Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Nuwe IVP-leier: ‘God het my begunstig’

Die nuwe leier van die IVP, Velenkosini Hlabisa, sal moet bewys dat hy nie jabroer is nie. Willemien Brümmer het met hom gesels.

Die nuwe leier van die IVP, Velenkosini Hlabisa, sal aldus sommige kenners moet bewys dat hy die IVP na ’n moderne era kan lei waar nasionale belang belangriker is as etniese belange. Foto: Verskaf

“God het my begunstig, laat my dit net só stel,” sê VK, of Velenkosini Hlabisa, die nuutverkose leier van die Inkatha-Vryheidsparty.

Hy antwoord die vraag of daar al ooit laagtepunte was in sy loopbaan gemaklik; asof dit vanselfsprekend is dat hy die 91-jarige prins Mangosuthu Buthelezi se gesalfde sou wees. Want volgens dié voormalige skoolhoof was hy “nog altyd ’n suksesstorie”, maak nie saak waar hy “geplaas is om te lei nie”.

As slegs die tweede leier in die geskiedenis van die IVP het hy geen maklike taak nie. Die doemprofete, soos Xolani Dube van die Xubera-instituut vir Navorsing en Ontwikkeling, het nie veel hoop vir hom nie: “Wanneer ook al diktators soos Mangosuthu Buthelezi uit hul amp tree, los hulle ’n nul op ’n rekwes soos Hlabisa, wat beheer word agter die skerms,” het hy gesê ná Hlabisa se verkiesingskonferensie.

Jan-Jan Joubert, politieke joernalis en skrywer, reken egter elke politikus moet eers die kans gegun word om homself bewys. “Hy het ’n baie lang politieke loopbaan,” sê Joubert. “Geen politiek is ooit heeltemal voorspelbaar nie en vir enige politieke party is verandering van leier traumaties. Die IVP is reeds sedert 2016 in ’n opwaartse kurwe en as hy op die sterk punte wat hulle van die ANC onderskei, voortbou, dan kan dit met hom goed gaan.”

‘Godsdiens is hoe ek oorleef’

Hlabisa in die wit klere van die kerk van die Nasireërs waarvan hy ’n toegewyde lid is. Dié kerk staan ook bekend as die Shembe-kerk. Foto: Verskaf

Maar wie is die man wat al sedert hy 13 jaar oud is aan die IVP behoort en wat oorneem by een van die mees charismatiese dog omstrede leiers in ons land se geskiedenis?

Aangesien hy gebaseer is in sy geboortedorp, Hlabisa in KwaZulu-Natal, gesels ons oor die telefoon.

Hy is innemend en beleefd en praat met gesag. Dié 54-jarige pa van vier wat 24 jaar lank eers raadslid en toe burgemeester van Hlabisa was.

Anders as sy voorganger, wat as die seun van hoofman Mathole Buthelezi en prinses Magogo ka Dinuzulu grootgeword het, het hy as kind geleer wat armoede is.

“My ma, Thembani, was haar hele lewe lank ’n huisvrou en my pa, David, was dikwels werkloos. Ek was die oudste van tien kinders en dit was ’n moeilike lewe.”

Hoewel hy van die Hlabisa-stam is wat in dié gebied regeer, was sy pa nie ’n inkosi (hoofman) nie.

“Daar was tye dat ons gaan slaap het sonder dat ons kos gehad het om te eet. Die een ding wat ek egter in my lewe besluit het, was dat ek nie sou toelaat dat armoede my toekoms bepaal nie, want ek het nie gekies om in ’n arm familie gebore te word nie, maar ek kan wel kies om nie te sterf in ’n arm familie nie.”

Ten spyte van hul armoede was opvoeding altyd vir sy pa ’n prioriteit en hy het reeds vroeg Inkatha se leuse begin omarm: “Opvoeding voor bevryding”.

Hy is van jongs af baie godsdienstig as ’n aanhanger van die Shembe-godsdiens.

Reeds in 1978, drie jaar nadat die kulturele bevrydingsbeweging Inkatha deur Buthelezi herstig is, sluit hy by dié beweging aan.

Hy word die voorsitter van Inkatha se jeugtak nadat ’n onderwyseres, juffrou Shembe, een oggend uit die bloute vir hom gesê het daar sal ná middagete ’n vergadering van die jeugtak wees en dat hy daar as voorsitter verkies sou word. “Sy het my omgepraat om dit te aanvaar en ek het dit aanvaar. Van toe af tot vandag toe is ek in ’n posisie geplaas om te lei.”

Hy is van jongs af baie godsdienstig as ’n aanhanger van die Shembe-godsdiens – ’n kombinasie van Zoeloe-kultuur en die Christendom wat gebaseer is op die ou testament van die Bybel. “Godsdiens is hoe ek oorleef,” sê hy. “Indien ek nie my lewe aan God gewy het nie, sou ek nie hierdie dag gesien het nie.”

‘God help altyd sy mense’

Hlabisa trou op 23 Maart verlede jaar met sy vrou, Thandeka. Foto: Verskaf

Die beroep wat hy vir die langste tyd in sy lewe beklee is dié van prinsipaal. Nadat hy onderwyser was by die Ngebeza High School in Hlabisa en die Nomathiya Technical High School in Mtubatuba, keer hy terug na die skool waar hy sy st. 6 en st. 7 behaal het, die Somfula High School in Hlabisa. Sy tyd as prinsipaal (1997 tot 2016) was volgens hom ’n uitstekende politieke leerskool.

“Ek het geleer as jy as ’n span werk, sal jy altyd sukses hê, maar as jy as individu optree is die kanse goed dat jy altyd sal misluk. Die skool het meer as ’n duisend leerlinge gehad en dit was my taak om orde en stabiliteit te handhaaf. Ek het nooit ’n staking of ’n opstand beleef terwyl ek daar was nie. Die rede vir die stabiliteit was omdat ek geleer het om met mense van verskillende ouderdomme te werk.”

Sy stem is trots. “Ek het by die skool aangekom toe dit nog ’n klein skool was en toe ek weg is, was dit ’n kompleks. Jy sal verstaan ’n kompleks is iets baie groter as wat ’n mens ooit sou gedink het is moontlik in ’n diep plattelandse gebied. Die vorige prinsipaal was ’n ou man wat vir meer as 40 jaar hoof was. Mense het getwyfel of ek (hy was toe 32) die skoene kon volstaan van ’n ou man. Maar God help altyd sy mense.”

In Buthelezi se skaduwee?

Hlabisa saam met prins Mangosuthu Buthelezi, die stigter van die IVP wat dié party vir 45 jaar gelei het. Hlabisa is uitgesoek deur Buthelezi, saam met wie hy vir baie jare skouer aan skouer gewerk het. Foto: Verskaf

Hy word reeds in 1995 ’n deeltydse raadslid – totdat hy in 2016 as skoolhoof bedank toe hy die burgemeester van die Big Five Hlabisa-munisipaliteit word.

In dié tyd beklee hy verskeie posisies in die IVP, onder meer as leier van die jeugbrigade, sekretaris van die IVP in sy hartland, KwaZulu-Natal, en later as sekretaris-generaal van dié party. Hy is tans die leier van die amptelike opposisie in die KwaZulu-Natalse wetgewer.

Hy is diplomaties oor of hy die IVP sal kan lei sonder om in die skadu te leef van Buthelezi, wat dié party 44 jaar lank letterlik gedomineer het. Laasgenoemde het op die party se verkiesingskonferensie “emeritus-president” geword.

“Ek het baie van Buthelezi geleer terwyl ek hom gedurende al hierdie jare gevolg het. Die kennis en vaardighede wat ek só verwerf het, is genoeg dat ek nou in sy skoene kan staan. Daar sal nie so iets wees soos sy skadu nie want ek het skouer aan skouer saam met hom gewerk as die sekretaris-generaal van die organisasie. Hy het uit sy eie aangedui dat hy uittree uit die aktiewe politiek, maar dat hy beskikbaar sal wees vir steun en advies, wat ’n normale ding is in organisasies.”

Die salwing van ’n leier?

Hlabisa in die IVP se koukuskantoor in die Nasionale Vergadering gedurende die staatsrede vanjaar op 20 Junie. Foto: Verskaf

Hy stem glad nie saam dat die IVP veral op etniese belange fokus nie. Só skryf die historikus Shelagh Gastrow dat Buthelezi se “stamgebonde lojaliteite en sy fokus op etniese belange bo nasionale eenheid” gelei het tot ’n amperse burgeroorlog tussen sy getroue onderdane en ANC-lede in KwaZulu-Natal gedurende die oorgangsjare. Die dodetal was meer as 15 000 mense.

Sy stem is heftig. “Daardie persepsie is deur die media en deur die mededingers van die IVP geskep, want hulle wil ’n wanvoorstelling gee van die IVP. Die nuwe uitvoerende komitee het by ons eerste vergadering besluit ons prioriteit moet wees om die IVP se voetspoor uit te brei sodat ons nie meestal beperk is tot KwaZulu-Natal en Gauteng nie. Indien jy na die 2019-verkiesingsresultate gaan kyk, sal jy sien ons het stemme gekry in al nege provinsies.”

Hy skep asem. “Die IVP werk aktief daaraan om die politieke debat in Suid-Afrika te verander. Terwyl ons beweeg na 2021 sal ons ’n program uitrol wat ons in staat sal stel om meer munisipaliteite onder ons beheer te hê en meer wyke en meer raadslede regoor Suid-Afrika en meer lede in die parlement in 2024 en in alle wetgewers oor die hele land.”

En nee, sê hy, Buthelezi sal beslis nie sy marionettemeester wees nie. 'Hy sal nie inmeng met my bestuur en leierskap van die party nie want hy het bewustelik besluit om nie weer as president te staan nie en om iemand nuut te verkies.'

Is hy ten gunste van modernisering in die party?

“Dis jammer as jy gekluister is in Kaapstad en jy nog nie die steun van gewone mense gesien het vir die party nie. Jy sal die mees moderne mense in die IVP vind. Daar is geen klas wat jy nie in die IVP sal vind nie en geen beroep wat jy nie in die IVP sal vind nie. Xolani Dube van die Xubera-instituut is een van die mense wat steeds vashou aan die idee dat die IVP ’n party is vir oumense. Indien jy na enige video kyk van ’n massabyeenkoms of ’n vergadering sal jy sien dat die meerderheid jongmense is.”

Hy is ewe heftig oor Dube se stelling dat daar geen demokratiese leiersverkiesing was nie maar die salwing van ’n leier wat met die hand uitverkies is.

“Mnr. Dube hou glad nie van die IVP nie, so hy sal niks goeds sê oor dié party nie. Die konferensie het baie glad verloop, iets wat nie deesdae algemeen voorkom nie. Deesdae wanneer daar ’n konferensie is, weet jy daar sal altyd ’n bakleiery wees, stoele sal rondgegooi word, daar sal hofgedinge wees en mense sal die verkose leierskap betwis.”

Hy sê die leierskap van die IVP het sedert 2017, toe hy genomineer is as die volgende president, vasberade gebly dat hulle slegs sy naam sou steun.

En nee, sê hy, Buthelezi sal beslis nie sy marionettemeester wees nie. “Hy sal nie inmeng met my bestuur en leierskap van die party nie want hy het bewustelik besluit om nie weer as president te staan nie en om iemand nuut te verkies.”

Die hoogtepunt van sy politieke loopbaan

Hy is nie skaam om sy eie beuel te blaas nie. Of dalk is dit iets wat sy beroep van jou vereis – dat jy in jouself moet glo sodat die kiesers in jou kan glo.

“Ek het ’n kritieke rol daarin gespeel om die IVP weer op die been te kry en om tussenverkiesings te wen en later om meer munisipaliteite te wen in 2016. Ek was aan die kern van die strategie om die IVP te laat groei om weereens ’n magtige organisasie te word. Ek was ook die bevelvoerder van die verkiesingsveldtog vir die Nquthu-tussenverkiesing (op 24 Mei 2017). Onthou jy die Nquthu tussenverkiesing toe ons die ANC fluit-fluit geklop het en selfs die topses van die ANC soontoe gekom het om stemme te werf teen die IVP?

“Dit was die hoogtepunt van my politieke loopbaan – dit sowel as die IVP se groei in die 2019- algemene verkiesing. Ek en prins Buthelezi het skouer aan skouer gewerk op ’n byna daaglikse basis en ons het dinge omgekeer.”

Sy stem is trots. Dié politikus wat vir die land sal moet bewys dat hy nie ’n ja-broer is nie. “Soos ek gesê het, ek is begunstig deur God en waar ook al hy my geplaas het, was ek in staat daartoe om groot dinge te bereik.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.