Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
‘Om engele uit klip te verlos’
Voor een van talle boekrakke met kosbare versamelings in die WAT-hoofkantoor in Stellenbosch.Foto’s: BIANCA SMIT

Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) gaan voortaan net op elektroniese uitgawes fokus om aan te pas by die dinamiese ontwikkeling van taal. Willem Botha, WAT-hoof, het met Barnard Beukman gepraat.

Ontleen aan D.J. Opperman se bundel Engel uit klip beskryf dr. Willem Botha sy werk – as uitvoerende hoof van die Buro van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) – “om engele uit klip te verlos”.

Dit is die proses waardeur woorde uit ’n verskeidenheid van werke en gebruike getrek word om uiteindelik ’n woord met sy betekenis te vorm. En waarmee hy en sy hoogs kundige span hulle besig hou.Maar hoe word besluit of ’n nuwe woord gaan werk of nie?

Taal is soos water wat self besluit waar dit vloei. Mense besluit of hulle ’n woord aanvaar en gaan gebruik of nie. Dit kan nie aan hulle voorgeskryf word nie.

Die Burger het byvoorbeeld probeer om woorde soos Waterkant, pleks van Waterfront, en komper vir rekenaar te vestig, maar dit het nie posgevat nie.

Dit lyk tog vir hom asof “kieriekorting”, wat afslag vir pensioentrekkers beteken, posvat. So ook “glansgans” vir ’n glanspersoonlikheid.

Groot donateurs – Markus Jooste ingesluit – word hier vereer.

“Weggenoot” vir ’n voormalige eggenoot moet nog die toets van tyd deurstaan. Hy sal bly wees as “sloertoer” vir “road trip” inslag vind, want dit sê soveel meer as net ’n “toer wat padlangs is”.

Dan is ons almal ook sopas deur “kalkoenseisoen” – die tydperk voor ’n verkiesing waarin politici meen hulle kan mense vir kalkoene aansien om al hul beloftes te glo.

“Voorlaaier” was op ’n kol ’n nuutskepping toe gewere ontwerp is wat ’n mens voor deur die loop laai. Toe word dit ’n algemene gebruikswoord en nou is dit argaïes. ’n Woord vat net pos as daar ’n behoefte daaraan is en daar nie reeds ’n ander woord daarvoor is nie.

Hoe het die WAT ontstaan?

Saam met die wet wat Afrikaans in 1925 ’n amptelike taal gemaak het, het ’n stertjie gekom – dit het bepaal ’n groot Afrikaanse woordeboek moet saamgestel word. Met staatshulp. Dit is hoe dit begin het, sê Botha.

Huisgenoot en die WAT In 1926 is ’n ooreenkoms tussen die staat, die Universiteit Stellenbosch (US) en die WAT bereik en die WAT is goedgunstiglik in Keeromstraat 13 in Kaapstad – Nasionale Pers se kantore – gevestig. (Tans is die WAT in Banhoekweg in Stellenbosch gevestig, waar Botha graag rondwys, geduldig staan vir verskeie foto’s en later in sy eie kantoor oor alles uitwei.)

Glo dit of nie, maar Botha sê Huisgenoot en die WAT het iets in gemeen. Prof. Jan Smith was albei publikasies se eerste redakteur. “ ’n Fantastiese persoon en Huisgenoot was ’n wonderlike tydskrif daardie tyd.” Smith het voor dit Afrikaans, Frans en Engels aan die US gedoseer.

“Ongelukkig is daar in die eerste 20 jaar niks gepubliseer nie. Die projek is net te vroeg begin en Afrikaans was nog nie gestandaardiseer nie. Daar was ook nie ’n groot genoeg gepubliseerde letterkunde waaruit materiaal gekry kon word of uit aangehaal kon word nie.”

Hennie Aucamp het ’n bemaking aan die WAT gedoen en word só vereer.

Hulle het ook nog nie geweet of die taal nader aan Nederlands of verder weg gaan beweeg nie. Dus was hulle onseker of hulle maar Nederlandse woorde kon opneem of nie en het toe aanvanklik te veel daarvan opgeneem. “In daardie tyd het ons ook nog gedink Afrikaans gaan nie sy eie terminologie skep nie.”

En dit is juis wat Afrikaans volgens Botha so ’n wonderlike taal maak – al die terminologie wat self geskep kan word – “ons het die vermoë om enigiets te sê en skryf in Afrikaans”.

Dan maak hy ’n ontstellende waarneming: Afrikaans het reeds begin agterraak met vakterminologie. “Dit is so jammer dat die taal sy hoë funksies begin verloor, want in baie vakgebiede publiseer mense nie meer navorsing in Afrikaans nie. Daar is ’n paar uitsonderings, maar as ons te agterraak met nuwe vakontwikkelinge in die taal, sal ons nie meer in Afrikaans daaroor kan publiseer nie.”

En dit is volgens hom hartseer, want daar is hard gewerk om vakterminologie in Afrikaans moontlik te maak.

Wat ouers dink So beteken dit dat die taal, soos sommige voorspel, weens die verlies aan hoër funksies noodwendig gaan verdwyn?

Dit hang van ’n taal se sprekers af of hulle dit formeel wil laat leef, of herleef of laat doodgaan.

“Dit hang van ’n taal se sprekers af of hulle dit formeel wil laat leef, of herleef of laat doodgaan. My ervaring in ons situasie is dat ’n taal nie sommer doodgaan nie.”

Voorbeelde is inheemse tale, soos Xhosa en Zoeloe, wat nie die terminologie het nie, maar in ’n sekere sin steeds groei.

“Dié twee tale het bitter min ondersteuning van enige aard gehad, maar niemand sê dit gaan doodloop nie. Waarom sal Afrikaans dan doodloop? Sy hegemonie maak Engels nou die skouperd, maar die ander landstale gaan nie tot niet nie en daarom dink ek nie Afrikaans sal tot niet gaan nie.”

Wat die verlies aan hoër funksies verder bevorder, is uitsprake soos dié van Panyaza Lesufi, wat vra waarom Afrikaanse skole nodig is as daar nie meer Afrikaanse universiteite is nie.

“So dit is dan presies wat ouers dink en dan sit hulle hul kinders in Engelse skole. 100 jaar gelede was dit dieselfde situasie in die Kaap. In 1920 het 80% van die mense hier hul kinders in Engelse skole gesit en ons beweeg weer soontoe, maar hoe gaan ons dit dié keer omkeer? Dit is die vraag.”

Terug by die WAT en sy hedendaagse uitdagings. Wat is dit alles?

Volgens Botha is die belangrikste uitdaging tans finansies. Tot en met 2004 was die WAT 100% staatsgefinansier en daardie jaar – juis toe hy sy pos as hoof daar ingeneem het – is die subsidie van R2 miljoen per jaar tot R1 miljoen gehalveer – en dít terwyl die begroting R3 miljoen was.

Dit was die donkerste tyd in die WAT se geskiedenis en selfs personeelverminderings moes plaasvind. Daar is met intensiewe geldwerwing begin en die GT Ferreiras, Johann Ruperts en Christo en Caro Wiese het gehelp met dinees en die een ding het tot die ander gelei. (Die staat deur die departement van kuns en kultuur help darem steeds en die R1 miljoen van 2004 het intussen weer tot R1,9 miljoen aangegroei).

Maskara. Dié woord is beskryf op een van duisende handgeskrewe kaarte.

Rupert ongelukkig

Toe gebeur daar ’n interessante ding. Die glanstydskrif Wallpaper plaas ’n artikel oor Afrikaans en by ’n foto van die Taalmonument is die byskrif: “A monument for the ugliest language in the world.”

Rupert was ongelukkig daaroor en het Richemont se advertensies aan die tydskrif onttrek. Die WAT het ’n geleentheid gesien en Rupert genader. Hy het die WAT met R2 miljoen ondersteun en só het die een ná die ander gevolg.

Kort voor die gesprek in Botha se kantoor beland ons met die fotonemery voor ’n muurpaneel met die name van groot donateurs daarop aangebring – met Markus Jooste se naam ook daar.

“Die onbevestigde storie in Stellenbosch is dat sy verering uit Wilgenhof se heldegalery verwyder is,” soek ek skoor.

Maar Botha is vasbeslote dat die naam hier bly, “want hulle het vinnig ’n groot bedrag geskenk”.

Presies wat is hul taak nou en waarmee is hulle besig?

“Die WAT se taak is om Afrikaans in sy wydste omvang vas te vang in ’n woordeboek. Dit beteken nie net Standaardafrikaans nie, maar in al sy variëteite, soos Namakwalands en Kaaps.”

Al die sprekers, van die Kaapse Vlakte tot die noordelikste uithoeke van die land, se taalgebruik vind neerslag. En dit is deel van die woordeboek se trots.

Die WAT se taak is om omvattende uitgawes Afrikaanse woorde van elke letter van die alfabet te publiseer. Die eerste uitgawe in die 1950’s was van A tot C en tans trek hulle by deel 2 van S, wat uit drie dele gaan bestaan. (Deel 15 van die woordeboek.)

En ja, antwoord hy laggend op die onderbrekende vraag: “Word ‘staatskaping’ opgeneem?”

In 2003 is met elektroniese weergawes begin – op CD, of deur jou rekenaar. Dit is verstommend om te sien hoe so ’n omvattende woordeboek vorm kry op selfs ’n selfoon.

Twee gimnasiums en Maties verder is dit WAT

Paul Roos Gimnasium is waar  Willem Botha in Stellenbosch gematrikuleer het. Paarl Gimnasium is waar hy  nege jaar lank Afrikaans gegee het en die interaksie met leerlinge geweldig geniet het – “net die plesier om hul reaksie te sien as ’n mens Raka met hulle behandel, was al die moeite werd”. 

Hy woon steeds in die Paarl, al werk hy nou in Stellenbosch.Voor onderwys het hy honneursgrade in Afrikaans en Latyn verwerf – alles aan die Universiteit Stellenbosch – en ook sy MA in Afrikaans. Daarna ’n Hoër Onderwysdiploma (HOD). 

Ná sy aankoms by die WAT – direk vanuit die onderwys – het hy sy doktorsgraad gepak oor die toepassing van leksikografiese beginsels by die woordeboek. In sy proefskrifstudie het hy bevind dit word inderdaad goed en deeglik toegepas.Hy was ’n klubtennisspeler, maar deesdae is dit die Parkruns – al langs die Bergrivier af – waaraan hy graag deelneem.

Amabokoboko

Die elektroniese weergawe het ’n nuwe wêreld oopgemaak. Nou kan alles opgedateer, bygehou en kruisverwys word. Die nadeel van die gedrukte weergawe is juis dat ’n taal dinamies en bewegend is en voort ontwikkel, al verskyn die boek. In deel 15 is nou ’n addendum gepubliseer om juis van die nuwe ontwikkelinge – van A tot S – tot voordeel van die papierlesers beskikbaar te stel.

Daar is ook besluit om die afhandeling van die alfabet, wat eers oor 20 jaar sou wees, met ’n tienjaarplan te verkort. Die nodige R32 miljoen is byna ingesamel en vyf bykomende personeellede is aangestel. Maar die laaste in fisieke boekvorm gaan verskyn wanneer S afgehandel is. Die res gaan alles elektronies wees. Koste en tydrowende produksie is van die oorwegings. Voorts maak nuwe ontwikkelinge gedrukte verwysings soms irrelevant.

Maar dan val Botha se oog weer op die einste S – die jongste uitgawe loop van “skool” tot “Sri Lankaans”. “En reeds op bl. 1 kry jy sulke prikkelende lekkerkrywoorde soos ‘snoesel’, ‘snoeshaan’, ‘snoewery’ en ‘snol’.”

Dan is hy by die addendum: “In 1951 was woorde soos ‘aanlyn’ en ‘amabokoboko’ nog nie ’n vonkel in Afrikaans se oog nie. Ook nie ‘banting’, ‘beurtkrag’ en ‘CD’ nie. ‘Gay’, ‘geelkaart’, ‘geheuestokkie’, ‘gemorskos’, ‘glasnost’, ‘google’ en ‘hardeskyf’ was nie eens ’n hersenskim nie.”

Hy herinner ook dat daar met die 90-jarige viering van die WAT saam met RSG na die gewildste Afrikaanse woord gesoek en dis toe “lekker”. Ook op die lys is “bakgat” en ’n “pragtige, onskuldige woord soos ‘bollemakiesie’ ”.

En toe is die tyd verby. En terwyl ’n mens terugdink aan al die WAT-storieskatte waarvoor hier nie eens plek is nie, kom dit meteens op – Botha en sy WAT-span is Afrikaans se woordengele.

Dit is vir die WAT belangrik om ook ’n breër bydrae te lewer in die gemeenskap. Daarom is reeds in die 1980’s begin met opleiding van ander inheemse tale se woordeboekmakers.

Volgens Botha was daar klein woordeboekeenhede vir Xhosa, Zoeloe en Sotho. Daar is na hulle uitgereik en hulp aangebied met die algemene beginsels van leksikografie. In 1995 is amptelik formele kursusse in leksikografie vir hulle aangebied. Die WAT het Pansat ook bygestaan om vir elke amptelike taal ’n woordeboekeenheid te vestig. En daar is gehelp met die omvattende raadplegende vergaderings daaroor. Die nuwe woordeboekhoofde het opleiding in die bestuur van woordeboeke by die WAT ontvang en later ook hul personeel.

Die WAT het gevoel dit is nodig om dit terug te ploeg weens al die staatshulp wat reeds ontvang is. En die ander woordeboeke aanvaar hulle kan uit die WAT se ervaring leer. Daar is ook onderwysondersteuning vir onderwysers en onderwysstudente aan die Universiteit Stellenbosch juis oor hoe om ’n woordeboek sinvol in die onderrigproses te gebruik. Skole word ook besoek. En daar is ook al in Zimbabwe en Gaboen hand bygesit.

  • Beukman is redakteur van Beeld.

Meer oor:  Willem Botha  |  Wat  |  Woorde  |  Taal  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.