Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
‘Om ’n sinvolle lewe te leef is in jou’
Hans Heinze in sy kantoor in Bloemfontein. Foto: Charles Smith

Oud-genl. Hans Heinze, eertydse bevelvoerder van die Kommandement Oranje-Vrystaat, moes groot terugslae oorkom: Die Tempe-slagting, hy het sy werk ná die weermag én sy pensioengeld verloor en hy moes kanker oorwin. Nou help hy mense om die lewe in die oë te kyk.

"Daar is niks waarvoor jy hoef te soek om ’n sinvolle lewe te leef nie. Dit is in jou.”

Hans Heinze skud ’n bottel vol helder water waardeur woorde soos omgee, liefdevolheid, wys­heid, liefde, dankbaarheid en vreugde in Engels op die agterkant te sien is.

As die water troebel word, kan jy geen van die woorde uitmaak nie.

“Dit is wat met jou lewe gebeur as jy ’n terugslag beleef,” sê hy.

Heinze, beroepsoldaat met Duitse bloed in sy are wat as generaal uit die weermag getree het, moes ’n paar van die lewe se houe verwerk.

Hy het pas bevelvoerder van die Kommandement Oranje-Vrystaat geword toe die Tempe-slagting op 16 September 1999 die wêreld – en sy wêreld – geruk het.

“Dit was regtig ’n slegte tyd. Dit het ingedruis teen alles waarmee ek grootgeword het. Om te dink iemand binne jou eie basis doen so iets . . .”

Ses lede van 1 SAI in Tempe en ’n burgerlike vrou is doodgeskiet. Dit het ’n militêre en politieke krisis veroorsaak wat Heinze moes hanteer. Die skieter was swart, die slagoffers wit. Die gemeenskap was woedend.

By nabetragting besef hy dit het ’n rol gespeel tot sy uittrede ’n jaar later. ’n Paar kollegas het veiligheidsmaatskappye gestig en vuurwapenopleiding verskaf.

In dié tyd moes hy kanker oorwin. ’n Vriend het hom ’n kans gegee om ’n maatskappy te bestuur en hy het uit sy pos bedank.

Die maatskappy het geblyk ’n kaartehuis te wees. Die man was ’n patologiese leuenaar.

“Daar was niks nie. Zero. Ek het hom nooit weer gesien nie.”

Dis toe dat “sy kop hom weer gelos het” en omdat hy nie nugter gedink het nie, het hy sy hele pakket by iemand belê wat hy jare lank geken het.

Hy het alles verloor. Die makelaar van Bloemfontein het met al sy geld na Nieu-Seeland gevlug.

Die generaal was plat teen die grond. Sy lewe het in duie gestort.

“Alles maak sin wat ek gedoen het. Mense wat desperaat is, dink nie helder nie.”

Hans Heinze met die bottel troebel water wat 'n mens se lewe voorstel. As die water troebel is, soos jou lewe, verdof jou lewensvaardighede en -kwaliteite. Foto: Charles Smith

Die bottel water op sy tafel is steeds troebel. Die woorde onleesbaar.

“Ek was vir vier jaar werkloos. Niemand wil ’n ou van 58 in diens neem nie. Ek kon dalk ’n stoorman geword het.”

Die soldaat moes diep in homself delf vir wapens om dié stryd te wen.

Die twee vrae wat hy nou as instrukteur vir die maatskappy Garcias for Africa vir mense vra, moes hy eers vir homself vra: Waar kom jou gevoelens vandaan? En: Wie is jy werklik?

“Dit klink so simplisties, maar só diepliggend. Vandag lag ek vir myself oor my misverstaan van hoe die lewe werk. Die lewe het met my woer-woer gespeel en geneem na plekke waar ek nie wil wees nie.

“Ek het stupid, irrasionele besluite geneem,” sê Heinze.

Hy was kwaad oor die ou wat hom ingeloop het en oor die siekte, maar vandag weet hy jy kan nie nugter dink as jy kwaad is nie.

Hy sê elke mens is toegerus met ’n stelsel wat rondom drie beginsels geskoei is: jou gemoed, denke en bewussyn.

Hy tel die bottel op waarin die water steeds melkerig is.

“Die probleem is, wanneer jou kop raas, is daar niks oor nie. Dan maak jy ’n besluit en dit is ’n ramp. Dis waar Hans Heinze was.”

Hy leer mense nou die lewensles wat hyself op die moeilikste manier moes leer.

“Ek kan jou niks leer nie. Ek leer jou net jouself ontdek.”

Hy ervaar die lewe nou heeltemaal anders as vroeër. “Ek sien nou die goed in mense.”

Hy leer mense dié kernbelangrike beginsel: Jy is in beheer van jou gevoelens.

“Ek kan mense in die regte rigting help kyk. Jy het alles; jy het niks anders nodig vir ’n sinvolle lewe om dit te herontdek nie. Dit is altyd daar, dit is net weggesteek in hierdie goeters wat in jou kop aangaan.”

Denke is nie wat jy dink nie, maar dat jy die vermoë het om te kan dink, sê hy.

Daar is ná elke kursus mense wat met hom kom gesels.

Een meisie het gesê sy is al 16 jaar lank onder behandeling oor wat met haar gebeur het. En nou hoor sy die eerste keer waar die nagmerries vandaan kom.

“Dit is wat ek probeer sê: Kyk wat doen mense aan hulself. Onskuldiglik. En ek praat nie eens oor die hartseer en die pyn wat hulle aan die mense om hulle aanrig nie.

“Mense wil my stenig as ek sê dis onskuldig. Dit ís onskuldig, want hulle het nie van beter geweet nie. Jy doen wat jy doen aan jouself en ander mense omdat dit is wat jy dink in daardie stadium die beste is, en dit kan traumaties vir jou en ander wees, want jou kop was soos hierdie modder.”

Die worries vat ouens tot by ’n inrigting of tot by die graf. Hoekom? Dis my vraag. Dit is hoekom ek mense wil help.

Heinze sê die laaste drie, vier jaar het hy geleer sy gevoelens is sy beste vriend. Dit is soos ’n kompas wat vir hom sê: “Hans, jy is van koers af.”

Jou denke vat jou in ’n rigting wat nie waar is nie. Dit is virtueel, ’n gedagte. Die mens fokus op die verlede en die toekoms, maar vergeet van die nou.

“Die worries vat ouens tot by ’n inrigting of tot by die graf. Hoekom? Dis my vraag. Dit is hoekom ek mense wil help.”

Hy vertel hoe hy in 2016 gevra is om as militaris ’n klomp ANC-jeugdiges te “dissiplineer” wat buite Bloemfontein opgelei moes word nadat hulle ’n Spoornet-koshuis afgebreek het.

Die maatskappy i3A, waarby hy betrokke is wat landbou-opleiding verskaf, en die Universiteit van die Vrystaat het as deel van die projek van die departement van landelike ontwikkeling jeugdiges opgelei om ’n landboukwalifikasie te bekom.

Die oudsoldaat sou uitgestap en gesê het hy werk nie met ongedissiplineerde mense nie, erken hy. Hy het die 350 mense gesien nadat hulle reeds drie maande lank deur die weermag by Saldanha opgelei is.

“Ek het vir Johan Stassen, die direkteur van i3A, gesê ek is jammer, ek kan dit nie doen nie. Maar ek kan die Garcias-program toepas. Die eerste groep van 30 het my uitmekaar gehaal. Hulle het rassistiese aanmerkings gemaak. Wie is ek, ek het niks vir hulle te leer nie. Uit die 30 het so drie na my geluister. Ná tien minute kom die ou Hans Heinze na vore en sê die ouens gaan nie met my mors nie. Ek gaan my goed vat en waai.

“Maar weet jy wat, jy wil dan juis vir hulle leer gevoelens kom van iewers af. Ek het niks geraas nie. Ek het net aangegaan met my werk. Hoe langer ek by hulle was, hoe meer bedaard was hulle en hoe meer het hulle begin saamwerk. Uiteindelik het 70% gesê baie dankie. Hulle het vir my gewag ná die laaste lesing en my ’n drukkie gegee en gesê dankie.”

Belangrik is dat elke mens moet weet: Jy is oukei, daar is niks verkeerd met jou nie.

Dis nie hy wat dit reggekry het nie, sê Heinze. Dit is hulle wat begin sien het wie hulle is en waar die (verkeerde) gevoelens vandaan kom.

“Dit het my geweldig aangespoor. Sjoe, as hierdie jong mense dit kan doen, kan almal,” sê hy.

“Belangrik is dat elke mens moet weet: Jy is oukei, daar is niks verkeerd met jou nie. Jy hoef nie iets na buite te soek as jy in dié toestand is nie: alkohol, dwelms, pornografie. Dit gee ’n tydelike oplossing, maar die regte oplossing is klaar daar. Jy is daarmee toegerus. Dit is aangebore, jy moet dit herontdek. Dit is wat met my gebeur het.”

Mense vra hom of hy nog kwaad raak, vir byvoorbeeld die makelaar wat hom ingeloop het.

“Natuurlik raak ek kwaad. Maar dit borrel nie meer by my uit nie. Want die verstaan waaroor dit gaan, het by my oorgeneem en herinner my daagliks: Hans, verstaan jy vandag nog nie? Dan sê ek sorry, sorry. Die ou is nie ’n monster nie. Hy is net ’n mens. Hy doen dit omdat hy nie van beter weet nie.”

Hans Heinze kyk jou in die oë. Maar dis die kyk van ’n man ná ’n lang reis. Nie die generaal van ouds wat alles met een bevel wou regruk nie.

“Daardie bliksem in Nieu-Seeland: Dit is wat hy aan my gedoen het. Maar hy moet daarmee self regkom. Hy weet wat hy gedoen het. Ongelukkig kan jy nie die waarheid ontsnap nie. Jy gaan met dit graf toe.”

Twee dekades uit die weermag het Hans Heinze ’n rang hoër as dié van ’n generaal verwerf: ’n Mens wat regtig verstaan, veral homself, en ander in die soeke na hulself wil help.

Meer oor:  Onderhoud
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.