Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Omri: 'Wil jy die probleem oplos of wil jy baklei?'

Hy is self nie ’n geduldige mens nie, maar deesdae moet jy maar strategiese geduld aan die dag lê as jy hoop om die probleme op te los waarmee landbou in Suid-Afrika gekonfronteer word, het Omri van Zyl, uitvoerende hoof van Agri SA, aan Gert van der Westhuizen gesê.

Omri van Zyl, uitvoerende hoof van Agri SA, sê hy glo daaraan om strategiese geduld aan die dag te lê. Foto: Deaan Vivier

’n Nuwe dag, ’n nuwe probleem.

Van Zyl sukkel nog met vlugflouheid ná ’n onlangse familie-besoek aan Nieu-Seeland, maar hy gaan nie juis die luukse hê om teen sy eie pas weer aan Suid-Afrikaanse tyd gewoond te raak nie. Daarvoor lyk dit, in elk geval vir enige buitestander, asof die probleme in die landbousektor net té veel is.

“Het julle gehoor? Die Landbank is nou net deur Moody’s afgegradeer,” sê van Zyl kort nadat hy ons omstreeks 10:00 in die voorportaal van Agri SA se kantore in ’n kantoorpark in Centurion kom haal het.

“Dit gaan ’n invloed hê op uitleenkoerse en terugbetaalvermoëns en daar kan ’n hele likiditeitsprobleem in die landbousektor ontstaan,” verduidelik Van Zyl van die gevare wat die Landbank se afgradering kan inhou. Dit skep nogal ’n wesenlike probleem, sê hy.

Die nuutste een op ’n lang lys, kan ’n mens byvoeg.

Die grootste van die uitdagings is die moontlikheid van onteiening sonder vergoeding.

Terwyl ons om ’n ronde tafel in sy netjiese kantoor sit met die gerusstellende reuk van meubelpolitoer in ons neus, vertel die 47-jarige Van Zyl ons op sy rustige, rasionele manier van die belangrikste probleme waarmee die georganiseerde landbousektor in Suid-Afrika te doen het. Agter hom hang ’n skildery van ’n land vol goue sonneblomme.

Daar is veral vier groot probleme of uitdagings: onteiening sonder vergoeding, droogte, bek-en-klouseer en veiligheid.

Die grootste van die uitdagings is die moontlikheid van onteiening sonder vergoeding.

“Die vraag is nou of hulle met produktiewe landbougrond gaan peuter of nie, maar dit sal ons in die howe moet gaan baklei. So, ons is klaar oorgehaal om te litigeer, ons het al lankal regsadvies ingewin en ons het ’n strategie. Maar jy moet die proses volg. Ek meen, jy kan nie hier in die middel interject nie, want dan gaan jy dalk ’n hofsaak verloor en dan gaan jy teen die einde van die dag nie die geveg wen nie, jy gaan nie die oorlog wen nie.”

Onteiening kan broodmandjie van Afrika leegmaak

Omri van Zyl: “Die vraag is net, wil jy die probleem oplos of wil jy baklei?” Foto: Deaan Vivier

Volgens Van Zyl kan die probleme wat onteiening sonder vergoeding inhou, nie sommer oorskat word nie. Suid-Afrika is die broodmandjie van Afrika, ’n anker op die vasteland wat kos betref. As daardie anker losgetorring word, wag daar groot probleme.

“Veronderstel dit raak soos in Zimbabwe, dan het jy miljoene mense wat nie meer voedselsekerheid gaan hê nie, nie net in die 55 miljoen in Suid-Afrika nie – die hele streek gaan voedsel-onseker raak. Dan praat jy van vlugtelinge, migrasie, ’n klomp goed. En dis hoekom dit vir Europa en ander ouens belangrik moet wees om in Suid-Afrika te belê, maar ons regering moet dit vir hulle moontlik maak om dit te doen. Wie gaan belê in ’n land waar daar onteiening sonder vergoeding is?

Is ons voedselsekerheid nou in gevaar?

Nee, sê Van Zyl. Suid-Afrika voer nog kos uit. Voedselsekerheid het drie elemente. Die eerste een is die beskikbaarheid van kos, die tweede een is die gehalte van kos en ons het van die hoogste gehalte kos in die wêreld in Suid-Afrika. Die derde aspek is die bekostigbaarheid van kos. Ná sy onlangse besoek aan Nieu-Seeland wil Van Zyl dit waag om te sê ons het hier die goedkoopste en beste kos in die wêreld. Kos en drank, voeg hy by.

“Ek het gesprekke gehad met van die grootste banke in die wêreld – die Bank of America, die Wêreldbank, Moody’s – wat regtig bekommerd is oor hierdie veiligheidsprobleem van eiendom. Jy kan dit seker breër ekstrapoleer en sê as jy dit vir landbou kan doen, kan jy dit seker vir ander eiendomsklasse ook doen. Daardie is iets wat ons werklik bekommerd maak,”sê hy.

“Daar is darem ’n spreekwoordelike silwer randjie om die donker wolk van onteiening sonder vergoeding: “Ek dink ’n hele klomp internasionale ouens wil hê ons moet suksesvol wees.”

Agri SA sal aanstaande week met al die ambassadeurs van die land se grootste handelsvennote vergader. Dit sal handel oor onder meer groen energie, grond en veiligheid en is deel van Agri SA se strategie van internasionalisering, sê Van Zyl.

Wil jy die probleem oplos of baklei?

Onteiening sonder vergoeding bly steeds een van die grootste uitdafings op die toekomspad van die landbou in Suid-Afrika, sê Omri van Zyl, uitvoerende hoof van Agri SA. Foto: Deaan Vivier

Maar het onteiening sonder vergoeding nie in ’n plaaslike propaganda-oorlog ontaard nie? En moet Agri SA nie ’n harder stem in dié oorlog kry nie? wil ek by Van Zyl weet.

“Wat ons kan doen, is om die algemene boodskap by die man in Soweto uit te bring: ‘Hier is ’n boer wat voedsel voorsien en dit is wat in sy lewe aangaan.’ Mense besef nie wat boerdery is nie, mense besef nie wat dit beteken om ’n boer te wees nie. En om daardie boodskap beter oor te dra . . . en daar is baie swart boere wat dit kan doen en sal kan verduidelik watter uitdaging dit is as jou vee gesteel word of as jy nie jou diere op ’n veiling kan verkoop nie, want daar is bek-en-klouseer.

“Daar is meer wat ’n ou kan doen rondom die boer self. Wat is ’n boer? In die Afrikaanse gemeenskap weet mense meer daarvan, want hulle het ’n vriend of ’n familielid wat boer en êrens is daar ’n stukkie grond in jou geskiedenis, maar vir baie ander mense geld dit nie. Ek dink ons moet aan hulle verduidelik van boerdery, sodat hulle ’n beter idee het van boere se probleme. Ek dink dis iets wat ons definitief sal moet doen,” sê Van Zyl.

Dit sal dalk makliker wees om oningeligtes te oortuig dat hul kos nie sommer uit die niet op Woolworths en ander winkels se rakke verskyn nie as om die regering te kry om boere te steun.

Wat veiligheid betref, werk boere byvoorbeeld saam met die polisie, maar die harde werklikheid is dat hulle hulself moet beveilig. Die bek-en-klouseer epidemie is ’n ander geval waar die regering meer kan doen om boere by te staan.

“Ons het nie ’n naspeurbaarheidstelsel in Suid-Afrika nie. Ons moet só iets hê, want dan kan jy sien watter diere waar beweeg en kan jy die hele ding beheer. Jy kan ook veediefstal, wat boere sowat R7 miljard per jaar kos, daarmee bekamp. Namibië het ’n naspeurbaarheidstelsel, Botswana het ’n naspeurbaarheidstelsel, maar ons het nie een nie.”

Getal kommersiële boere

Volgens Van Zyl is daar tussen ongeveer 32 000 en 33 000 kommersiële boere in Suid-Afrika oor. In die 1960’s was daar 120 000.

Met bek-en-klouseer kom internasionale protokolle ook ter sprake en boere is nie by magte om daaraan te torring nie.

Dit is ’n uitdaging om saam met die regering te werk, sê van Zyl.

“Maar in ’n bakleiery wen niemand eintlik nie. In die verlede het ouens hulle gedagvaar en so aan, maar dan gebeur daar net niks. Die vraag is net: Wil jy die probleem oplos, of wil jy baklei?

“Ek is self nie ’n geduldige persoon nie maar mense moet strategies geduldig wees.”

Agri SA het ondanks die onlangse skok-bedanking van Dan Kriek, sy president, steeds goeie kontakte met die regering en werk op ’n hoë vlak met die regering saam, van amptenare tot ministers. Die geluide van regeringskant is ook meer positief met pres. Cyril Rampahosa wat self ’n boer is en ’n minister van landbou (Thoko Didiza) wat die landbousektor beter ken as haar voorgangers.

Droogte, bek-en-klouseer en veiligheid is volgens Omri van Zyl, uitvoerende hoof van Agri SA, van die grootste uitdagings vir boere in die land. Foto: Deaan Vivier

“Ek dink ons is nou in Suid-Afrika op die punt waar ons vir mekaar moet sê ons moet nou vorentoe gaan. Ons moet hierdie ekonomie verbeter, maar daar moet vinnig ’n paar groot goed gebeur. Eskom se probleem moet byvoorbeeld opgelos word. Harde besluite sal geneem moet word, anders gaan dit nie gebeur nie.”

Boere is meer as bereid om hul kant te bring, sê Van Zyl. Hulle doen dit reeds. Boere se aard is nie om pessimisties te wees nie omdat boerdery ’n roeping eerder as ’n blote beroep is.

“Ons boere doen baie goed ondanks die ongelooflike moeilike omstandighede waarin ons is. Ons het die beste boere in die wêreld. Die regte omstandighede moet geskep word vir die landbousektor en die ekonomie om te groei. En ek kan nou vir jou sê die vinnigste groei sal plaasvind as ons beleidsekerheid het oor ’n klomp goed.”

Hoekom bly ons nog hier?

Omri van Zyl, uitvoerende hoof van Agri SA, glo daar is steeds meer geleenthede in Suid-Afrika as in lande soos Australië en Nieu-Seeland waar baie Suid-Afrikaners deesdae ’n heenkome vind. Foto: Deaan Vivier

Van Zyl, wat al vyf jaar by Agri SA is, het self nooit geboer nie. Hy sê sy passie vir boerdery kom uit sy kinderdae toe hulle gereeld vir sy oupa en ouma op hul plaas in die Noord-Kaap gaan kuier het. Deesdae gaan hy na Nieu-Seeland vir familiekuiers.

“Ons het letterlik meer mense daar as wat ons hier het. Dis nogal scary. Jy doen maar daardie introspeksie en sê vir jouself: ‘Wat het ons nog hier? Hoekom bly ons hier?’ Ek dink nog steeds die geleenthede hier, is vir my groter as die geleenthede daar. Die geleenthede is groot, hoewel die uitdagings ook groot is. As ons ekonomie egter weer groei teen vier, vyf, ses present, dan is dit boomtown.”

Suid-Afrika het nie op die oomblik ’n probleem met voedselsekerheid nie omdat hy nog kos uitvoer en kos geredelik beskikbaar en goedkoop is. Boonop is dit van ’n hoë gehalte, sê Omri van Zyl, Agri SA se uitvoerende hoof. Foto: Deaan Vivier

Hy het dus nog steeds moed? “Ja, ek het,” antwoord van Zyl beslis.

Hoekom? “Want ek dink ons kan die uitslag beïnvloed, ons burgerlike samelewing in Suid-Afrika is nog sterk genoeg; anders as in plekke soos Zimbabwe waar dit heeltemal verval het.”

Boonop is daar ondanks verskeie gerugte tot die teendeel, beter samewerking in landbougeledere.

“Ek dink ’n krisis verenig mense baie vinnig. Daar is beslis ’n konsolidasie in georganiseerde landbou wat plaasvind. Dis nodig, want hoe anders gaan ons dit doen? United we stand, divided we fall. Jy hoef nie altyd saam te stem nie. Maar aan die einde van die dag gaan dit tog oor ekonomie, dit gaan oor werkskepping, dit gaan oor die toekoms van kinders in Suid-Afrika . . . ”

Meer oor:  Agri Sa  |  Landbank  |  Omri Van Zyl  |  Cyril Ramaphosa  |  Thoko Didiza  |  Dan Kriek  |  Droogte  |  Boere  |  Onteiening Sonder Vergoeding  |  Landbou  |  Bek-En-Klouseer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.