Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
O, my huis is in ’n vet tjop; my ma is in Oros

In Haarlem, Nederland, voer ’n Suid-Afrikaanse egpaar oud-Suid-Afrikaners terug na hul wortels deur die reuke en smake van hul kosprodukte, skryf Carla Lewis.

Grafika: Hanlie Malan

Speckled eggs.

“ ’n Karoo-boud. ’n Regte-egte Karoo-lamsboud. Die vleis hier proe laf en bedompig.

“ ’n Woolworths-draaispithoender.”

Die Dockel-gesin in hul aangenome tuisland. Agter is Andreas en Marnella en voor hul kinders, Anne en Paul.

Aan die woord is Marnella Dockel, wat sowat 14 jaar gelede saam met haar man, Andreas Dockel, Sandton verruil het vir Haarlem, Nederland – ’n klein dorpie sowat 20 minute per trein vanaf Amsterdam.

Karin, een van Marnella se vriendinne, verjaar en ons drink soet, pienk JC Le Roux La Fleurette en eet sout-en-asyn Simba-tjips.

Tussen slukke van die pienk vonkelwyn raak Marnella en Karin nostalgies oor al die Suid-Afrikaanse smake en produkte wat hulle die meeste mis.

Die tjips en vonkelwyn herinner jou nogal aan ’n tipiese Suid-Afrikaanse kinderpartytjie; die JC roep herinneringe op van te soet Jannie-verjaar-rooikoeldrank, terwyl die sout en asyn ’n mens se wange laat saamtrek, jou laat dink aan die dae toe jy soveel tjips geëet het totdat jou verhemelte rou geskuur was . . .

En dis juis wat Marnella en Andreas se maatskappy, Kuierkos, vir ekspat Suid-Afrikaners hier in Nederland probeer bied: daardie vlugtige nostalgiese terugblik wat in die letterkunde bekend staan as die Proustiaanse oomblik, ’n verwysing na die Franse skrywer Marcel Proust se boek In Search of Lost Time.

Marnella en Andreas voer Suid-Afrikaanse produkte in en maak droëwors en boerewors as die anemiese Hollandse rookwors nie meer deug nie. Marnella bak en brou ook beskuit, koeksisters en melktert.

Madeleines en Oros

In Proust se boek kuier die verteller by sy tante waar hy ’n koppie tee en ’n madeleine-koekie geniet – ’n sagte, sponsagtige soetkoekie in die vorm van ’n skulp.

Skielik, terwyl hy aan die koekie hap, ervaar hy ’n oomblik van behae, ’n terugflits na wat hy verwys as ’n onbeplande herinnering, die sogenaamde madeleine-ervaring.

So, wat is Suid-Afrikaners se gelyke van ’n madeleine-koekie? Boerewors? Biltong? Melktert?

Dit wissel, vertel Andreas, en beduie na die rak agter hom, volgepak van Suid-Afrikaanse produkte.

“Wat jy hier sien, is basies die produkte wat die gewildste onder Suid-Afrikaanse ekspats is.”

Kan jy jou nou indink, ’n gesondheidsinspekteur daag Saterdagoggend op by die boereworsstalletjie voor Builder’s Warehouse en vra om jou wors se temperatuur te meet?
Andreas Dockel

Dis nie fynproewersprodukte nie. Inteendeel, wat my opval is die eenvoudige smake van baie van die produkte.

Maar dit maak ook sin, want die meeste daarvan is wat “erfenishandelsmerke” genoem word – handelsmerke wat diep in die psige en hart van enige Suid-Afrikaner gekruip het, of jy nou van Kaapstad of Kakamas is.

Die soet-suur krakerigheid van Simba se Mrs. Balls-blatjang-geur tjips. Flings, daardie souterige wolkies van vlugtigheid. Cream Soda, wat proe soos heldergroen borrels en vakansie op ’n warm dag. Oros, wat jou ma aangemaak het in daardie vierkantige plastiekbotteltjies wat saam met die kosblikke verkoop is, waarvan die doppies altyd gelek en jy nog voor die einde van die eerste kwartaal verloor het.

“Mense soek na produkte wat hulle ken en troos. Mense se sin van smaak en reuk is ongelooflik kragtig.

“Een proe, een geur en jy word skielik teruggevoer na ’n sekere oomblik in die verlede.”

Boeries en burokrasie

Dan is daar die Dockels se droëwors en boerewors.

As hulle as ekspats genoeg chorizo, cabanossi en rookwors geëet het, begin Suid-Afrikaners gou terughunker na die koljander en growwe tekstuur van hul eie tradisionele wors.

Die Dockels is puntenerig oor die gehalte vleis wat hulle in hul wors gebruik. Die Nederlandse vleis proe laf, meen Andreas. Hulle voer hul vleis in van die Limousine-streek in Frankryk en ook van Ierland.

Omdat arbeid verskriklik duur is in die Europese Unie, bedryf die Dockels basies ’n two man show, al is Andreas ook ’n voltydse lektor by ’n Nederlandse universiteit.

“Wanneer jy ’n kos-en-onthaalbesigheid in Nederland bedryf, is die reëls en regulasies ongelooflik streng,” vertel hulle. Hulle moes byvoorbeeld ’n kwalifikasie voltooi wat op voedselveiligheid en higiëne fokus en wat deur die Europese Unie vereis word as enige kos of voedseldienste aan die publiek verskaf word.

Ek dink soms as ek net een paar ekstra hande gehad het, sou die besigheid al soveel verder gevorder het.
Marnella Dockel

Jy kan ook nie net met jou kostrok en ’n warmlaai vol boeries by kosmarkte opdaag om ’n ekstra geldjie te verdien nie. ’n Spesiale permit word vereis en wanneer jy produkte soos konfyt en tapenades verkoop, moet daar ’n volledige lys van al die bestanddele op die produk verskyn.

By kosmarkte loop gesondheidsinspekteurs met termometerpenne rond en doen lukrake steekproewe om seker te maak die verkopers voldoen aan al die gesondheids- en veiligheidsregulasies.

As jy byvoorbeeld warm kos soos wors verkoop, sal die gesondheidsinspekteur haar temperatuurpen by jou wors indruk en as die lesing enigiets onder 70 °C is, word jy summier aangesê om op te pak. Andreas lag.

“Kan jy jou nou indink, ’n gesondheidsinspekteur daag Saterdagoggend op by die boereworsstalletjie voor Builder’s Warehouse en vra om jou wors se temperatuur te meet?”

Calvinistiese skuldgevoelens

Dis nie net die burokrasie wat soms die Dockels mismoedig maak nie, maar ook die tekort aan hulpbronne en ekstra hande. Wanneer hulle byvoorbeeld onthaalwerk doen, is alles ’n logistieke uitdaging.

Parkeerplek moet naby die onthaalvenue gevind word – en in Amsterdam is dit ongelooflik duur en skaars. Dan moet die Dockels sak en pak met hul kos, bestanddele en toerusting straat af loop, hul ding doen, alles weer oppak en terug huis toe loop.

Daar is nie ’n ouma of sussie wat gou kinders kan rondry of oppas nie (hul vierjarige seuntjie is in die kleuterskool en hul dogter in die laerskool), of ’n huiswerker wat gou kan help met skottelgoed was nie.

Teen sowat R250 tot R400 per uur vir ’n huiswerker is dit ’n luuksheid wat slegs die rykes kan bekostig.

“Ek dink soms as ek net een paar ekstra hande gehad het, sou die besigheid al soveel verder gevorder het,” sug Marnella.

Dikwels begin die werk eers eintlik wanneer die kinders in die bed is. Dis wanneer beskuit en koeksisters gebak en wors gestop word, wat hulle op Kuierkos se aanlynwebwerf verkoop.

Die Dockel-spruite ken miskien nog die plesier van ’n mond vol krakerige Simba-tjips, maar hul verwysingsraamwerk en herinneringe word ook nou gevorm deur stroopwafels, hagelslag (sjokolade-splinters) en haring.

Tog, meen Andreas, dis juis Afrikaanse mense se hardkoppige, vindingryke streek, gekombineer met ’n tikkie Calvinistiese skuld oor hardwerkendheid, wat die Dockels help om hul Kuierkos-onderneming hier in die Lae Lande uit te bou.

Die meeste Nederlanders werk net vier dae per week en loop wanneer huistoegaantyd aanbreek. Hul kultuur lê groot klem op gehaltetyd saam met jou gesin.

“Jy kan altyd die nuwe Suid-Afrikaners sien,” lag Andreas, wat voorheen ’n menslikehulpbronbestuurder was.

“Wanneer ons by ’n nuwe werk begin, wil ons mos ’n indruk maak, so ons sit ’n paar ekstra ure in. Jy wil mos hê jou baas moet jou raaksien.

“Ons kom egter gou agter hier gaan niemand vir jou enige erkenning daarvoor gee nie.”

Maar dis hierdie “can do”-houding wat Kuierkos vorentoe neem, waar Marnella en Andreas alles moet wees – van sjef, worsstopper, bakker, brouer, skottelgoedwasser en bestuurder.

Dit is die opoffering wat die Dockels maak sodat hulle in ’n veilige, egalitêre samelewing kan bly, waar dagga en sekswerk miskien wettig is, maar die tronke jaarliks al hoe minder word omdat daar nie genoeg misdadigers is om toe te sluit nie. Verlede jaar het 19 tronke gesluit en in September 2017 moes misdadigers van Noorweë ingevoer word sodat daar nie te veel afleggings by die Nederlandse korrektiewe dienste moes plaasvind nie.

Die Dockel-spruite ken miskien nog die plesier van ’n mond vol krakerige Simba-tjips, maar hul verwysingsraamwerk en herinneringe word ook nou gevorm deur stroopwafels, hagelslag (sjokolade-splinters) en haring.

Wanneer die chorizo nie meer die ding doen nie, is hul droëwors en Black Label ’n verbintenis met rugbykuiers en roep hul boerewors herinneringe op van laatmiddag-Bosveldvure en die reuk van stof.
Proust-effek

Die Proust-effek verwys na die helder terugflitse van ’n sekere tyd of herinnering wanneer jy deur ’n reuk of smaak geprikkel word.

As jy byvoorbeeld jou ma se gunstelingparfuum ruik, is dit kragtig genoeg om ’n intense emosie van jou kindertyd op te roep.

Proust skryf in In Search of Lost Time (1928): “

And as soon as I had recognized the taste of the piece of madeleine soaked in her decoction of lime-blossom which my aunt used to give me (although I did not yet know and must long postpone the discovery of why this memory made me so happy) immediately the old grey house upon the street, where her room was, rose up like a stage set to attach itself to the little pavilion opening on to the garden which had been built out behind it for my parents (the isolated segment which until that moment had been all that I could see); and with the house the town, from morning to night and in all weathers, the Square where I used to be sent before lunch, the streets along which I used to run errands, the country roads we took when it was fine.

Braai vs. barbeque

Dan is daar die braai, die amper heilige ritueel vir enige Suid-Afrikaner.

Hier is nie sekelbos of hardehout vir ’n houtvuur nie en die Dockels verkies die gerief van ’n gasbraai. Maar o wee, die Hollanders se idee van ’n braai, oftewel ’n barbeque, is omtrent heiligskennis vir die twee.

Hulle wys vir my ’n brosjure van ’n plaaslike supermark wat jou aanmoedig om “jou vriende te beïndruk” met hul braaipakke van 15 (sowat R220).

“Kyk wat ‘kry’ jy alles vir 15.” Marnella beduie na ’n bleek worsie, verskeie patties, ’n maer varkrepie en ’n hoendersosatie wat eintlik meer groente as hoender is.

“As jy dit by ’n Suid-Afrikaanse braai gaan bedien, gaan hulle mos agterna skinder.

Carla Lewis

“Die Nederlanders sny ook die vet van alles af. Ek moes mooi met my slagter praat en beduie hoe ek my tjops en skaapboud wil hê, anders kry jy sulke maer, smaaklose vleis.”

Tim Noakes se banting-revolusie het duidelik nog nie oorgewaai hierheen nie.

Terwyl ons gesels kom haal ’n konstante stroom klante hul vleis en soetgebak vir die naweek by die Dockels se huis.

’n Hele paar Nederlandse kliën­te het bygekom nadat dié die kaneelplesier van outydse melktert ontdek het.

Maar vir talle Suid-Afrikaners bly hulle die verbintenis met hul wortels – met hul ou­mas wat soos kaneel ruik; van somermiddae gevul met die smaak van chloor in jou mond, wat jy wegsluk met grasgroen, bloedrooi of warmoranje koeldrank.

Wanneer die chorizo nie meer die ding doen nie, is hul droëwors en Black Label ’n verbintenis met rugbykuiers en roep hul boerewors herinneringe op van laatmiddag-Bosveldvure en die reuk van stof.

  • Lewis, ’n senior joernalis van Beeld, is as deel van ’n kulturele verrykingsprogram vir twee maande in die Zuid-Afrikahuis in Amsterdam gesetel.
Wetenskap daaragter

Die manier hoe ons smaak en reuke waarneem, bestaan nie net uit die sensasie van die geure self nie, maar ook uit die ervarings en emosies wat ons met die geure vereenselwig.

Reuke kan ongelooflik sterk emosionele reaksies by mense ontlok.

In studies en steekproewe wat deur wetenskaplikes gedoen is oor hoe ons op reuke reageer, toon die resultate dat ons ons voorkeure suiwer op emosionele ervarings grond.

Die verbintenis tussen geur en emosie is dus nie iets wat D.J. Opperman in sy gedig “Sproeireën” uit sy duim gesuig het toe hy sy nooi met ’n nartjie en sy ouma met kaneel vergelyk het nie.

Die reseptore in die brein wat olfaktoriese stimuli en sensasies verwerk, word direk gekoppel aan die limbiese stelsel, die deel van ons brein wat emosies verwerk.

Wanneer jy byvoorbeeld kaneel ruik en jy dadelik aan jou ouma dink, is dit daardie spesifieke reuk wat na jou serebrale korteks gevoer word, waar ’n “katalogus” gestoor word van reuke en die emosies wat ons daarmee vereenselwig.

Kognitiewe herkenning vind plaas en daarom ervaar jy nie net die reuk nie, maar ook ’n gevoel van byvoorbeeld geborgenheid as jy dit daarmee vereenselwig.

Meer oor:  Amsterdam  |  Nederland  |  Aktueel  |  Uitvoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.