naam maak in die sakewêreld. Gert van der Westhuizen het met haar gesels oor haar planne vir Afrikaans.

Ja, erken Deidre le Hanie laggend, sy is die eerste vrou wat die ATKV se besturende direkteur gaan word sedert dié organisasie se stigting in 1930. “Dit gaan ’n ander dinamika bring,” sê sy.

Op 1 April neem sy die leisels oor by Japie Gouws, wat agt jaar in dié pos was. “Ek kan nie wag om te begin nie,” sê sy. “Dit is ’n uitstekende platform van waar ek my ideale en drome kan uitlewe.”

Le Hanie (53) is die ma van twee volwasse kinders en ’n veteraan in die korporatiewe wêreld. Sy was vier jaar lank eers die finansiële direkteur en toe langer as tien jaar die besturende direkteur van ’n IT-onderneming.

“Maar ek het nog altyd hierdie krapperigheid in my gehad. Ek weet dit is ’n cliché, want almal sê hulle wil ’n verskil maak, maar ek wou régtig ’n verskil maak.”

Sy was in Umhlanga met vakansie – “en ek het net opgepak, want ek was verveeld” – toe iemand van ’n personeelagentskap haar bel: “Deidre, ons het hierdie pos by die ATKV. Hoe’s jou Afrikaans?”

Hulle het toe vir haar die ATKV se jaarverslag en die posbeskrywing gestuur “en toe ek daardie jaarverslag lees, toe práát dit met my. Ek het net in my hart geweet ek sal graag daar wil werk”.

Dis nie ’n maklike tyd om by die ATKV te begin werk nie. Afrikaans is tans ’n politieke brandpunt. “Ek stem saam met die ATKV se visie wat inklusiwiteit betref. Ek dink daar is baie Afrikaanssprekendes en mense wat groot waardering het vir Afrikaans wat graag betrokke wil raak by hierdie ongelooflike projekte wat hulle aanpak. Ek glo die ATKV se visie en strategie wat dit betref, is die regte een. Ek dink nie jy kan meer vandag ’n eksklusiewe omgewing bou nie, want dit gaan net vir jou ander politieke probleme veroorsaak.”

Deidre le Hanie, nuwe besturende direkteur van die ATKV, kan nie wag om met haar nuwe werk te begin nie.Foto: Cornél van Heerden
Deidre, ons het hierdie pos by die ATKV. Hoe’s jou Afrikaans?

Eerder inklusief

Dit is gepas dat ons op hierdie warm herfsmiddag in ’n pizzaplek aan die Wes-Rand gesels, want Le Hanie is in hierdie wêreld gebore en getoë. “Ek is in my ouma se huis in Madelinestraat in Florida gebore,” vertel sy.

Ons praat oor die verdeeldheid in Afrikanergeledere met verskeie organisasies en standpunte wat van regs tot links op die politieke spektrum wissel. Kan dié verskillende pole byeengebring word?

“Ek glo dit moet baie sensitief benader word, want die ATKV is nie ’n politieke omgewing nie. Ons moet dit tot elke prys bewaar omdat dit ons in staat stel om die nodige en positiewe invloed te kan uitoefen. Die ATKV is nie polities van aard nie, maar daar is beslis gebiede waar samewerking moontlik is.

“Ek het juis onlangs ’n televisieprogram gekyk waarin verskillende organisasies hande vat om ’n beter omgewing vir Afrikaans te skep. Ek glo daar is baie werk wat ’n mens nog kan doen, en glo ek kan ’n bydrae lewer. Ek is lief vir mense en ek gee om vir mense, en hou daarvan om ’n verskil te maak. As ’n mens hande kan vat om ’n verskil ten goede te maak, is ek ten gunste daarvan. Ek sal enigiets ondersteun wat ten goede van die erfenis en uitbreiding van Afrikaans is.

“Ek dink dit is moontlik om verskillende groepe by mekaar uit te bring as respek die grondslag van samewerking is. Ek voel verskriklik sterk oor respek en ek glo as daar respek is, kan jy twee pole bymekaarbring sonder dat een voel jy het iets van hom weggeneem.”

Daar is nog ander uitdagings ook.

“Daar is soveel mense wat nie weet waaroor die ATKV gaan nie, Afrikaners wat nie weet van die goeie werk wat die ATKV doen nie. Ons moet ons werk onder hulle bevorder, ook onder mense wat dalk nie Afrikaans is nie, maar respek vir Afrikaans het.

“Ons moet hulle laat besef hoe wonderlik die Afrikaanse kultuur is en hoe wonderlik en standvastig daardie omgewing is. As ’n mens regtig kan uitgaan en al daai mense probeer bereik, sal daar net meer finansiering wees om die ATKV se werk te doen.

“Finansiering moet nooit gekoppel wees aan ’n politieke mandaat nie. Dit moet slegs die erfenis van Suid-Afrika en Afrikaans bevorder.”

Le Hanie wil alle mense betrek wat lief is vir Afrikaans; oor kleurgrense heen en selfs diegene wat dit as ’n tweede taal praat en re­spek en waardering daarvoor het. Sy wil verder toesien dat jongmense wat aan ATKV-projekte deelneem ná skool en universiteit betrokke bly.

“Daar word soveel kennis opgedoen en studente kan betrokke raak om weer aan gemeenskappe terug te gee. Ek sal graag wil kyk hoe ’n mens hulle kan betrek; ons kan nie hul talente verloor nie.”

Le Hanie is bekommerd oor die aanslag op Afrikaans as tersiêre onderrigtaal. “Ek glo almal het die reg om in hul moedertaal onderrig te word. Dit gaan nie net oor Afrikaans nie, maar oor al 11 ons tale.”

Die ATKV is nie ’n politieke omgewing nie, sê Deidre le Hanie, dié organisasie se nuwe besturende direkteur. Foto: Cornél van Heerden

Geen hierjy-organisasietjie

Die ATKV, ’n organisasie wat luidens sy webwerf gestig is “sodat mense die lekkerte van Afrikaans-wees met mekaar” kan deel, is geen hierjy-organisasietjie nie. “Vandag is dit dié Afrikaanse kultuurtuiste,” spog die webwerf, “met ongeveer 70 000 hooflede en 30 kultuurprojekte per jaar wat bykans 55 000 inskrywings genereer en meer as 220 000 mense regstreeks betrek!”

Dit is ’n “moderne voorlopermaatskappy” wat onder meer sewe vakansieoorde besit en “regkry om op ’n volhoubare wyse sosiale en ekonomiese vooruitgang te kweek en sodoende te verseker dat die Afrikaanse lewende erfenis uitgebou en bewaar word”.

Dit is dus geen geringe uitdaging nie. Maar Le Hanie hou van uitdagings.

“Ek het geweet van die ATKV en dat hy die oorde en verskeie projekte op skoolvlak het en dit is wonderlik. Maar toe lees ek wat hy doen vir die kunste, vir die taal en jongmense, hoe hy meganismes in plek het wat jongmense stimuleer en vir hulle ’n ander sy van die lewe wys en ’n platform vir die ontwikkeling van talent skep. Sy hart en visie is reg en so ook die grondslag waarop hy die besigheid bou en nog altyd gebou het.”

As die Wes-Rand eers in jou bloed is . . .

Le Hanie het ’n Afrikaanse ma en ’n Engelse pa, en het Afrikaans in Roodepoort grootgeword. Vandag woon sy steeds aan die Wes-Rand. “As die Wes-Rand in jou bloed is,” verduidelik sy, “is dit moeilik om te trek”.

Sy het eers op 30-jarige ouderdom deur die werk begin studeer en verskeie sakekursusse gedoen. Toe het sy al lank gewerk (sy het ná skool ’n kursus in sekretariële en administratiewe werk gevolg) en die ma van haar twee kinders, Dean en Rochelle, geword.

Rochelle (vandag 29) het downsindroom. “Toe sy 18 geword het, wou sy ook ’n motor hê. Ek het vir haar gesê: ‘Baby, as jy jou rybewys kry, dan koop ek vir jou ’n motor.’ Sy het toe haar leerlingrybewys én haar rybewys met die eerste probeerslag gekry. Sy het ongelooflike deursettingsvermoë.”

Terwyl sy voltyds gewerk en kinders grootgemaak het, het sy voortdurend studeer. “Ek was 18 jaar by National Data Systems (later Bytes Managed Solutions). Ek het soveel gegroei en geleer. Dit was ’n ongelooflike ondervinding.”

Boonop was sy 25 jaar lid van ’n Christelike sanggroep wat naweke die land vol getoer het.

“Ons het in verskillende kerke oor Suid-Afrika opgetree. Dit was ’n baie verrykende ondervinding. Ons het dit nie gedoen vir finansiële gewin nie, maar omdat ons ’n goeie boodskap wou uitdra.”

Later het sy by ’n mentorskapprogram vir jongmense met leierspotensiaal betrokke geraak. “Ek wou my storie met jongmense deel en hulle motiveer.

“Ek wou hulle vertel dat ek gaan studeer het toe ek twee klein kinders gehad het, en ek het lang ure gewerk en was baie oorsee. As jy hard werk, dan sal dinge vir jou gebeur.”

Die riel!

Benewens die harde werk wat wag, sien Le Hanie na baie ander dinge ook uit. “Dit sal baie lekker wees om deel te word van die Voortrekkermonument se raad, meer te lees en al die ATKV se feeste by te woon.”

Sy beplan juis om die Oesfees dié naweek in Franschhoek saam met haar voorganger by te woon.

Sy gaan ook leer om die riel te dans. “Ek moet hom nog mooi leer doen. Japie was juis so goed daarmee.”

Van der Westhuizen is ’n artikelskrywer vir Netwerk24.

Meer oor:  Atkv  |  Planne  |  Onderhoud  |  Afrikaans  |  Toekoms
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.