Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Nuwe mediese leier vir ’n 'moeilike tyd'

Die Covid-19-pandemie vereis ’n nuwe soort leierskap in die mediese wêreld, sê die internasionale baanbreker in oorplantingchirurgie, prof. Elmi Muller, aan Murray La Vita. Sy is pas as dekaan van die Universiteit Stellenbosch (US) se mediese fakulteit aangewys.

Prof. Elmi Muller voor een van die ou skilderye in die Groote Schuur-hospitaal. Foto: Jaco Marais

Aan die einde van die onderhoud met Muller weet ek: Sy hou van Friends. Sy lag gereeld. Tegnologie maak haar opgewonde (sy is lief vir ’n gadget). Sy het selfvertroue. Sy kan vinnig besluite neem. Sy is ’n ekstrovert. Sy het grysgroen oë.

En dat sy tot twee-uur die oggend van ons onderhoud nog in die Rooikruis-kinderhospitaal was, waar sy twee nieroorplantings gedoen het.

Muller ontvang ons voor die ou Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad, waar sy hoof is van sowel die algemene chirurgie-afdeling as die oorplantingseenheid. Sy is die eerste vrou wat die leerstoel in chirurgie aan die Universiteit van Kaapstad (UK) beklee.

En sy is pas as die eerste vrouedekaan van die fakulteit geneeskunde en gesondheidswetenskappe aan die US aangewys. Sy neem in Januarie by prof. Jimmy Volmink oor.

Toe ek begin studeer het, het ek nie chirurgie oorweeg nie.

Hierdie “eerstes” is nie deel van ons onderhoud nie en kom later (amper terloops en as ’n nagedagte) ter sprake wanneer foto’s geneem word by ’n skildery van mans wat oor ’n pasiënt op ’n operasietafel gebuk staan.

Op pad na haar kantoor loop ons in gange wat ook deur die hartoorplantingspionier prof. Chris Barnard bewandel is.

Muller is in eie reg ’n oorplantingspionier – sy het die eerste nieroorplantings van een MIV-positiewe mens op ’n ander in die wêreld gedoen.

Medikus en esteet

Te oordeel na die lieflike kunswerke van onder andere Manfred Zylla en Ingrid Winterbach, en die modernistiese meubels in haar kantoor, is Muller benewens top-medikus ’n esteet. Haar elegante en onderbeklemtoonde uitrusting (swart romp, trui en Penny loafers) en die art deco-borsspeld op die lapel van haar roomkleurige baadjie, spreek ook daarvan. Dit is ’n geskenk van haar man, die skrywer en akademikus prof. Stephanus Muller, wat aan die US direkteur van Africa Open, die instituut vir musiek, navorsing en innovasie in die fakulteit lettere en sosiale wetenskappe is.

“Toe ek begin studeer het, het ek nie chirurgie oorweeg nie; ek was nie in my hart ’n chirurg nie. Ek het altyd gedink ek sal dalk ’n internis word. So, ek was nie geïnspireer deur chirurgie as ’n vak nie, dit was eers later in my lewe dat ek agtergekom het ek geniet dit eintlik baie,” sê Muller.

Muller voor ’n kunswerk van Ingrid Winterbach. Foto: Jaco Marais

Sy het in Vereeniging grootgeword en aanvanklik aan die Universiteit van Pretoria (UP) studeer.

“Ek het medies maar basies gekies uit ’n baie idealistiese perspektief van wat ’n dokter moet wees. Ek het gehou van ménse. Ek het daarvan gehou om met mense te werk. Die idee om met mense te doen te hê was vir my aantreklik en ek dink dít was maar wat my in medies ingedruk het.”

‘Ongelooflik hiërargies’

Baie is al gedoen om “die negatiewe tipering van hoe ’n chirurg is” te verander.

“Daar is mense wat dink chirurge het nie ’n lewe buite hulle werk nie; hulle is só vas aan hulle werk en hulle is ook so ongelooflik hiërargies en ontoeganklik.

“Ons ís dalk in sekere opsigte so, maar in ander opsigte het dinge baie verander en besef mense om ’n goeie chirurg te wees moet jy ook met die pasiënte ’n rapport kan hê, ’n verhouding met die pasiënt kan opbou – jy kán nie net inkom en opereer nie.

Dit is daarom nogal ’n moeilike ding om af te skakel.

“Maar die teater is ’n plek wat ’n tipe hiërargie benodig om te funksioneer. Jy stap daar in en sê: Oukei, nou gaan ek hierdie ding doen, en as iets verkeerd gaan, gaan ek verantwoordelikheid aanvaar; ek gaan dit regmaak; ek gaan dít doen of ek gaan dát doen; ek gaan die besluite neem; ek is in beheer van hierdie proses . . . Dit is daarom nogal ’n moeilike ding om af te skakel.

“My man en my kinders [Willem en Johan] sê partykeer vir my: Kan ek nie net uit chirurgie-mode uitgaan as ek by die huis kom en ophou om vir hulle te sê wat om te doen nie . . . Mens hét ’n bietjie daarvan in die teater, en as jy dit toelaat om oor te spoel, dan kan jy eintlik nogal ’n onaangename mens wees.”

Baanbreker

Toe sy haar op orgaanoorplanting begin toespits het, was een van die dinge wat haar baie gepla het die feit dat daar ’n “absolute no go” ten opsigte MIV-positiewe pasiënte was.

'Ek het daarvan gehou om met mense te werk.' Foto: Jaco Marais

“Ons het nie oorplantings op hulle gedoen nie en hulle het nie dialise ontvang nie. Dit was in 2005-’06. Ek het gedink: Jissie, dit maak nie vir my sin nie, want hierdie pasiënte is só jonk en hulle is eintlik sulke góéie pasiënte – hulle het nie hartversaking nie, hulle het nie diabetes nie, hulle het nie hipertensie nie – en ons keer hulle af by die deur en sê vir hulle: ‘Julle kan niks kry nie.’

“Die ander ding wat my gepla het, is ons het as ’n oorplantingspan dikwels verwysings gekry vir breindood pasiënte en dan sien ons daar is nou ’n goeie pasiënt wat aan al die kriteria voldoen, maar dan vind ons uit die pasiënt is MIV-positief.

“En dis tóé dat ek begin dink het: Hoekom kan ons nie hiérdie organe vir hierdie pasiëntgroep [MIV-positiewe pasiënte] gee nie? Dit was maar net vir my ’n praktiese ding wat gespruit het uit my dag-tot-dag-werk.”

'En dít is wat hierdie pos vir my is – ’n kans om iets nuuts te probeer.' Foto: Jaco Marais

In 2008 het sy die eerste keer so ’n oorplanting gedoen. En mettertyd het die res van die wêreld gevolg. Haar werk het daartoe gelei dat nasionale en internasionale beleid met betrekking tot MIV-pasiënte gewysig word.

En haar leierskapsrol in die Deklarasie van die Istanbul-bestuursgroep “het ’n groot rol daarin gespeel om die vernietigende impak van orgaanhandel wêreldwyd die hoof te bied”.

‘Lekker werk’

Muller het benewens haar mediese grade aan die UP en die UK ’n MBA aan die US se sakeskool behaal. Sy is klaarblyklik ’n uitstekende bestuurder en strateeg.

“Verlede jaar toe die pandemie ons tref, het ek verskriklik hard gewerk om te kyk hoe kan ons die hospitaal se reaksie op die pandemie verbeter en hoe kan ons uit die chirurgie-kant ’n bydrae lewer, want tradisioneel is hierdie soort ding iets wat deur die mediese mense en die interniste gedoen word.

“Ek het dit baie geniet. Ek vind dit baie innoverend om te werk met sisteme en met tegnologie en digitale goeters. Dit was net vir my lekker om dit te doen.

“Uit ’n mediese oogpunt is ons besig om op verskillende maniere beter te raak in ons hantering van die pandemie. Ons is besig om deur die inentings en hoe ons dit voorkom, al hoe beter te vaar, maar ons is ook besig om op ’n kleiner skaal in hospitale beter georganiseer te wees en beter te beplan en ’n prioritisering te doen van ons verskillende hulpmiddels.”

Buigsaamheid

Die moeilike en onvoorspelbare tyd waarin ons is, vereis “’n sekere soort leierskap wat ek voel ék op die oomblik doen”.

'Ek dink jy kry twee soorte mense – dié wat heel tyd iets nuuts soek, en dié wat vashou aan dít wat hulle ken en het.' Foto: Jaco Marais

“En dít is om te kyk na mense en hulle behoeftes en meer sensitief daarvoor te wees as voorheen. En om in die sisteem vinniger te besluit en te verander. Dít vereis ’n soort buigsaamheid op verskillende vlakke.

“Dit vereis dit verál van ons wat leiding gee in hierdie tyd. Jy móét kan verander, besluite neem, emosioneel ingeskakel wees by die mense saam met wie jy werk – sensitief genoeg wees vir hul behoeftes, maar ook streng genoeg wees om te sê: Hierdie kán en hierdie kan nié.”

Nuwe ruimte

Dit was vir haar ’n moeilike besluit om vir die dekaanspos aan die US aansoek te doen.

“Ek is tot ’n groot mate so geïnvesteer in dit wat ek is as ’n chirurg en op ’n manier veránder hierdie nou my rigting. Ek glo ek sal altyd ’n chirurg bly, maar hierdie pos bied aan my ’n nuwe uitdaging.

“Daar is verskillende redes waarom ek dit wil doen. Ek het in die laaste vyf jaar gesien dat daar sekere goed is wat baie groot hekkies is om te oorkom, maar ek het gevoel in my huidige posisie het ek nie die gereedskap om dit mee te doen nie. Ook die geleenthede om dit te doen en die plék vir my om dit te doen, was nie altyd daar nie.

'Dit is moeilike goed én op ’n manier groot goed, wat ek dink baie meer denke nodig het as dié van één persoon.' Foto: Jaco Marais

“Om op te skuif na ’n posisie soos hierdie gee my daai ruimte. En ek is geïnteresseerd om in daardie ruimte in te gaan. Ek dink dit kan ’n groot verskil maak – nie nét aan pasiënte nie, maar ook aan my kollegas: aan die manier hoe mense opgelei word; aan die manier hoe mense die veld ingestuur word.

“En aan hoe om ’n impak te maak op die breër kontinent in terme van opleiding van meer dokters, navorsingsprojekte en kliniese samewerking. Ook om beurse te kry om studente van Afrika op te lei. So, vir die Universiteit Stellenbosch om ’n vertrekpunt te wees vir die kontinent se kliniese en gesondheidsbehoeftes.”

‘Die pendulum swaai’

Sy praat oor die “groot hekkies”.

“Om die regte balans te hê tussen spesialiste en primêre-sorgdokters – om vir die pasiënt sorg te gee wat allesomvattend is en wat regtig korrék is vir daardie persoon – vereis nogal baie denke. Dit is baie moeilik, want die pendulum swaai altyd van die een kant na die ander kant toe. Aan die een kant het ons tersiêre sorg, high-end goed soos oorplantings; en aan die ander kant het ons primêre sorg. Primêre sorg het dikwels agtergebly – daar is nie genoeg toegang vir pasiënte om daarvan te kry nie.

Dit is moeilike goed én op ’n manier groot goed, wat ek dink baie meer denke nodig het as dié van één persoon.

“’n Mens moet versigtig wees dat jy nie daardie pendulum so erg swaai dat jy basies vir mense op die vloer primêre sorg kan gee, maar dat daar geen modelle is om dit verder te vat nie.

“Neem byvoorbeeld screening vir borskanker: Jy gaan nou rêrig probeer om almal te kry en om hulle vroeg te diagnoseer en te behandel – dít veroorsaak ’n bottelnek na die ander kant toe. As jy meer mense diagnoseer, dan gaan jy meer chirurge nodig hê; meer teatertyd; meer kundigheid; meer radiologie . . .

“Ek voel ek kan ’n verskil maak, want ek verstaan daardie sisteem omdat ek lank aan die kliniese kant gewerk het. En ek is geïnteresseerd om te kyk hoe ’n mens dit kan doen in die konteks van gesondheidsorg mét ons uitdagings, met ons finansiële posisies, met ons bevolking, met die tipe van siektes.

“Dit is moeilike goed én op ’n manier groot goed, wat ek dink baie meer denke nodig het as dié van één persoon.”

Sy meen daar is ook baie nuwe modelle waardeur mediese studente met behulp van tegnologie opgelei kan word.

'Ek dink dit kan ’n groot verskil maak – nie nét aan pasiënte nie, maar ook aan my kollegas.' Foto: Jaco Marais

“Ons wêreld is besig om te verander – mense werk nie meer soos wat hulle 20 jaar gelede gewerk het nie en geneeskunde is aan die voorpunt daarvan. So, ons moet daardie goed nou embrace.

“Ek dink jy kry twee soorte mense – dié wat die heel tyd iets nuuts soek, en dié wat vashou aan dít wat hulle ken en het. Albei daardie ingesteldhede is op verskillende tye waardevol, maar ek is een van die soekers na die nuwe.

“En dít is wat hierdie pos vir my is – ’n kans om iets nuuts te probeer.”

Rolmodel

Wanneer ek haar dan wel uiteindelik daaroor pols dat sy weer ’n “eerste vrou” in ’n mediese pos is – dié keer as dekaan aan die US, sê Muller: “Ek dink vroue sien my as ’n rolmodel en baie van my vriendinne en kollegas voel dit is vir hulle belangrik dat hulle kan sién iemand betree daardie spasie – iemand wat soos hulle dink of optree.

“Ek het my nooit baie toegespits op genderkwessies in my loopbaan nie, hoewel ek hét ’n rol gespeel in die Women in Transplant-werkgroep. In daardie proses het ek agtergekom dat daar so baie vroue is wat op ’n manier nie inpas in die omgewing nie omdat hulle nie tuis voel nie, en ook op ’n manier nie altyd seker is hoe om hulleself te laat geld nie.

“Ek dink daar is so baie sosiale norme wat so natúúrlik is en natuurlik plaasvind, en baie daarvan is histories manlik en as jy die enigste vrou in die omgewing is, dan vóél jy ánders.

“Dit is daardie ánders wat vroue onseker laat voel, en dit geld nie nét vroue nie, dit kan op énige vlak wees – dit kan ’n ras-ding wees; dit kan soms ’n ouderdom-ding wees; dit kan ’n seksuele-oriëntasie-ding wees.

“Dit kan selfs net wees hoe jy lýk. As ek byvoorbeeld instap in ’n vergadering, dink ek aan hoe ek aantrek, want as ek ’n baie opvallende rooi rok dra en ál die mans het pakke aan, dan voel jy uit . . .


Maar ek het nog nooit probeer om ’n man te wees in die manswêreld nie.

“Ek het nog altyd probeer om te wees wie ek is. Ek is ’n vrou; ek het kinders; ek het ’n huis; ek hou van kosmaak; ek hou van my tuin; ek hou van my honde; ek hou daarvan om goeters te doen wat vroue doen . . . Ek hou van Friends.

“So, ek het nog nooit probeer om myself te verander nie, maar ek dink mense kry wel energie daaruit om te sien dat iemand wat net ís wie sy ís, wél bevorder kan word tot daai pos.”

Meer oor:  Groote Schuur  |  Oorplanting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.