Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Nuwe handtekening op 63

Die Bloemfonteinse konseptuele kunstenaar Cecilia Maartens-Van Vuuren het eers nadat  sy 60 geword het en ná haar aftrede haar magnum opus geskep. Sy vertel vir Carla Lewis waarom ouderdom nie mense moet verhinder om hul kreatiewe drome na te streef nie.

Cecilia Maartens-Van Vuuren by haar kunswerk A Presentiment, waarvoor sy as een van die Sasol Nuwe Handtekeninge se topsewe-kunstenaars aangewys is.

Wanneer mense aftree, neem hulle gewoonlik ’n nuwe stokperdjie op om die tyd te verwyl. Hulle restoureer ’n ou motor, leer ’n nuwe instrument speel, koop ’n droogoond en ’n pottebakkerswiel en hou hulself met erdewerk besig.

Cecilia Maartens-Van Vuuren (63) van Bloemfontein het weer voltyds begin studeer. Bygesê, nog voordat sy in 2015 afgetree het, was sy reeds deeltyds besig met haar meestersgraad in skone kunste aan die Universiteit van die Vrystaat terwyl sy as ’n staatsrekeningkundige gewerk het.

Vanjaar het sy graad gevang, en die kersie op die koek was om vandeesmaand as een van die Sasol Nuwe Handtekeninge se topsewe-kunstenaars aangewys te geword het.

Die kompetisie is een van Suid-Afrika se gesaghebbendste en oudste kunspryse en dien in sy 30 jaar van bestaan as ’n lanseerblad vir menige jong kontemporêre kunstenaar se loopbaan. Tog is daar nie ’n ouderdomsbeperking nie, al is die ander ses wenners almal in hul 20’s. Al voorvereiste is dat jy ouer as 18 moet wees, ’n Suid-Afrikaanse burger en nog nie jou eie solo-uitstalling buite ’n akademiese konteks mag gehou het nie.

“Ek was van jongs af lief vir kuns en kultuur, ek het geteken en met waterverf geskilder,” vertel sy.

Maar net soos met haar kunswerk A Presentiment, wat uit tientalle rankende wortelstokke bestaan, het Cecilia se lewe eers ’n paar verskillende rigtings ingeslaan voordat sy haar roeping as skeppende kunstenaar op ’n professionele en akademiese vlak kon uitleef.

Nooit te oud om te leer

In ’n samelewing wat ’n groot premie op jeug en “wonderkinders” plaas en die media vol lysies van “30 supersuksesvolle jong mense onder 30 jaar” is, voel dit soms asof jy jou vervaldatum bereik het as jy nie iets buitengewoons voor jou 30ste verjaardag gedoen het nie.

Tog dink ’n mens dan net aan doyennes soos die modeontwerper Vivienne Westwood en die aktrise Judi Dench wat die piek van hul loopbaan eers ná 50 jaar bereik het. Hoe dink sy het haar eie lewenservaring tot nou toe bygedra tot haar kreatiwiteit en skeppingsproses?

“Om betekenisvolle kuns te skep is harde werk,” erken sy. “Ek glo dit moet diep uit die hart uit kom. Ek dink wanneer jy moeilike omstandighede in jou lewe moet trotseer, jy ’n lewensuitkyk met groter empatie en begrip vir jou eie én ander se feilbaarheid ontwikkel. Daarmee saam het my geloof en deursettingsvermoë net verder gegroei.

“Omdat ’n mens onbewustelik baie van jouself gee tydens die skeppingsproses, glo ek dat meer lewenservaring onwillekeurig sigbaar raak in die kunswerk. My geestelike standpunte is nou ook al meer gevorm en ek kan ook nou meer vreemdsoortige sienings en kritiek objektief absorbeer en verteer.”

A Presentiment bestaan uit ’n versameling wortelstokke of risome wat in ’n kegelvormige struktuur van die dak af sweef.

Haar kunswerk wat haar ’n merieteprys en R10 000 by die Sasol Nuwe Handtekeninge-kunskompetisie besorg het, is getiteld A Presentiment, in Afrikaans “ ’n voorgevoel”.

Die installasiekunswerk bestaan uit ’n klomp wortelstokke of risome, wat in ’n kegelvormige struktuur vanaf die dak hang. Dit lyk soos ’n swerm organiese knoetse vasgevang in ’n ewige swewende toestand.

“Wortelstokke, met hul aweregse manier van groei, is ’n gepaste metafoor om die spontane, toevallige verbindings tussen ’n mens se gedagtes, herinneringe, emosies en ervarings in my kuns uit te druk,” verduidelik sy.

Haar werke put inspirasie uit die denke van die Franse filosoof Gilles Deleuze, asook Félix Guattari, ’n Franse psigoanalis en politieke aktivis.

“Deleuze en Guattari het die wortelstok as ’n gedagtebeeld aangewend, juis as gevolg van die spontane en soms lukrake groeipatrone. Dit vang die veelvuldigheid van ons denkpatrone vas en laat ruimte vir verskeie begin- en eindpunte, sonder om ’n hiërargie te skep.

“Die beginsel van interaksie binne ’n struktuur, sonder enige hiërargie, beklemtoon konstante kreatiewe beweging en verandering, waar nuwe paaie en verbindings gevorm word. Die funksies van die wortelstokke is ook ’n analogie vir die strukture en dinamika van die senuweeselle in ons brein.”

Haar idee om wortelstokke as ’n medium in haar kunswerk te gebruik was heel toevallig – haar buurman het gekla dat die reuseriete in haar agtertuin besig is om na sy eiendom oor te kruip. “Ek moes die wortels uitspit, maar in die proses ontdek ek die ongelooflikste wortelstokke wat in alle rigtings groei. Hulle het gedraai en gekrul en gerank en ’n ingewikkelde netwerk gevorm. Toe begin ek éérs te spit!

“Ek het besluit om die klein wonderwerkies in ’n kunswerk te gebruik om vir mense ’n metaforiese kykie te gee na hoe nuwe weë geskep word (somtyds met moeite!)

“Die groeiproses van die wortelstokke is ook ’n analogie vir ’n mens se lewe, wat verweef is in multidimensionele omgewings.” Die kunswerk spreek tot die verloop van die lewe, soos ons nuwe verhoudings en perspektiewe vorm en die toekoms aandurf.”

Die kegelvorm van die kunswerk verwys na die denke van die Franse filosoof en Nobelprys­wenner Henri Bergson se “geheuekegelkonsep”.

“Bergson gebruik ’n kegelvorm om die proses te verduidelik. Jy maak deur jou lewe herinneringe bymekaar, wat die breë deel van die kegel opmaak. Dit word dan in die hede geaktualiseer deur jou intuïsie, wat deur die nou gedeelte en die spits van die kegel verteenwoordig word. Ek het doelbewus die vorm van Bergson se geheuekegel gebruik. Dit verteenwoordig ’n mens se lewe wat ineengestrengel met die natuur en hul omgewing is. Die knoetse en knobbels vir die wortelstokke verteenwoordig die pyn en terugslae van die lewe.”

Haar geloof is ook vir haar baie belangrik en sy het dit in haar kunswerk ingebring.

“Daar is ook ’n verwysing na Genesis 3:19: ‘Net deur harde werk sal jy kan eet, totdat jy terugkeer na die aarde toe, want daaruit is jy geneem. Stof is jy, en jy sal weer stof word.’

“Die aarde het ons gevorm en ons sal ook terugkeer aarde toe, wanneer ons biologiese bestaan tot ’n einde kom.”

Cornelia Parker se Cold Dark Matter: An Exploded View (1991) het Maartens-Van Vuuren geïnspireer om installasiekuns te skep.

Knoetse en kinkels van die lewe

Hoe eindig ’n konseptuele kunstenaar soos sy op in die staatsdiens, as ’n staatsrekeningkundige?

“Dis ’n lang storie,” vertel sy. Haar beroepskeuses was meer ’n verloop van die lewe se omstandighede as ’n besliste besluit om ’n rekeningkundige te word.

“Benewens my passie vir musiek en kuns het ek ook ’n aanleg vir wiskunde gehad. Ek wou graag ’n onderwyser word. Die skoolberoepsvoorligter het voorgestel ek studeer BSc, ‘omdat ’n wiskundeonderwyser altyd van werk verseker sou wees’.”

Sy het egter gou agtergekom fisika, chemie en wiskunde laat nie haar hart sing nie. Daarna het sy by Lydenburg se biblioteekdienste begin werk. Plan B was om ’n BMus-graad deeltyds aan te pak, maar ongelukkig was daar niemand op die dorp wat beskikbaar was om haar met praktiese instrument-opleiding te begelei nie.

“Ek studeer toe maar BA met sielkunde en Afrikaans as hoofvakke by Unisa, terwyl ek klavierbegeleiding kon doen vir ’n bariton wat hom in daardie stadium in Lydenburg bevind het.”

In 1983 word sy as ’n musiekonderwyseres aangestel by die Hoërskool Chris van Niekerk in Vredefort in die Vrystaat.

“Dié twee jaar was ’n hoogtepunt in my lewe. Hier het my liefde vir kuns herontwaak. Ek het vir die eerste keer met olieverf begin skilder. Ek was 25 jaar oud.”

Sy het ook toe haar man ontmoet. “Ek moes in 1985 bedank nadat ek swanger geword het, omdat vroue destyds nie kraamverlof kon neem nie.” In dié tyd het sy haar liefde vir skilder uitgeleef en kunslesse by ’n voormalige Potchefstroomse kunslektor, Joy Rousseau, geneem. “Joy het my baie geleer; sy was vir my ’n groot inspirasie.”

In 1988 trek hul gesin Bloemfontein toe toe haar man ’n bevordering kry.

“Ons kon egter nie ons huis verkoop kry nie en weens die finansiële druk moes ek weer begin werk. Ek is by die Vrystaat se provinsiale administrasie as administratiewe beampte aangestel. Later is ek bevorder na staatsrekenmeester weens my bewese rekenkundige vaardig­- heid . . . derhalwe meer die verloop van die lewe as ’n definitiewe besluit. Ek beoefen wel sedert 1985 skilderkuns as ’n stokperdjie.”

Terwyl Cecilia syfers en boeke vir die staat laat klop het, het sy ook deeltyds begin studeer. In 2010 registreer sy vir ’n diploma in die skone kunste by Unisa, wat sy in 2011 voltooi, en in 2013 begin sy deeltyds om haar meestersgraad in skone kunste by die Universiteit van die Vrystaat te voltooi. In 2015 tree sy af en begin voltyds aan haar meestersgraad te werk.

Met haar vroeër werke het sy meer tradisionele mediums soos olie op doek en gemengde media-collages verkies, maar in haar meestergraadstudies kry sy die eerste keer te doen met konseptuele kuns, spesifiek die werke van die Britse beeldhou- en installasiekunstenaar Cornelia Parker. “Cold Dark Matter: An Exploded View het my geïnspireer om installasiekuns te skep.”

Die kunswerk bevat die oorblyfsels van ’n tuinskuur wat op versoek van Parker deur die Britse weermag opgeblaas is. Sy het die oorblywende skrapnel gebruik om ’n installasiekunswerk te skep, met stukke van die skuur en sy inhoud wat van ’n dak afhang, asof die stuk steeds vasgevang is in die oomblik van ontploffing.

Mense hunker dikwels om te skep en ’n kreatiewe lewe te lei. Maar dan is daar daardie stemmetjie van selftwyfel, wat die heeltyd fluister: “Jy is nie goed genoeg nie. Jy is nie talentvol genoeg nie.” Hoe gaan sy te werk om daardie stemmetjie stil te maak?

“Dis waar, ja! Jy voer dikwels ’n stryd teen daardie stemmetjie wat jou van minderwaardigheid of jou eie onbekwaamheid aankla! Ek het geleer om myself te herinner dat ek na die beeld van ’n wonderlike, liefdevolle en kreatiewe God geskape is.

“Daarom glo ek kreatiwiteit is deel van my menswees en dat ek en elkeen anders dit mag uitleef in ons alledaagse lewe. Ek het ook geleer om dankbaar te wees en geleenthede – hóé klein hulle ook al mag wees – wat oor my pad kom te benut om mý kreatiwiteit uit te leef. Só kan ek groei tot die volle potensiaal waaroor ek beskik. Ek is geseën met ’n gesin wat my aanmoedig en ondersteun. Sonder hulle sou dit moeiliker wees om my droom uit te leef.

“As ek vir ander raad kan gee, sal dit wees om hulself nooit met ander mense te vergelyk nie. Jy ís uniek! Maak of skep iets wat eie is aan jou. Geniet dit en as jý daarvan hou, is dit goed genoeg.

“Elke kunswerk hoef nie noodwendig ’n meesterstuk te wees nie, maar dit kan ’n trappie nader aan jou volgende meesterstuk wees.

“Maak tyd om te skep, dit is terapeuties. Moenie toelaat dat daardie kreatiewe vlammetjie geblus word nie. Met die geboorte van ons laatlammetjie in 1997 het ek finaal besef dat my plan om my eie kreatiwiteit eers uit te leef as my kinders uit die hande is, nutteloos is. My laaste gedagte is dus: Moenie uitstel nie – leef nóú voluit.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.